Voer jy God se wil uit?
2022-11-011 Johannes 2:17 NLV
Dit wat die meeste vir jou moet saak maak, is om God se wil uit te voer. God se wil is die enigste wat vir ewig sal duur. God het ‘n plan vir jou lewe en daardie plan maak sy ‘wil’ vir jou uit. Hoe kan jy dus weet wat God se wil is? Probeer aan die volgende twee dinge dink:
1) ‘n Polaroid foto. Onthou jy hulle? Aan die begin is die beeld nie duidelik nie, maar met tyd het die beeld duideliker geword. Dis hoe God se wil ook is. ‘Die pad van die regverdiges is soos die lig met dagbreek. Dit word al helderder totdat die volle dag aanbreek. Die pad van die goddeloses is soos stikdonker. Hulle weet nie eers waaroor hulle geval het nie. My seun, luister baie goed na wat ek vir jou sê. Spits jou ore vir my woorde! Moet dit nooit uit die oog verloor nie. Hou dit altyd in gedagte. My woorde beteken lewe vir dié wat daarna luister; gesondheid vir die hele liggaam van die een wat hulle betekenis ken’ (Spreuke 4:18-22 NLV).
2) ‘n Boekrol. As God vir jou op een slag sy hele wil vir jou lewe gewys het, sou jy oorweldig gewees het. Deur dit egter soos ‘n outydse boekrol af te rol, openbaar Hy sy wil vir jou stukkie vir stukkie soos jy volwasse word en in staat is om dit te hanteer. Omdat dit God se wil is, het jy sy krag nodig om dit te vervul. Jy het ook die versekering van sy teenwoordigheid binne-in jou nodig. Hy beloof dit in sy Woord: ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi op die dag wanneer Jesus Christus terugkom’ (Filippense 1:6 NLV).
Sielskos: 1 Kron 16:8-36; Heb 11:4-12:3; Ps 18:20-29; Spr 4:18