2022-07-30
Johannes 14:16 NLV
Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Raadgewer stuur om vir altyd by julle te wees.’ Die Griekse bron vir die woord ‘Raadgewer’ is ‘Parakletos,’ wat beteken ‘een wat langsaan jou kom’ om jou te versterk, te bemoedig en raad te gee. Hoe wonderlik is dit nie? Wanneer jy moedeloos, verward en magteloos voel, het jy ‘n wyse, deernisvolle, bekwame helper wat sal opdaag om jou te ondersteun en jou van dit wat jy nodig het, sal voorsien. In plaas daarvan om dus alleen daarmee te sukkel, leer om op Hom te leun, put krag uit sy mag uit en vertrou Hom om sy magtige werk in jou te doen.
Paulus sê ook vir ons: ‘…Laat julle leefstyl eerder deur die Gees bepaal word. Dan sal julle glad nie aan die begeertes van julle sondige geaardheid toegee nie’ (Galasiërs 5:16 NLV). Die stryd tussen die Gees en die vlees is onophoudelik. Ons vleeslike natuur kan nooit deur menslike denke in bedwang gebring word nie; dit veroorsaak net mislukking en moedeloosheid. Wat is dan die antwoord? Die Heilige Gees sal vir jou sê waar om te gaan en wat om te doen.
Nog ‘n wonderlike voordeel wat die inwonende Heilige Gees vir jou meebring is: ‘Want almal wat hulle laat lei deur die Gees van God – hulle is God se kinders’ (Romeine 8:14 NLV). Om te bid en dan jou beste raaiskoot te neem, is nie God se manier nie. Die Heilige Gees se leiding – nie ons raaiskote nie – moet ons leefstyl bepaal. Die woord vir jou vandag is dus – onthou, dit werk binne jou.
Sielskos: Hand 24-26; Mark 1:1-8; Ps 78:1-8; Spr 16:23-24
2022-07-29
Johannes 16:7 NLV
Selfs terwyl die dissipels se harte seer was oor Jesus se vertrek, het Hy hulle verseker dat dit tot hulle voordeel sou wees, omdat dit vir hulle ‘n nuwe era van krag en gesag sou meebring (sien Johannes 14:12). Om ‘onder nuwe bestuur’ te wees, was nie die einde nie, maar ‘n voortsetting van Christus se bediening, aangesien die Heilige Gees die aflosstokkie uit die Seun se hand geneem het en dit in hulle hande geplaas het. Die Seun sou weggaan, maar die Gees sou ‘…vir altyd by [hulle] wees’ (Johannes 14:16 NLV). Die Gees sou hulle menslike liggame binnegaan en permanent in hulle woon!
Dis nie ‘n tentatiewe, vae verbinding nie. Dis God se Gees wat ons as sy permanente woonplek kies. Het jy al ooit die voordeel wat dit ons gee, oorweeg? Jy kan byvoorbeeld more wakker word en gestres, moeg en geïrriteerd voel en, menslik gesproke, kan hierdie gevoelens maklik jou dag bepaal. Omdat die Gees egter in jou lewe, hoef hierdie soort dinge jou nie te beheer nie.
Paulus skryf: ‘Of verstaan julle dan nie dat julle liggame ‘n tempel van die Heilige Gees is wat in julle woon… nie?..’ (1 Korintiërs 6:19 NLV). Sodra jy hierdie belofte deur geloof aanvaar, word jy God se tempel. Jy kan by die werk wees, besig wees om die kinders skool toe te neem, met die hond gaan stap, vir die biopsie se resultate wag, die begrafnis van jou beste vriend bywoon of met jou alledaagse take voortgaan – God se Gees lewe in jou.
Kan jy nou insien hoekom Jesus vir die dissipels gesê het dat dit tot hulle voordeel is dat Hy weggaan en vir hulle die Heilige Gees stuur? Wat jy ook al doen, moenie dat hierdie lewensveranderende waarheid by jou verbygaan nie!
Sielskos: Hand 22-23; Matt 28:11-20; Ps 46; Spr 16:20-22
2022-07-28
Johannes 14:16 NLV
Onthou jy aandete sonder selfone, stemboodskappe, teksboodskappe en breinoorlading? Vriende en familie wat mekaar se geselskap geniet, sonder om deur tegnologie onderbreek te word? Ons is ‘n generasie wat besig is om die kuns van kommunikasie en intimiteit te verloor – en dit is besig om ‘n impak op die tyd wat ons alleen met God bestee, te hê.
Alhoewel Jesus die tegnologie-era voorafgegaan het, was Hy in konstante aanvraag; skares het Hom op alle ure van die dag en nag agtervolg. Nietemin, sê die Skrif vir ons: ‘Nog voor dagbreek die volgende oggend het Jesus opgestaan en alleen op ‘n stil plek gaan bid’ (Markus 1:35 NLV). Jesus het tyd gemaak om alleen met sy Vader te wees. Dit verg geestelike dissipline om die lewe se geraas te elimineer en stil te wees en te luister. As jy dit egter oefen, sal jy ‘n hartsbevredigende intimiteit en gemeenskap met God ontdek.
Belê in ‘n paar minute om hoofstukke 14-16 in die boek van Johannes te lees en laat jou gees Jesus se boodskap absorbeer. Hierdie is seëninge wat Hy ook met jou wil deel. Hoe kan jy dus hierdie vrede en gerusstelling vind? Dit werk binne jou, want die Heilige Gees woon in jou. Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Raadgewer stuur om vir altyd by julle te wees’.
Dit mag dalk die Christendom se bes bewaarde geheim wees, dat die Heilige Gees inwonend in elke gelowige is en in staat is om alles te voorsien wat ons nodig het om die lewe se moeilikhede te hanteer. Die Raadgewer is deur die Seun beloof, deur die Vader gestuur en Hy is vandag ons s’n deur geloof. Omhels Hom, vertrou sy krag, ervaar sy vrede en volg sy onfeilbare leiding.
Sielskos: Hand 20-21; Matt 28:1-10; Ps 42:6-11; Spr 16:17-19
2022-07-27
Filippense 4:7 NLV
Jy kan vandag, ongeag jou omstandighede, vrede hê: ‘Mag die Here, die Bron van vrede, self altyd en op elke manier vir julle vrede gee…’ (2 Tessalonisense 3:16 NLV). Dink daaroor: God het geen bekommernisse of probleme nie, omdat Hy in beheer van alles is. Soos jy leer om Hom te vertrou, ‘…sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas.’
Een Christelike skrywer stel dit so: ‘As jy in ‘n dorp woon wat voortdurend deur vyandelike strooptogte geteister word, sal een opsie wees dat die weermag troepe stuur om langs jou te woon. Hulle sal nie net beskerming bied tydens ‘n aanval nie, maar ook die vyand daarvan weerhou om toekomstige aanvalle te loods. Dis wat Filippense 4:7 impliseer. Die Heilige Gees het ‘n besettingsmag of weermag binne-in ons opgerig. God se besettingsmag van vrede sal in jou hart en gedagtes bly, jou beskerm en die wonde van vrees en bekommernis wat dreig om jou lewe in te val, genees. Dis die tipe vrede wat menslike begrip te bowe gaan, omdat dit Godgedrewe en Geesverbonde is.
‘…daar [is] nou vrede tussen God en ons op grond van wat Jesus Christus ons Here gedoen het. Deur Jesus Christus het ons… toegang verkry tot hierdie heerlike posisie van genade waarin ons ons nou bevind…’ (Romeine 5:1-2 NLV). Is daar areas in jou lewe waar jy ‘n tekort aan vrede het? Gee dit aan God oor. Die Psalmdigter het gesê: ‘…Hy belowe vrede aan sy volk en aan hulle wat getrou is…’ (Psalm 85:9 NLV).
Diane Eble merk op: ‘Wanneer God praat, is vrede die boodskap. Moet nooit tevrede wees met enige koers wat nie deur vrede gekenmerk word nie. Dit kom nie van God af nie.’
Sielskos: Hand 18-19; Matt 27:57-66; Ps 42:1-5; Spr 16:16
2022-07-26
1 Timoteus 5:13 NLV
Die Bybel sê dat skinder niks anders is as om jouself ‘te bemoei met ander mense se besigheid,’ nie. Jon Zens sê: ‘Ek het al gesien hoe vriende en families ongekende pyn as gevolg van skinderstories ervaar – die informasie wat iemand sonder jou toestemming of die betrokke persoon se toestemming op jou afpak. Dit kan waar, gedeeltelik waar of heeltemal vals wees. Dit kan deur goeie bedoelings gemotiveer wees, maar dit behels altyd negatiewe informasie en kleur mense se persepsies van iemand onregverdig in. Die persoon wat afgebreek word, word nie betrek nie, omdat skinderbekke dit gewoonlik vermy om direk met die een wat hulle besig is om te verneder, te praat.’
Stel dus vandag die standaard vir jou eie lewe deur mense op jou ervaring van hulle, en nie op wat iemand anders van hulle sê nie, te evalueer. Tweedehandse informasie is berug daarvoor dat dit onbetroubaar en misleidend is en dit oortree Christus se opdrag om ‘…aan ander mense [te] doen soos julle wil hê ander mense moet aan julle doen…’ (Matteus 7:12 ABA).
As jy al vantevore deur skinderpraatjies seergemaak is, kan jy aanklank by die wysheid van hierdie woorde vind. Gerugte en skimpe mag dalk onskuldig lyk en subtiel oorvertel word, maar selfs al tree iemand nie kwaadwillig op nie, is dit steeds verkeerd. Om skinderstories te versprei, oortree jy die opdrag om in liefde te wandel en vir die beste in ander mense uit te kyk (sien 1 Korintiërs 13:7).
A.W. Tozer het gesê: ‘Moet nooit iets oorvertel wat iemand kan seermaak nie. ‘…Sulke liefde maak baie sondes toe’ (1 Petrus 4:8 NLV), en die skinderbek het geen plek in God se guns nie. As jy iets weet wat een van God se kinders kan seermaak, neem dit en begrawe dit. God sal vir die res sorg.’
Sielskos: Hand 16-17; Matt 27:45-56; Ps 1; Spr 16:10-15
2022-07-25
Lukas 6:13,15 DB
Toe die Ohio State Buckeyes en die Universiteit van Michigan Wolverines in 1968 teen mekaar in die voetbalkampioenskappe te staan gekom het, het Ohio hul aartsvyande met 50-14 verslaan. Die wedstryd sal lank onthou word as gevolg van wat minute voor die einde gebeur het. Met ‘n groot voorsprong van 44-14, het die Buckeyes heldhaftig deurgedruk om ‘n laaste raakvat te wen. In plaas daarvan om die normale eenpunt-omskakeling te kies, het die legendariese Woody Hayes onsuksesvol op ‘n tweepunt-omskakeling aangedring. Na die wedstryd, toe hy deur die pers gevra is hoekom hy twee punte gekies het toe die wedstryd reeds gewen was, het Hayes geantwoord: ‘Omdat ek nie vir drie kon gaan nie!’ Om alles te gee lei tot oorwinning, nie nederlaag nie; tot tevredenheid en nie spyt nie.
Entoesiasme is die kern van elke waardevolle prestasie. Paulus skryf: ‘Dit is goed dat julle ywerig is om te doen wat reg is…’ (Galasiërs 4:18 DB). Een van die dissipels was bekend vir sy entoesiasme en is ‘ywerige Simon’ genoem. Voor sy bekering het Simon aan ‘n militante nasionalistiese party behoort wat hom tot die Joodse bevryding van Rome verbind het. Deur genade het Simon, die politieke yweraar, egter ‘n geestelike vuurwapen geword wie se passie na die evangelie van Christus en sy koninkryk, gekanaliseer is.
Christelike entoesiasme is Godgeïnspireerde passie, wat deur die Heerlikheid van God gedryf word, deur die Woord van God gerig word, wat aan die Seun van God gewy word en wat van die Gees van God afkomstig is. Wanneer dit daarby kom om Christus lief te hê en te dien, moet jy alles gee wat jy het! Strewe daarna om vandag, soos Simon, as die ‘ywerige een’ bekend te staan.
Sielskos: Hand 14-15; Matt 27:33-44; Ps 65; Spr 16:8-9