Hou jou gewete skoon

2022-07-12
Handelinge 24:16 NLV

Daar word beweer dat ons gewete na die val van die mensdom in die tuin van Eden aan ons gegee is. Met ander woorde, ons begeerte om die verskil tussen goed en kwaad te ken, is toegestaan deur die meganisme wat God in ons geplaas het, wat ons gewete genoem word. Ons moet dus nie ons gewete se aansporings ignoreer, sy stem stilmaak of toelaat dat dit gevoelloos word nie, want dit is ‘n ingeboude waarskuwingstelsel wat ons teen gevaar en skade beskerm. Dit beteken dat jy nie bekommerd moet wees as jou gewete jou pla nie; jy moet bekommerd wees wanneer dit nie gebeur nie. Hier is tien beginsels om jou gewete skoon te hou:

1) Gee altyd aandag aan die innerlike gevoel wat jou laat stop en jou jou besluite laat bevraagteken.
2) Dink aan jou gewete as ‘n Godgegewe filter wat help om jou hart suiwer te hou.
3) Ondersoek jou beweegredes in situasies.
4) As jy dink dat jy dalk iemand se gevoelens seergemaak het, vra hulle om vergifnis.
5) Nooi God uit om jou hart te ondersoek en die veranderinge wat jy in jou houding en gedrag moet maak, aan jou te openbaar.
6) Moet jouself nie, tot die beste van jou vermoë, toelaat om wetend by verkeerde situasies betrokke te raak nie.
7) Stel ander mense eerste en eer hulle met jou woorde en dade.
8) Onthou dat jou gewete jou morele kompas is.
9) Stel etiese riglyne vir al jou handelinge in besigheid, op.
10) Wanneer ‘n gedagte jou ongemaklik laat voel, neem tyd om daaroor te bid en met iemand wat jy vertrou, daaroor te praat.

Die woord vir jou vandag is om altyd ‘n skoon gewete voor God te handhaaf.

Sielskos: Jer 41-44; Matt 25:14-30; Ps 79; Spr 15:18-21

Begin spaar

2022-07-11
Spreuke 6:6 NLV

‘Jou luiaard, gaan leer by die mier wat wysheid is. Kyk wat hy doen. Leer iets by hom. Hy het nie ‘n leier, of ‘n opsigter, of iemand wat agter hom staan nie. Hy kry reeds in die somer sy kosvoorraad reg. In die oestyd werk hy klaar, voor die winter kom. Jou luiaard, hoe lank gaan jy nog lê en slaap? Wanneer gaan jy eendag opstaan, jou luiaard? Nog ‘n bietjie verder slaap, nog ‘n bietjie lê en sluimer, nog ‘n bietjie hande gevou lê om uit te rus. Skielik oorval die armoede jou soos ‘n struikrower. ‘n Tekort aan kos oorrompel jou soos ‘n dief’ (verse 6-11 NLV).

Die winterseisoen van jou lewe is op pad en jy moet daarvoor voorbereid wees. Vyf-en-tagtig uit eenhonderd Amerikaners eindig met minder as $1000 spaargeld teen die tyd wat hulle vyf-en-sestig is, op. Dis een derde van wat inwoners in Duitsland spaar en ‘n tiende van wat mense in Japan spaar. Enige dwaas kan geld spandeer, maar dit neem ‘n wyse persoon om ook geld te spaar.

Nadat hy vir omtrent drie ure vir sy sakrekenaar sit en staar het, het ‘n man opgekyk en vir sy vrou gesê: ‘Skat, as ons aanhou spaar teen die pas wat ons nou spaar, sal ons teen die tyd wat ek aftree, R700,000 skuld.’ Die sleutel om finansieel in die lewe vooruitgang te maak, is om minder te spandeer, meer te spaar en dit te vermy op uitgebuit te word.

In plaas daarvan om te sê: ‘Ek gaan eendag begin spaar,’ begin deur vir God 10 persent te gee, 10 persent te spaar en van die res te lewe. Nog een gedagte: Die woord dissipel en dissipline klink baie dieselfde – omdat hulle eenders is. Wanneer jy jouself finansieel dissiplineer, beoefen jy ware dissipelskap uit en God sal jou daarvoor seën.

Sielskos: Jer 36:27-40:16; Matt 25:1-13; Ps 137; Spr 15:15-17

‘n Sleutel tot beantwoorde gebede

2022-07-10
Jesaja 58:7 DB

Max Lucado skryf: ‘Ons geslag Christene is die rykste ooit. Ons is slim, goed opgevoed en ervare. Ons kan binne vier-en-twintig uur om die wêreld reis of binne ‘n millisekonde ‘n boodskap stuur. Ons het die mees gesofistikeerde navorsing en medisyne byderhand. Ons het volop hulpbronne. As dit gedeel sou word, sou ‘n skamele twee persent van die wêreld se graanoes genoeg wees om die probleme van hongersnood en wanvoeding oor die hele wêreld uit te wis. Daar is genoeg kos op die planeet om elke mens van 2500 kalorieë voedsel per dag te voorsien. As jou kleinkinders uitvind dat jy gedurende ‘n tyd geleef het toe 1,75 miljard mense arm was en 1 miljard honger gely het, hoe sal hulle jou reaksie daarop beoordeel?’

Nog belangriker, wat sal God sê? Toe die Israeliete gekla het dat God nie hulle gebede beantwoord nie, het Hy vir hulle gesê: ‘Gee kos vir hulle wat niks het om te eet nie. Gee blyplek aan hulle wat nêrens het om heen te gaan nie. Gee klere vir die mense wat jy kan sien niks het om aan te trek nie. Help jou familie as hulle hulp nodig het. Wanneer jy so maak, sal jy bevry word… Wanneer jy dan na die Here roep, sal Hy jou antwoord. As jy God vra om jou te help, sal Hy sê: Ek kom… Dan sal dit vir jou word soos lig wat die donker laat verdwyn… Die Here sal dan die hele tyd saam met jou wees. Wanneer dit moeilik gaan, sal Hy vir jou gee wat jy nodig het. Hy sal jou krag gee…’ (verse 7-11 DB).

In plaas daarvan om dus op jou eie behoeftes te fokus, fokus eerder op ander mense se behoeftes. Dit is ‘n sleutel tot beantwoorde gebede.

Sielskos: Num 9:15-23; Eks 24:15; Matt 17:1-8

Doen die tiende toets

2022-07-09
Maleagi 3:10 NLV

Gangaram Mahes het in New York as die ‘Serial Eater’ bekend geword. Hierdie immigrant van Guyana was mal oor elegante restaurante, maar het nie die geld gehad om daarvoor te betaal nie. In plaas daarvan om sy eetlus te onderdruk, het hy eenvoudig by ‘n restaurant ingestap en die heerlikste maaltyd, beste drank en duurste nagereg op die spyskaart bestel. Hy het dan na hartelus geëet en gedrink en wanneer die rekening gekom het, het hy eenvoudig vir die kelner gesê dat hy nie in staat is om die rekening te betaal nie. Die polisie daag dan op en arresteer hom en hy ontvang ten minste ‘n paar dae se gratis etes in die tronk.

Raai wat: Ons kerke is vol mense wat die melk van God se seën drink, die biefstuk van God se goedheid eet, aan die nagereg van God se liefde smul – en nie eers vir Hom ‘n ‘fooitjie’ van tien persent gee nie. Moenie een van hierdie mense wees nie!

Wanneer jy vir God die eerste 10 persent van jou inkomste gee, tree ‘n Goddelike dinamiek in. God seën die 90 persent wat jy oor het, wat dan baie verder as jou 100 persent sonder sy seën, gaan.

Beteken dit dat God meer geld vir jou teruggee as wat jy vir Hom gegee het? Nie noodwendig nie, maar Hy beloof wel om jou meer as wat jy ooit kan droom, te seën. Dit mag dalk deur goeie gesondheid, of guns by jou baas, of leiding in jou lewe, of beskerming vir jou en jou geliefdes, wees.

God sê: ‘…Bring al die tiendes… Toets My hierin of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak nie. Ek sal voorspoed op julle laat reën wat meer as genoeg vir julle sal wees!’ Toe, doen die tiende toets.

Sielskos: Jer 33:1-36:26; Matt 24:36-51; Ps 122; Spr 15:10-14

‘n Verskoning wat werk

2022-07-08
Jakobus 5:16 NLV

‘n Opregte verskoning kan ‘n gespanne of gebroke verhouding help genees en herstel. Dit eindig egter nie daar nie. Let die volgende op:

1) Om jammer te sê is nie genoeg nie! Dis ‘n goeie en noodsaaklike begin, maar dis nie ‘n goeie einde nie. Om byvoorbeeld te sê: ‘Ek is jammer jy het my woorde verkeerd opgeneem,’ is nie ‘n verskoning nie; dis ‘n aanval! Jy moet spesifiek wees wanneer jy dit waaroor jy berou het, bely. Deur te sê: ‘Ek is baie jammer dat my woorde jou beledig het,’ erken jy wat jy gedoen het en bevestig dat die ander persoon seergemaak is.

2) Neem volle verantwoordelikheid vir jou gedrag. Daarsonder is daar nie genesing of versoening nie. ‘Dit was verkeerd van my om so met jou te praat,’ is eerlik, nederig, konkreet en verantwoordelik. Dit help die gewonde party om jou verskoning as opreg te ervaar. Opregtheid verminder woede en moedig ander aan om jou woorde te vertrou en te aanvaar.

3) Bied aan om dinge reg te maak. Vra: ‘Is daar enigiets wat ek kan doen om dinge beter te maak?’ Dit maak jou verskoning hartlik en opreg. Jakobus het dit as volg gestel: ‘Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word…’

4) Vra vir vergifnis – en moet dit nie as vanselfsprekend aanvaar nie. ‘Sal jy my asseblief vergewe vir dit wat ek gedoen het?’ Dis nodig dat jy dit sê en dat die ander persoon dit hoor, voordat genesing en herstel kan begin plaasvind. Wanneer jy vergifnis vra en dit gegee word, het julle saam ‘n kontrak geteken. Julle teken julle wedersydse verbintenis om verby die seer te beweeg en na ‘n gesonder verhouding te werk, aan.

Sielskos: Jer 31-32; Matt 24:26-35; Ps 110; Spr 15:8-9

Beheer jou tong

2022-07-07
Spreuke 23:16 NLV

Moet nooit die mag van woorde onderskat nie. Vir elke woord in Adolf Hitler se boek, Mein Kampf, het 125 mense in die Tweede Wêreldoorlog omgekom. Net een man in die Amerikaanse geskiedenis het ooit uit die presidentskap bedank: Richard Nixon. Het jy al ooit gedink wat tot mnr Nixon se ondergang gelei het? Tradisionele denke sê dat dit die opnames van sy privaat gesprekke was. Dit was egter nie die opnames wat sy ondergang veroorsaak het nie, maar sy tong. Dit was nie die opnames nie, maar dit wat hy op die opnames gesê het, wat sy ondergang bewerkstellig het.

Die woorde tong, mond, lippe en woorde word amper 150 keer in Spreuke genoem; rofweg vyf keer in elk van die een-en-dertig hoofstukke. Die feit dat so baie klem op ons woorde gelê word, sê vir ons dat ons versigtig moet wees met dit wat uit ons monde kom.

Stop en oorweeg die volgende: Die gemiddelde persoon sê in ‘n periode van vyftig jaar genoeg woorde om twaalfduisend boeke van driehonderd bladsye elk, te vul. As dit die gemiddeld is, dink aan die biblioteke wat jy vul en die nalatenskap wat jy agterlaat.

Wat hartseer is, is dat sommige woorde wat jy spreek nooit vergete sal raak nie. Een digter het geskryf: ‘If your lips would keep from slips, five things observe with care: To whom you speak, of whom you speak, and how, and when, and where.’ Salomo wou graag gehad het dat sy kinders met wysheid moet grootword, dus het hy gesê: ‘Ek sal baie bly wees, my kind, as jy ook ‘n wyse mens word. Ek sal in my hart juig wanneer jy reg praat’ (verse 15-16 NLV). Beheer vandag dus jou tong.

Sielskos: Jer 28-30; Matt 24:15-25; Ps 102:18-28; Spr 15:4-7