2022-07-18
Prediker 4:9 NLV
Professionele atlete weet dat hulle as ‘n span moet saamwerk om punte op die telbord aan te teken. Gedurende die sewe-en-twintig jaar wat hy sy tienmalige nasionale kampioen UCLA-basketbalspanne afgerig het, het die afrigter John Wooden sy spelers telkens herinner: ‘Dit neem tien hande om een doel aan te teken.’ Sy boodskap is presies in lyn met Salomo se raad: ‘Twee is beter as een…’
Niemand besef sy of haar potensiaal op hulle eie nie. God se Woord en die lewe self leer ons dat die lewe ontwerp is om ‘n spansport te wees. God het hierdie beginsel aan die heel begin reeds daar gestel: ‘…Dis nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n metgesel maak, sy gelyke wat hom kan help’ (Genesis 2:18 NLV). Dit was nooit God se bedoeling dat ons alleen deur die lewe moet gaan nie. Eensaamheid is ‘n moordenaar. Geselskap is die elikser van die lewe.
Salomo praat in Prediker 4:1-12 oor die waarde van menslike verhoudings in ‘n uitdagende en moeilike wêreld. Om oorwinning in die lewe te behaal, moet ons onsself daaraan toewy om: a) die individualiteit wat dikwels ons kultuur kenmerk, te weerstaan, b) betekenisvolle verhoudings op te bou en te leer om ons vriende te waardeer, c) naby aan die lede van Christus se liggaam te bly, d) uit te reik na die eensames en diegene wat geval het, en e) uit jou pad te gaan om die aard van ware vriendskap te demonstreer (sien Spreuke 17:17; Hebreërs 10:24-25; Lukas 10:25-37; Johannes 15:13).
Om jou eie paadjie uit te kerf, is ‘n doodloopstraat. ‘n Lewe wat gedeel word, is ‘n lewe wat ten volle geleef word!
Sielskos: Hand 1:1-3:10; Matt 26:36-46; Ps 118:19-29; Spr 15:33
2022-07-17
Jesaja 26:3 NLV
Het jy al ooit van stresplakkers gehoor? Dit is klein plakkers, wat jy in jou hand plaas, wat sensitief vir druk is. Soos adrenalien deur jou liggaam vloei, verander hierdie plakkers van kleur en bewys dat jy gestres is. Sou dit nie wonderlik gewees het as ons ‘n klein innerlike waarskuwingslig gehad het wat flikker elke keer wanneer ons ons fokus van die Here afneem nie? Of as ons ‘n klein alarm gehad het wat kon lui wanneer ons nie meer in pas met God is nie?
Ons het dit! Dit staan as spanning of stres bekend. Wanneer jy gespanne voel, is dit ‘n aanduiding dat jy jou oë van die Here afgehaal het en dit op jou omstandighede gefokus het. Ons staar na die probleem, eerder as na die oplossing. Wanneer ons dit doen, raak ons gespanne. As jy mooi daaroor dink, kan stres God se manier wees om te sê: ‘Verander jou fokus. Kyk na My.’
Die Bybel sê: ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is.’ Jy het die keuse om op jou probleme te fokus, of om op die Een wat die oplossing het, te fokus. Corrie ten Boom het geskryf: ‘The blacker the night around us grew, the brighter and truer and more beautiful burned the word of God. If you look at the world, you’ll be distressed. If you look within, you’ll be depressed. But if you look at God, you’ll be at rest.’
Jou vrede word deur dit waarop jy konsentreer, bepaal. Wanneer moeilikheid dus te voorskyn kom, fokus op God se teenwoordigheid; Hy is by jou en Hy het beloof dat Hy jou nooit sal verlaat nie (sien Hebreërs 13:5).
Sielskos: Gen 5:22-24; Heb 11:5; 2 Kon 2:1-12; Hand 1:9-11
2022-07-16
Johannes 15:16 NLV
Het jy al ooit gewonder hoe sommige mense in staat is om so baie te bereik? Wat maak hulle so produktief? Verbeel jouself jy is aan die einde van jou lewe. Wat sal dit neem sodat jy kan sê: ‘Ek het ‘n produktiewe lewe gelei. Ek het dit bereik wat ek myself voorgeneem het om te doen’? Wat dink jy is ‘n produktiewe lewe? Nog belangriker, weet jy wat God se definisie van ‘n produktiewe lewe is? Kom ons kyk na wat dit beteken om ‘n Christen te wees wat vrugte dra.
Die woord ‘vrug’ kom ses-en-sestig keer in die Nuwe Testament voor. Daar word na drie tipes vrugte verwys: die tipe wat ons eet – vye en druiwe; biologiese vrugte – babas; en geestelike vrugte – ‘n Christelike karakter. Die Bybel definieer hierdie geestelike vrugte as nege dinge: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing (sien Galasiërs 5:22-23).
Dit is die tipe vrugte wat God in jou lewe wil produseer. Dis hoe Hy ‘n produktiewe lewe definieer. Jesus het gesê: ‘Dit is juis hierin dat my Vader verheerlik word, dat julle baie vrugte oplewer en my dissipels is’ (Johannes 15:8 NLV). Die bewys dat jy ‘n dissipel van Jesus is, is dat jy geestelike vrugte produseer. Miskien is jy ‘n goeie ‘vrugte-inspekteur’ wanneer jy die lewens van ander mense ondersoek. Watter vrugte is egter besig om in jou lewe te groei? Is jy besig om meer vleeslik of meer soos Christus te word?
Om te weet hoe vrugtevol jy is, moet jy dit wat in jou lewe groei, ondersoek. As jy hou van dit wat jy sien, hou so aan. As jy egter nie daarvan hou nie, gaan op jou knieë en bid: ‘Vader, help my om vrugte wat U verheerlik, te produseer.’
Sielskos: Joël 1-3; Matt 26:26-35; Ps 118:10-18; Spr 15:31-32
2022-07-15
1 Petrus 2:23 NLV
Wanneer iemand jou teleurstel of jou ontstel, wat doen jy? Hoe lyk jou reaksie? Sê jy: ‘Jy maak my so kwaad!’ Wanneer jy dit sê, erken jy dat iemand anders in beheer van jou emosies is. Jy erken dat jy daardie persoon die mag gegee het om jou gevoelens en emosies te bepaal. Die Bybel sê: ‘Moenie toelaat dat die slegte julle onderkry nie, maar deur goed te doen moet julle die slegte hokslaan’ (Romeine 12:21 NLV). Om terug te slaan is ‘n reaksie. Om egter te vergewe, is om daadwerklik op te tree. Dit sê: ‘Ek kies die manier waarop ek reageer.’
Beheer ander mense jou emosionele toestand? Laat jy hulle toe om jou vlakke van geluk te verhoog of jou in bekommernis, vrees of woede te dompel? ‘Dis beter om geduldig te wees as dapper. Selfbeheersing is beter as om ‘n stad in te neem’ (Spreuke 16:32 NLV). Die persoon wat sy buie en reaksies kan beheer, is sterker as ‘n ommuurde stad. ‘n Persoon wat egter nie hulle eie gees kan beheer nie is weerloos, soos ‘n stad sonder mure. Daardie persoon het geen verweer nie; hulle is uitgelewer aan wat ook al iemand aan hulle wil doen.
Krag word in sagmoedigheid gevind en sagmoedigheid het die vermoë om seer te hanteer sonder om weerwraak te neem; dit kan die hou absorbeer sonder om terug te slaan. Jesus sê vir ons om die ander wang te draai (sien Matteus 5:39). Jy sê: ‘Dis nie maklik nie.’ Nee, dit is nie; soms is dit amper onmoontlik. Jy sê: ‘Om so te reageer is nie natuurlik nie.’ Jy’s reg, dit is bonatuurlik; dis is die vrug van die Gees (sien Galasiërs 5:22-23). Jy het God se krag nodig om op hierdie manier te leef.
Sielskos: Jer 51-52; Matt 26:14-25; Ps 118:1-9; Spr 15:27-30
2022-07-14
Spreuke 1:33 NLV
Dink aan die groot besluite wat ons in ons leeftyd maak: om ‘n maat te kies, om te besluit waar om te woon en watter beroep om na te streef. Wanneer jy op jou lewe terugkyk, kan jy sê dat jy deurlopend die wysste besluite gemaak het?
Soos Jennifer Winquist skryf: ‘Ons maak keuses gebaseer op wat die beste voel, wat die maklikste en vinnigste is, wat ons kinders gelukkig maak, wat ons probleem vir nou oplos. Ons koop dit wat ons wil hê, in plaas daarvan om vir noodsaaklikhede te spaar. Ons trou met mnr Nou in plaas daarvan om vir mnr Reg te wag. Ons eet ‘n pakkie skyfies eerder as ‘n pakkie wortels. Wyse besluite is gewoonlik nie kitsoplossings, selfsugtig of korttermyn nie; hulle behels beplanning, harde werk, opoffering en veerkragtigheid. Die belonings is egter die moeite werd.’
Jakobus sê: ‘Vra vir God as jy nie kan agterkom wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee…’ (Jakobus 1:5 NLV). As God se kinders, het ons die wysheid van die Skepper tot ons beskikking. Wanneer jy die geduld en volwassenheid ontwikkel om die wyse keuse in plaas van die maklike een te maak, hoef jy nooit in vrees vir die uitkoms van jou besluite te leef nie.
John Mason sê om in wysheid te groei, beteken om God te vrees, Hom te behaag, van Hom te hoor, na Hom te kyk, sy weg te kies, nederig voor Hom te bly, sy raad te volg, sy teregwysing te ontvang, ‘n gebedsverbinding met Hom te handhaaf en om Sy Seun persoonlik te ken (sien Psalm 111:10; Prediker 2:26; Spreuke 2:6; 3:13; 8:10-11; 11:2; 13:10; 29:15; Efesiërs 1:16-17; 1 Korintiërs 1:30). So… hoe gaan dit tot dusver daarmee?
Sielskos: Jer 49-50; Matt 26:1-13; Ps 109:16-31; Spr 15:23-26
2022-07-13
2 Timoteus 4:2 ABA
Paulus beskryf ons generasie: ‘Want die tyd sal kom wanneer mense nie sal wil luister wanneer iemand vir hulle die regte dinge leer nie… Daarom sal hulle baie mense kies wat vir hulle leer soos húlle dit wil hê’ (vers 3 ABA).
So baie Christene word deesdae in politiese korrektheid vasgevang. Politiese korrektheid dikteer dat ons dit moet vermy om enigiets te sê wat ander mense kan aanstoot gee. Jy kan maar weet: Christus se maagdelike geboorte, sy wonderbaarlike magte, sy sondelose lewe, sy dood, opstanding, wederkoms en die waarheid dat verlossing slegs deur Hom plaasvind, sal sommige mense aanstoot gee. Die melding van ‘n hel vir ongelowiges, ‘n hemel vir gelowiges, die absolute gesag van die Skrif, Bybelse opdragte rakende seks, die huwelik, ouerskap en die heiligheid van menselewe is gewaarborg om aanstoot by die polities korrekte te gee. Waar verwag God van ons om in so ‘n kultuur te staan?
Op die waarheid! Jesus het dikwels sy gehoor aanstoot gegee, insluitend diegene wat beweer het dat hulle sy dissipels is (sien Johannes 6:66). Paulus het besef dat die jong Timoteus voor verwerping en bespotting te staan sou kom en het dus vir hom gesê: ‘Jy moet die boodskap vir mense bring… wanneer mense dit wil hoor en ook wanneer hulle dit nie wil hoor nie. Jy moet vir hulle sê wat hulle verkeerd doen…’
Ons word nie geroep om populêr te wees nie, ons word geroep om die volgende te doen: ‘Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, sal julle krag ontvang en oral mense eerstehands van My vertel…’ (Handelinge 1:8 NLV). God se Woord sal sommige mense treiter en ander bevry (sien Johannes 8:32). Jy moet nooit arrogant of aanstootlik wees nie, maar jy moet altyd vir die waarheid van God se Woord opstaan.
Sielskos: Jer 45-48; Matt 25:31-46; Ps 109:1-15; Spr 15:22