Eer God in alles wat jy doen
2024-09-10Psalm 1:1 NLV
Toe Moses vir farao beveel het om God se mense vry te laat, het farao vir hom drie kompromieë aangebied. Eerstens het hy aangebied om hulle te laat gaan, mits hulle nie te ver weg sal trek nie. Tweedens het hy aangebied om hulle te laat gaan, mits hulle hul kinders in Egipte agterlaat. Derdens het hy aangebied om hulle te laat gaan, mits hulle hul sakebelange in Egipte agterlaat. Moses het vir al drie nee gesê.
Satan sal dieselfde vir jou aanbied. Plaas egter afstand tussen jouself en die wêreld. Weier om jou kinders aan die wêreld af te staan. Weier om volgens die wêreld se selfgesentreerde en dikwels onetiese sakepraktyke te leef. Jy is geroep om die mense rondom jou lief te hê en hulle te bedien, maar nie om soos hulle te word nie. Een van die grootste gawes wat God ons gegee het, is vrye wil. Jy kan kies! As jy God se seëninge wil geniet, moet jy leefstylkeuses wat in lyn met sy wil en die waardes van sy Woord is, maak. Jy moenie keuses maak wat die beginsels van die wêreldsisteme rondom jou weerspieël nie. Die pad na sukses in die lewe is om op Bybelse beginsels te staan.
Hier is twee Skrifgedeeltes waarop jy moet mediteer en in gedagte moet hou: ‘Dit is die Here se seën wat rykdom bring. Hy gee nie hartseer daarmee saam nie’ (Spreuke 10:22 NLV). ‘Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (Matteus 6:33 NLV). Bid vandag: ‘Here, ek wil nie volgens die wêreld se standaarde leef nie. Ek wil U eerste in my lewe stel, omdat ek weet dat u weë altyd die beste is.’
Sielskos: Jos 22-24; Luk 20:27-40; Ps 27; Spr 23:16-18