Verwag goeie dinge van God af

2024-09-08
Jesaja 30:18 NLV

Jou idee van God bepaal jou selfvertroue wanneer jy Hom nader. Beskou jy Hom altyd as ‘n ouditeur en jou boeke balanseer nie? Of beskou jy Hom as ‘n pa wat jou altyd liefhet en goed vir jou wil wees? Wanneer ons God nader, raadpleeg baie van ons ‘n telkaart in ons gedagtes om te sien of ons meer oorwinnings as verliese, regte as verkeerdes of krediete as debiete het. As ons voel dat ons nie goed presteer nie, vermy ons God of maak ons Hom ons laaste uitweg. Dis ‘n fout, aangesien God jou as een met Christus sien (sien 2 KorintiĆ«rs 5:17), en daarom word jy altyd in sy teenwoordigheid aanvaar en verwelkom.

Jy vra: ‘Beteken dit ek kan enige manier lewe wat ek wil? Nee, ‘Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is…’ (HebreĆ«rs 12:6 NLV). Sy tugting is egter nie verwerping nie; dis ‘n bewys dat jy waarlik sy verloste kind is. Hier is ‘n Skrifgedeelte waarop jy moet mediteer: ‘Daarom is die Here gereed om julle te help, Hy wil julle graag help en Hy wil weer goed wees vir julle. Daarom maak Hy alles gereed om weer goed te wees vir julle. Die Here wil dit doen, want Hy is die God wat reg doen. Dit gaan goed met almal wat glo dat Hy sal doen wat Hy belowe het’ (Jesaja 30:18 ABA).

Let vandag God se houding teenoor jou op: ‘Tog wag die Here gretig dat julle terugkom na Hom toe. Hy wil genade aan julle bewys…’ Hou dit in gedagte en begin om goeie dinge van God te verwag.

Sielskos: Joh 14:6-11; Hand 4:8-12; Hand 16:22-34; Matt 1:18-21