2022-08-22
Romeine 12:10 NLV
Hier is nog ‘n belangrike sleutel om seën in jou werk te ontvang: Bedagsaamheid. Dis van toepassing, of jy nou die president van die maatskappy of die skoonmaker is. Die naamplaatjie op jou deur mag dalk respek afdwing, maar jy moet dit elke dag deur jou werksetiek en jou houding verdien.
In die Ou Testament het die meeste mense ‘n bestaan gemaak deur te boer of vee aan te hou, dus het Salomo die volgende raad aangebied: ‘Jy moet weet hoe dit met jou kleinvee gaan, jy moet omsien na jou veetroppe’ (Spreuke 27:23 NLV). Goeie leiers maak dit hul prioriteit om die behoeftes, sterkpunte, swakpunte, potensiaal en motiveringsvlakke van diegene wat onder hulle werk, te weet. Gevolglik neem werknemers minder siekverlof, die moraal verbeter en kwaliteit en produksie skiet die hoogte in. Glo dit of nie, ‘n salarisverhoging is nie altyd die beste motiveerder nie. Soms is jou bedagsaamheid, begrip en belangstelling in ‘n werknemer ‘n kragtiger motiveerder. Om mense af te kraak of hulle as vanselfsprekend te neem, waarborg net wrokkigheid.
As jy regtig vir mense omgee, probeer jy om die beste in hulle na vore te bring. As jy ‘n werknemer is, belowe God: ‘…Wie omsien na die belange van sy werkgewer, sal voordeel daaruit trek’ (Spreuke 27:18 NLV). As jy aanhou om die mense bo jou te kritiseer, sal die mense rondom jou jou begin wantrou. Hoekom? Omdat hulle weet dat jy op een of ander stadium dieselfde aan hulle gaan doen! Die Bybel sê dat jy veronderstel is om goeie dinge van die mense in gesagposisies bokant jou, te sê (sien Titus 3:1-2). As jy dit nie kan doen nie, sê niks en begin na ‘n ander werk soek. Dis hoe om seën op jou werk te kry.
Sielskos: Rig 4-6; Mark 6:45-56; Ps 119:97-104; Spr 18:9
2022-08-21
Spreuke 13:4 NLV
Hier is nog ‘n sleutel om sukses in jou werk te behaal: Harde werk. ‘…Mense wat hard werk, het meer as wat hulle kan begeer.’ Vra enige werkgewer en sy of hy sal vir jou sê dat om goeie werknemers te kry, hulle grootste uitdaging is. ‘…Hulle wat fluks is, word ryk’ (Spreuke 10:4 NLV). Ywer beteken dat jy selfgedissiplineerd, gemotiveerd, waaksaam en betroubaar is en dat jy iets waarmee jy begin het, klaar maak. Dit maak dit kosbaar, omdat ywerige mense moeilik is om te vind (sien Spreuke 12:27).
Die Bybel leer ons dat jou baas verantwoordelik is om jou ‘n regverdige dagloon te betaal en dat dit jou verantwoordelikheid is om vir hulle ‘n regverdige dag se werk te gee. Daar is ‘n verhaal van ‘n man wat vir ‘n werksonderhoud gegaan het en gevra is of hy verantwoordelik is. Hy het geantwoord: ‘Ja, elke keer wat iets by my vorige werk verkeerd gegaan het, het die baas gesê dat ek daarvoor verantwoordelik was!’
Op ‘n ernstiger noot, wil jy voorspoedig wees? Dan moet jy sorg dat jou werkgewer voorspoedig is! Harde werk, nie politiek of manipulasies nie, sal vir jou bevordering sorg. ‘Dié wat pligsgetrou werk, word leiers; lui mense word slawe’ (Spreuke 12:24 NLV).
Lui werknemers kla oor dinge soos onregverdige base, sisteme wat teen hulle tel en dat ander mense die baas se witbroodjies is en dus bo hulle bevorder word. Hierde mense wil die voordele hê wat ander geniet, maar hulle is nie bereid om daarvoor te werk nie. Mense wat hard werk, kry meer as wat hulle begeer: die bevrediging van ‘n werk wat goed gedoen is, ‘n sin van selfwaarde, ‘n reputasie van integriteit, die vertroue van ander mense, werksekuriteit, wins, bevordering en belangrikste van alles, God se ‘Welgedaan.’
Sielskos: Jos 1:7-8; 2 Tim 3:14-17; Ps 119:1-16
2022-08-20
Spreuke 22:29 DB
Salomo skryf: ‘Ken jy ‘n goeie vakman wat hard en getrou werk? Hy is by almal in aanvraag. Belangrike mense soek sy dienste. Hy sal dit nog ver bring in die lewe’ (vers 29 DB). Vaardigheid is egter nie geneties nie; jy moet daaraan werk. Soms beteken dit middernagtelike inspanning, om tot breekpunt gestrek te word en om te weier om met minder tevrede te wees.
Soos jy na ware vakmanne kyk, neem jou agting vir hulle toe. Jy merk hul aandag aan detail, weiering om kort paaie te kies, geduld, toewyding en trots in hul werk, op. Hulle inspireer vertroue en respek. Daar is nie ‘n praktieser demonstrasie van ware Christenskap nie! Wanneer hulle praat, luister mense. Die Bybel sê dat jy jou werk moet doen, ‘…of dit nou met woorde of dade is, asof julle dit namens die Here Jesus doen. Só is julle heeltyd besig om deur Hom dank aan die Vader te bring’ (Kolossense 3:17 NLV).
Omdat jy Christus en sy Gees wat in jou woon verteenwoordig, moet jy die industriestandaard van voortreflikheid stel. Jou werknemers en kliënte moet die vertroue kan hê dat hulle net die beste werk by jou sal ontvang. ‘n Vaardige werker kan nie verloor nie, omdat God belowe dat hulle werk onvermydelik die aandag van mense wat hulle sal bevorder en beloon, sal trek (sien Spreuke 22:29 DB). Hulle mag dalk onder begin, maar soos room styg hulle na bo. Daniël, Sadrag, Mesag en Abednego het as slawe in Babel begin. Hulle het egter as die koning se naaste raadgewers opgeëindig. Hoekom? ‘Hy het gevind dat hulle in sake wat wysheid en insig vereis, tien keer beter was as al die towenaars en voorspellers in sy hele koninkryk’ (Daniël 1:20 NLV).
Sielskos: Rig 1-3; Mark 6:30-44; Ps 119:89-96; Spr 18:6-8
2022-08-19
1 Timoteus 4:7 NLV
Die digter Horace het geskryf: ‘Regeer jou gedagtes, of dit sal jou regeer.’ Wanneer ‘n verkeerde gedagte by jou opkom, het jy twee keuses: oorweeg dit of verdryf dit! As jy dit oorweeg, sal die gedagte sy intrek neem en dis dan wanneer jou probleme in alle erns begin. In ‘n demokrasie het jy die reg om te dink, te sê en te doen wat jy wil, solank as wat dit nie iemand anders seermaak nie.
As dit wat jy dink, sê en doen jouself egter seermaak, sê jy: ‘Dis my reg!’ Ja, maar as jy baie suiker, sout en vette eet, het jy nie die reg om te kla wanneer dit jou gesondheid affekteer nie. As jy dinge op televisie en die internet kyk wat jou gewete en God se Woord skend, het jy geen reg om te kla dat jy geestelik sukkel nie. Dis ‘n goeie ding om ‘n beter lewe vir jou gesin te wil hê, maar as jy as gevolg van jou onbeheerste besteding in skuld verdrink, moet jy nie van God verwag om jou daaruit te red nie!
Hoekom sê Paulus ons moet: ‘…oefen tot geestelike fiksheid’? Omdat niemand anders dit vir jou kan doen nie! Jy sê: ‘Ek gaan more begin.’ Hoe lank sê jy dit al? Wat is die kans dat jy dit weer more gaan sê? Vandag is die more waaroor jy gister gepraat het. Neem die besluit om beheer van jou lewe te neem en vra God om jou te help om dit te doen. Hy sal. Paulus skryf: “Julle sê: ‘Alles is ons geoorloof.’ Ja, maar nie alles is tot voordeel nie. Alles is inderdaad geoorloof, maar nie alles is opbouend vir almal nie” (1 Korintiërs 10:23 NLV).
Sielskos: Rut 1-4; Mark 6:14-29; Ps 119:81-88; Spr 18:1-5
2022-08-18
1 Petrus 4:10 NLV
Die Bybel sê: ‘…God het aan elkeen van julle ‘n genadegawe gegee. Met hierdie gawes moet julle mekaar dien sodat God se ryk en onverdiende goedheid deur julle na mekaar kan vloei. Het jy die gawe ontvang om te preek? Dan moet jy só preek dat Gód deur jou praat. Het jy die gawe ontvang om ander te dien? Doen dit met die krag en energie wat Gód gee. Só moet God verheerlik word…’ (verse 10-11 NLV).
Sommige mense dink dat jy ‘n openbaring, ‘n Damaskuspad ervaring soos Paulus gehad het, moet hê om te weet waarvoor jy geroep is. Nee, die gawe wat God jou gegee het, is die sleutel om te weet wat Hy wil hê jy moet doen. Wat is jy lief om te doen, en wat jy ook goed doen? Is musiek jou sterkpunt? Om met syfers te werk? Om kinders op te voed? ‘Elkeen van ons ontvang ‘n manifestasie van die Gees om die gemeente te bevoordeel’ (1 Korintiërs 12:7 NLV). Dit beteken dat sommige van die dinge wat ander mense vervelig vind, jou inderwaarheid energie sal gee en sal verryk.
Die Bybel sê dat God besig is om ‘n ‘geestelike tempel’ (1 Petrus 2:5 NLV), te bou. Daar is ook vir jou ‘n plek daarin. Dit ruim die wanopvatting dat jy nie waardevol is nie omdat jy nie dieselfde talente as ander mense het nie, uit die weg. Dit definieer ook jou werklike verantwoordelikheid, deur weg te doen met die mite dat jy veronderstel is om alles te doen. Jou doelwit moet wees om binne die grense van God se plan vir jou, te bly (sien 1 Korintiërs 12:27). In plaas daarvan om dus verskoning te maak vir die vaardighede waaroor jy nie beskik nie, pak die gawe wat God vir jou gegee het aan en sit dit aan die werk.
Sielskos: Obadja; Mark 6:1-13; Ps 119:73-80; Spr 17:27-28
2022-08-17
Psalm 119:28 NLV
Wanneer jy die Skrif in gebed gebruik, roer dit God om namens jou op te tree. Dit verander jou ook. Hier is wat gebeur wanneer jy God se Woord bid:
1) Jou geloof vergroot en stel jou in staat om meer van dit wat God beloof het, te ontvang.
2) Jou gedagtes word vernuwe, wat veroorsaak dat jy dinge anders begin sien.
3) Jy weet wat God se perfekte wil is.
4) Jy is in staat om in die waarheid te wandel.
5) Jy groei in geestelike volwassenheid.
6) Jy beweeg nader aan die Here en het ‘n intiemer verhouding met Hom.
7) Jy leer hoe God dinge doen en jy begin dit ook so doen.
8) Jy verstaan God se antwoorde op jou gebede.
9) Jy verander op positiewe maniere.
10) Jy aanskou die Lam van God wat die middelpunt van jou Bybel is.
Hier is ‘n paar voorbeelde van Skrifgedeeltes wat jy kan bid: ‘Maak oop my oë sodat ek die wonders kan sien wat opgeskryf is in u gebooie’ (vers 18 NLV). ‘…Leer my nou u voorskrifte. Leer my verstaan die lering van u bevele, sodat ek u wonders kan oordink (verse 26-27 NLV). ‘…versterk my soos U in u woord beloof (vers 28 NLV). ‘Hoe lief het ek u gebooie! Ek oordink dit die hele dag. U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het, want dit is gedurig by my’ (verse 97-98 NLV). ‘…ek gehoorsaam die gebooie van my God. Hou my staande soos U beloof het sodat ek kan lewe. Laat my nie beskaam wees of my hoop verydel word nie’ (verse 115-116 NLV). ‘…gee my insig sodat ek kan lewe’ (vers 144 NLV).
Bid vandag God se Woord.
Sielskos: 1 Pet 3-5; Mark 5:31-43; Ps 119:65-72; Spr 17:23-26