S.H.A.P.E. (2)

2022-11-05
Efesiërs 6:6 NLV

Die letter H verteenwoordig jou hart. Waarvoor het jy “‘n hart” of waaroor voel jy passievol? As ‘n Jood, was Paulus passievol daaroor om die Jode te bereik: ‘…die intense verlange van my hart en my gebed tot God is dat my volk gered sal word. Ek kan getuig hoeveel hulle hulle vir God beywer, maar hierdie ywer is misplaas. Want hulle ignoreer die vryspraak van God en hulle streef daarna om self hulle saak met God reg te maak. Hulle is nie bereid om God se vryspraak te aanvaar nie. Christus is immers die eindbestemming van die wet sodat elkeen wat in Hom glo, vrygespreek kan word’ (Romeine 10:1-4 NLV).

Jy sê: ‘Beteken dit dat ek in die bediening moet wees om God se wil te ken en te doen?’ Nee. Nelson Mandela was so passievol daaroor om sy mense van die euwels van apartheid te bevry, dat hy gewillig was om sewe-en-twintig jaar in die tronk te bestee om dit te bewerkstellig. Wanneer jou hart begin vra: ‘Wat kan ek doen om die situasie te verander?’ mag jy dalk besig wees om God se wil vir jou lewe te ontdek.

Die mense wat hierdie wêreld ‘n beter plek gemaak het, het almal daardie vraag gevra. Thomas Edison het dit beantwoord deur die wêreld gloeilampe te gee. Henry Ford het dit beantwoord deur die wêreld motors te gee. Moeder Teresa het dit beantwoord deur vir die mense wat in Indië vergete en sterwend was, liefde en waardigheid te gee. Nehemia het eers oor die puinhope van Jerusalem gehuil en toe het hy die mure daarvan herbou.

Wat roer jou hart? Wanneer jy dit beantwoord, mag jy dalk God se wil vir jou lewe ontdek.

Sielskos: Esra 3-5; Joh 7:25-32; Ps 96; Spr 25:1-7