Hulp vir jou huwelik

2022-10-26
Psalm 127:1 NLV

Niemand weet meer van die huwelik as God nie. Sy Woord sê: ‘As die Here die huis nie bou nie, is die bouers se arbeid tevergeefs…’ Kom ons kyk dus na sy Woord en sien watter tipe raad Hy vir jou huwelik het:

1) Wees gewillig om raad te aanvaar. Salomo sê: ‘Selfvoldaanheid lei altyd tot rusies. Hulle wat na ander luister, het wysheid’ (Spreuke 13:10 NLV). Voor die argument dus in ‘n krisis ontaard, vra ‘n vriend wat jy vertrou of ‘n berader vir hulle insette. Dit verg nederigheid, maar betaal groot dividende.

2) Moenie ophou praat nie. Selfs as iets vir jou voor-die-hand-liggend lyk, moenie aanvaar dat jou maat jou gedagtes kan lees nie. Moet ook nie stilstuipe kry nie. Sê vir jou man of vrou wat jou pla, selfs al beteken dit julle moet deur ‘n meningsverskil werk. Dis wanneer jy nie genoeg omgee om van jou maat te verskil nie, dat dinge uitmekaar val.

3) Hou jou liefde lewendig. Om ‘n sterk huwelik te bou, beteken dat jy oor en oor en oor op dieselfde persoon verlief moet raak. Paulus skryf: ‘Ek bid dat julle liefde vir mekaar meer en meer sal word deurdat julle ‘n al beter begrip en ‘n fyn aanvoeling ontwikkel’ (Filippense 1:9 NLV).

Dis onmoontlik om van huwelikstres te ontsnap, maar jy kan dit beheer deur geleenthede weg van die daaglikse sleur te skeduleer. Gaan stap saam, kyk ‘n fliek saam, gaan drink koffie, doen iets wat julle weer bymekaar uitbring. Laat jou kinders ook weet dat julle tyd neem om saam te wees. Nie net sal hulle leer om dit te waardeer nie, dit sal hulle ook help om later ‘n goeie huwelik van hul eie te bou.

Sielskos: 2 Pet 1-3; Joh 6:16-24; Ps 85; Spr 24:11-14

Bou goeie verhoudings

2022-10-25
Filippense 2:4 NLV

Paulus skryf: ‘Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange’ (verse 3-4 NLV). Dit beteken dat jy die volgende vyf dinge moet doen:

1) Stel opreg in ander mense belang. ‘As ander blydskap ervaar, juig saam met hulle. As hulle hartseer is, deel dit met hulle’ (Romeine 12:15 NLV). Jy kan dit slegs doen wanneer jy die moeite doen om uit te vind wat in iemand anders se wêreld aangaan.

2) Wees opgewek. ‘Blydskap laat ‘n mens se gesig straal. Hartseer maak ‘n mens terneergedruk’ (Spreuke 15:13 NLV). Moenie jou probleme op iemand anders afpak nie, hulle het genoeg van hul eie. Neem jou probleme eerder in gebed na die Here toe.

3) Wees versigtig wat jy sê en sê altyd minder as wat jy dink. “‘n Dwaas bars uit in woede. Iemand wat wys is, hou homself in toom” (Spreuke 29:11 NLV). Wees altyd vriendelik en hoflik, omdat hoe jy iets sê net so belangrik is as wat jy sê.

4) Wees betroubaar. Die Bybel sê: ‘…gedurende die laaste dae… sal… mense… hulle vriende verraai…’ (2 Timoteus 3:1-4 NLV), maar jy hoef nie hierdie profesie te vervul nie. Streef daarna om ‘n persoon te wees wie se woord betekenis het.

5) Wees ‘n bemoediger. Barnabas was bekend as ‘n motiveerder, want hy het mense ‘…aangespoor om lojaal aan die Here te bly’ (Handelinge 11:23 NLV). Selfs ‘n glimlag kan wondere verrig. Job het gesê: ‘Wanneer hulle moedeloos was, het ek hulle met ‘n glimlag bemoedig. Wanneer ek met goedkeuring na hulle kyk, was dit vir hulle kosbaar’ (Job 29:24 NLV). Soms is dit so eenvoudig!

Sielskos: 2 Sam 22:31-24:25; Joh 6:1-15; Ps 126; Spr 24:10

Nagtelike ervarings (2)

2022-10-24
Jeremia 1:5 NLV

Wanneer God jou seën, moet jy jouself gereedmaak vir die klakouse wat dink dat Hy hulle eerder moes seën. Toe ‘n dispuut oor watter van die twaalf stamme Israel moes lei, ontstaan het, het God vir Moses gesê om elke stamleier se naam op ‘n stok te skryf en dit oornag in die tabernakel te plaas. Toe het God gesê: ‘Daar sal bloeisels kom uit die stok van die leier wat Ek verkies. Ek sal ‘n einde maak aan die Israeliete se opstand teen julle’ (Numeri 17:5 NLV). Dink jou in – ‘n ou stok sonder wortels wat in die donkerte blom! Die waarheid is dat geloof nie sonder swaarkry kan groei nie; dit moet in die duisternis van teëspoed ontwikkel.

God het vir Jeremia gesê: ‘Ek ken jou nog voordat jy gevorm is in die skoot van jou moeder…’ Voor jy nog ‘n hartklop op ‘n monitor was, het God planne vir jou gehad. Die rede hoekom jy nie op die operasietafel of in die karongeluk gesterf het nie, is omdat God sy hand oor jou hou. Hy het jou egter nie gekies omdat jy so deugsaam en wonderlik is nie. Nee, ‘Inderdaad, wat vir die wêreld onaansienlik en gering lyk… het God uitgekies… Gevolglik het niemand enige grond om sy bors voor God uit te stoot nie’ (1 Korintiërs 1:28-29 NLV).

Die Bybel sê toe God die hemel en die aarde geskep het, ‘…[was] die diep waters toegevou in duisternis…’ (Genesis 1:2 NLV). Toe het God gepraat en gesê: ‘Laat daar ligte wees…’ Dit het toe so gebeur’ (Genesis 1:14-15 NLV). Vandag kan God lig uit jou duisternis en hoop uit jou wanhoop meebring. Hy word nie deur die duisternis geïntimideer nie – dis waar Hy sommige van sy beste werk doen!

Sielskos: 2 Sam 20:1-22:30; Joh 5:31-47; Ps 5; Spr 24:8-9

Nagtelike ervarings (1)

2022-10-23
Psalm 30:6 NLV

Die aarde roteer voortdurend, wat beteken wanneer dit lig in een halfrond is, dit donker in die ander een is. Terwyl een persoon middernag ervaar, verbly ‘n ander persoon hom omdat die dag uiteindelik vir hom aangebreek het. Beide persone lewe op dieselfde planeet, maar hulle is op baie verskillende plekke.

Wanneer jy dus ‘n nagtelike ervaring het, sal dinge verander as jy net ‘n bietjie langer uithou. God waarborg dit. Op dieselfde manier waarop jy in die donkerte in geroteer het, sal jy weer daaruit roteer. God werk die nagskof en Hy sal jou donkerte in lig verander as jy net aanhou om op Hom te vertrou.

Sommige betekenisvolle gebeurtenisse in die Bybel het in die nag plaasgevind. Byvoorbeeld, terwyl Adam geslaap het, het God geopereer en Eva geskape. Om middernag, terwyl die ander gevangenes geslaap het, het Paulus en Silas God gelofprys en het Hy hulle bevry. Toe Petrus in die binneste gedeelte van die tronk toegesluit was, het God om middernag ‘n engel gestuur om hom te bevry. Toe Jesus gekruisig is, is die aarde in duisternis gedompel, maar op Paasmôre het die lig aangekom – vir altyd.

Jy moet te wagte wees dat jy nagtelike ervarings sal hê. God se ‘donkerkamer’ is waar Hy jou in die beeld van Christus ontwikkel. Volharding is wat jou die getuigskrifte gee om in die daglig uit te stap, nadat jy die reg verdien het om daar te wees.

Hierdie soort geloof is hardnekkig, radikaal en meedoënloos. Wanneer dit in ‘n hoek vasgekeer word, staan dit sy man en verklaar: ‘Ek het my werk verloor, my verband is agterstallig, my simptome lyk nie te goed nie, maar ek glo God steeds.’ Dis die tipe geloof wat elke keer resultate kry!

Sielskos: 2 Kon 6:8-23; Matt 5:43-48; Luk 6:27-36

Gebruik jou God-gegewe gawe

2022-10-22
2 Timoteus 1:6 NLV

Ander mense mag dalk nie dink dat jy belangrik is nie, maar God doen. Sy opinie is die een wat die meeste tel. Onthou jy vir Dawid? Voor hy koning geword het, moes hy twee struikelblokke oorkom. Die eerste struikelblok was sy familie se onvermoë om sy potensiaal raak te sien. Toe Samuel, die profeet, vir ‘n koning onder Isai se seuns gesoek het, is Dawid nie eers oorweeg nie. Miskien omdat hy die jongste was, of omdat dit gelyk het of sy broers meer gekwalifiseerd was, of omdat sy pa die profeet wou probeer beïndruk. Die tweede struikelblok was Samuel se onvermoë om God se roeping op Dawid se lewe te herken. Toe Samuel die oudste broer, Eliab, wat ‘n generaal in die koning se leër was sien, het hy gesê: ‘…Dis sekerlik die Here se gesalfde!..’ (1 Samuel 16:6 NLV). God het egter vir Samuel – en die res van ons – met hierdie woorde tereggewys: ‘…Mense oordeel volgens uiterlike voorkoms, maar die Here kyk na gedagtes en bedoelings’ (1 Samuel 16:7 NLV).

Dawid se probleem is ‘n algemene een. Baie van ons glo nie in onsself nie, omdat ons nie deur ons ouers erken en aangemoedig is nie. Miskien het jy die potensiaal om ‘n goeie musikant te wees, maar omdat niemand genoeg omgegee het om vir jou musieklesse te gee toe jy jonger was nie, het jy opgegee. Of jy mag dalk ‘n ontluikende entrepreneur wees wat vir jou ‘dwase idees’ oor hoe om besigheid te doen gekritiseer is, dus het jy die drome van jou jeug laat vaar.

Indien dit die geval is, is dit tyd om te begin bid dat God jou oë sal oopmaak en iemand in jou lewe sal plaas wat die vuur binne in jou sal bekragtig en aanblaas.

Sielskos: 2 Sam 17:14-19:43; Joh 5:16-30; Ps 15; Spr 24:7

George Müller se gedagtes oor meditasie

2022-10-21
Psalm 119:47 NLV

George Müller was ‘n man met groot geloof. Hy het duisende hawelose kinders in Engeland gered. Soms wanneer hulle rondom die tafel vir aandete bymekaar gekom het was daar niks om te eet nie, dus sou hy bid en God vir bonatuurlike voorsiening dank. Wanneer hy skaars klaar ‘Amen’ gesê het, het daar ‘n bakker met brood, ‘n groenteboer met groente of ‘n boer met melk aan sy deur geklop.

Hier volg ‘n inskrywing in sy dagboek, gedateer 9 Mei 1841: ‘Ek het met meer duidelikheid as ooit besef dat die primêre taak waaraan ek daagliks eerste my aandag moet wy, nie moet wees hoe baie ek die Here dien nie, maar hoe om my innerlike menswees te voed. Want ek kan probeer om die waarheid met die onbekeerdes te deel, ek kan probeer om gelowiges te bevoordeel, maar indien ek nie gelukkig in die Here is nie, en nie my innerlike menswees dag na dag voed en versterk nie, kan ek nie met die regte gesindheid dit alles doen nie. Voorheen het ek gebid nadat ek in die oggend aangetrek het. Nou sien ek dat die belangrikste ding wat ek moet doen, is om my oor te gee aan die lees van God se Woord en om daaroor te mediteer, sodat my hart vertroos, bemoedig, gewaarsku, bestraf en onderrig word; en dat my hart deur middel van die Woord van God, terwyl ek daaroor mediteer, in eksperimentele gemeenskap met die Here gebring kan word.’

Vir meer as veertig jaar het Müller in die krag van God geleef en wonderwerke gesien. Wat was sy geheim? Om elke dag tyd te neem om oor God se Woord te mediteer.

Sielskos: 2 Sam 14:21-17:13; Joh 5:1-15; Ps 41; Spr 24:5-6