S.H.A.P.E. (1)
2022-11-04Psalm 143:10 NLV
Kom ons gebruik die volgende paar dae die woord S.H.A.P.E. as ‘n lettervers om God se wil vir jou te verstaan. Die letter S verteenwoordig jou ‘spirit’ of gees. Jou wedergebore gees is die deel van jou wat in staat is om met God te skakel en op Hom te reageer. Die Bybel sê: ‘Mense wat nog in materiële terme dink, kan nie hierdie waarhede toe-eien wat van die Gees van God kom nie. Dit klink vir hulle onsinnig. Hulle kan dit nie verstaan nie, want hierdie dinge moet vanuit ‘n geestelike perspektief verstaan word. Ons in wie die Gees is, verstaan al hierdie dinge, maar ander kan ons glad nie verstaan nie’ (1 Korintiërs 2:14-15 NLV).
Jy kan iets in jou gees weet sonder dat jy dit in jou brein verstaan. Klink dit vreemd? Dit is nie: ‘Julle almal weet egter waaroor dit gaan, want julle dra die salwing van die Heilige Gees’ (1 Johannes 2:20 NLV). Soms staan ‘n Skrifgedeelte wat jy lees vir jou uit, en jy ‘weet’ dat dit God is wat met jou praat en jou leiding gee. Op daardie oomblik mag dit dalk nie vir jou sin maak nie, maar dit resoneer in jou gees. Sal jy dit soms verkeerd kry en ‘n fout maak? Ja. Die mees volwasse Christene onder ons maak foute. God moes vier verskillende kere met Samuel die profeet as kind praat, voordat hy uiteindelik God se stem herken het.
Net soos jy jou liggaam oefen om dit sterker te maak, so moet jy jou gees oefen om dit skerper en meer sensitief vir God te maak. ‘Vaste kos is bedoel vir grootmense – vir hulle wat in die skool van die lewe ingeoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei’ (Hebreërs 5:14 NLV).
Sielskos: Esra 1-2; Joh 7:14-24; Ps 9; Spr 24:30-34