Begin jou dag op die regte manier

2022-08-28
Genesis 19:27 NLV

Abraham het as ‘vriend van God’ (Jakobus 2:23 NLV), bekend gestaan. Wat ‘n eer! Sy geheim word egter dikwels misgekyk: ‘Dié oggend het Abraham vroeg opgestaan en hom gehaas na die plek waar hy by die Here gestaan het.’ Hy het sy dag met God begin. Doen jy dieselfde? Die manier wat jy in die oggend opstaan, gee die toon vir die res van jou dag aan.

Probeer dus die volgende: Bestee moreoggend heel eerste vir ‘n paar minute alleen tyd met God en gaan saam met Hom oor jou planne vir die dag. Soos jy dit met Hom bespreek, sal jy ‘n paar besorgdhede hê. Gee dit eenvoudig vir Hom. Miskien sal jy oplet dat daar ‘n spesifieke probleem is waaroor jy bekommerd is. Vra Hom dus vir wysheid. Die Bybel sê Hy sal dit met graagte vir jou gee (sien Jakobus 1:5). As Hy jou nie ‘n onmiddellike antwoord gee nie, besef dat Hy wil hê dat jy op Hom moet vertrou. Hy het iets in gedagte, iets waaraan jy nog nie gedink het nie.

So baie van ons begin ons dae angstig, gejaagd of vreesbevange. Jy hoef egter nie. Jy gaan jou dag in elk geval moet begin; so hoekom betrek jy nie God voor wie al ons bekommernisse vlug nie? Wanneer jy ‘n slegte dag het, stop en vra jouself af: ‘Het ek hierdie dag met God begin, of het ek vergeet om Hom te betrek?’ Hier is twee Skrifgedeeltes wat jy moet oorweeg: ‘Here, in die oggend sal U my stem hoor. Soggens bring ek my versoeke vol verwagting na U toe’ (Psalm 5:4 NLV). ‘Vul ons met u genade in die oggend, dan sing ons van vreugde al ons dae’ (Psalm 90:14 NLV).

Sielskos: Gen 11:1-9; Fil 2:1-11

Hou aan bid vir jou ‘probleemkind’

2022-08-27
Efesiërs 6:4 DB

Wanneer jy elkeen van jou kinders op dieselfde manier grootmaak en een van hulle draai in ‘n probleemkind uit, wat staan jou te doen?

1) Bid vir wysheid. ‘Met wysheid word ‘n huis gebou. Insig is nodig om dit te onderhou’ (Spreuke 24:3 NLV). Moenie obsessief oor een kind raak en die ander afskeep nie. Konsentreer minder op jou probleemkind. In plaas daarvan om hulle aanhoudend te probeer regruk, geniet al jou kinders en kyk hoe dinge verbeter.

2) God het nie twee sneeuvlokkies dieselfde gemaak nie, ook nie twee kinders nie. Sommige probleemkinders ontwikkel net teen ‘n ander pas en op ander maniere; gee hulle dus tyd.

3) Baie families het ‘n probleemkind wat ons ongemaklik maak omdat hulle nie dinge soos die res van die familie doen nie. Wat staan jou te doen? Aanvaar dit van hulle waarvan jy nie hou nie, totdat God hulle óf verander, óf die familie leer om volwasse, onvoorwaardelike, nie-beherende liefde teenoor hulle te hê.

4) Doen jou bes en vra God om die res te doen. Die profeet Samuel se seuns het nie in sy voetspore gevolg nie: ‘Hulle was egter ingestel op eie gewin en omkopery, en selfs in die regspraak wat hulle korrup’ (1 Samuel 8:3 NLV). Ja, dit was vernederend en teleurstellend, maar geen klag van ouerlike versuim kon op Samuel se drumpel gelê word nie. Hy was een van die mees godsvresende mense wat ooit geleef het, maar tog het sy seuns gekies om nie in sy voetspore te volg of sy waardes te omhels nie.

5) Hoe disfunksioneel jou kind ook al mag wees, hulle grootste bate is ‘n ouer wat deur geloof, nie deur hulle te probeer regmaak nie, reageer; wat bid, nie indring nie; en wat uit God se pad uit kom en Hom toelaat om aan die werk te spring.

Sielskos: Rig 19:16-21:25; Mark 8:14-26; Ps 119:137-144; Spr 18:22-24

Sela: ‘Stop en dink rustig daaroor’

2022-08-26
Psalm 48:9 NLV

Een-en-sewentig keer in die boek van Psalms lees ons die woord ‘Sela’ aan die einde van ‘n Skrifgedeelte. Wat beteken dit? Om te ‘stop en rustig daaroor te dink.’ Jy kan nie die Bybel vlugtig en oppervlakkig lees en die skat wat daarin verberg is, ontdek nie. Dis hoekom Dawid geskryf het: ‘Met my hele hart soek ek U; moenie dat ek afdwaal van u gebooie nie. Ek het u woord in my hart gebêre sodat ek nie teen U sou sondig nie’ (Psalm 119:10-11 NLV).

Wanneer jy God se Woord deur meditasie en memorisering in jou hart bêre, is jy in staat om daarop te staan wanneer jy ‘n spesifieke behoefte het. Meditasie behels om die tyd te neem om daaroor te reflekteer; om te ‘stop en rustig daaroor te dink.’ God wil hê dat jy moet leer om die Skrif te bid en daaroor te mediteer, want hierdie gewoontes sal jou help om alles wat Hy vir jou het, te ervaar.

Die belangrikste ding wat jy vir jouself kan afvra wanneer jy voor die lewe se uitdagings te staan kom, is: ‘Wat sê God in sy Woord hieroor?’ Hoekom is dit belangrik om jouself dit af te vra? Lees hierdie twee Skrifgedeeltes en jy sal die antwoord vind: ‘U woord Here, is vir altyd, dit staan vas in die hemel’ (Psalm 119:89 NLV). God se Woord is sy wil! Toe God vir Jeremia tot leierskap geroep het, het Jeremia bedenkinge oor sy vermoë gehad. Dus het God gesê: ‘…Ek het my woorde in jou mond gesit’ (Jeremia 1:9 NLV). Toe het Hy vir Jeremia gesê: ‘…Ek staan gereed om te doen wat Ek gesê het gaan gebeur’ (vers 12 NLV). Die enigste ding waarop jy verseker kan staatmaak, is dat God sy Woord sal hou. Sela!

Sielskos: Rig 16:1-19:15; Mark 8:1-13; Ps 119:129-136; Spr 18:21

Ontwikkel vreugde (2)

2022-08-25
Johannes 17:13 NLV

Hier is nog twee maniere om die vlak van jou vreugde te verhoog:

1) Begin om ander mense te dien. Solank as wat jy geregtig daarop voel dat ander mense jou behoort te dien, sal jou vreugdesvlakke maar laag bly. Jesus het gesê dat jy lewe in oorvloed sal kry wanneer jy jou lewe aan ander wy (sien Markus 8:35). Paulus herinner ons: ‘…Julle moet weet dat die Here goeie dinge sal teruggee vir almal wat goeie dinge doen…’ (Efesiërs 6:8 ABA). Die gelukkigste mense is gewoonlik te besig om ander mense te help om hulself af te vra: ‘Is ek gelukkig?’ Vind ‘n saak wat groter as jou selfbelang is en wy jouself daaraan toe. As jy dit doen, sal jou nalatenskap groter as jou lewensduur wees.

2) Deel jou geloof met iemand. ‘Net so is daar blydskap onder God se engele as net een sondaar tot inkeer kom’ (Lukas 15:10 NLV). Jou grootste vreugde in die lewe sal die gevolg wees wanneer jy op Christus as jou Redder vertrou. Jou tweede grootste vreugde sal wees wanneer jy ander mense aan Hom voorstel. Wanneer jy jou geloof met iemand deel, mag hulle dalk nie dadelik reageer nie, maar jy het steeds die saad van God se Woord in hulle lewe gesaai. Later, wy hulle hul lewe aan Christus toe. Jy mag dit dalk nie eens weet nie. Verbeel jou egter dat hulle jou in die hemel raakloop en sê: ‘Ek wil jou bedank dat jy die tyd geneem het om jou geloof met my te deel. Ek is hier omdat jy genoeg omgegee het om my van Jesus te vertel.’ Jy sê: ‘Ek het my vreugde verloor.’ Vraag: Wanneer laas het jy jou geloof met iemand gedeel of hulle na Christus gelei?

Sielskos: Rig 12-15; Mark 7:24-37; Ps 119:121-128; Spr 18:13-20

Ontwikkel vreugde (1)

2022-08-24
Psalm 28:7 NLV

Vreugde is soos ‘n spier; hoe meer jy dit ontwikkel, hoe sterker word dit. Hier is twee oefeninge om jou te help om jou innerlike vreugde te ontwikkel:

1) Probeer om meer dankbaar te wees. ‘Wees in alle omstandighede dankbaar…’ (1 Tessalonisense 5:18 NLV). Let op dat dit nie sê dat jy vir alle omstandighede moet dankbaar wees nie, maar dat jy in hulle moet dankbaar wees. Hans Seyle, die vader van moderne studies oor stres, sê dat dankbaarheid meer emosionele energie as enige ander houding produseer. Kyk dus uit vir meer maniere om dankbaarheid te betoon. Stuur ‘n e-pos of maak ‘n oproep na iemand om hulle te vertel hoe baie hulle in jou lewe beteken. Onthou ook om dankbaarheid aan God te betoon. Die Psalmdigter het gesê: ‘…Daarom dank ek Hom met my lied’ (Psalm 28:7 NLV). As jy nie van nature ‘n vreugdevolle persoon is nie, begin om God te lofprys en sien hoe jou houding verander.

2) Kyk uit vir geleenthede om te gee. ‘…Dit is meer geseënd om te gee as om te ontvang’ (Handelinge 20:35 NLV). Die Bybel sê: ‘…God het die blymoedige gewer lief’ (2 Korintiërs 9:7 NLV). Hoekom? Omdat jy die meeste soos God is wanneer jy gee. Onthou, Hy gee nie teësinnig nie. Dit wat jy gee bepaal inderwaarheid hoeveel jy van God ontvang! Die Bybel sê dat wanneer jy Hom die eerste tiende van jou inkomste gee, sal Hy ‘…voorspoed op julle laat reën wat meer as genoeg vir julle sal wees!’ (Maleagi (3:10). Jy kan nie meer gee as wat God vir jou sal gee nie. Soos die ou boer gesê het: ‘Ek skep dit in God se stoorkamer in en Hy skep dit in myne in – God se skopgraaf is net baie groter as myne.’

Sielskos: Rig 9:34-11:40; Mark 7:14-23; Ps 119:113-120; Spr 20:25; Pred 5:4-6

Seën op jou werk (4)

2022-08-23
Spreuke 10:2 NLV

Om seën op jou werk te kry, moet jy die volgende beoefen: Eerlikheid. Dis dwaas om te steel, selfs al word jy nooit betrap nie. ‘Goed wat onwettig verkry is, bring geen blywende voordeel nie…’ Jy mag dalk steel en daarmee wegkom, maar jy sal nie daarby baat vind nie. ‘Rykdom wat maklik kom, verdwyn net so maklik…’ (Spreuke 13:11 NLV). Nie net sal jy moeilikheid kry nie, jy sal ook moeilikheid oor diegene wat vir jou lief is en van jou afhanklik is, bring. “‘n Gierigaard bring ongeluk oor sy huis…” (Spreuke 15:27 NLV).

Dink daaroor: Jy kan jou werk verloor, jou reputasie skade aandoen, verneder word, voor kostes en wettige nagevolge te staan kom wat jou familie moet betaal en in skande opeindig, wat jou kinders negatief sal affekteer. Jou eggenoot verdien ‘n eerlike maat. Jou kinders verdien ‘n eerlike rolmodel.

Die radioverslaggewer Paul Harvey het gesê dat 40 persent van Amerikaners erken dat hulle al by die werk gesteel het en dat 25 persent van hulle geregverdig gevoel het om dit te doen. Hulle het dit as volg gerasionaliseer: ‘Almal doen dit, hoekom dan nie ek nie… Die baas kan dit bekostig, hy sal dit nie mis nie… Dis net klein goedjies, dit sal nie ‘n verskil maak nie… Die maatskappy skuld my en ek neem net terug wat myne is… Ek verdien dit, ek werk hard en het nog nooit erkenning daarvoor gekry nie.’

Wat sê God daaroor? ‘Goddeloses word skynbaar gou ryk, maar dit hou nie…’ (Spreuke 11:18 NLV). Wanneer jy jou werkgewer verkul, sê die Bybel dat jy ‘goddeloos’ is. Van alle mense behoort werkgewers en kliënte in staat te wees om ‘n volgeling van Christus te vertrou om eerlik te wees, hul lone te verdien en kwaliteit diens te lewer.

Sielskos: Rig 7:1-9:33; Mark 7:1-13; Ps 119:105-112; Spr 18:10-12