Wanneer die lewe te moeilik voel

2022-08-05
Genesis 18:14 NLV

Baie van ons stres word deur ons behoefte om alles vooruit te weet – om in beheer te wees – veroorsaak. Selfs nadat ons gebid het en kwansuis die probleem aan God oorgegee het, lewe ons volgens die filosofie van: ‘Hoop vir die beste en beplan vir die ergste!’ Jy sit nie jou geld in die bank en lê dan heelnag wakker en bekommer jou daaroor nie, nie waar nie? Vertrou dan ten minste dieselfde op God! Wanneer jy jouself in die afwaartse spiraal van ‘Hoe? Wat? Waar? Wanneer?’ bevind, stop en gee dit aan God oor. Nie aan die beperkte God van jou begrip nie, maar aan die onbeperkte God wie se getrouheid nooit faal nie, en wat die reg verdien het om te vra: ‘Is daar enigiets wat te moeilik is vir [My]?’

Jesus het nooit dieselfde vrees vir mislukking gehad nie. Hoekom nie? Omdat die gedagte dat Hy nie iets kan doen wat die Vader Hom verseker het Hy kan doen, nooit eers by Hom opgekom het nie. Hy het ook nie aan die vrees vir gebrek gely nie. Selfs al het Hy ‘n eenvoudige lewe gelei, was Hy verantwoordelik om Homself en ‘n span ander mense te onderhou. Hoe het hy dit gedoen? Die Bybel sê dat Hy oggend, middag en aand gebid het en konstant in kontak met sy hemelse Vader gebly het. Gevolglik het Hy geweet hoe om visse wat nie byt nie te vang en selfs belastinggeld in ‘n vis se mond te kry toe Hy dit nodig gehad het.

God mag nou wel dalk nie vir jou op presies dieselfde manier voorsien nie, maar Hy het beloof om vir jou te sorg. Hier is ‘n belofte waarvolgens jy vandag moet leef: ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV).

Sielskos: Deut 8-10; Mark 2:13-22; Ps 78:56-64; Spr 16:33

Is jou nette leeg?

2022-08-04
Johannes 21:3 NLV

Toe Jesus sy dissipels geroep het, het Hy vir hulle gesê: ‘…Ek sal julle vissers van mense maak’ (Matteus 4:19 NLV). Tog, nadat hulle gehoor het dat Hy belowe het om uit die dood uit op te staan en Hom ook na die opstanding gesien het, het hulle teruggekeer na dit wat hulle gedoen het voor hulle Hom ontmoet het: visvang.

God sal jou ervarings in die verlede gebruik om jou te onderrig, maar Hy lei jou altyd vorentoe – nooit terug nie. Wanneer vrees en onsekerheid jou wil laat terugkeer na die sekuriteit wat jy ken, eindig jy soos die dissipels op: ‘…[hulle] het gedurende daardie nag niks gevang nie.’

Daar is egter goeie nuus: As God jou geroep het, is jy steeds geroepe. Let op hoe Jesus hulle aangespreek het: ‘…Kinders, het julle nie iets om te eet nie?..’ (Johannes 21:5 NLV). Ten spyte van jou gebrekkige prestasie, is jy steeds God se verloste kind. Vervolgens sê Hy vir hulle: “…’Gooi die net aan die regterkant van die boot uit en julle sal vis kry.’ Hulle het die net uitgegooi, maar kon dit nie weer intrek nie as gevolg van die groot hoeveelheid vis. Die lieflingdissipel sê toe vir Petrus: ‘Dit is die Here!’…” (Johannes 21:6-7 NLV). Jesus het toe saam met hulle ontbyt geëet, hulle vertwyfelinge verwyder en hulle bemagtig om die wêreld te verander.

Wanneer jy buite God se wil werk, is dit om soos aan die verkeerde kant van die boot vis te vang; jy maak net jouself moeg en het min om vir jou inspanning te wys. Misluk jy? Dalk is jy besig om aan die verkeerde kant van die boot vis te vang. Dinge sal begin uitwerk wanneer jy jouself aan Christus onderwerp, jou verbondskap met Hom vernuwe en Hom toelaat om jou te lei.

Sielskos: Deut 5-7; Mark 2:1-12; Ps 78:40-55; Spr 16:32

Jy moet liefde betoon (3)

2022-08-03
Johannes 15:12 NLV

Roep in jou gedagtes die persoon op wat jy dit die moeilikste vind om voor lief te wees. Hoe kan jy leer om hierdie tipe persoon lief te hê? Eerstens, voordat jy hulle kan liefhê, moet jy voel en verstaan hoe innig God jou liefhet. Paulus skryf: ‘Dan sal Christus deur die geloof in julle harte woon, en sal julle in God se liefde gewortel en gegrondves wees. Mag julle in staat wees om saam met al God se mense te begryp hoe breed en lank en hoe hoog en diep sy liefde is. Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef…’ (Efesiërs 3:17-19 NLV).

God wil hê dat jy sy liefde moet voel en moet verstaan. Ons het God lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het (sien 1 Johannes 4:19). Hoekom is dit belangrik om God se liefde te voel? Omdat ongeliefde mense dikwels liefdelose mense is. Wanneer jy nie opreg geliefd voel nie, is jy nie lus om liefde te betoon nie. Jy moet dus eerstens God se liefde vir jouself ervaar.

Jesus het gesê: ‘…Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefgehad het.’ Jesus was tydens jou ergste dade en jou laagste oomblikke lief vir jou. Die wete dat Christus jou liefhet, gee vir jou waarde en sekuriteit; dit stel jou ook in staat om die risiko te neem om ander mense lief te hê. Al wat God van jou vra is dat jy gewillig moet wees om liefde te betoon en Hy sal vir jou die krag gee om dit te doen. ‘…Hy het sy liefde mos in ons harte uitgestort deur sy Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het’ (Romeine 5:5 NLV).

Sielskos: Deut 3-4; Mark 1:35-45; Ps 78:32-39; Spr 16:31

Jy moet liefde betoon (2)

2022-08-02
Efesiërs 5:2 NLV

Die Grieke het vier verskillende woorde gebruik om tussen verskillende tipes liefde te onderskei: 1) Storge, wat natuurlike toegeneentheid beteken; 2) Eros, wat seksuele aantrekkingskrag beteken; 3) Philia, wat emosionele toegeneentheid of vriendskap beteken; 4) Agape, wat onvoorwaardelike, opofferende liefde beteken.

Wanneer die Bybel ons van God se liefde en die tipe liefde wat ons vir Hom en mekaar behoort te hê, vertel, is die woord altyd ‘agape’, wat ‘n verbintenis om op te tree, aandui. Weet jy dat dit moontlik is om iemand waarvan jy nie eens hou nie, lief te hê? As God ons wil leer om lief te hê, sal Hy inderdaad sekere mense in ons lewens inbring wat moeilik is om lief te hê. Die waarheid is dat ons lewens vol mense is van wie ons nie hou nie. Ons hou nie van die manier waarop sekere mense praat nie. Ons hou nie van die manier waarop sommige mense optree nie. Ons hou nie van die klere wat ander mense aantrek nie. Maar bowenal, is ons geneig om nie van mense te hou wat nie van ons hou nie.

As jy vir ‘n oomblik daaroor dink, kan jy heel waarskynlik ‘n lang lys mense opnoem van wie jy nie hou nie. Hulle sal heel waarskynlik mense wees met wie jy sukkel om oor die weg te kom. Jesus het nooit van ons verwag om ‘n tere toegeneentheid vir almal te hê nie. Hy het nie enige warmte teenoor die Fariseërs gevoel nie. Ons hoef nie van almal te hou nie, maar ons moet vir hulle lief wees. Wat bedoel die Bybel wanneer ons lees: ‘…leef ‘n lewe van liefde…’? Dat ons hierdie onvoorwaardelike liefde: a) elke dag moet uitleef, b) dat dit in ‘n sekere rigting beweeg en c) dat dit inspanning verg.

Sielskos: Deut 1-2; Mark 1:21-34; Ps 78:17-31; Spr 16:26-30

Jy moet liefde betoon (1)

2022-08-01
Johannes 13:34 NLV

Liefde is sekerlik een van die woorde in die wêreld wat die meeste verkeerd verstaan word. Ons water die betekenis daarvan af deur dit oor te benut: ‘Ek is lief vir my vrou, ek is lief vir my land, ek is lief vir pizza.’ Om liefde te gee en te ontvang, is moeilik wanneer ons nie eers begryp wat dit beteken nie. Ons moet dus ‘n paar wanopvattings daaroor uitklaar.

Ons dink liefde is ‘n gevoel – ‘n sentimentele klomp skoenlappers in jou maag. Ware liefde veroorsaak wel gevoelens, maar dis meer as net ‘n gevoel. ‘n Tweede wanopvatting is dat liefde onbeheerbaar is. Het jy al ooit gesê: ‘Ek het halsoorkop verlief geraak’ – asof jy gestruikel het? Ons sê: ‘Ek kan nie help dat ek verlief is nie,’ of die teenoorgestelde: ‘Ek kan dit nie help nie; ek is net eenvoudig nie meer vir hom (of haar) lief nie.’ Die feit dat Jesus ons opdrag gee om mekaar lief te hê, beteken dat ons wel beheer het oor wie ons liefhet en wie ons nie liefhet nie.

Die kern van liefde kom op twee dinge neer. Eerstens, liefde is ‘n keuse. ‘Die heel belangrikste wat julle moet aantrek, is die liefde. Die liefde bind alles volmaak saam’ (Kolossense 3:14 NLV). Soos jy elke dag die klere wat jy dra kies, kies jy die houding wat jy gaan vertoon. Liefde is dus beheerbaar. Tweedens, liefde word geken deur jou optrede. ‘…laat ons nie liefhê met woorde of ‘n gepratery nie, maar eerder deur ons optrede, en met opregte bedoelings’ (1 Johannes 3:18 NLV). Dit werk as volg: Wanneer jy na iemand met opregte liefde en besorgdheid uitreik, verander jou gevoelens teenoor daardie persoon. Selfs al bewys hulle nie liefde terug aan jou nie, is God tevrede met jou. Dis genoeg beloning.

Sielskos: Hand 27-28; Mark 1:9-20; Ps 78:9-16; Spr 16:25

Dit werk binne jou (4)

2022-07-31
Romeine 8:26 NLV

Die twee pilare van ‘n gelowige se daaglikse lewe behoort gebed en Skriflesing te wees. Terwyl gebed dalk eenvoudig mag lyk, is dit nie altyd maklik nie. Ons kort motivering, ons aandag word maklik afgelei en ons is nie altyd seker waarvoor ons moet bid nie. Omdat God ons menslike ontoereikendheid besef, voorsien Hy ons van hulp in die vorm van die Heilige Gees.

Paulus skryf: ‘…Maar die Gees self neem ons gebedsbehoeftes voor God op met versugtinge wat nie in menslike taal verwoord kan word nie. Dié God wat die dieptes van elke hart deurgrond, weet wat die Gees in die oog het – dat Hy in harmonie met God se wil vir die gelowiges intree’ (verse 26-27 NLV). Dit beteken dat dit nie saak maak hoe jy voel wanneer jy bid nie, die Heilige Gees bid saam met jou, vir jou en transformeer jou swakste gebede in kragtige oproepe tot die Vader.

Wanneer dit by die tweede pilaar kom, naamlik die Woord van God, is die Heilige Gees se rol ewe dinamies. Jesus het gesê: ‘Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid. Hy sal nie uit Homself praat nie, maar net sê wat Hy hoor. Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel’ (Johannes 16:13 NLV). Die Heilige Gees doen drie dinge: 1) Hy lei ons terwyl ons die Woord van God bestudeer en dit probeer verstaan. 2) Hy neem dit wat Jesus wil hê ons moet weet en openbaar dit aan ons. 3) Hy maak ons gedagtes oop oor dinge wat nog voorlê.

Natuurlik is goeie naslaanboeke, Skrifgebaseerde hulpbronne en bekwame Bybelonderwysers nodig en nuttig, maar dit is geen plaasvervanger om die Heilige Gees self te hoor en aandagtig te luister na dit wat Hy vir jou wil sê nie.

Sielskos: Jos 1; Ps 27:11-14; 2 Tim 2:1-15