2022-08-16
Psalm 37:25 NLV
As jy vandag bekommerd is dat jy nie vir alles sal kan sorg nie, lees die volgende: ‘Die Here bepaal die rigting van ‘n mens, en met sý lewe is Hy tevrede. Al sou so een struikel, hy sal nie val nie, want die Here hou sy hand vas. Ek was jonk, en nou is ek oud. Maar ‘n regverdige mens wat verlate is, het ek nooit gesien nie, of dat sy kinders vir kos moes bedel nie’ (verse 23-25 NLV).
Jy mag dalk vandag by die afgrond staan, maar God sal jou nie laat val nie. ‘Julle sal weer al die kos kry wat julle begeer. Julle sal die Here julle God loof wat hierdie wonders vir julle moontlik maak…’ (Joël 2:26 NLV). Hou op om alles te probeer uitpluis en begin op God steun. ‘Vertrou op die Here en doen wat goed is. Woon in die land en geniet veilige weiding. Wees bly in die Here, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee. Vertrou jou lewe toe aan die Here. Vertrou Hom, en Hy sal vir jou sorg;’ (Psalm 37:3-5 NLV).
God mag dalk nie vir jou alles gee wat jy wil hê nie, maar Hy sal vir jou alles gee wat jy nodig het: ‘Moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat sal ons tog eet?’ of: ‘Wat sal ons drink?’ of: ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. Dit is die ongelowiges wat oor hierdie soort dinge begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (Matteus 6:31-33 NLV). ‘Gee jou kommer oor aan die Here. Hy sal vir jou sorg…’ (Psalm 55:23 NLV). Moenie bekommerd wees nie, God sal vir jou sorg!
Sielskos: 1 Pet 1-2; Mark 5:21-30; Ps 119:57-64; Spr 17:22
2022-08-15
Prediker 2:20 DB
Wanneer jou medewerkers jou teleurstel. Jy sal nie sonder die regte mense sukses in die lewe behaal nie. Wanneer die mense op wie jy staatmaak jou egter faal, is dit pynlik. Dink jou Moses se teleurstelling in. Hy het sy broer, Aäron, in beheer gelaat toe hy veertig dae op Sinaiberg deurgebring het om die Tien Gebooie te ontvang. Wat sien hy egter toe hy terugkeer? Israel wat ‘n goue kalf aanbid – wat deur Aäron gemaak is. Toe Moses hom die nodigste gehad het, het Aäron klaaglik misluk.
Kyk egter wat Moses doen; ware leierskap blink in teleurstelling uit. Hy konfronteer Aäron, neem die gemors na God toe en bid vir Israel se vergifnis. God reageer en herinner Moses aan sy opdrag. ‘Gaan nou en gaan lei die volk na die plek wat Ek vir jou gesê het. My engel sal voor jou uitgaan…’ (Eksodus 32:34 NLV). Teleurstelling kanselleer nie jou opdrag – of God se teenwoordigheid – nie. Doen dus wat God vir jou gesê het om te doen. Wanneer diegene waaraan jy jou lewe gewy het, jou teleurstel.
Kom ons kyk weer na Moses, die stigtersleraar van die kerk in die woestyn. Sy gemeente bestaan uit voormalige slawe wat verlos is, geseën is en wat op pad is na die Beloofde Land, maar wat nie ‘n greintjie lojaliteit of dankbaarheid teenoor die man wat alles op die spel geplaas het om dit moontlik te maak, het nie. Hulle is pas uit Egipte voor hulle teen Moses draai en hom beskuldig, blameer en berispe (sien Eksodus 14).
Was Moses teleurgesteld en seergemaak? Ja. Elke keer wat hy egter wou tou opgooi, het hy dit met God bespreek, vir sy klaende gemeente gebid, nuwe opdragte by die hoofkantoor gekry en teruggekeer werk toe. Dis wat jy ook moet doen.
Sielskos: Deut 32:29-34:12; Mark 5:11-20; Ps 119:49-56; Spr 17:18-21
2022-08-14
Job 30:26 NLV
Wanneer leiers jou teleurstel. Dit sou redelik wees om aan te neem dat jy Eli, die hoëpriester van Israel, kan vertrou. Dis wat Samuel se ma gedink het toe sy haar seun aan hom toevertrou het om hom vir God se diens te mentor. Eli het egter ‘n ernstige karakterfout gehad. Hy was ‘n swak ouer, een wat bygestaan het terwyl sy seuns hul priesterlike voorregte misbruik het deur omkoopgeld te aanvaar en met prostitute om te gaan.
Wie sou jong Samuel blameer het as hy teleurgesteld was toe die man na wie hy opgekyk het, so klaaglik misluk het? Hy het egter eerder sy oë op God gehou: ‘Samuel het grootgeword en die Here was met hom…’ (1 Samuel 3:19 NLV). Gevolglik het hy een van Israel se grootste profete geword. Hoe hanteer jy teleurstelling in jou leier? Deur jou oë op die Here te hou.
Wanneer jou familie jou teleurstel. Vra vir Josef. Toe God hom ‘n visie van toekomstige sukses gee, het hy gedink dat sy broers daaroor bly sou wees. Hulle het egter met wrokkigheid gereageer en hom in slawerny verkoop. Ver van vriende en van sy huis, het hy jare in die tronk vir ‘n misdaad wat hy nie gepleeg het nie, deurgebring. Dis ‘n uitnodiging om bitter te word en jou weerwraak te beplan. As Josef dit gedoen het, sou hy as onbekende misdadiger in ‘n vreemde land se tronk gesterf het. Hy het egter vir God toegelaat om hom te verdedig.
God sal dieselfde vir jou doen. “‘Maar geen wapen wat teen jou gemik word, sal iets kan uitrig nie. Elke aanklag teen jou, sal jy weerlê. Dit is die erflating van die dienaars van die Here. Aan hulle laat Ek reg geskied,’ verklaar die Here” (Jesaja 54:17 NLV).
Sielskos: Jer 31:31-37; Heb 8:1-13
2022-08-13
Spreuke 24:16 NLV
Kom ons kyk vir die volgende paar dae na vyf verskillende tipes teleurstelling. Teleurstelling in jouself. Dit is die uitputtendste soort teleurstelling, want dit kan jou in ‘n afwaartse spiraal plaas waaruit dit moeilik is om te herstel. Petrus het dit ervaar. Hy het lojaliteit aan Christus gesweer en gesê: ‘…Al laat almal U in die steek – ék sal dit nooit doen nie’ (Matteus 26:33 NLV). Tog het Hy Christus drie maal verloën. Later het hy Christus se woorde onthou: ‘…Glo My, Petrus, vannag nog, voordat die haan kraai, sal jy drie maal ontken dat jy my dissipel is’ (Matteus 26:34 NLV). Petrus was gebroke oor sy mislukking, ‘En hy het buitetoe gegaan en onbedaarlik gehuil’ (Lukas 22:62 NLV).
Is dit hoe jy vandag voel? Dink jy: ‘Here, hoe kan U ooit iemand soos ek gebruik?’ Jesus was nie geskok nie. Hy was ten volle van Petrus se foute bewus toe Hy hom geroep het. Hy het egter ook geweet dat sy uitgesproke dissipel ‘n sagte hart het, dus het Hy gekies om genade teenoor hom te bewys, eerder as om hom eenkant toe te stoot. Die res van Petrus se verhaal is een van oorwinning. Wanneer jy dus sondig, of misluk en jouself teleurstel, wat staan jou dan te doen?
1) Word nederig en berouvol. Bely jou sonde; moenie verskonings maak, dit rasionaliseer of omstandighede en mense blameer nie.
2) Ontvang God se genade en vergifnis deur geloof, nie deur gevoelens nie. Moenie dat Satan jou oortuig dat jy buite God se bereik en genade is nie. Jy is nie.
3) Moenie toelaat dat jou teleurstelling jou in hopeloosheid en wanhoop dompel nie.
4) Kry vroeër, eerder as later, enige hulp wat jy nodig het om weer op dreef te kom.
Sielskos: Deut 30:1-32:28; Mark 5:1-10; Ps 119:41-48; Spr 17:17
2022-08-12
Spreuke 21:20 NLV
God se Woord sê dat jy twee dinge met jou geld moet doen. 1) Saai daarvan. Die Bybel sê: ‘…wie ruimhartig saai, sal volop oes’ (2 Korintiërs 9:6 NLV). Moenie terughou net omdat jy bang is dat jy nie genoeg sal hê nie. Wanneer jy God ‘n saad gee om mee te werk, sal Hy seker maak dat jy ‘n oes het wanneer jy dit nodig het. Sy vermoë om te voorsien word nie deur die wêreld se ekonomie beperk nie. Doen wat Isak gedoen het: “‘n Swaar hongersnood het die land getref… Daardie jaar het Isak ‘n baie groot oes gehad. Hy het honderd maal meer geoes as wat hy geplant het, want die Here het hom geseën” (Genesis 26:1, 12 NLV). Wie het vir Isak finansieel geseën? Die Here! Wanneer God vir jou sê om te gee, doen dit in geloof, vol vertroue dat jy op die regte tyd, in die regte manier en presies op die regte plekke, sal ontvang.
2) Spaar daarvan. ‘In ‘n wyse mens se huis is altyd kosbare besittings en uitgesoekte olie. ‘n Dwase mens gebruik alles op wat hy in sy huis het’ (Spreuke 21:20 NLV). Leer om binne jou vermoë te lewe. Voor jy ‘n aankoop maak, stop en bid daaroor. Net omdat die bank die lening goedkeur, beteken nie dat God die uitgawe goedkeur nie. Josef het vir Farao beveel: ‘Laat hulle al die kos en graan van hierdie goeie jare in die koninklike skure stoor… Op hierdie manier sal daar genoeg wees om te eet wanneer die sewe jaar van hongersnood aanbreek…’ (Genesis 41:35-36 NLV). Lewe volgens die ‘Josef-beginsel’ en spaar. Nog een gedagte: As jy aanhou om geld roekeloos te verkwis, hoekom sal God jou gebed antwoord en jou meer geld gee om te verkwis?
Sielskos: Deut 28-29; Mark 4:26-41; Ps 119:33-40; Spr 17:16
Psalm 11:4 NLV
Die Psalmdigter het gevra: ‘Wanneer die fondamente van wet en orde inmekaartuimel, wat kan die regverdiges dan doen?’ (vers 3 NLV). Dan beantwoord hy sy eie vraag: ‘Maar die Here is in sy heilige tempel; die Here se troon is in die hemel…’ Wanneer siekte kom, wanneer jou huwelik misluk, wanneer jou kinders ly, wanneer dood toeslaan, wat staan jou te doen? Onthou dat God steeds op die troon is en dat Hy vir jou sorg. Geen detail ontgaan sy aandag of sorg nie. Hy werk volgens ‘n plan en dis gewoonlik nie ‘n plan wat ons kan verstaan terwyl ons deur moeilike tye gaan nie. Eers wanneer ons later daarop terugkyk, besef ons dat sy goedheid en genade ons al die dae van ons lewens gevolg het (sien Psalm 23:6).
Josef het in die tronk beland. Moses het veertig jaar in die woestyn deurgebring. Daniël het in kettings opgeëindig. Dit was hartseer oomblikke. Wie kon moontlik iets goeds in hulle sien? Wie kon geweet het dat Josef die gevangene net ‘n enkele bevordering weg van Josef die eerste minister af was? Wie sou gedink het dat God vir Moses van veertig jaar se opleiding in dieselfde woestyn waardeur hy die mense moes lei, sou voorsien? Wie kon ingedink het dat Daniël die gevangene later die koning se raadgewer sou word?
God voer sy planne so uit. Hy het dit vir Josef, Moses en Daniël gedoen – en Hy sal dieselfde vir jou doen – vertrou dus op Hom. Hy sal vir jou die genade gee wat nodig is om deur die situasie te kom. Wanneer jy vra: ‘God, waar is U?’ antwoord Hy: ‘Ek sal by jou wees en jou beskerm waar jy ook al gaan… Ek sal jou nie verlaat nie, maar doen wat Ek beloof het’ (Genesis 28:15 NLV).
Sielskos: Eseg 22-23; Mark 12:1-12; Ps 78:9-16; Spr 20:11-14