Voer jy God se wil uit?

2022-11-01
1 Johannes 2:17 NLV

Dit wat die meeste vir jou moet saak maak, is om God se wil uit te voer. God se wil is die enigste wat vir ewig sal duur. God het ‘n plan vir jou lewe en daardie plan maak sy ‘wil’ vir jou uit. Hoe kan jy dus weet wat God se wil is? Probeer aan die volgende twee dinge dink:

1) ‘n Polaroid foto. Onthou jy hulle? Aan die begin is die beeld nie duidelik nie, maar met tyd het die beeld duideliker geword. Dis hoe God se wil ook is. ‘Die pad van die regverdiges is soos die lig met dagbreek. Dit word al helderder totdat die volle dag aanbreek. Die pad van die goddeloses is soos stikdonker. Hulle weet nie eers waaroor hulle geval het nie. My seun, luister baie goed na wat ek vir jou sê. Spits jou ore vir my woorde! Moet dit nooit uit die oog verloor nie. Hou dit altyd in gedagte. My woorde beteken lewe vir dié wat daarna luister; gesondheid vir die hele liggaam van die een wat hulle betekenis ken’ (Spreuke 4:18-22 NLV).

2) ‘n Boekrol. As God vir jou op een slag sy hele wil vir jou lewe gewys het, sou jy oorweldig gewees het. Deur dit egter soos ‘n outydse boekrol af te rol, openbaar Hy sy wil vir jou stukkie vir stukkie soos jy volwasse word en in staat is om dit te hanteer. Omdat dit God se wil is, het jy sy krag nodig om dit te vervul. Jy het ook die versekering van sy teenwoordigheid binne-in jou nodig. Hy beloof dit in sy Woord: ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi op die dag wanneer Jesus Christus terugkom’ (Filippense 1:6 NLV).

Sielskos: 1 Kron 16:8-36; Heb 11:4-12:3; Ps 18:20-29; Spr 4:18

Moet nooit deel van ‘n kliek wees nie

2022-10-31
Galasiërs 3:28 NLV

Die definisie van ‘n kliek is om sekere mense uit te sluit. Om uitgesluit te voel maak diep seer. Dawid het dit ervaar: ‘My beste vriend… selfs hy het sy rug op my gedraai’ (Psalm 41:10 NLV). Klieks bestaan uit swak mense wat bang is om anders te wees. Hulle dink dat solank hulle saam met ander mense is wat dieselfde as hulle dink en optree, sal hulle nie verras word of gedwing word om te verander nie. Dit mag dalk menslike natuur wees om na hierdie tipe konsekwentheid te smag, maar dis gevaarlik.

Klieks in die werkplek skep onenigheid, wat ‘n ellendige atmosfeer vir ander tot gevolg het. Mense word nie meer as individue nie, maar as ‘aan hierdie persoon se kant’ of ‘in daardie persoon se hoek,’ beskou. Sulke klieks word niks meer as die spil van skinderpraatjies, rugstekery, buite-egtelike verhoudings en elke denkbare gemors wat mense hulself op die hals kan haal, nie. Satan verlei ons met die sekuriteit van ‘die groep’ om ons te verhoed om ons individuele gawes en doelwitte te ontdek en God se wil te doen.

As jy in ‘n kliek is, maak jou so vinnig as moontlik los daarvan! Verwerp die druk om aan groepsdenke te voldoen. Hierdie mentaliteit kan jou onverwags dinge laat doen wat jy nooit gedink het jy sou doen nie – of dit nou is om jou beginsels te verlaag of stil te bly terwyl die groep iemand kritiseer.

Klieks fasiliteer rassisme, seksisme, ouderdomsdiskriminasie en die bevooroordeelde gedrag wat daarmee gepaard gaan. Hulle verkry hul mag deur diegene wat anders is, uit te sluit. Maak nie saak hoe mooi jy dit stel nie, dis blote vooroordeling! Jy is God se kind – net soos jou kollegas en ander gemeentelede – en jy moet hulle reg behandel.

Sielskos: Deut 18:9-18; Dan 2; Jes 47:5-15; Hand 16:16-34

‘n Gesonde middeweg

2022-10-30
1 Petrus 3:11 NLV

Lees die volgende Skrifgedeeltes: ‘Doen julle bes om in vrede met almal te lewe…’ (Hebreërs 12:14 NLV). ‘Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam… Die vredemakers saai saad van vrede; hulle oes omdat hulle reg lewe voor God’ (Jakobus 3:17-18 NLV). ‘As jy die lewe wil liefhê en goeie dae wil beleef, moet jy jou tong weghou van kwaadpraat en jou lippe van leuens. Bly weg van die kwaad af, ja, doen wat goed is. Soek vrede, ja, jaag dit na!’ (1 Petrus 3:10-11 NLV).

Om ‘n gesonde middeweg te kry beteken nie dat jy dit wat jy waarlik glo of wie jy waarlik is, moet prysgee nie. Dit beteken nie dat jy kortpaaie moet neem of met tweede-beste tevrede moet wees omdat jy ongeduldig of vreesbevange is nie. Nee, ‘n gesonde middeweg gaan daaroor om ‘n wen-wen situasie vir beide partye te onderhandel. Dit beteken dat jy probeer om die situasie of probleem deur die ander persoon se oë te sien.

Om ‘n gesonde middeweg te probeer kry, is die karaktereienskap van gesonde verhoudings. Dit is aanloklik om iemand as ‘verkeerd’ of ‘selfsugtig’ af te skryf en te weier om enige ander perspektief behalwe jou eie te sien. Dis egter dan wat dit noodsaaklik is om jou trots agter te laat, uit die rol wat jy speel te tree en te probeer verstaan waar die ander persoon vandaan kom.

Was daar nie al tye wat jyself geduld, liefde en begrip nodig gehad het nie? Ja? Dan moet jy gewillig wees om dieselfde genade aan ander mense te bewys. Soms is ‘n bietjie gee-en-neem al wat nodig is om die verhouding te laat werk en dinge vir almal betrokke beter te laat uitdraai.

Sielskos: 2 Kon 6:1-7; Matt 14:22-33

Jy kan te veel slaap

2022-10-29
Spreuke 20:13 NLV

Zig Ziegler het gesê: ‘Wanneer jy doen wat jy moet doen wanneer jy dit moet doen, dan kan jy doen wat jy wil doen wanneer jy dit wil doen.’ Jy sal egter nooit doen wat jy moet doen as jy nie jou alarm stel, opstaan, en gaan werk nie. Salomo waarsku ons oor die tipe slaap wat die grens tussen rus en luiheid oorsteek.

1) Te veel slaap veroorsaak dofheid. “‘n Luiaard draai om en om op sy bed, soos ‘n deur heen en weer swaai op sy skarnier” (Spreuke 26:14 NLV).

2) Te veel slaap vernietig ambisie. ‘Luiheid laat jou diep slaap. ‘n Lui mens ly honger’ (Spreuke 19:15 NLV).

3) Te veel slaap veroorsaak armoede. ‘Moenie lief wees vir slaap nie; jy kan in armoede verval…’ (Spreuke 20:13 NLV).

4) Te veel slaap stel God teleur. ‘Jou luiaard, hoe lank gaan jy nog lê en slaap? Wanneer gaan jy eendag opstaan, jou luiaard?’ (Spreuke 6:9 NLV).

5) Te veel slaap verkwis gulde geleenthede. ‘Die verstandige mens samel sy oes in wanneer dit ryp is. Hy wat in die oestyd slaap, bring skande oor homself’ (Spreuke 10:5 NLV).

Een ou is deur ‘n potensiële werkgewer gevra: ‘Pla harde werk jou?’ Hy het geantwoord: ‘Nee, harde werk pla my nie die minste nie. Ek kan langsaan gaan lê en dadelik aan die slaap raak.’ Die Bybel noem so ‘n persoon “‘n luiaard.” Sy god is sluimer, sy bed is sy altaar en sy liggaam is die offer wat hy geredelik bring. Tensy jy bereid is om hard te werk, sal jou gebede vir sukses nie hoër as die dak styg nie.

Sielskos: 1 Tim 1-3; Joh 6:52-59; Ps 114; Spr 24:23-25

Jou vlak van groei en jou posisie

2022-10-28
1 Johannes 2:12 NLV

Johannes sê: ‘Ek skryf aan julle, kinders: Julle sondes is vergewe op grond van wat Jesus vir ons gedoen het’ (vers 12 NLV). Wanneer jy wedergebore word, is jou enigste wete dat jou sondes vergewe is en dat jy in die regte posisie voor God is. Jy het egter nog baie om te leer. Die Griekse term vir ‘kinders’ verwys na kleuters. Kleuters hou aan struikel en val. Totdat hulle leer loop, het hulle iemand nodig om hulle op te tel en gerus te stel dat om te val nie beteken dat hulle nooit sal loop of dat hulle nie deel van die familie is nie.

Dis belangrik dat jy twee dinge in jou geestelike kindertyd verstaan: die verskil tussen jou vlak van groei en jou posisie voor God. Moet hulle nie met mekaar verwar nie! Jou vertroue in die voltooide werk van Christus plaas jou in die regte posisie voor God as sy aanvaarde, verloste kind. As jy dit vergeet, sal die duiwel jou elke keer wat jy val aan jou verlossing laat twyfel.

Wanneer jy sondig, beteken dit nie dat jou posisie voor God verander nie; dit beteken dat jou geestelike groei werk nodig het. Die vergifnis wat jy by die wedergeboorte ontvang, is ‘n geregtelike handeling, wat jou ‘n lid van God se familie maak. Die vergifnis wat jy egter daagliks ontvang, is ‘n verhoudingsdaad. Wanneer jy byvoorbeeld die verkeerde syfers op jou sakrekenaar druk, wat doen jy? Jy wis jou fout uit en begin die som weer maak. Dis wat die bloed van Jesus doen. Bekering laat jou toe om sonde te oorkom deur God se vergifnis te aktiveer, sodat die vloei van sy genade kan voortduur. Wanneer genade vloei, volg groei.

Sielskos: Habakuk 1-3; Joh 6:35-51; Ps 49; Spr 24:19-22

Kommunikeer met jou maat

2022-10-27
Filippense 1:9 NLV

Het jy al ooit opgelet dat wanneer jy met iemand uitgaan, julle moeiteloos vir ure lank kan gesels, maar as jy ‘n rukkie getroud is, kan gesprekke oppervlakkig raak en selfs tot meningsverskille lei? Die Bybel sê: ‘…wees altyd gou om te luister, nie te gou om te praat nie…’ (Jakobus 1:19 NLV). Daar is ‘n kuns aan kommunikasie.

1) Kyk uit vir geleenthede om mekaar te komplimenteer. Jy mag dalk dink dat jou eggenoot wonderlik is, maar hulle het nodig om dit gereeld te hoor. Dit neem twaalf komplimente om die effek van een kritiese opmerking te neutraliseer. Wanneer die lewe dus jou maat aftakel, moet jy hom/haar opbou.

2) Moenie hulle probeer verander deur te neul nie. Vrae soos: ‘Hoekom kan jy nie?’ of ‘Hoekom doen jy altyd?’ is nie opbouend nie. Sê vir jou maat een keer – nie ‘n duisend keer nie – wat jou pla. Voor jy praat, vra ook eers jouself af: ‘Sal ek dit vir ‘n gewaardeerde vriend sê?’ Indien nie, moet dit nie sê nie!

3) ‘n Huwelik kan net soveel ‘siel-ontbloting’ verdra. ‘Liefie, kan ons gou vir ‘n paar minute gesels?’ is baie minder dreigend as die onheilspellende: ‘Ons moet praat,’ aankondiging. Om druk op jou maat uit te oefen kry net die verkeerde resultate. As jou eggenoot nie op ‘n kwessie reageer nie, bespreek dit met ‘n vriend of berader. Gee dan vir jou eggenoot die verkorte, minder emosionele weergawe.

4) Laat jou maat toe om te lei. Wanneer jou eggenoot praat oor dinge waarin jy nie regtig geïnteresseerd is nie, onthou die volgende Skrifgedeelte: ‘…julle [moet] aan mekaar onderdanig wees’ (Efesiërs 5:21 NLV). Soms beteken dit dat jy vra: ‘Waaroor wil jy graag gesels?’

Indien jy ‘n goeie huwelik wil hê, moet jy hierdie vier beginsels daagliks toepas.

Sielskos: Nahum 1-3; Joh 6:25-34; Ps 98; Spr 24:15-18