2022-10-20
Deuteronomium 7:2 ABA
Die Amerikaanse skrywer Henry van Dyke sê: ‘Solank as wat gewoonte en roetine die lewenspatroon dikteer, sal nuwe dimensies van die siel nie na vore kom nie.’ Verandering verg nuwe gedrag, gedagtes, verhoudings en ‘n gewilligheid om ou denkpatrone te beveg. Dit beteken dat jy ‘n sterk verhouding met God moet hê!
Toe hulle die Beloofde Land binnegegaan het, het God vir sy mense gesê om hulle vyande te oorwin en te vernietig; andersins sou hul vyande hulle uiteindelik vernietig. Wanneer God dus vir jou sê om oorlog met jou slegte gewoontes te maak, moenie sê: ‘Almal doen dit,’ of: ‘Dis nie so ‘n groot probleem,’ nie. Enigiets wat jou verslaaf hou en jou verhoed om die vryheid te geniet wat Jesus vir jou op Golgota gekoop het, is ‘n baie groot probleem.
In plaas daarvan om teenstand te bied en verskonings te maak, bid: ‘Here, wys my die wortel van hierdie probleem en hoe om dit te hanteer. Ek is vandag gereed om positiewe veranderinge in my lewe te maak.’
Het jy al ooit opgelet dat wanneer jy ‘n bergtop-ervaring met God het, die Vyand altyd vir jou aan die voet van die berg wag? Nadat die dissipels alleen saam met Jesus op ‘n hoë berg was, is hulle deur ‘n man genader wie se seun in ‘n siklus van selfvernietiging vasgevang was waar hy dikwels in die vuur of water geval het (sien Matteus 17:15 NLV). Wanneer jy aanhoudend in dieselfde strikke trap, dieselfde foute maak, dieselfde soort verhoudings aanknoop of aan dieselfde gewoontes verslaaf raak, is dit tyd om jou probleem na Jesus toe te neem en Hom te vra om jou te help. Hy sal dit doen!
Sielskos: 2 Sam 12:1-14:20; Joh 4:39-54; Ps 87; Spr 24:1-4
2022-10-19
Romeine 12:3 NLV
Dis maklik om aan negatiewe gedagtes en vrese oor hoe dinge gaan uitdraai toe te gee. Soos Jesus uitgewys het, lewe ons in ‘n ‘ongelowige en ontaarde’ wêreld (Matteus 17:17 NLV). Dit beteken dat jy voortdurend teen die pessimistiese houding wat deur die kultuur, die media, die onderwysstelsel, die werkplek – en soms jou eie vriende – uitgebeeld word, moet veg. Dis hoekom jy jou geloof daagliks op God se Woord moet voed. Jesus het gesê: ‘…Dít verseker Ek julle, as julle geloof selfs so klein soos ‘n mosterdsaadjie was, sou julle vir hierdie berg sê: ‘Skuif soontoe,’ en hy sal dit doen…’ (Matteus 17:20 NLV).
Let op dat Jesus nie na ‘n berg verwys wat jy jare gelede teëgekom het nie. Hy verwys na ‘hierdie berg.’ Hy wil hê dat jy vandag jou geloof moet uitoefen! Hy het gesê: ‘…as julle geloof selfs so klein soos ‘n mosterdsaadjie was…[sal] niks vir julle onmoontlik wees nie’ (vers 20 NLV). ‘n Mosterdsaadjie is so klein dat dit tussen jou tande kan vassit. Jesus het egter gesê dat alhoewel dit ‘die kleinste van alle saadsoorte’ is, dit ‘n groot boom word waarin die voëls in sy takke kan kom nesmaak (sien Matteus 13:32 NLV).
Jy sê: ‘Ek het nie geloof nie.’ Ja, jy het. Paulus het gesê dat elkeen van ons ‘die geestelike toerusting wat God aan jou toebedeel het,’ het. Wanneer hierdie geloof geaktiveer word, gebeur wonderwerke. Selfs al het jy net ‘n gram geloof oor, het jy dit wat jy nodig het om te seëvier. Geloof werk egter net wanneer dit die taal wat jy praat en die houding wat jy handhaaf, word. Die Vyand wil nie hê dat jy dit moet weet nie, want dan sal jy nie net dink aan dit wat plaasvind nie, maar begin dink aan dit wat moontlik is!
Sielskos: 2 Sam 7:18-11:27; Joh 4:27-38; Ps 32; Spr 23:29-35
2022-10-18
Maleagi 3:10 NLV
Pasop daarvoor om ‘n sin van geregtigheid te ontwikkel waar jy dink dat jou geld iets is wat jy op jou eie verdien het. Elke keer wat jy sukkel om vir God dit te gee waarop Hy volgens die Skrif geregtig is, is dit omdat jy meer geheg aan die gawe as die gewer geraak het.
Lees egter die volgende: ‘…Bring al die tiendes na die stoorkamers sodat daar genoeg kos in my tempel kan wees. Toets My hierin of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak nie. Ek sal voorspoed op julle laat reën wat meer as genoeg vir julle sal wees!’ (vers 10 NLV).
‘n Pastoor het ‘n brief van ‘n paartjie in sy gemeente gekry: “Ons was agter met ons huur en ons karpaaiemente. Ons was veertigduisend rand in die skuld, ons het geen kos in die yskas gehad nie en het pas met ‘n konstruksiebesigheid begin. Toe jy ons egter uitgedaag het om ons tiende te gee, het ons gedink: ‘Hoe kan ons gee wat ons nie het nie?’ Nietemin, het ons besluit om voort te gaan en God te eer deur Hom die eerste tiende van ons inkomste te gee. Die heel eerste week het ons ‘n kontrakteur ontmoet wat ons gevra het om ‘n huis te bou, met vele meer wat gevolg het. Nou het ons nie meer bevraagteken hoe ons ons verbintenis aan God sou nakom nie; om die waarheid te sê, ons het ons gawes verhoog! Jy kan egter nie meer as God gee nie. Deur ‘n reeks goddelik georkestreerde geleenthede het ons van huurders tot huiseienaars gegaan. Vandag geniet ons finansiële seën. En al gaan hierdie verhaal daaroor om God te vertrou, probeer ons by nabetragting steeds een vraag beantwoord: ‘Wat presies was dit wat ons opgeoffer het?'”
Sielskos: 2 Sam 3:22-7:17; Joh 4:13-26; Ps 100; Spr 23:22-28
2022-10-17
Job 12:12 NLV
‘n Bejaarde dame het gesê: ‘Een voordeel van ‘n lang lewe is om dit wat ek geleer het, te kan deel. Laat my toe om drie geheime te deel wat jou lewe kan verbeter.’ Toe het sy baie goeie raad aangebied:
1) ‘Tyd is kosbaar, moenie dit mors nie. Nadat my man oorlede is, het ek by vriende gebly. Een aand het hulle met mekaar begin stry. Ek weet argumente vind plaas; ek en my man het self ‘n hele paar gehad. Op daardie oomblik, het ek egter soos nooit tevore nie verstaan dat die tyd wat ons saam met mekaar het, kosbaar is. Moenie dit mors om oor dinge te stry wat nie sal saak maak wanneer jou geliefde nie meer daar is nie. Doen alles wat jy kan om in harmonie te leef en betoon liefde aan mekaar. Hoekom? Omdat dit nie saak maak hoeveel tyd julle saam het nie, dis nooit genoeg nie.
2) Maak goeie herinneringe bymekaar. Wanneer ek terugkyk, dank ek God vir onvergeetlike oomblikke. Die dag wat my man oorlede is het ons oudergewoonte mekaar die middag totsiens gesoen. Die aand was hy oorlede. Ek is altyd bly oor daardie finale soen. Skep dus herinneringe en nie oomblikke waaroor jy later spyt gaan wees nie.
3) Dis nie wat gebeur wat saak maak nie, maar hoe jy daarop reageer. Elke dag bring nuwe uitdagings wat jou liefde en voornemens gaan toets, mee. Jy het egter deur Christus die krag om elke toets ‘n geleentheid vir groei te maak. Die lewe is vol skynbaar onaangename gebeure. Probeer om hulle op so ‘n manier te hanteer dat wanneer jy oud is, jy daarop sal kan terugkyk en sê: ‘Dankie Here, vir daardie ervaring; dit het my help groei.’
Dis hoe mens wys en wel leef!
Sielskos: 2 Sam 1:1-3:21; Joh 4:1-12; Ps 89:38-52; Spr 23:19-21
2022-10-16
2 Korintiërs 5:7 NLV
Jesus het gesê: ‘Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin’ (Johannes 16:33 NLV).
Die lewe hou aan om vir ons probleme te gee wat ons geloof toets. Daniël se sukses het van hom ‘n teiken gemaak. Omdat hulle geweet het dat hy gereeld bid, het sy vyande vir koning Darius oortuig dat alle aanbidding slegs teenoor hom as koning moet plaasvind, dus het die koning vir Daniël in die leeukuil laat gooi. God het egter die situasie verander. Die volgende oggend het Daniël uit die leeukuil gestap, sy vyande is daarin gegooi en die koning het aangekondig: ‘…die God van Daniël. Hy is die God wat lewe…’ (Daniël 6:27 NLV).
Sadrag, Mesag en Abednego het geweier om die koning se afgodsbeeld te aanbid. Selfs toe hulle met ‘n vlammende oond gedreig is as hulle nie voor die beeld buig nie, het hulle gesê: ‘Die God wat ons aanbid kán ons uit die vuur red… En selfs al red Hy ons nie… sal ons nie u gode vereer nie…’ (Daniël 3:17-18 NLV).
Dawid het geweier om die koning se wapenrusting te dra toe hy voor Goliat te staan gekom het. Hy het gesê: ‘…Ek is nie daaraan gewoond nie…’ (1 Samuel 17:39). Wat het hy dus wel saam met hom geneem? ‘…die Naam van die Here die Almagtige…’ (1 Samuel 17:45 NLV).
Die kans is goed dat jy jouself nooit in ‘n leeukuil, ‘n vlammende oond of voor ‘n reus sal bevind nie, maar sommige dae voel dit wel so. Wanneer jy egter aangeval word, moet jy, 1) bid en God se mag opeis, 2) in geloof wandel, en 3) in die ‘Naam van die Here die Almagtige’ gaan.
Sielskos: Jes 61:1-9; Luk 4:16-30
2022-10-15
Psalm 18:30 NLV
John Maxwell skryf: ‘Hoe reageer jy wanneer jy voor ‘n probleem te staan kom? Ignoreer jy dit en hoop dit gaan weg? Het jy in die verlede sulke slegte ervarings gehad toe jy probleme probeer oplos het dat jy net sommer tou opgooi? Of pak jy hulle gewillig aan? ‘n Mens ontwikkel die vermoë om probleme doeltreffend te hanteer deur ervaring te kry in die hantering en oorkoming van struikelblokke. Elke keer wanneer jy nog ‘n probleem oplos, raak jy meer geoefen daarmee. As jy egter nooit probeer, misluk en weer probeer nie, sal jy dit nooit goed leer doen nie.’
Die skrywer George Matthew Adams het gesê: ‘Wat jy dink, beteken meer as enigiets anders in jou lewe. Meer as wat jy verdien, meer as waar jy woon, meer as jou sosiale posisie en meer as wat enigiemand anders van jou mag dink.’ Die meeste van koning Dawid se probleme was vyande wat hom wou oorwin. Hy het egter vertroue in God gehad: ‘Met U loop ek ‘n leër storm; met my God spring ek oor ‘n muur (vers 30 NLV).
Doen die volgende om jou vaardighede in probleemoplossing te verbeter: 1) Vind die regte strategie. Soms vind ons dit moeilik om ‘n probleem op te los, omdat ons nie weet hoe om dit aan te pak nie. Probeer om die akroniem T.E.A.C.H. te gebruik: Time – neem die tyd wat nodig is om die ware kwessie te ontdek. Exposure – vind uit hoe ander soortgelyke probleme opgelos het. Assistance – moenie dit alles alleen probeer doen nie, laat ander mense toe om jou te help. Creativity – oorweeg verskeie oplossings. Hit it – voer die beste oplossing uit.
2) Omring jouself met probleemoplossers. ‘Hy wat met wyse mense meng, verkry self ook wysheid’ (Spreuke 13:20 NLV).
Sielskos: Ef 4:17-6:24; Joh 3:22-36; Ps 89:15-37; Spr 23:15-18