2022-09-09
Psalm 69:10 NLV
Is jy passievol oor God, of bloot passief? Let op die stappe wat na Petrus se ontkenning van Jesus gelei het. Stap een: ‘…Simon, Simon!.. die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges gaan ondersteun’ (Lukas 22:31-32 NLV). Jesus waarsku Petrus dat hy ‘n teiken is, maar Petrus glo Hom nie.
Stap twee: ‘Nadat hulle Jesus toe gearresteer het, het hulle Hom weggelei en in die huis van die hoofpriester ingebring. Petrus het op ‘n afstand gevolg’ (vers 54 NLV). Petrus was een van Jesus se naasste dissipels, maar nou het hy Hom op ‘n afstand gevolg.
Stap drie: “‘n Sekere diensmeisie… [sê]: ‘Hý was ook saam met daardie man.’ Petrus het dit egter heftig ontken: ‘Vrou, ek ken Hom glad nie!'” (verse 56-57 NLV).
Stap vier: ‘Die Here het omgedraai en Petrus stip aangekyk. Petrus het die Here se woorde onthou toe Hy aan hom gesê het: ‘Voordat die haan nog vannag kraai, sal jy drie keer ontken dat jy My ken.’ En hy het buitetoe gegaan en onbedaarlik gehuil’ (verse 61-62 NLV).
Hier is hoe dit werk: Eerstens neem jy aan dat jy nie sal val nie, dus is jy onvoorbereid vir Satan se aanval. Vervolgens laat jy die probleme en druk toe om jou te laat vergeet dat jou eerste verpligting altyd teenoor die Here moet wees. Uiteindelik eindig jy geestelik oorwonne op. Die rede hoekom Satan jou soos koring wil sif, is omdat hy weet dat wanneer jy passievol daaroor word om God se wil te doen, jy onstuitbaar sal wees. Moet dus nooit jou passie vir God verloor nie.
Sielskos: Eseg 16:53-19:14; Mark 11:12-26; Ps 27; Spr 20:5-6
2022-09-08
Jakobus 3:18 NLV
Satan weet dat God se Woord net met ‘n hart en gedagtes wat vrede het ontvang kan word, dus sal hy alles doen wat hy kan om te sorg dat jy ontsteld bly. Hy is mal daaroor wanneer jy net voor kerk in ‘n argument betrokke raak en die hele kerkdiens deur sleg voel. Dis hoekom jy alles in jou vermoë moet doen om jou vrede te bewaar. As die duiwel jou nie kan ontstel nie, het hy geen mag oor jou nie. Hy hou jou ontsteld sodat hy jou vrede kan steel, jou kan verwar en jou in sirkels kan laat hardloop. Moenie hom toelaat om dit te doen nie!
Die volgende keer wat jy oor iets opgewerk raak, stop en vra jouself af: ‘Wat probeer die Vyand hier doen? As ek tot hierdie emosies ingee, wat sal die resultaat wees?’ Wanneer jy gestres is, verloor jy jou vreugde. Wanneer jy jou vreugde verloor, verloor jy jou krag, want: ‘…die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees!’ (Nehemia 8:10 NLV). Dis dus noodsaaklik dat jy selfbeheersing uitoefen en jou vrede probeer behou.
Die Bybel sê: ‘Maar as ‘n mens leef soos God dit in sy wysheid bedoel het, sal jou lewe heeltemal anders lyk. Dit sal ‘n lewe wees waarop die sonde geen houvas het nie. So iemand sal in vrede met ander mense saamleef… hy vergewe ander maklik en doen graag dinge vir ander sonder om iets terug te verwag… Dit is belangrik om in vrede met mekaar te leef. Sorg dat waar jy gaan, vrede jou soos ‘n skaduwee sal volg. Om in vrede met mekaar te leef is reg en mooi voor God’ (Jakobus 3:17-18 DB). Om met ander mense oor die weg te kom kan harde werk wees, maar dis die moeite werd om vrede te kan hê.
Sielskos: Eseg 14:1-16:52; Mark 11:1-11; Ps 112; Spr 20:1-4
2022-09-07
Handelinge 16:31 NLV
Het jy al van die ‘Romeinse pad’ tot verlossing gehoor? Dit word op vier eenvoudige stappe wat in die boek Romeine gevind word, gebaseer.
Stap een: ‘Ons het immers almal gesondig. Ons almal het God beroof van die eer wat Hom toekom’ (Romeine 3:23 NLV). Ons almal is tot op ons kern sondaars, wat ‘n Verlosser desperaat nodig het.
Stap twee: ‘Want wat die sonde uitbetaal, is die dood. Maar God se genadegawe is die ewige lewe…’ (Romeine 6:23 NLV). Die evangelie beteken ‘goeie nuus.’ Hier is die goeie nuus: Al jou sondes, van die wieg tot die graf, is deur Jesus betaal.
Stap drie: ‘…Christus [het] vir ons kom sterf ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was’ (Romeine 5:8 NLV). Jy kan nie verlossing deur goeie werke verdien nie; God gee dit vrylik aan jou. Al wat jy moet doen is om dit deur geloof te ontvang.
Stap vier: “Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Want as ons glo met ons hart, word ons vrygespreek en as ons met ons mond bely, word ons gered… ‘Want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word'” (Romeine 10:9-13 NLV).
Voel jou lewe leeg? Verlang jy na vrede; om te weet dat jou sondes vergewe is en dat jy ‘n tuiste in die hemel het wanneer jy sterf? Plaas vandag jou vertroue in Jesus en maak Hom Heer oor jou lewe. Bid hierdie woorde: ‘Here, ek gee my lewe aan U oor. Kom my hart binne. Deur geloof ontvang ek die gawe van die ewige lewe. Dankie dat U alles tussen my en U reggestel het. In Jesus se naam. Amen.’
Sielskos: Eseg 10-13; Mark 10:35-52; Ps 20; Spr 19:24-29
2022-09-06
Hebreërs 10:36 NLV
Satan bestudeer jou. Hy verstaan jou sterk- en swakpunte en weet hoe om jou tot by jou perke te druk. Wanneer jy egter staande bly, aanhou glo en aanhou veg, sê die Bybel: ‘Gelukkig is die mens wat in beproewing volhard! As die toets sy geloof as eg bewys, sal hy die lewe as oorwinningskroon ontvang…’ (Jakobus 1:12 NLV). Wanneer jou karakter en deursettingsvermoë getoets word, kwalifiseer oorwinning jou vir groter dinge.
Jy vra: ‘Hoe lank sal hierdie toets aanhou?’ Net God weet. God het die leër van Israel vir veertig dae lank teengestaan (sien 1 Samuel 17:16). Satan het Daniël se gebede vir een-en-twintig dae verhinder (sien Daniël 10:13). Satan is meedoënloos, dus moet jy ook wees.
Wanneer dit by gebed kom, moet jou volharding sy weerstand oorwin. ‘Moenie hierdie vertroue in God deur julle vingers laat glip nie… Wat julle nodig het, is om te volhard sodat julle kan voortgaan om God se wil te gehoorsaam. Dan sal julle ontvang wat God beloof het’ (Hebreërs 10:35-36 NLV).
Dawid het nie met Batseba in die moeilikheid gekom totdat hy die slagveld verlaat het nie (sien 2 Samuel 11:1). Hou dus aan veg en God sal jou te hulp snel. Hy het dit vir Josua gedoen. Toe Josua ekstra tyd nodig gehad het om sy vyande te verslaan, het God die son laat stilstaan en tyd gestop (sien Josua 10:12). Toe Jesus tien melaatses gesond gemaak het, sê die Bybel: ‘…Terwyl hulle soontoe op pad was, het hulle gesond geword’ (Lukas 17:14 NLV). Hulle het seker gewonder: ‘Wanneer gaan dit gebeur en hoe gaan dit gebeur?’
Geloof vereis nie details en verduideliking nie; dit hou net aan vorentoe beweeg terwyl dit God vir die regte resultaat glo.
Sielskos: Eseg 5-9; Mark 10:23-34; Ps 142; Spr 19:21-23
2022-09-05
2 Kronieke 34:1-2 NLV
Toe Josia koning geword het, het hy die afgode uit Israel verwyder en die tempel begin herbou. Gedurende daardie tyd het ‘n priester ‘n paar lang verlore boekrolle wat God se Woord bevat, ontdek. Toe Josia hoor wat daarin staan, was hy diep ontroer toe hy besef hoe ver sy mense van God af beweeg het. Dus het hy ‘n boodskap na die profetes Gulda gestuur om te vra wat van die volk sou word. Sy het vir hom gesê dat aangesien hy berou gehad het toe hy God se Woord gehoor het, sou sy volk solank as wat hy lewe, gespaar bly (sien verse 14-27).
‘n Hele generasie het as gevolg van die integriteit van een man, genade ontvang. Daardie een man het egter baie gehad om te oorkom. Josia se oupa, Manasse, was soos die Hitler van die Ou Testament. Hy het ‘…so baie onskuldige bloed vergiet dat hy Jerusalem van hoek tot kant daarmee vol gemaak het…’ (2 Konings 21:16 NLV). Josia se pa is deur sy eie manskappe om die lewe gebring. Josia was net agt jaar oud toe hy die troon bestyg het. Hy het dadelik geregtigheid gekies en sy hele lewe lank gedoen wat reg is.
Wat is die punt? Jy kan nie jou ouers kies nie, maar jy kan jou rolmodelle kies. Jy kan nie jou verlede kies nie, maar jy kan bo dit uitstyg. Jou ouers mag dalk vir jou jou DNS gegee het, maar Jesus sal vir jou ‘n nuwe begin gee. ‘Omdat julle God se kinders is wat Hy liefhet, moet julle sy voorbeeld volg’ (Efesiërs 5:1 NLV). Jou verlede hoef nie jou tronk te wees nie. Kies dus die regte toekoms en eendag – generasies van nou af – sal ander mense God vir jou nalatenskap dank.
Sielskos: Eseg 1-4; Mark 10:13-22; Ps 111; Spr 19:18-20
2022-09-04
Psalm 27:14 AFR53
Dawid het gesê: ‘o, As ek nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie… Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!’ (verse 13-14 AFR53). Die woord ‘wag’ kom van ‘n Hebreeuse woord wat gebruik word om die proses om ‘n tou te maak, te beskryf. Elke tou begin as ‘n draad, en elke bygevoegde draad vermeerder die tou se krag. Elke keer wat jy dus op die Here wag, voeg jy nog ‘n draad by die tou; jy word ‘n bietjie sterkter en ‘n bietjie meer in staat om dinge te hanteer.
Hang jy aan ‘n draadjie? Bestee meer tyd met God en kyk hoe Hy die draadjie in ‘n tou verander. In hierdie geval is om te wag nie soveel ‘n posisie as wat dit ‘n fokus is nie. Die Bybel sê: ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is’ (Jesaja 26:3 NLV). Of dit nou is om biddend in God se teenwoordigheid te sit of om Hom aktief te dien, jy het die versekering dat jou krag vernuwe sal word.
As jy vandag wil tou opgooi, gryp hierdie beloftes aan: ‘Maar dié wat hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry. Hulle vlieg soos arende. Hulle sal hardloop en nie moeg word nie. Hulle sal loop en nie vermoeid word nie’ (Jesaja 40:31 NLV). ‘Soos oë van slawe gerig is op hulle meester… so is ons oë gerig op die Here…’ (Psalm 123:2 NLV).
Sielskos: Dan 6:1-24; Hand 12:1-19