2024-07-25
Matteus 14:29 NLV
Die Bybel sê: ‘Petrus sê toe vir Hom: ‘Here, as dit regtig U is, laat my dan op die water na U toe kom.’ ‘Kom dan,’ het Jesus gesê. Petrus klim toe oor die kant van die skuit en begin op die water na Jesus toe loop. Maar toe hy die hoë golwe rondom hom sien, het hy paniekerig geword en begin sink. Hy skree toe vir Jesus: ‘Here, red my!’ Jesus het onmiddellik sy hand uitgesteek en hom gegryp. ‘Jou geloof is maar bitter klein,’ sê Hy vir hom…’ (verse 28-31 NLV).
Wanneer jy weet dat jy gebid, voorberei en beplan het, moet jy uittree en dit doen. Dis normaal om vrees te ervaar wanneer jy probeer om iets te doen wat jy nog nooit vantevore gedoen het nie. Miskien sien jy Petrus as ‘n mislukking omdat hy begin sink het. Dis egter nie so nie. Eerstens, kry Petrus ‘n A omdat hy gewillig was om sy gemaksone te verlaat en iets te doen wat hy nog nooit gedoen het nie. Tweedens, het hy die opwinding ervaar om vir ‘n kort oomblik op water te loop; geen ander dissipel kon daaroor spog nie. Derdens het hy ‘n waardevolle les geleer: Dis noodsaaklik om op Jesus eerder as jou omstandighede te fokus wanneer jy die onmoontlike aanpak. Vierdens het hy besef dat sy oorlewing alleenlik van Jesus afgehang het.
Jesus het nie vir Petrus veroordeel omdat hy misluk het nie, Hy het net vir hom gesê dat hy groter geloof moet ontwikkel. God sal jou nie in jou foute laat verdrink nie. Solank as wat jy aanhou om Hom te vertrou, sal Hy aanhou om met jou te werk totdat jy sukses behaal. Hy is jou hemelse Vader en jou sukses, is sy sukses!
Sielskos: Hab 1-3; Luk 9:18-27; Ps 65; Spr 19:5-8
2024-07-24
1 Korintiërs 9:16 NLV
Kom ons kyk weer hoe om die vrees vir mislukking te oorkom. 1) Streef jou Godgegewe lewensdoel na. Om waarlik sukses in iets te behaal, moet jy ‘n passie daarvoor hê. God sal nie net sy doel aan jou openbaar nie, maar jou ook die passie gee om dit na te streef. Paulus het die gawes, opvoeding en konneksies gehad om ‘n verskeidenheid loopbane te kon volg. Hy het egter geskryf: ‘…Ek is verplig om [die Goeie Nuus te verkondig]. Wee my as ek dit sou nalaat!’ Waaroor voel jy passievol? Bestudeer dit; dis ‘n leidraad tot jou lewensdoel.
2) Vra jouself die volgende drie vrae af: a) ‘Wat is die ergste wat kan gebeur as ek nie suksesvol is nie?’ Jy sal steeds vir God, jou talente, jou familie en ander geleenthede hê. b) ‘Is dit al ooit vantevore gedoen?’ Indien nie, wat maak dit saak? c) ‘Is hierdie vrees ‘n teken dat ek nie die regte mense, prosesse of planne in plek het om op hierdie tyd sukses te behaal nie?’ Vra dan die groot vraag: ‘Wat is die voordele wat ek gaan geniet indien ek sukses behaal?’
Kyk jou vrees daagliks in die gesig en verklaar: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (Filippense 4:13 NLV). Moenie hierdie Skrifgedeelte net opsê omdat jy dit so goed ken nie. Absorbeer die woorde; neem hulle in jou gees op. Weet dat Christus vir jou krag gee om tot eer van God sukses te behaal. Weet dat wanneer Hy jou lei, Hy jou van alles voorsien om sukses te behaal in dit wat Hy jou geroep het om te doen.
Sielskos: Nah 1-3; Luk 9:1-17; Ps 14; Spr 19:1-4
2024-07-23
2 Kronieke 26:5 NLV
Kom ons kyk na ‘n paar Bybelse strategieë om die vrees vir mislukking te oorkom. 1) Maak seker dat jou visie en waardes in lyn is. Die opkoms en val van koning Ussia word in hierdie woorde vertel: ‘Ussia was sestien toe hy koning geword het, en hy het 52 jaar in Jerusalem geregeer… Hy het gedoen wat reg was vir die Here… Gedurende die tyd toe Sagaria hom onderrig het in die eerbied vir God, het Ussia God se wil gesoek. So lank as wat hy die Here se wil nagestreef het, het God hom sukses gegee… Maar toe hy magtig geword het, het hy ook hoogmoedig geword. Dit het tot sy ondergang gelei. Hy het teen die Here sy God gesondig…’ (verse 3-5, 16 NLV).
Die les hier is duidelik: Sukses kan bedwelmend wees. Bedwelmde mense dink nie te helder nie en eindig in allerhande moeilikhede op. Maak dus seker dat jou visie in lyn met jou kernbeginsels is. Bly in balans. Definieer sukses volgens God se Woord, eerder as die ego-gedrewe sisteme van die wêreld. Om publieke erkenning en lof vir jou prestasies te kry terwyl jou familielewe ‘n gemors is, is byvoorbeeld nie sukses nie. Om jou integriteit vir wins en bevordering prys te gee, is die ergste transaksie wat jy ooit sal aangaan.
2) Leer uit jou mislukkings en foute. Mislukking is nie noodlottig nie en dit definieer ook nie wie jy is nie. Dit is die gevolg van jou aksies, maar nie die maatstaf van jou waarde nie. Thomas Edison het een keer gesê: ‘Ek het nie misluk nie. Ek het net tienduisend maniere gevind wat nie werk nie.’ Beskou jou foute nederig as skoolgeld vir jou opleiding, word wyser en hou aan vorentoe beweeg.
Sielskos: 2 Pet 1-3; Luk 8:40-56; Ps 146; Spr 18:23-24
2024-07-22
1 Johannes 4:18 DB
Volgens psigiatriese verwysing bestaan daar ongeveer tweeduisend geklassifiseerde vrese. Wat interessant is, is dat psigiaters sê dat net twee vrese aangebore is: die vrees om te val en die vrees vir harde geluide. Dit beteken dat ons elke ander soort vrees aanleer. Dit beteken egter ook dat ons elke ander vrees kan afleer. Die meerderheid van ons word, ten goede of ten kwade, deur ‘n handvol ervarings gevorm. Hierdie bepalende oomblikke kan ‘n saad van selfvertroue of ‘n saad van onsekerheid, ‘n saad van hoop of ‘n saad van weerloosheid, ‘n saad van geloof of ‘n saad van vrees, plant.
Johannes sê dat die einddoel van ons verhouding met God die volgende is: ‘…Waar daar liefde heers, is daar nie plek vir vrees nie… Ware, egte liefde verdryf eenvoudig alle vrees…’ (1 Johannes 4:17-18 DB). Die woorde ‘ware, egte liefde,’ verwys nie na ons liefde vir God nie, maar eerder na God se onvoorwaardelike, onverdiende, onfeilbare liefde vir ons. ‘n Pastoor skryf: ‘Die doel van liefde is vreesloosheid! Soos ons in ‘n liefdesverhouding met God groei, leer ons die vrese wat ons verlam en ons geestelik neutraliseer, af. Dit is die kern van geloof. Geloof is die proses om jou irrasionele vrese af te leer. Om jou vrese af te leer is inderwaarheid ‘n proses om te leer om God al hoe meer te vertrou.’
Een van die grootste beloftes wat God vir ons in die Skrif gegee het, is die volgende: “…Onthou dat God die versekering gegee het: ‘Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Daarom kan ons moed skep en antwoord: ‘Die Here is my hulp. Daarom sal ek nie bang wees nie. Wat kan nietige mensies my aandoen?'” (Hebreërs 13:5-6 NLV).
Sielskos: 2 Sam 22:31-24:25; Luk 8:26-39; Ps 140; Spr 18:21-22
2024-07-21
1 Timoteus 1:19 NLV
Soms wil ons dit wat ons doen regverdig deur te sê: ‘Dit voel reg, so dit kan nie verkeerd wees nie.’ As God se Woord egter sê dat iets verkeerd is, is dit verkeerd, maak nie saak hoe reg dit voel nie. Die ou spreekwoord: “‘n Goeie gewete is ‘n sagte kussing,” is ‘n halwe waarheid. Die ander helfte moet lees: ‘solank as wat jou gewete in die duidelike beginsels van God se Woord gegrond is en daardeur gerig word.’
As verloste kind van God is jy geroep om volgens sy gebooie, eerder as jou gevoelens, impulse, emosies en populêre denke, te leef. Wanneer hierdie dinge jou lei, kan die winde van versoeking jou van koers af waai en jou op die rotse laat beland. Paulus skryf: ‘Timoteus, my kind, hiermee gee ek my opdragte aan jou, gegrond op die profetiese woorde wat voorheen oor jou uitgespreek is. Mag hulle jou die selfvertroue gee om goed te veg in die Here se veldslae. Hou styf vas aan jou geloof in Christus, en hou altyd jou gewete skoon. Want sommige mense het opsetlik hulle gewete onderdruk, en as gevolg daarvan het hulle geloof skipbreuk gely. Himeneus en Aleksander is twee voorbeelde hiervan. Ek het hulle aan Satan oorgegee sodat hulle sal leer om God nie te belaster nie’ (verse 18-20 NLV).
Ons weet nie veel van Himeneus en Aleksander nie, maar wat ons wel weet is ontnugterend en leersaam. Hulle het nie daarin geslaag om ‘n gewete wat in God se Woord gegrond is te ontwikkel, te beskerm en daarvolgens te leef nie en het op die ou einde geestelik skipbreuk gely. Die woord vir jou vandag is dus – jou gewete moet op God se Woord gebaseer wees en jy moet dit altyd skoon hou!
Sielskos: Matt 5:9; Rom 12:17-21; Jak 3:17-18; Rom 14:19
2024-07-20
Efesiërs 2:10 NLV
Watter tipe omgewing bring die beste in jou na vore? Floreer jy op roetine? Geniet jy dit om uitdagings wat ander mense dalk kan ontmoedig, aan te pak? Wat van jou verhoudings? Geniet jy dit om deel van ‘n span te wees, of werk jy beter op jou eie? Wat is jou sterkpunte? God het van Besaleël die bouer gesê: ‘My Gees gee vir hom kennis en begrip en vaardigheid om verskillende dinge te kan doen. Hy kan kunstige voorwerpe uit goud, silwer en brons maak. Hy kan edelstene sny en monteer en houtsnywerk doen. Hy kan enige kunswerk maak’ (Eksodus 31:3-5 NLV).
Wat laat jou oë blink en jou hart vinniger klop? Geniet jy dit om met rekenaars, karre of diere te werk? Miskien is jy ‘n bedrewe bestuurder, of jy hou daarvan om dinge reg te maak, of jy is goed met finansies. Die Bybel sê: ‘Hy het ons in ons verhouding met Jesus Christus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe.’ God het ‘n doel vir jou lewe en jy sal die hoogste vlakke van geluk en vervulling ervaar wanneer jy hierdie doelwit ontdek en dit begin vervul.
God het jou gevorm en gemaak (sien Jesaja 43:7). Jy is die enigste ‘jy’ wat Hy geskep het en as jy versuim om te wees wie jy is, sal sy koninkryk nie by jou unieke bydrae baatvind nie. Dis hoekom Paulus geskryf het: ‘Gaan kyk ‘n slag goed na julle eie lewe. Wees tevrede met die goeie dinge wat God in julle lewe tot stand gebring het sonder om julle gedurig met ander gelowiges te vergelyk’ (Galasiërs 6:4 DB). Dis die geheim tot geluk.
Sielskos: 2 Sam 20:1-22:30; Luk 8:16-25; Ps 133; Spr 18:17-20