2024-08-06
Markus 16:17-18 NLV
Daar is ‘n deel van die Groot Opdrag wat Jesus ons gegee het wat dikwels oor die hoof gesien word. Jesus het ons opdrag gegee: ‘…Hulle sal… in my Naam… siekes die hande oplê, en hulle sal gesond word.’ Navorsing het onthul dat aanraking die krag het om virusse te beveg, stres te verminder, slaap te verbeter en ons te help om vinniger van beserings te herstel. Een studie het bevind dat ‘n halfuur-lange massering drie keer ‘n week stres met 34 persent verlaag.
Die krag van aanraking op menslike vlak is verstommend. Wanneer jy die krag van God daarby voeg, maak dit ‘n deur na iets wonderbaarliks oop. ‘Dit het so gekom dat Publius se pa in die bed was, siek aan maagkoors. Paulus het na hom toe gegaan, en nadat hy gebid het, het hy sy hande op hom gesit en hom gesond gemaak’ (Handelinge 28:8 NLV). Om siekes of mense wat tot die bediening geroep is die hande op te lê, was ‘n algemene praktyk in die Nuwe Testamentiese kerk.
Jy hoef ook nie ‘n predikant te wees om dit te doen nie. Jesus het gesê: ‘Hierdie is die wondertekens wat dié sal beleef wat glo…’ (Markus 16:17 NLV). As jy ‘n gelowige is wat jou vertroue in Christus geplaas het, is jy gekwalifiseerd. Kan God dit sonder ons doen? Natuurlik. Hy het egter vir ons die voorreg gegee om herleiers van sy krag te wees. Wie weet hoeveel wonderbaarlike oomblikke ons opgeoffer het, omdat ons nie op ‘n vrymoedige Bybelse manier opgetree het deur vir iemand wat siek is te bid, iemand wat geroep is opdrag te gee of iemand aan te moedig wat bloot ‘n hand op hul skouer nodig gehad het nie?
Sielskos: 1 Kro 1-2; Luk 11:14-28; Ps 78:56-64; Spr 20:7-10
2024-08-05
Romeine 2:4 NLV
Onthou jy die vrou wat ‘n albaste fles met aromatiese olies geneem en Jesus daarmee gesalf het? Die Bybel sê: “Toe die Fariseër wat die gasheer was, sien wat gebeur en wie die vrou is, het hy vir homself gesê: ‘Dit bewys dat Jesus geen profeet is nie. As God hom werklik gestuur het, sou hy geweet het watter soort vrou hom aanraak. Sy is ‘n sondaar!'” (Lukas 7:39 NLV). Mensgemaakte godsdiens het hierdie vrou oor haar verlede veroordeel, maar Jesus het haar gereinig en weer heel gemaak. ‘Ek sê vir jou, haar sondes – en dit is baie – is vergewe, en daarom bewys sy My baie liefde. Maar iemand vir wie min sondes vergewe is, betoon maar min liefde!’ (vers 47 NLV). Jesus het geweet wat hierdie vrou gedoen het, maar Hy het ook geweet wat sy kan word wanneer sy genade haar lewe aanraak.
Hoe meer jy besef hoeveel jy vergewe is – letterlik al jou sondes – hoe liewer sal jy die Here hê. God se vergifnis lei nie tot ‘n sondige leefstyl nie, dit lei tot ‘n lewe wat die Here Jesus verheerlik. ‘…Besef jy nie dat God so goed is vir jou omdat Hy vir jou tyd wil gee om tot inkeer te kom nie?’ Die woord ‘inkeer’ beteken om om te draai en die teenoorgestelde te doen. Veroordeling bring nie ‘n regverdige lewe voort nie, maar die kennis van God se genade en goedheid teenoor ons wel.
Simon die Fariseër het gedink dat sy aanvaarding deur God op sy prestasie gebaseer was; daarom het hy eiegeregtig geword. Wanneer jy besef hoe baie en hoe gereeld God jou vergewe het, sal jy nog liewer word vir God en die begeerte ontvang om Hom in alles wat jy doen, te behaag.
Sielskos: 1 Joh 3:11-5:21; Luk 11:1-13; Ps 78:40-55; Spr 20:4-6
2024-08-04
Hebreërs 2:18 NLV
As jy ernstig daaroor is om versoeking te weerstaan, is daar vyf dinge wat jy moet doen:
1) Dink aan jou keuses en hulle gevolge, voordat jy dit maak. Wysheid kyk altyd vorentoe.
2) Glo dat jy versoeking kan weerstaan – want jy kan. ‘Julle is egter van God afkomstig… en julle het reeds oorwin omdat die Gees wat in julle woon, magtiger is as die gees wat in die wêreld woon’ (1 Johannes 4:4 NLV).
3) Onthou hoe jy gevoel het toe jy vantevore aan versoeking toegegee het. Skuldig, veroordeel en skaam. Hierdie is van Satan se gunsteling wapens. Wanneer jy ingee daartoe, is dit moeilik om weer op jou voete te kom.
3) Moenie jouself in situasies plaas waar jy maklik kan val nie. As jy daarmee sukkel om jou finansies te bestuur, moenie na die winkelsentrum toe gaan of aanlyn inkopies doen wanneer jy weet jy kan dit nie bekostig nie. As jy met pornografie sukkel, verwyder die bron daarvan uit jou lewe uit.
5) Vier elke oorwinning, maar maak seker om God die krediet daarvoor te gee.
Jy sal nooit nie versoek word nie. Dis maklik om te dink dat jy nie weer sal struikel nie, maar wanneer jy so dink, maak jy jouself ‘n maklike teiken vir die Vyand. Skape is weerlose diere; hulle het geen vegvaardighede nie. Wanneer hulle uit die kraal afdwaal, word hulle vinnig deur die wolf verslind. Dus het hulle geleer dat hulle veiligheid en beskerming daarin lê om naby die herder te bly. Dieselfde geld vir jou. Hier is ‘n belofte waarop jy vandag kan staan: ‘Die Here weet dus om dié mense wat naby aan Hom leef, uit beproewing en swaarkry te red…’ (2 Petrus 2:9 NLV).
Sielskos: Joh 1:1-14; Matt 4:12-16; Matt 5:14-16; Hand 9:1-19
2024-08-03
1 Korintiërs 10:13 NLV
Die Bybel sê: ‘Wees daarom geestelik wakker. As jy gerus begin word en dink dat niks jou geestelik van stryk kan bring nie, val jy miskien juis in die kloue van versoekings en sonde. Nou praat ek nie van buitengewone versoekings nie. Die versoekings wat oor julle kom, is dieselfde as wat enige ander mens teëkom. God sal julle nie in die steek laat nie, maar doen wat Hy gesê het. Hy het mos gesê dat Hy nie dinge met jou sal laat gebeur wat jou as Christen van balans af sal gooi nie. As daar dan dinge gebeur wat jou van God se pad wil afkry, sal God jou help om die regte besluit te neem en jou dan die krag gee om te doen wat jy besluit het’ (1 Korintiërs 10:12-13 DB). ‘Die Here weet dus om dié mense wat naby aan Hom leef, uit beproewing en swaarkry te red…’ (2 Petrus 2:9 NLV).
Dit beteken nie dat God jou van versoeking sal vryskeld nie. Satan, wat ‘die versoeker’ genoem word, hou nooit op of neem ‘n dag af nie. God se doel is egter om jou sterk te maak waar jy swak was, dus is sy belofte aan jou dat ‘Hy nie dinge met jou sal laat gebeur wat jou as Christen van balans af sal gooi nie.’ Hou aan! Moenie moed opgee nie. Soos jy sterker in die Here word, sal die versoekings waarteen jy veg geleidelik swakker word, totdat hulle hulle aantrekkingskrag verloor en jy in oorwinning begin leef.
Sielskos: 1 Joh 1:1-3:10; Luk 10:38-42; Ps 78:32-39; Spr 20:1-3
2024-08-02
1 Korintiërs 10:13 NLV
Satan word ‘die versoeker’ en ‘die aanklaer’ in die Skrif genoem. Eerstens sal hy jou versoek en wanneer jy daartoe ingee, sal hy jou aankla. Hy wil hê dat jy onwaardig in God se oë moet voel. Jy is egter nie! ‘Hierdie Hoëpriester van ons kan ten volle met ons in ons swakhede saamvoel, want Hy moes presies dieselfde versoekings as ons trotseer – behalwe dat Hy nie voor die sonde geswig het nie. Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (Hebreërs 4:15-16 NLV).
Wanneer jy misluk kan jy met volle vertroue na God gaan, met die wete dat Hy jou nie net sal vergewe nie, maar jou ook van die genade wat jou in staat sal stel om die versoeking die volgende keer te weerstaan, sal voorsien. Ons almal word versoek; dis ‘n onvermydelike deel van die lewe. Selfs gelowiges wat al baie jare met die Here stap, word versoek. Jy kan egter versoeking weerstaan.
Een van die eerste stappe om dit te oorwin, is om die regte dinge te begin sê. Die Bybel sê: ‘Die tong het mag oor dood en oor lewe. Hulle wat lief is om te praat, moet saamleef met die gevolge van hulle woorde’ (Spreuke 18:21 NLV). Jou woorde gee lewe aan dit wat jy sê. Begin dus om God se Woord te spreek. Jesus het gesê: ‘En Ek het julle gesag gegee oor alle mag van die vyand… Niks sal julle beseer nie’ (Lukas 10:19 NLV). Eis hierdie belofte vandag op, want God sal jou die krag gee om dit wat Hy beloof het, te doen.
Sielskos: Esra 9-10; Luk 10:25-37; Ps 78:17-31; Spr 19:27-29
2024-08-01
Galasiërs 5:16 NLV
Daar is net genoeg ego en onafhanklikheid in ons dat ons dinge op ons eie manier wil doen. Dit hou aan om ons in die moeilikheid te kry. Paulus skryf: ‘…Laat julle leefstyl eerder deur die Gees bepaal word. Dan sal julle glad nie aan die begeertes van julle sondige geaardheid toegee nie. ‘n Mens se sondige geaardheid wil dinge doen wat teen die Gees is, en die Gees wil dinge doen wat teen jou sondige geaardheid is, want hulle is mekaar se vyande…’ (verse 16-17 NLV).
Wat is die sleutel tot oorwinning? Eerstens, steun meer op God en minder op jouself. Tweedens, stel grense in jou lewe. Dis hoekom dit so belangrik is om daagliks Bybel te lees. Dit hou jou in God se veilige sone deur vir jou te sê wat jy kan doen en wat jy eerder nie moet doen om veilig te bly nie.
Snelweë het lyne: een aan elke kant en een in die middel. Hierdie lyne gee vir ons grense vir ons veiligheid terwyl ons bestuur. As ons oor die lyn aan die een kant gaan, loop ons die risiko om in ‘n sloot te beland. As ons oor die lyn in die middel gaan, loop ons die risiko om deur aankomende verkeer getref te word. Ons waardeer daardie lyne, omdat hulle ons veilig hou.
Dieselfde geld in ons persoonlike lewe. Wanneer ons duidelik gemerkte grenslyne het, voel ons baie beter en ervaar ons God se vrede. Wanneer God vir ons sê om iets nie te doen nie, probeer Hy nie met ons naar wees nie. Hy probeer ons beskerm. Jy is deur die kosbare bloed van Jesus verlos, jy is kosbaar in sy oë en Hy wil net die beste vir jou hê.
Sielskos: Esra 6-8; Luk 10:13-24; Ps 78:9-16; Spr 19:24-26