Voor jy die geleentheid misloop

2022-07-06
Psalm 34:12 NLV

Jou kinders sal vinnig grootword en voor jy dit besef, sal die geleenthede om tyd saam met hulle deur te bring, blitsvinnig minder word. Tans wil hulle soveel tyd en aandag moontlik van jou hê, maar daar sal ook ‘n tyd kom wat hulle dit nie meer sal wil hê nie.

Hier is ‘n onrusbarende gedig deur Alice Chase, getiteld ‘To My Grown-Up Son’: ‘My hands were busy through the day. I didn’t have much time to play the little games you asked me to. I didn’t have much time for you. I’d wash your clothes, I’d sew and cook, but when you’d bring your picture book and ask me, please, to share your fun, I’d say, ‘A little later, son.’ I’d tuck you in all safe at night, and hear your prayers, turn out the light, then tiptoe safely to the door. I’d wish I’d stayed a minute more. For life is short, and years rush past, a little boy grows up so fast. No longer is he at your side, his precious secrets to confide. The picture books are put away, there are no children’s games to play, no good night kiss, no prayers to hear. That all belongs to yesteryear. My hands once busy, now lie still, the days are long and hard to fill. I wish I might go back and do the little things you asked me to.’

Toe Josef sy seuns geneem het om sy bejaarde pa, Jakob, te gaan besoek, het Jakob gesê: ‘…Bring hulle na my toe. Ek wil hulle seën’ (Genesis 48:9 NLV). Ma, Pa, raak betrokke voor jy die geleentheid misloop.

Sielskos: Jer 25-27; Matt 24:1-14; Ps 102:12-17; Spr 15:3

Hou aan om jou geloof uit te oefen (2)

2022-07-05
Openbaring 2:29 NLV

Dis nie genoeg om net na ‘n preek te luister nie, jy moet ook probeer agterkom wat God besig is om vir jou te sê. Jy kan iets heeltemal anders as die persoon wat langs jou in die kerk sit, hoor. Hoekom? Omdat God die boodskap aan jou verpersoonlik. Die Bybel word die ‘die lewende Woord’ (sien Hebreërs 4:12), genoem, omdat sekere Skrifgedeeltes skielik tot lewe kom en wortel binne-in jou skiet. Soms sal jy iets hoor wat niemand anders hoor nie. Jy mag dalk selfs verskeie punte in die preek mis en steeds met die antwoord wat jy nodig het, huis toe gaan. Paulus sê: ‘Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap. En die aanhoor van die boodskap volg uit die prediking van die Goeie Nuus wat handel oor Christus’ (Romeine 10:17 NLV).

Voor Israel oorlog toe gegaan het, sou die profete God raadpleeg om seker te maak dat Hy hulle sou lei. Dit is omdat God geloof slegs beantwoord wanneer dit op dit wat Hy beloof het, gebaseer is. Jy moet dus vir dit wat God beloof het, veg! Onthou, jy kan nie sê dat God jou gefaal het as Hy dit nie in die eerste plek vir jou beloof het nie.

Jy moet ook nie ontsteld raak wanneer jou eie misleidende begeertes jou vir iets wat Hy aan iemand anders gegee het, laat uitreik nie. Die ou mense het gesing: ‘Every promise in the book is mine, every chapter, every verse, every line,’ en dit is waar dat God ons almal ewe veel lief het.

Daar is egter spesifieke beloftes wat Hy in jou lewe wil vervul, omdat jou roeping van ander mense s’n verskil. Dis hoekom jy altyd eers God vir duidelikheid en bevestiging moet raadpleeg.

Sielskos: Jer 22-24; Matt 23:23-39; Ps 102:1-11; Spr 14:35-15:2

Hou aan om jou geloof uit te oefen (1)

2022-07-04
Matteus 17:20 ABA

Paulus skryf: ‘Wat is geloof dan? Dit is ‘n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur…’ Jesus het gesê: ‘…As julle ‘n bietjie geloof het, so klein soos ‘n mosterd-saadjie, dan sal julle vir hierdie berg kan sê: ‘Gaan weg, gaan na ‘n ander plek,’ en die berg sal gaan…’ (Matteus 17:20 ABA).

Ons almal het berge in ons lewens en God is gewillig om hulle te beweeg. Wat is egter dan die probleem? Twyfel! Ander mense se opinies! Die onvermoë om God se Woord te verstaan! Selfs al het Jesus sy dissipels die mag gegee om siekes gesond te maak, het hulle hulpeloos voor ‘n seuntjie gestaan wat van ‘n bose gees besete was. “Agterna het die dissipels vir Jesus gevra: ‘Waarom kon ons nie die duiwel uitdryf nie?'” (Matteus 17:19 NLV).

Let op wat Jesus vir hulle gesê het: 1) Wees gewillig om klein te begin. ‘n Klein mosterdsaadjie kan in iets baie groters verander. Begin dus waar jy is en glo God vir eenvoudige, alledaagse dinge, en wanneer Hy jou geloof beantwoord, bedank Hom en bou daarop voort.

2) Let op wat jy sê. ‘As julle ‘n bietjie geloof het… dan sal julle vir hierdie berg kan sê: ‘Gaan weg, gaan na ‘n ander plek,’ en die berg sal gaan…’ Jou woorde stel die lewensgewende krag van God se Woord vry. Bring dus dit wat uit jou mond kom in lyn met dit wat in die Skrif geskryf staan.

3) Wees gewillig om te doen wat dit verg. Sommige berge het ‘n bietjie ekstra gebede nodig, of soos in die geval van die seun wat deur die bose gees besete was, die krag wat verkry word wanneer mens vas. Die punt is: Wanneer jy doen wat God se Woord sê, sal jy sien hoe die berge in jou lewe beweeg.

Sielskos: Jer 18-21; Matt 23:13-22; Ps 98; Spr 14:34

Probeer stadiger beweeg (2)

2022-07-03
Jesaja 28:16 AFR53

Elke keer wat jy haastig raak, stuur jy ‘n ‘noodtoestand’ sein na jou liggaam toe. Jou liggaam reageer dan deur die streshormone adrenalien en kortisol vry te stel, wat jou voorberei om gevaar te hanteer. Die liggaam kan nie tussen fisiese gevaar, of die gevaar om jou werk te verloor, of enige ander vorm van stres en druk onderskei nie. Dit weet net dat aksie geneem moet word en dat jy energie nodig het om dit te hanteer.

Dis ‘n goeie ding wanneer jy inderdaad in fisiese gevaar verkeer. Om egter voortdurend met jou liggaam op ‘n hoë gereedheidsgrondslag te leef, is soos om vyftien ononderbroke rondtes in die bokskryt te veg. Kort voor lank sal jy die prys in die vorm van hartsiektes, maagsere, vergeetagtigheid en ‘n menigte ander toestande, betaal.

Wat is dus die oplossing? Bewustheid, geloof en verandering. Raak bewus van jou aanhoudende neiging om in hoë rat te beweeg en vra jouself af wat jy kon gedoen het om te keer dat jy haastig moet beweeg. Glo dat die Heilige Gees jou ‘n oorwinning sal gee as jy Hom vra om jou gedrag te verander. Verander self – probeer bewustelik stadiger beweeg. Praat stadiger, beweeg stadiger.

Hoe meer haas, hoe minder spoed. Haas veroorsaak duplisering van werk, ongelukke en ander dinge wat tydmors tot gevolg het. Is jy besig om vandag se dagstukkie te spoedlees? Indien dit die geval is, is die woord vir jou vandag: Probeer om twee keer so lank te neem om hierdie dagstukkie te lees en daaroor te mediteer en vra vir God: ‘Wat wil U vir my sê? Watter veranderinge wil U in my lewe teweeg bring? Op watter maniere wil U hê moet ek verbeter?’ God is nie haastig nie, begin dus stadiger en in pas met Hom beweeg.

Sielskos: Eks 20:1-17; Matt 5:1-12

Probeer stadiger beweeg (1)

2022-07-02
Jesaja 52:12 NLV

Het jy al ooit van ‘haassiekte’ gehoor? Diegene wat daaraan ly, zoem tydens spitsverkeer in en uit bane, probeer om eerste van die vliegtuig af te wees, al moet hulle vir ewig vir hulle bagasie wag, toet vir jou as jy nie soos ‘n resiesperd wegtrek wanneer die verkeerslig groen word nie, tik met hul vingers teen iets wanneer hulle moet wag en druk die hysbakknoppie herhaaldelik om dit vinniger te laat beweeg.

Hulle herinner ons aan suikerbekkies, wat in Engels ‘hummingbirds’ genoem word. Hierdie klein voëltjies kan vorentoe vlieg en dan in die lug hang en nêrens heen gaan nie. Hulle klein vlerkies kan tot vyf-en-sewentig keer per sekonde beweeg! Die probleem is egter dat hul gemiddelde lewensduur net drie jaar is, in teenstelling met ‘n arend wat dertig jaar kan leef. Wat is die verskil? Die arend het geleer om sy energie te bewaar deur op die Godgegewe windstrome te ry.

Die boodskap hier is eenvoudig: Wanneer jy krag uit die inwonende Heilige Gees put, hou jy langer en vlieg jy hoër as wat jy ooit kan droom. Een pastoor sê dat hy ‘n ‘stresverspreidende masjien’ was toe hy jonger was, en dat almal rondom hom dit kon aanvoel. Een dag het een van sy kinders vir hom gesê: ‘Pappa, ek sal probeer gou maak terwyl ek jou my storie vertel.’ Hy het geantwoord: ‘Jy hoef nie gou te maak nie, jy kan maar stadig praat.’ Na ‘n lang stilte sê sy kind toe: ‘Maar dan moet jy stadig luister!’

Om die besluit te neem om teen ‘n stadiger pas te beweeg, sal definitief die kwaliteit van jou lewe en jou verhoudings verbeter.

Sielskos: Jer 14-17; Matt 23:1-12; Ps 95; Spr 14:29-33

God sal ‘alle dinge’ wat jy nodig het, voorsien

2022-07-01
Romeine 8:32 NLV

Die Bybel sê: ‘As God werklikwaar nie sy eie Seun gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal aan die dood oorgegee het, is daar tog geen manier waarop Hy nie ook alle ander goeie dinge aan ons sal skenk nie.’

Een skrywer tref die volgende vergelyking: ‘Veronderstel ‘n man kom op ‘n kind af wat deur ‘n klomp skurke aangerand word. Hy hardloop tussen hulle in, red die seun en dra hom na die hospitaal toe. Daar vind hy uit dat die kind ‘n weeskind is en neem hom as sy eie aan en gee vir hom sy naam. Een nag, maande later, hoor die pa dat die seun in sy kamer huil. Hy gaan na hom toe en vra hoekom hy hartseer is. ‘Ek is bekommerd oor môre, Pappa. Waar sal ek kos kry om te eet en klere om aan te trek? Waar gaan ek slaap?’ Die pa is met reg ontsteld. ‘Verstaan jy dan nie? Ek het my lewe gewaag om jou te red. Ek het die hospitaal vir jou behandeling betaal. Jy dra my naam. Ek noem jou my seun. Hoekom sal ek dit alles doen en dan nie aan jou behoeftes voldoen nie?’

Het God jou gered net sodat jy jouself moet bekommer? Sal Hy jou leer om te loop, net sodat Hy kan toekyk hoe jy val? Sal Hy aan die kruis vir jou sondes sterf en dan jou gebede in die wind slaan? Die Skrif sê: ‘Want Hy sal al sy engele beveel om jou op al jou weë te beskerm’ (Psalm 91:11 NLV). Hou dis op om jouself te bekommer en staan vas op sy belofte dat Hy ‘ook alle ander goeie dinge aan ons sal skenk…’

Sielskos: Jer 10-13; Matt 22:34-46; Ps 64; Spr 14:25-28