2022-08-11
Eksodus 2:25 NLV
‘…Die Israeliete het egter nog steeds gebuk gegaan onder slawewerk. Hulle het om hulp geroep… God het gehoor hoe hulle roep. Hy het onthou dat Hy ‘n verbond met Abraham, Isak en Jakob gesluit het en gesien wat met die Israeliete gebeur. Hy was bekommerd oor hulle’ (verse 23-25 NLV). Net toe die Israeliete gedink het dat die lewe nie moeiliker kan raak nie, het die farao hulle strooi weggeneem en hulle beveel om dieselde kwota bakstene elke dag te lewer. Dis toe dat hulle hul breekpunt bereik het! Is dit waar jy vandag is? Indien dit die geval is, is daar drie dinge wat jy moet weet:
1) Dit help soms om jou gevoelens te deel. Veral wanneer jy dit op die regte tyd, op die regte manier en met die regte mense deel. Dit kan terapeuties en genesend wees. Dikwels kan die hulp wat jy nodig het egter nie in mense gevind word nie, dus:
2) Daar kom ‘n tyd wat jy na God om hulp moet roep. God het gesien hoe die Israeliete sukkel om deur nog ‘n dag te kom. Aangesien hulle egter met almal behalwe Hom daaroor gepraat het, het niks verander nie. Het jy al daaroor gebid? Gebed moet jou eerste opsie, nie jou laaste uitweg wees nie. Dawid het gesê: ‘In my nood het ek tot die Here gebid. Die Here het my geantwoord en my bevry’ (Psalm 118:5 NLV).
3) God verbreek nooit sy beloftes nie. ‘…Hy het onthou dat Hy ‘n verbond met Abraham, Isak en Jakob gesluit het en gesien wat met die Israeliete gebeur. Hy was bekommerd oor hulle.’ God werk volgens sy plan, nie joune nie. Hy het ‘n bepaalde skedule waarvolgens Hy jou gebede beantwoord en jou red, hou dus aan bid en glo Hom.
Sielskos: Deut 25-27; Mark 4:13-25; Ps 119:25-32; Spr 17:11-15
2022-08-10
Jakobus 1:25 NLV
Jou lewe moet nie deur jou impulse, jou gedagtes of die opinies van diegene rondom jou regeer word nie, maar deur die Woord van God. Die Bybel is nie God se poging om vir jou interessante insigte of goeie raad aan te bied wat jy kan oorweeg nie; dis sy vaste opinie. Jesus het gesê: ‘Elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, is soos ‘n verstandige persoon wie se huis op soliede rots gebou is’ (Matteus 7:24 NLV). Die bouer se fondasie het die lewe se storms weerstaan. Jesus gaan voort: ‘Maar elkeen wat na my woorde luister en dit nie doen nie, sal wees soos ‘n dwaas wie se huis op sand gebou is. Wanneer daar ‘n stortbui val, en die vloedwater afkom, en die stormwinde waai, sal daardie huis heeltemal inmekaar stort’ (verse 26-27 NLV). Jesus het nie die tweede man veroordeel omdat hy ‘n onvoldoende struktuur gebou het of versuim het om sy woorde te hoor, te verstaan en te glo nie, maar omdat hy nie daarvolgens opgetree het nie.
Jakobus skryf: ‘Julle moet mense word wat dóén wat die woord sê… As jy… dóén wat die wet sê en jy vergeet nie wat jy gehoor het nie, dan kan jy God se seën verwag op dit wat jy doen’ (Jakobus 1:22, 25 NLV). As jy dink dat wanneer jy God se woord lees, ken en selfs glo, jy jou verpligting daaroor nagekom het, is jy verkeerd. Jy moet dit nie net glo nie, maar ook daarvolgens optree. Toe Moses God se Woord vir die Israeliete voorgelees het, het hulle gesê: ‘…Ons sal alles doen wat die Here gesê het! Ons sal daarna luister!’ (Eksodus 24:7 NLV). Dit moet ook jou lewensreël wees.
Sielskos: Deut 22-24; Mark 4:1-12; Ps 119:17-24; Spr 17:7-10
2022-08-09
Psalm 119:89 NLV
God se Woord moet ‘vas staan’ in jou lewe. Die hemel is die Hooggeregshof, wanneer dit uitspraak lewer oor ‘n saak, is die saak afgehandel. Omdat God se Woord dus vas staan in die hemel, is die vraag: Staan dit ook vas in jou lewe? Jesus het gesê: ‘Selfs al sou die hemel en die aarde ophou bestaan, sal my woorde nog vir altyd vas bly staan’ (Markus 13:31 NLV).
Die Bybel hoef nooit opgedateer te word nie; dis perfek en kan nie verbeter word nie. Dis hoekom Jesus ons opdrag gee dat sy woorde ‘n stewige vastrapplek in ons moet kry (sien Johannes 15:7). Jy moet dus jou gedagtes met die Skrif programmeer. Hoe doen jy dit? 1) Gee dit permanente verblyf, nie besoekerstatus nie. ‘Laat die rykdom van alles wat Christus ons leer, julle leefstyl bepaal…’ (Kolossense 3:16 NLV). Lees die Bybel, mediteer daaroor, spreek dit hardop. Ja, sing selfs die woorde: ‘…Sing met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God’ (Kolossense 3:16 NLV).
2) Hou dit ten alle tye by jou. ‘Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees’ (Josua 1:8 NLV). Praat daaroor, dink daaroor, stap daarmee saam! Jy sê: ‘My geheue is nie meer so goed nie.’ Geen probleem. Jesus het gesê: ‘…die Raadgewer, die Heilige Gees… wat die Vader in my Naam sal stuur, sal… julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het’ (Johannes 14:26 NLV). Soos jy oor God se Woord mediteer, sal die Heilige Gees jou geheue aanwakker en help.
Sielskos: Deut 18-21; Mark 3:20-35; Ps 119:9-16; Spr 17:4-6
2022-08-08
1 Tessalonisense 2:13 NLV
‘Julle het dit aanvaar, nie as mensewoorde nie, maar soos dit werklik is, as Gód se woord. Dié woord is aan die werk in julle wat glo’ (vers 13 NLV).
Hier is vier dinge wat jy oor jou Bybel moet glo: 1) Dit is lewensveranderend. Jesus het in die vergelyking van die saaier gesê: ‘…Die saad is God se boodskap’ (Lukas 8:11 NLV). Jy mag dalk nie die krag wat binne ‘n saad is verstaan nie, maar jy weet dat wanneer jy dit in ontvanklike grond saai, sal dit begin groei; dit sal vrugte produseer.
2) Dit werk. ‘Net so is dit met die woord wat uit my mond kom: Dit sal nie leeg na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek verwag het en die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het’ (Jesaja 55:11 NLV). Elke woord wat God spreek is op ‘n missie en is gewaarborg om dit in ooreenstemming met sy wil, sy strategie en sy tydsberekening, te bereik.
3) Dit is kreatief. ‘…God [het] lank terug die hemel en die aarde uit water gemaak… Hy het dit gedoen deur net ‘n woord te sê’ (2 Petrus 3:5 DB). God se Woord was magtig genoeg om alles wat bestaan, te skep. Hy het nie geswoeg of gesweet nie; Hy het eenvoudig gepraat en dit is gedoen. Praat dus God se Woord!
4) Dit is gesaghebbend. “Die mense daar was ook verbaas oor die dinge wat Hy gesê het, want Hy het met gesag gepraat… [Hulle] het verbaas uitgeroep: ‘Watter gesag en mag het hierdie man se woorde nie! Selfs bose geeste gehoorsaam hom en vlug op sy bevel!'” (Lukas 4:32, 36 NLV). Die donker magte rondom jou moet vandag God se Woord erken en hulself daaraan onderwerp, staan dus daarop!
Sielskos: Deut 14-17; Mark 3:7-19; Ps 119:1-8; Spr 17:3
2022-08-07
Markus 6:48 NLV
‘…Kort voor dagbreek die volgende oggend kom Jesus op die see na hulle toe aangeloop… Toe hulle Hom so op die see sien loop, het hulle… gedink dis ‘n spook… Maar Jesus het hulle dadelik gerusgestel en gesê: ‘Toemaar, moet julle nie ontstel nie. Dit is Ek.’ Hy het toe by hulle in die boot geklim en die wind het gaan lê…’ (verse 48-51 NLV).
Donkerte is nie altyd die werk van die Vyand nie, soms is dit een van God se beste onderrigmiddels. Jy leer die Here die beste ken deur saam met Hom deur die storms te gaan; deur die plek te bereik waar jy dink: ‘As God my nie help nie, gaan ek sink.’ Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘Wat Ek… in julle ore [fluister], basuin dit oor die dakke uit’ (Matteus 10:27 NLV). Dis in jou donkerste oomblikke wat God vir jou sommige van jou grootste insigte gee. Die Psalmdigter het gesê: ‘dan is die nag vir U nie so donker nie, maar is so helder soos dag…’ (Psalm 139:12 NLV).
In plaas daarvan om vir jou probleme weg te hardloop, vra God om jou nagvisie te ontwikkel en jou ‘…skatte wat weggesteek is in die donker, rykdomme opgesluit in geheime plekke…’ (Jesaja 45:3 NLV), te wys. Nog een gedagte: Wanneer die donkerte deur God beskik is, moenie jou eie lig probeer skep nie. ‘Hy wat sonder enige lig in die donker loop, moet vertrou op die Naam van die Here, en staatmaak op sy God! Maar julle wat vure aansteek, wat brandende fakkels gereed kry… In smart sal julle gaan lê’ (Jesaja 50:10-11 NLV). Wanneer jy as gevolg van Goddelike ingryping in die donker is, hoef jy nie bang te wees nie; God het beloof om jou daardeur te bring.
Sielskos: Pred 11:7-12:1; Ps 39:4-13; 2 Tim 4:6-8
2022-08-06
Psalm 112:4 NLV
Geloof is soos film; dit word in die donker ontwikkel. Donker dae laat jou op God leun. Die waarheid is dat indien jou geloof nooit getoets word nie, jy nie gemotiveerd sal wees om nader aan God te beweeg nie. Die gesangeskrywer Edward Mote het geskryf: ‘When darkness veils His lovely face, I rest on His unchanging grace… When all around my soul gives way, He then is all my hope and stay. On Christ, the solid Rock, I stand; all other ground is sinking sand.’
Dis maklik om God te prys wanneer jy gesond is en jou rekeninge betaal is. Dis egter gedurende die donker dae wat jy ontdek waarvan jou geloof gemaak is en waar jou vertroue waarlik lê: in jouself, in ander mense, of in God. Wanneer jou dae so donker soos jou nag voel, is hier ‘n Skrifgedeelte waarop jy kan staan: ‘…Hy wat sonder enige lig in die donker loop, moet vertrou op die Naam van die Here, en staatmaak op sy God!’ (Jesaja 50:10 NLV).
Job het ‘n voorbeeldige lewe gelei, maar tog alles verloor. Ontsteld en verward het hy uitgeroep: ‘God het my pad versper. Hy het dit donker voor my gemaak’ (Job 19:8 NLV). Job kon nie ‘n weg uit die situasie sien nie. Toe het hy ontdek dat wanneer jy nie die rede kan vind nie, jy die verhouding kan vertrou. ‘Tot nou toe het ek net met my ore van U gehoor, maar nou het ek U met my eie oë gesien’ (Job 42:5 NLV). Toe hy hierdie ontdekking gemaak het, het alles verander: ‘Die Here het die laaste deel van Job se lewe meer geseën as die eerste…’ (Job 42:12 NLV). Wat God vir Job gedoen het – sal Hy ook vir jou doen.
Sielskos: Deut 11-13; Mark 2:23-3:6; Ps 78:65-72; Spr 17:1-2