Is jy van vreugde ontneem?
2023-07-14Johannes 10:10 NLV
Jou longe het suurstof nodig om te floreer, jou liggaam het kos nodig om te floreer en jou siel het vreugde nodig om te floreer. Hoe weet jy wanneer iemand van vreugde ontneem is? Deur hoe hulle lyk en deur wat hulle sê.
Een Bybelonderwyser sê: ‘Toe ek begin om Johannes 10:10 te verstaan, het ek besef dat die vyand my mislei het om te dink dat dit nie belangrik is om dinge te geniet nie. Ek het begin glo – verkeerdelik, natuurlik – dat wanneer ek besig was om pret te hê, was iets verkeerd en het ek vir seker nie hard genoeg gewerk nie! Ek het nooit gesien dat my pa die lewe geniet nie, dus het ek grootgeword met die idee dat daar iets daarmee verkeerd moet wees. Ek kan onthou dat daar vir my gesê is om stil te bly wanneer ek hardop gelag het. Die sewentiende-eeuse skrywer, Madame Guyon, het gesê dat die hoogste roeping van elke kind van God is om God te geniet. Ek onthou hoe ‘n swaar las van my skouers gelig is die eerste keer wat ek dit gelees het. Ek het so hard gewerk om God te probeer behaag dat die gedagte om Hom eenvoudig te geniet glad nie by my opgekom het nie. Ek het van so iets nog nooit gehoor nie!’
Kan jy jouself hiermee vereenselwig? Indien dit die geval is, is dit tyd om ‘n paar veranderinge in jou lewe te maak. Neem tyd vir jouself sonder om skuldig te voel; jy sal baie meer produktief wees wanneer jy uitgerus en verfris is. Ontspanning is noodsaaklik om in balans te bly. Ons lewe in ‘n gedrewe samelewing vol stres, maar jy kan verander; jy kan vreugdevol wees as jy kies om te wees.
Sielskos: Jer 51-52; Matt 26:14-25; Ps 118:1-9; Spr 15:27-30