Bevryding van gevangenes (1)
2023-04-21Eksodus 3:7 NLV
Die Israeliete is vir vierhonderd jaar deur hul Egiptiese slawedrywers gevange gehou en onderdruk en hulle ‘…het die lewe bitter swaar gemaak vir die Israeliete…’ (Eksodus 1:14 NLV). ‘n Mens kan hulle gevoelens van hulpeloosheid verstaan wanneer jy die areas in jou eie lewe waar jy vir vryheid van ou gewoontes veg, oorweeg. Of dit nou woede, kos, alkohol, dwelms, seks, geld of verkeerde verhoudings is, ons ervaar ‘n sin van magteloosheid in ons stryd daarteen.
Die Israeliete het egter na God geroep en Hy het geantwoord: ‘…Jy kan seker wees dat Ek gesien het hoe swaar my volk in Egipte kry. Ek het gehoor hoe hulle…. om hulp roep. Ek is baie bewus van hoe swaar hulle kry.’ Vandag sien God jou, God hoor jou en God is besorg oor jou. Hy het gesê: ‘Daarom het Ek gekom om hulle van die Egiptenaars te bevry en hulle weg te lei… na hulle eie mooi, groot land. Dit is ‘n land met oorgenoeg kos…’ (Eksodus 3:8 NLV).
Let op dat die Here gekom het om hulle te bevry. Hoe het Hy dit gedoen? Hulle verlossing het die dood van die vlekkelose Paaslam geverg. Nadat hulle die offerbloed daarvan aan hulle deurkosyne gesmeer het, het hulle die lam gekook en geëet terwyl hulle in hulle reisklere geklee was, staf in die hand, gereed om gevangenskap agter te laat.
Vandag wil God hê dat jy biddend moet voorberei vir jou reis na vryheid; nie deur jou eie vergeefse menslike pogings nie, maar deur geloof in die gestorte bloed van Jesus, die Lam van God wat ons sondes wegneem. ‘Verwyder hierdie slegte invloed onder julle uit sodat julle weer nuut en skoon kan wees… Ook vir ons is daar immers ‘n Paaslam geslag – Christus’ (1 Korintiërs 5:7 NLV). Is jy nie bly nie?
Sielskos: 1 Kor 12-14; Matt 2:19-23; Ps 103:1-12; Spr 10:13