2022-07-24
Johannes 16:33 NLV
In die middel-tagtigs het Steven Patrick Morrissey, beter bekend as ‘Moz’, die Britse rock-trefferlyste oorheers. Net so bekend vir sy swartgalligheid as vir sy musiek, het Morrissey se liedjies hoofsaaklik oor depressiewe temas gehandel. Hulle het by gebroke verhoudings, eensame nagklubs en die hopelose gewig van die verlede, stilgestaan. In kort, was Morrissey ‘n sanger wat ‘n moedelose lewe in ‘n mineur toonset gelei het.
Hoe anders is dit nie as die lewe waartoe Jesus sy volgelinge geroep het nie! Op drie verskillende geleenthede het Hy sy dissipels aangemoedig om moed te skep. Die eerste rede om moed te skep, is omdat jou sondes in Christus vergewe en vergete is (sien Matteus 9:2). As gevolg van Golgota, sal jou foute en mislukkings nooit tydens die oordeelsdag teen jou gebruik word nie (sien Johannes 5:24).
Die tweede rede om moed te skep is omdat ons nie vir oorwinning veg nie, maar vanuit die uitgangspunt van oorwinning. ‘…In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin’ (Johannes 16:33 NLV).
Die derde rede om moed te skep is omdat Jesus by jou sal wees, maak nie saak wat die lewe vir jou gooi of voor wie jy te staan kom nie. Soos die vreesbevange dissipels aan boord van die skuit in die storm, sal Hy by jou wees wanneer jy Hom nodig het. Jy het sy Woord daarvoor: “…hulle het benoud begin skree… Maar Jesus het dadelik vir hulle gesê: ‘Toemaar, moet julle nie ontstel nie. Dit is Ek'” (Matteus 14:26-27 NLV). Vrede is nie die afwesigheid van storms nie. Dis die wete dat Christus by ons is en dat ‘…Niks ons ooit van Christus se liefde [kan] skei nie…’ (Romeine 8:39 NLV).
Sielskos: Gen 14:18; Ps 110; Heb 5:5-11
2022-07-23
Jakobus 5:16 NLV
Paulus skryf: ‘Moenie oor dinge sit en tob of jou bekommer nie. Gaan praat met God daaroor. Bespreek dit met Hom. Vertel Hom hoe jy daaroor voel. Sê dan vir Hom dankie dat jy met Hom daaroor kan praat en dat Hy die beste weet. Jy sal dan verlig en tevrede voel’ (Filippense 4:6 DB). Hier is drie laaste gedagtes oor die krag van gebed:
1) Navorsers aan die Universiteit van Saskatchewan het bevind dat wanneer gebed en godsdiensaktiwiteite vir mense belangrik is, hulle stresvlakke daal en hulle minder angs ervaar.
2) Navorsers aan die Universiteit van Texas het bepaal dat mense wat gereeld kerk toe gaan, ‘n aktiewer rol neem om hulle gesondheid te bestuur. Hulle is meer geneig om vir gereelde doktersondersoeke te gaan en vitamines te neem en minder geneig om alkohol en tabak te misbruik. Hulle is ook meer geneig om daagliks te oefen en ‘n goeie nagrus te kry. Gevolglik leef hulle langer, gesonder lewens. Die Bybel sê dat jou liggaam ‘n huis van die Heilige Gees is en dat dit nie aan jou behoort nie (sien 1 Korintiërs 6:19), dus moet jy dit respekteer en versorg.
3) Research on Aging het navorsingsresultate van drie universiteite gepubliseer wat wys dat mense wat betekenisvolle godsdienstige oortuigings het en daarvolgens lewe, minder geneig is om aan hartsiektes te ly. Die sleutel lê in die kritiese rol wat bloeddruk met betrekking tot hartsiektes speel. Mense wat hul perspektief as volg beskryf het: ‘My godsdienstige oortuigings beïnvloed my benadering tot die lewe,’ het gesonder bloeddruklesings gehad wat nie negatief deur stres geaffekteer is nie.
Dis belangrik om op te let dat al hierdie wetenskaplike verslae deur sekulêre, nie-godsdienstige instellings gepubliseer is. Die waarheid is dat daaglikse gebed elke aspek van jou lewe verryk en verbeter.
Sielskos: Hand 12-13; Matt 27:27-32; Ps 14; Spr 16:6-7
2022-07-22
Jakobus 5:16 NLV
Nog sewe gedagtes om oor na te dink: 1) Wanneer dit by gebed en betrokkenheid by die kerk kom, het ‘n studie wat deur die Universiteit van Michigan gedoen is, bevind dat dit emosionele en finansiële stres verlaag.
2) ‘n Gerespekteerde gerontoloog het bevind dat private gebede jou algehele welstand na hartchirurgie kan verbeter en jou minder angstig kan laat voel.
3) ‘n Nasionale opname van kinders se gesondheid het bevestig dat kinders wat by die kerk betrokke is, hoër opvoedkundige verwagtinge het en beter in wiskunde en lees presteer. Kinders wat so min as een keer ‘n maand kerk bygewoon het, was minder geneig om ‘n graad op skool te moet herhaal.
4) Die joernaal van Psychiatric Services haal verskeie studies aan wat wys hoe positiewe godsdiensoortuigings ‘n belangrike rol in die herstel van alkohol- en/of dwelmmisbruik speel en ‘n groot rol speel dat mense nie weer in verslawing verval nie.
5) Toe navorsers by Yale se Skool vir Geneeskunde 2,000 mense oor die ouderdom van vyf-en-sestig bestudeer het, het hulle gevind dat diegene wat kerk bywoon, minder geneig was om hul verstandelike vermoë in die toekoms te verloor.
6) Woede oordryf jou stresreaksie en verhoog jou bloeddruk. Studies by die Universiteit van Ohio het bevestig dat wanneer jy vir die persoon vir wie jy kwaad is bid, dit jou woede kan kalmeer en positiewe emosies soos deernis kan bevorder, wat jou algemene gesondheid verbeter.
7) Sociological Quarterly rapporteer dat tieners wat betekenis in hul geloof vind en dit as belangrik ag, beter verhoudings met hul ouers het, wat tot ‘n meer bevredigende ervaring vir die hele familie lei.
Sielskos: Hand 10-11; Matt 27:11-26; Ps 146; Spr 16:4-5
2022-07-21
Filippense 4:6 NLV
God se Woord sê duidelik vir ons dat ons oor alles moet bid. Deesdae begin die wetenskap die waarde en krag van gebed erken. Navorsers wat die rol wat geloof in gesondheid speel ondersoek, ontdek bewyse wat moeilik is om te weerlê. ‘n Studie wat byvoorbeeld in 2014 deur The Mind Health Report van stapel gestuur is, het bevestig dat mense wat by private gebed, voorbidding en kerkaktiwiteite betrokke is, gesonder is en langer lewe. Hier is nog ‘n paar addisionele voordele:
1) Wetenskaplikes aan die Universiteit van Florida het gevind dat om vir iemand te bid, jou bereidheid om hulle te vergewe, verhoog. Toe ‘n groep mans en vrouens elke dag vir vier weke lank vir die welstand van ‘n nabye vriend gebid het, was hulle gewilliger om nie net die vriend nie, maar ook mense in die algemeen, te vergewe. Vergifnis word met beter algehele gesondheid en tevredenheid met die lewe geassosieer.
2) Navorsers aan die Universiteit van Miami het bevind dat gebed en godsdienstige aktiwiteite jou vermoë om langtermyn doelwitte na te streef en te bereik, verbeter. Gebed affekteer areas van jou brein wat selfbeheersing verbeter en mense wat hulle doelwitte as heilig sien, is meer vasbeslote om dit te bereik.
3) ‘n Studie wat deur die Universiteit van Wisconsin-Madison geloods is, het bevind dat slagoffers van afbrekende verhoudings weer ‘n positiewe selfbeeld kan opbou en hulle emosionele pyn verminder, wanneer hulle lewens gebed insluit.
4) Navorsers aan die Universiteit van Columbia het bevind dat mense wat godsdiens aanhang en gereeld kerk toe gaan, 90 persent minder geneig is om aan depressie te ly as hulle nie-godsdienstige eweknieë. Dis nogals sterk bewyse ten gunste van gebed, nie waar nie?
Sielskos: Hand 8-9; Matt 27:1-10; Ps 140; Spr 16:3
2022-07-20
Genesis 22:10 NLV
Ons word nie almal op dieselfde manier getoets nie, maar ons word almal oor dieselfde kwessies getoets. Kyk na Abraham. Nadat hy twintig jaar gewag het, het God vir hom ‘n seun gegee wat die belofte dat hy ‘…die voorvader… van baie nasies’ (Genesis 17:5 NLV), sou wees, sou vervul. Toe het God vir hom gesê om daardie seun op ‘n afgeleë altaar in die woestyn te gaan offer. Dit het nie sin gemaak nie, omdat dit God se belofte weerspreek het, maar tog het Abraham gehoorsaam.
Dis onwaarskynlik dat jy geroep sal word om voor dieselfde uitdagings as Abraham te staan te kom, maar weet verseker, jy sal oor dieselfde kwessies getoets word. Jy sal oor jou vlak van toewyding getoets word. Wanneer dinge moeilik raak, sal jy aan God toegewy bly en sy Woord gehoorsaam, of sal jy ‘n ander uitweg soek? Wanneer dit nie sin maak nie, nie regverdig is nie en jy dit nie verdien nie, sal jy God vertrou en aan Hom getrou bly?
Jy sal getoets word oor wie in beheer van jou lewe is. Wanneer jy die Vyand se hand aan die werk kan sien, of die persoon wat vir jou pyn verantwoordelik is kan identifiseer, sal jy onthou dat ‘alles ten goede sal saamwerk’ en dat God in beheer is? (Sien Romeine 8:28).
Jy sal oor jou geloof getoets word. ‘Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom wou toets, sy seun as’t ware al klaar geoffer gehad…’ (Hebreërs 11:17 NLV). Hoe kon ‘n liefdevolle vader so iets doen? Omdat hy nooit getwyfel het dat God vir Isak ‘selfs uit die dood sou kon opwek’ (vers 19 NLV), nie.
Wanneer jy dus getoets word: ‘…hou styf vas aan die hoop wat ons bely, want ons kan op God staatmaak; Hy sal doen wat Hy beloof het’ (Hebreërs 10:23 NLV).
Sielskos: Hand 6-7; Matt 26:57-75; Ps 133; Spr 16:2
2022-07-19
Jesaja 65:22 NLV
‘n Wetenskaplike het in 1968 ‘n seshonderd-jaar-oue halssnoer in ‘n Indiese graf ontdek. Dit was van sade wat saam gesnoer is, gemaak. Hy het een van die sade geplant en raai wat het gebeur: Dit het ontkiem en begin groei. Alhoewel die saad vir seshonderd jaar ongebruik gelê het, het dit steeds die potensiaal vir lewe gehad.
Miskien is jy al vir jare ‘n Christen, maar geestelik sluimerend vir die meeste van daardie tyd en nou wil jy graag produktief wees. Jy begeer dit om vrugte te dra. Die goeie nuus is dat dit nie te laat is nie! Jy kan dadelik begin. “Maar regverdiges sal blom soos ‘n palmboom, en welig groei soos ‘n seder van die Libanon. Geplant in die Here se woning, groei hulle weelderig, daar in die tempel van ons God. Al is hulle oud, is hulle ‘n aanwins; hulle is vars en lewenskragtig. Hulle sal sê: ‘Die Here is regverdig. Hy is my rots. By Hom is daar geen onreg nie'” (Psalm 92:13-15 NLV).
Het jy geweet dat ‘n palmboom sy grootste oes vrugte in sy finale jare produseer? Dit kan ook jou roeping wees. ‘…My volk sal oud word soos ‘n boom. Hulle wat Ek uitverkies het, sal die vrug geniet van hulle eie handewerk.’ Hierdie Skrifgedeelte beteken dat nieteenstaande knokkeleelte, bifokale lense en blesheid, jou laaste lewenseisoen die grootste seisoen van jou lewe kan wees. Dit mag jou dalk langer neem om te doen wat jy doen, maar aangevuur deur die wysheid van God se Woord en die jare wat jy saam met Hom geloop het, kan jy steeds jou merk vir God op hierdie wêreld maak.
Sielskos: Hand 3:11-5:42; Matt 26:47-56; Ps 123; Spr 16:1