2024-07-31
Spreuke 18:22 NLV
Die beste huwelike word deur paartjies gebou wat probeer om die kwaliteite wat hulle aanvanklik na mekaar toe aangetrek het, te onthou. As jy ‘n gelukkige huwelik wil bou of ‘n minder gelukkige een wil verbeter, doen die volgende:
1) Maak ‘n lys van jou maat se beste kwaliteite. Skryf die dinge wat jy die meeste van hom of haar liefhet neer en streef daarna om dit ten alle tye in gedagte te hou. Wanneer stres en inspanning in julle verhouding opduik, soos dit onvermydelik gaan, dink aan jou lys en indien nodig, gaan terug na die geskrewe kopie om jou gedagtes te verfris.
2) Fokus op hulle. Dink aan hoe jou maat se wonderlike kwaliteite jou lewe verryk en hoe baie jy hulle sou mis as hulle nie meer daar sou wees nie. Wanneer jy jou fokus verander, verander jy jou gevoelens. Wanneer jy jou gevoelens verander, verander jy jou perspektief, jou benadering en jou reaksies.
3) Verbaliseer dit. ‘Haar kinders is trots op haar. Haar man spog met haar’ (Spreuke 31:28 NLV). Jou kinders leer hoe om ‘n wonderlike huwelik of ‘n aaklige een te bou deur julle dop te hou. Hierdie gedagte alleen behoort die remme op kritiek aan te slaan en die komplimente uit te bring!
4) Versorg hulle. ‘…Wat mense saai, sal hulle ook maai!’ (Galasiërs 6:7 NLV). Mense verlep onder klagters, maar floreer en groei deur lof en bemoediging. Gryp enige oomblik aan wat die moeite werd is om gevier te word en plaas dit onder die vergrootglas! Paulus som dit so op: ‘Liefde beskerm waar mense beskerming nodig het; liefde glo altyd die beste van ander mense en verwag dit ook van hulle. Liefde ken ook g’n einde nie’ (1 Korintiërs 13:7 DB).
Sielskos: Esra 3-5; Luk 10:1-12; Ps 78:1-8; Spr 19:21-23
2024-07-30
Lukas 16:11 NLV
Het jy geweet dat God se gewilligheid om jou met meer geld te seën, afhang van hoe goed jy dit wat Hy reeds vir jou gegee het, hanteer? Wanneer dit by geld kom, is hier ‘n paar Bybelse beginsels waarvolgens jy moet lewe:
1) Betaal eerste God se 10 persent sodat jy nie skaam voel as jy dit nie doen nie (sien Maleagi 3:10).
2) Bid voor jy koop. Vra jouself af: ‘Het ek dit nodig of wil ek dit net graag hê?’
3) Wees bedag op die bedrag wat jy uitgee teenoor jou inkomste.
4) Stem met jou man of vrou rakende die huishoudelike begroting en julle kort- en langtermyndoelwitte saam. Moet nie inligting oor jou finansies wegsteek of verkeerd vertolk nie.
5) Wy jou daaraan toe om jou werk uitstekend te doen – sonder om te veel oortyd daaraan te bestee.
6) Betaal jou skuld (vaste eiendom uitgesluit), af.
7) Spaar maandeliks (‘n minimum van 10 persent van jou salaris as jy nie meer skuld het nie).
8) Moenie ‘n lening namens iemand uitneem nie en moenie vir mense geld leen wat jy nie kan bekostig om te verloor nie.
9) Betaal kontant vir alle bederfies.
10) Begroot vir pret en vakansies.
11) Wanneer jy ‘n verhoging kry, moenie jou leefstyl aanpas om dit alles te gebruik nie. Oefen om onder jou vermoë te lewe.
12) Stel ‘n noodkontantvoorraad van ten minste twee maande se lewenskoste op (ses maande sal nog beter wees).
13) Wees tevrede met wat jy het. ‘Mense wat geld liefhet, kry nooit genoeg daarvan nie. Mense wat van rykdom hou, is nooit tevrede met hulle inkomste nie. Ook dit is sinloos’ (Prediker 5:9 NLV).
Sielskos: Esra 1-2; Luk 9:57-62; Ps 46; Spr 19:18-20
2024-07-29
Eksodus 33:14 NLV
Wanneer jy God se teenwoordigheid aanvoel en weet dat Hy by jou is, kan jy enigiets wat die lewe meebring hanteer. Probeer om jouself die taak wat Moses gehad het in te dink – om twee miljoen mense uit die greep van slawerny te bevry; hulle deur ‘n woestyn waar hulle aan vyande en uiterste hitte en koue blootgestel is te lei; hulle te voed, van klere te voorsien, hulle geskille te besleg en hulle na hulle bestemming toe te beweeg. Hier is wat Moses gebid het: ‘…As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie eers ‘n tree van hier af laat beweeg nie’ (vers 15 NLV). Toe sy owerspel met Batseba bekend geword het, het Dawid nie gebid: ‘Moenie my kroon, of my koninkryk, of my soldate wegneem’ nie. Nee, hy het geweet wat die meeste saakmaak: ‘…moenie u Heilige Gees van my af wegneem nie’ (Psalm 51:13 NLV).
Om geestelik te groei moet jy ‘n toenemende bewustheid van God se teenwoordigheid in jou lewe ontwikkel. Hoe doen jy dit? In plaas daarvan om ‘n rots te wees, word ‘n spons. Wanneer jy ‘n rots in die see sit word sy oppervlak nat, maar sy kern bly droog en hard. Wanneer jy egter ‘n spons in die see sit, verander die water die kern van sy wese.
Beweeg stadiger en voel God se teenwoordigheid aan. Begin deur die Skrif te lees, dit neer te skryf, dit oor en oor te herhaal en elke porie van jou siel vir God se teenwoordigheid oop te maak: ‘Die Here jou God is by julle. Hy is ‘n magtige Verlosser. Hy is buitengewoon bly oor julle. Sy liefde sal julle rustig maak. Met uitroepe van vreugde sal Hy oor julle jubel’ (Sefanja 3:17 NLV).
Sielskos: Sef 1-3; Luk 9:46-56; Ps 42:6-11; Spr 19:15-17
2024-07-28
Hosea 4:6 NLV
Versuim om irrasionele vrese en wanopvattings af te leer, weerhou ons daarvan om te word wie God wil hê ons moet wees. Die lam man in Johannes 5 is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Hy was al vir agt-en-dertig jaar verlam voor Jesus hom gevra het of hy gesond wil word. Die man het egter geglo dat daar net een manier was om genees te word: “…’Meneer, ek het niemand naby my om my in die waterbad te tel wanneer die water geroer word nie; en terwyl ek nog naderkom, gaan iemand anders voor my in'” (Johannes 5:7 NLV).
Hierdie man het iets aangeneem wat hom dalk agt-en-dertig jaar gekos het! Hy het gedink om genees te word, moes hy die eerste persoon wees wat in die waterbad by Betesda klim wanneer ‘n engel die water roer. Hy is in ‘n sekere sin deur daardie gedagte gevange gehou. Jesus het egter hierdie onakkurate oortuiging met een sin verwyder: “…’Tel jou slaapmatjie op en loop'” (vers 11 NLV). Jesus het hierdie man fisies en kognitief bevry.
Geloof is om die sinlose bekommernisse en verkeerde oortuigings wat ons gevange hou, af te leer. Dis wat ons doen wanneer ons die Skrif bestudeer. Ons gradeer letterlik ons denkpatrone op deur die gedagtes van Christus af te laai (sien 1 Korintiërs 2:16). Om iets af te leer is twee keer so moeilik as om dit in die eerste plek te leer. Hoekom? Want elke myl wat jy in die verkeerde rigting gaan, is inderwaarheid ‘n twee myl-fout, aangesien jy weer na die beginpunt moet terugkeer. Om ou gedagtes uit jou denke te kry, is moeiliker as om nuwe gedagtes daarin te kry. Dis egter die moeite werd. Neem dus elke dag tyd om jou gedagtes met God se Woord te vernuwe.
Sielskos: Matt 5:20; 1 Tess 2:13-3:5; 1 Kor 4:11-13; Op 6:9-11
2024-07-27
Josua 1:14 ABA
Om waardig te wees om gevolg te word, het jy meer as talent en ‘n titel nodig. Die wese van leierskap lê daarin om twee dinge te doen:
1) Eerste te gaan! ‘…maar almal van julle wat oorlog kan maak, moet voor die ander Israeliete oor die Jordaan-rivier gaan…’ Dit beteken dat wanneer God jou roep om te lei, jy in geloof moet uittree en eerste moet gaan. Dit verg dat jy in jouself en jou missie moet glo. God het vir Josua gesê: ‘My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees. Moenie bang of huiwerig wees nie. Die Here jou God is saam met jou in alles wat jy doen’ (vers 9 NLV). Jy het nie al die antwoorde vooraf nodig nie. Jou selfvertroue spruit uit die wete dat God by jou – en voor jou – is.
2) Ander saam met jou neem. ‘…nadat julle hulle gehelp het om die land wat die Here julle God vir hulle gee, in te neem…’ (vers 15 DB). Baie mense wat ander help, doen dit net omdat hulle verplig word, of tydens ‘n krisis genoodsaak word. Wanneer jy egter ‘n dienskneg se hart het, inisieer jy die bediening en spoor mense aan om saam met jou te dien. Jy sien die nood raak, gryp die geleentheid aan en dien met die wete dat God jou sal beloon. Daarom dien jy met blydskap (sien Psalm 100:2).
Hier is dus die ooreenkoms: Jy kwalifiseer slegs om die voorregte van leierskap te geniet wanneer jy bereid is om eerste te gaan en ander saam met jou te neem. Dis egter nie die einde van die storie nie. God het gesê: ‘…. dan mag julle terugkom na julle eie grond wat… die Here, vir julle oos van die Jordaan-rivier gegee het’ (Josua 1:15 ABA).
Sielskos: 1 Tim 4-6; Luk 9:37-45; Ps 42:1-5; Spr 19:12-14
2024-07-26
Johannes 10:10 NLV
Hoekom eindig 50 persent van huwelike, insluitend Christelike huwelike, in die skeihof op? Jesus antwoord hierdie vraag: ‘Die dief kom vir niks anders nie as om te steel, dood te maak en te vernietig. Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, om dit oorvloedig te hê’ (vers 10 NLV). God het die eerste huwelikseremonie tussen Adam en Eva in die tuin van Eden gehou. Die wittebrood het skaars begin voor Satan hulle aangeval het, wat gevoelens van skuld en skeiding van God veroorsaak het. Later in die Skrif, toe Satan nie die patriarg Job deur swere, bankrotskap en leed kon oorwin nie, het hy hom deur sy vrou aangeval. Jou huwelik is een van Satan se vernaamste teikens. Hoe kan jy dit dus beskerm?
1) Ken jou maat se verwagtinge. Is hulle realisties? Het hulle onverwags hul opwagting gemaak toe konflik in die huwelik te voorskyn gekom het? Teleurstelling manifesteer dikwels as woede.
2) Raak vertroud met jou eggenoot se familiegeskiedenis. In baie opsigte is hy of sy ‘n produk van die omgewing waarin hulle grootgeword het. Die waarheid is dat ons met die gereedskap bou en met die wapens veg wat ons ouers vir ons gegee het. Herinneringe van ouerlike woede, kindermishandeling en gesinsargumente kan beïnvloed hoe ons later tydens rusies en hewige gesprekke in die huwelik, reageer.
3) Begin vir jou maat bid. Beter nog – bid saam met hom/haar! Jesus het gesê: ‘…As twee van julle hier op aarde sou saamstem oor enigiets wat julle van God behoort te vra, sal my hemelse Vader dit vir julle doen. Waar twee of drie mense bymekaarkom omdat hulle my mense is, is Ek immers ook saam met hulle daar’ (Matteus 18:19-20 NLV). Beskerm dus jou huwelik – dis een van Satan se grootste teikens.
Sielskos: 1 Tim 1-3; Luk 9:28-36; Ps 1; Spr 19:9-11