2022-09-03
Levitikus 21:18-20 NLV
As jy iemand met hulle onopgeloste kwessies wil help, moet jy eers jou eie hanteer. As die medisyne wat jy aanbied jou nie heel gemaak het nie, sal jy geen geloofwaardigheid hê wanneer jy dit op ander se lewens probeer toepas nie. Beteken dit dat as jy onopgeloste kwessies het, God jou nie sal gebruik nie? Nee, dis die gebrokenes wat meesters daarin word om ander te herstel. Jy moet egter eers die tyd neem om te genees.
Wanneer jy geestelik en emosioneel bloei, kan jy nie mense se probleme met dieselfde aggressiewe geloof wat jy sou gehad het as jy reeds deur die probleem gewerk het, takel nie. Is dit verkeerd om ‘n gebroke hart te hê? Nee, want God ‘…genees die gebroke hart, en verbind die wonde’ (Psalm 147:3 NLV). Laat God dus toe om jou te genees sodat Hy jou kan gebruik.
In die tyd van die Ou Testament, kon jy nie as priester dien as jy ‘n oop wond gehad het nie, want: 1) Jy sou nie geestelik opgewasse wees nie. 2) Jy sou nie naby ander kon kom vir ingeval hulle teen jou sou stamp en die wond vererger nie. 3) Jy sou nie op jou beste kon wees nie, want die pyn sou jou kragte tap. 4) Jy sou bang wees om oor jou wond te praat, vir ingeval mense jou verwerp. Jy sou dus op twee vlakke lewe en onseker, skynheilig of ‘n beheervraat word. 5) Die ergste van alles is dat jy so besig sou wees om vir God te werk en vir ander mense te sorg, dat jy nie tyd sou hê om te stop en vir jouself te sorg nie.
Die woord vir jou vandag is dus – hanteer jou onopgeloste kwessies.
Sielskos: Amos 5:18-9:15; Mark 10:1-12; Ps 103:13-22; Spr 19:17
2022-09-02
Matteus 18:18 NLV
God het vir Josua gesê: ‘…Steek die spies in jou hand na Ai toe uit. Ek gee die stad in jou mag oor…’ (Josua 8:18 NLV). Dis wonderbaarlik hoe dapper jy voel wanneer jy God se ondersteuning het. Wanneer jy weet dat Hy aan jou kant is, kan jy sê: ‘Geen wapen wat teen my gemik word, sal iets teen my kan uitrig nie’ (sien Jesaja 54:17).
Oormoed is egter selfvertroue wat nie op vertroue in God gebaseer is nie. Ons probleem is dat ons dinge beplan, sê en doen sonder om eers seker te maak dat God ons daarin ondersteun. Kan jy onthou wat die bose gees vir die mense wat nie deur God se Gees bekragtig is nie en Paulus se bediening probeer na-aap het, gesê het? ‘…Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar wie’s júlle?’ (Handelinge 19:15 NLV).
Wanneer jy aangeval word, moet jy seker wees dat: 1) jy in die regte posisie met God is (sien 2 Korintiërs 5:21), 2) dat dit God se stryd, sowel as joune is (sien 2 Kronieke 20:15), en 3) ‘…wat julle ook al op aarde sou afwys, sal ook voor God verbode wees. Maar wat julle ook al in orde vind, sal ook voor God in orde wees’ (Matteus 18:18 NLV). As God dit nie goedkeur nie, moet jy ook nie. Jou selfvertroue kom deur die wete dat jy binne sy wil optree.
Die Bybel noem ons: ‘…Gód se werkspan…’ (1 Korintiërs 3:9 NLV), dus kan jy nie net sommer jou eie ding gaan doen nie. Moenie die berg probeer beweeg wat God nie wil hê moet beweeg nie. Ons doen op aarde slegs wat Hy in die hemel as sy wil verklaar het. Hy sal ons daarin ondersteun!
Sielskos: Amos 1:1-5:17; Mark 9:38-50; Ps 103:1-12; Spr 19:12-16
2022-09-01
Spreuke 13:10 NLV
Hoekom wys ons insette wat ons kan help, af? Soms is dit om ons ego teen ‘n pynlike waarheid te beskerm. Wanneer ons ‘n ingeburgerde opinie het, neem ons ‘n afwysende benadering teenoor ander mense se denkwyses aan. Ons maak dan nie net hulle nie, maar ook onsself, seer. ‘Dis beter om ‘n jongmens te wees wat arm en verstandig is, as om ‘n koning te wees wat oud en dwaas is en van niemand raad aanvaar nie’ (Prediker 4:13 NLV). Ja, jy het areas van kundigheid. Jy het egter ook areas waar jy raad nodig het. Die dag wat jy besluit om op te hou luister, is die dag wat jy besluit om op te hou groei.
Thomas Carlyle het gesê: ‘Elke mens is my meerdere in die opsig dat ek van hulle kan leer.’ Selfs as dit wat jy leer negatief is, of ‘n les is in wat om nie te doen nie, is dit steeds waardevolle informasie wat jou kan beskerm en verryk.
Dr John Maxwell sê: ‘Wat is die een ding – meer as enigiets anders – wat die groei van ‘n organisasie sal bepaal? Die groei van mense in die organisasie. Wat bepaal die mense se groei? Die leier se groei! So lank as wat mense jou volg, sal hulle slegs in staat wees om so ver te gaan soos wat jy gaan. As jy nie groei nie, sal hulle nie groei nie – of hulle sal êrens anders gaan waar hulle kan groei.’
Daar is ‘n verhaal van ‘n boer wat sy donkie by die Kentucky Derby ingeskryf het. ‘Jou donkie staan nie ‘n kans teen al daardie volbloedperde nie,’ het ‘n resiesbeampte vir hom gesê. ‘Ek weet,’ het hy geantwoord, ‘maar ek het gedink die uitgelese geselskap sal hom bietjie goed doen.’ Jy het die regte geselskap en insette nodig om te kan groei.
Sielskos: Klaag 3:40-5:22; Mark 9:30-37; Ps 84; Spr 19:11
2022-08-31
1 Samuel 16:10 NLV
Dawid het sewe broers gehad. Toe die tyd aanbreek om ‘n koning te kies om Saul te vervang, het Samuel gedink dat enigeen van die sewe ‘n beter koning as Dawid sou maak. God het egter al sewe verwerp. Hoekom?
Want: 1) Hulle het die regte voorkoms gehad, maar nie die geestelike kern nie. God het vir Samuel verduidelik: ‘…Mense oordeel volgens uiterlike voorkoms, maar die Here kyk na gedagtes en bedoelings’ (vers 7 NLV). Dawid se geestelike kern is deur die jare wat Hy met God bestee het, gevorm. Sy hartsbegeerte was: ‘Soos ‘n wildsbok smag na water, so smag ek na U, o God’ (Psalm 42:2 NLV).
2) Hulle het nie persoonlike ervarings met God gehad om op terug te val nie. Die leeu en die beer was groot, maar Goliat was groter. Tog was Dawid nie geïntimideer nie. ‘Die Here wat my uit die kloue van die leeu en die beer gered het, sal my ook red van hierdie Filistyn!..’ (1 Samuel 17:37 NLV). Daar is geen onbeduidende gevegte nie. Die klein gevegte rus jou vir die groot gevegte wat jou lot bepaal, toe. Hoe jy in ‘n krisis reageer, word deur die ervarings wat jy al met God gehad het, bepaal.
3) Hulle is maklik deur ander mense beïnvloed. Dawid se broers het toegelaat dat die vrese van die mense rondom hulle, hulle geloof laat wegkwyn het. Vrees is aansteeklik; as jy lank genoeg daarna luister, sal jy geïnfekteer word. Nee, jy moet nie jouself van die wêreld afsonder nie, maar jy moet teen die negatiewe invloede daarvan geïsoleer wees. Goliat se woorde het Dawid se broers bang gemaak, maar nie vir Dawid nie. Na wie luister jy vandag? Kry God se opinie en bou jou lewe daarop; laat sy Woord toe om elke kwessie uit te klaar.
Sielskos: Klaag 1:1-3:39; Mark 9:14-29; Ps 119:169-176; Spr 19:9-10
2022-08-30
Spreuke 13:12 NLV
Jy sê: “‘n Man of vrou kan sekerlik verander wanneer hulle die regte maat ontmoet?” Nee. Net God kan mense verander – en jy is nie God nie! Wanneer jy ook die behoefte het dat jou maat jou konstant nodig moet hê, kan dit veroorsaak dat jy rampspoedige verhoudingskeuses in die lewe maak. Miskien het jy al verhale gehoor van mense wat yslike veranderinge in hul huwelik ondergaan het. Die waarheid is egter dat die krag om te verander van binne daardie persoon self moet kom, nie van jou af nie. Wanneer jy probeer om jou eggenoot te verander, werk dit nie en uiteindelik sal jou hoop vir verandering in mismoedigheid verander.
Die Boodskap stel dit as volg: ‘Drome wat nie waar word nie, bring hartseer.’ Wanneer jy aanhou smag na iets wat nooit realiseer nie, raak jy hartseer. Jy begin dan verskonings maak vir dit in die verhouding wat nie werk nie, selfs al word dit duidelik vir diegene rondom jou dat daar probleme is. Gesonde verhoudingsbesluite word nie op hoop gebaseer nie. Voeg daarby die feit dat gelowiges dikwels probeer om elke saak te vergeestelik – in die naam van ‘geloof’ ignoreer hulle dan hul instinkte. Dis nie wat geloof in God beteken nie!
Geloof in God moet eenvoudig dit wees – geloof in God. Ons moenie ons geloof in feilbare mans en vrouens plaas nie, want hulle sal ons faal. God gee vir elkeen van ons ‘n wil, maar Hy forseer ons nie om te verander nie. Verandering moet van binne elkeen van ons kom, wanneer ons die genade wat God elke dag na ons toe uitreik, aanvaar. ‘…Die Here het [Lydia se] hart oopgemaak sodat sy ontvanklik was vir Paulus se boodskap’ (Handelinge 16:14 NLV). Hier is ‘n beter opsie: Bid vir hulle en laat God hulle verander!
Sielskos: Gal 4-6; Mark 9:1-13; Ps 119:161-168; Spr 19:3-8
2022-08-29
Openbaring 2:4 NLV
Een van Paulus se eerste briewe was aan die kerk in Efese. Hulle was geestelik, hulle leerstellings was gesond en hulle was ‘n voorbeeld in hul liefde vir Christus. Tog sê Jesus jare later vir daardie selfde kerk: ‘Maar Ek het hierdie klag teen jou: dat jy jou eerste liefde versaak het. Dink terug aan hoe ver jy uitgesak het en kom tot inkeer, en doen weer wat jy aan die heel begin gedoen het…’ (verse 4-5 NLV).
Het jou liefde vir God koud geword? Dan moet jy teruggaan na waar jy Hom die eerste keer ontmoet het, voor die druk van die lewe jou begin aftakel het. ‘Maar ek is besig om die Here se werk te doen,’ sê jy. Pasop: jy kan te besig wees om vrugte te dra! Drie keer het Jesus vir Petrus gevra: ‘…’het jy My lief?’… hy antwoord Jesus: ‘Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet’…’ (Johannes 21:17 NLV). Oswald Chambers het gesê: ‘Pasop vir enigiets wat met lojaliteit aan Jesus Christus meeding. Die grootste mededinger van toewyding aan Jesus, is diens vir Hom.’
Toe Petrus besluit het om daardie aand te gaan visvang, mag hy dalk ‘n besluit geneem het om weg te kom van alles af en terug te gaan na daar waar hy die eerste keer die Here ontmoet het. Dis ‘n goeie plek, indien jy die Here daar gaan soek! Wanneer jy moedeloos raak, sal jy óf teruggaan na die Een wat kan red, behou en bevredig, óf jy sal teruggaan na wat ook al in jou lewe aangegaan het voordat jy Hom ontmoet het. Dis nie ‘n goeie skuif nie! Hoekom nie? Omdat die Bybel sê dat Petrus die hele nag visgevang het en niks gevang het nie.
Sielskos: Gal 1-3; Mark 8:27-38; Ps 119:145-160; Spr 19:1-2