Hoekom kerkbywoning goed is vir jou

2024-07-19
Psalm 84:11 NLV

Jesus het gereeld kerk bygewoon. ‘…Hy [het] soos gewoonlik op die Sabbat na die sinagoge gegaan…’ (Lukas 4:16 NLV). Die apostels het ook op ‘n gereelde basis kerk toe gegaan: ‘Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom…’ (Handelinge 2:46 NLV). Dawid was ook lief vir God se huis. Hy het gesê: ‘Een dag in u tempel is beter as duisend elders! Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God as dat ek woon in huise van goddeloses’ (Psalm 84:11 NLV).

Het jy God se huis lief? Jy behoort, omdat sy Woord daar aan jou verduidelik sal word, jy strategieë vir die lewe sal kry, jou geestelike gawes sal ontdek en verhoudings wat jou in die moeilike tye onderhou, sal vorm. Waar anders kan jy dit alles vind?

Yale Universiteit het ‘n studie gedoen wat bevestig het dat mense wat kerk gereeld bywoon, gelukkiger en gesonder is en langer lewe as diegene wat dit nie doen nie. Die studie het bevind dat kerkgangers laer bloeddruk, stres en ‘n groter immuniteit teen siektes het, terwyl nie-kerkgangers in die groep ‘n verkorte lewe – gelyk aan die van rokers, het. Een van die navorsers het vir ‘n tannie van tagtig jaar oud, wat op daardie oomblik besig was om op ‘n trapmeul te hardloop, gevra wat haar geheim is. Sy het gesê: ‘Wanneer jy saam met God loop, het jy ‘n doel, dus leef jy langer. Jy het ook vrede in God, dus leef jy beter.’

Dink daaroor: as jy dit alles in ‘n pil kon kry, hoeveel sou jy daarvoor betaal? Sou iemand jou moes forseer om dit te neem? Nee? Maak dan seker dat jy Sondag in die kerk is!

Sielskos: 2 Sam 17:14-19:43; Luk 8:1-15; Ps 123; Spr 18:13-16

Hoe om God te ken

2024-07-18
Romeine 1:19 NLV

Daar is drie maniere waarop jy kan weet dat God werklik bestaan en ‘n verhouding met Hom kan hê.

1) Intellektuele kennis van God. ‘In hulle harte het hulle immers ‘n duidelike besef van God, want God het dit aan hulle bekendgemaak. Want al is God onsigbaar, kan hulle sy ewige krag en sy Goddelikheid reeds van die skepping van die wêreld af duidelik uit sy handewerk waarneem. Daarom kan hulle hulleself hoegenaamd nie verontskuldig nie’ (verse 19-20 NLV).

2) Onbewustelike kennis van God. ‘Wat nou die nie-Jode betref wat nie God se geskrewe wet het nie – as hulle instinktief die vereistes van die wet nakom, selfs al het hulle nie die wet nie, stel hulle vir hulleself ‘n wet. Hulle optrede toon duidelik dat die vereistes van die wet in hulle harte geskryf staan. Boonop bevestig hulle gewetens dit deurdat hulle gedagtes hulle óf aankla óf vryspreek’ (Romeine 2:14-15 NLV).

3) Persoonlike kennis van God. ‘…Al het ons Christus ook vroeër volgens ‘n menslike maatstaf beoordeel, oordeel ons nou heeltemal anders oor Hom. Daarom – iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!’ (2 Korintiërs 5:16-17 NLV).

God openbaar Hom aan ons deur die skepping. Hy praat met ons en openbaar sy morele karakter en vereistes deur ons gewete. Ons kan God ook persoonlik ken en ‘n verhouding met Hom deur sy Seun hê. Jesus het gesê: ‘…Ek is die lig van die mensdom. Wie My aanhou volg, sal nooit in die duisternis leef nie, maar sal die lig hê wat lewe gee’ (Johannes 8:12 NLV). Daar is een manier om jouself tevrede te stel dat God werklik bestaan – skakel die lig aan!

Sielskos: 2 Sam 14:21-17:13; Luk 7:36-50; Ps 118:19-29; Spr 18:10-12

Weet wie in jou lewe hoort

2024-07-17
Rigters 7:4 NLV

Gideon het twee-en-dertig duisend soldate gekies om teen die Midianiete te veg. Die waarheid is dat jy nie baie mense in jou lewe nodig het nie, maar dat jy die regte mense nodig het. Toe God dus vir Gideon sê: ‘Sê vir die manskappe elkeen wat bang is om te gaan veg, mag… teruggaan huis toe…’ (vers 3 NLV), het twee-en-twintig duisend soldate teruggegaan. God het egter vir Gideon gesê dat hy steeds te veel soldate het en bygevoeg: ‘…Vat hulle af na die water toe. Ek sal daar vir jou uitsoek watter saam met jou moet gaan en watter nie’ (vers 4 NLV). Gevolglik het Gideon met driehonderd soldate opgeëindig – maar hulle het die geveg gewen! Moenie oor getalle bekommerd wees nie, God kan steeds meer met minder doen.

God het dieselfde Gees wat op Moses gerus het, geneem en dit op sewentig leiers geplaas sodat hulle Moses kon help (sien Numeri 11:16-17). Dis wat jy nodig het – mense met dieselfde gees as jy. Net omdat iemand talentvol is, beteken nie dat hulle in jou lewe hoort nie. As geestelike gawes die standaard waarvolgens ons meet is, wat dan van Bileam se donkie? Hy het geprofeteer (sien Numeri 22:21-33)! Die belangrike vraag is: ‘Het hierdie persoon die regte gees?’

Soos jy saam met ander werk, moet jy besef dat ons almal sekere dinge in gemeen het. Mense wil graag spesiaal voel, komplimenteer hulle dus (maak net seker dat dit opreg is). Hulle wil ‘n beter toekoms hê, gee hulle dus hoop. Hulle wil rigting hê, lei hulle dus. Hulle raak terneergedruk, bemoedig hulle dus. Hulle wil sukses behaal, help hulle dus om dit te bereik. Jou sukses hang daarvan af dat jy die regte mense in jou lewe het – en dis hoekom jy moet bid en op God se leiding moet staatmaak.

Sielskos: 2 Sam 12:1-14:20; Luk 7:24-35; Ps 118:10-18; Spr 18:7-9

Vra altyd: ‘Wat sê die Bybel?’

2024-07-16
Handelinge 20:30 NLV

Paulus skryf: ‘Selfs uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat, deur verdraaide dinge te verkonding, die gelowiges sal probeer verlei om hulle te volg. Daarom: Wakkerloop! Onthou dat ek vir drie jaar lank sonder ophou vir elkeen van julle die regte koers aangedui het, dag en nag, en met trane. En nou vertrou ek julle aan God toe en aan die boodskap van die onverdiende goedheid wat Hy aan mense bewys. Dié boodskap is in staat om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfporsie belowe het’ (verse 30-32 NLV).

Wanneer iemand sê dat hulle ‘n ‘spesiale openbaring van God’ gekry het, maar dis nie in lyn met wat die Skrif leer nie, moenie dit glo nie! Doen wat die mense van Berea gedoen het: ‘…hulle het met groot belangstelling na Paulus se boodskap geluister. Hulle het elke dag die Skrifte ondersoek om te sien of dit is soos Paulus en Silas sê’ (Handelinge 17:11 NLV).

Geen leier, maak nie saak hoe groot hul groep volgelinge is, word van hierdie soeklig vrygeskeld nie. Goeie leiers verwelkom dit inteendeel. Het God in hierdie era van tegnologie nuwe en effektiewe strategieë om die wêreld met die evangelie te bereik? Ja, en ons moet dit aanvaar en gebruik sodat ons die finale oes kan bymekaar maak. Ons moet egter nooit kompromieë aangaan as dit by God se Woord kom nie. Soms kom die grootste bedreiging tot die waarheid van diegene vir wie ons lief is, met wie ons saam gewerk het en wat die pad byster geraak het, af. Wat is dus die antwoord? Dis eenvoudig. Vra altyd: ‘Wat sê die Bybel?’ en maak dit jou maatstaf.

Sielskos: 2 Sam 7:18-11:27; Luk 7:11-23; Ps 118:1-9; Spr 18:4-6

Die seën van onbeantwoorde gebede

2024-07-15
Jakobus 4:3 NLV

‘n Pastoor skryf: ‘Volgens die legende het koning Midas goud so liefgehad dat hy gewens het dat alles wat hy aanraak in goud moes verander. Aan die begin was Midas baie in sy skik met sy wens, maar toe hy agtergekom het dat sy aanraking kos oneetbaar en sy geliefdes leweloos maak, het hy met die konsep wat die sosioloog Robert Merton die wet van onbedoelde gevolge noem, kennis gemaak. Soos Midas kan daar ongewenste gevolge ontstaan as ons alles kry wat ons wil hê. Soms is ‘n onbeantwoorde gebed God wat in sy soewereine wysheid ons van die pyn van onbedoelde gevolge spaar. Die meeste van die tyd veroorsaak dit ‘n groot mate van angs by ons, maar eendag sal ons God net soveel dank verskuldig wees vir die gebede wat Hy nie beantwoord het nie, as dié wat Hy wel beantwoord het.’

Jakobus skryf: ‘…En eintlik is die rede hoekom julle nie het wat julle wil hê nie, die feit dat julle God nie daarvoor vra nie. En selfs wanneer julle vra, kry julle dit nie omdat julle motiewe verkeerd is – julle wil goed hê net om dit self te geniet’ (verse 2-3 NLV). C.S. Lewis het gesê: ‘As God al die simpel gebede wat ek in my lewe gebid het beantwoord het, waar sou ek nou gewees het?’

Die pastoor gaan voort: ‘Baie van ons gebede is ondeurdag. Ons bid vir gemak, eerder as vir karakter. Ons bid vir ‘n maklike uitkoms, eerder as die krag om deur dit te kom. Miskien moet ons God ophou vra om ons uit moelike omstandighede te neem en Hom begin vra wat Hy wil hê ons uit die moeilike omstandighede moet leer.’

Sielskos: 2 Sam 3:22-7:17; Luk 7:1-10; Ps 109:16-31; Spr 18:1-3

Wanneer jy onvoldoende voel (2)

2024-07-14
2 Korintiërs 12:9 NLV

Eerstens, erken aan God dat jy onvoldoende is. Joni Eareckson Tada sê: ‘As jy jou swakheid ontken, sal jy nooit God se krag binne-in jou besef nie.’ God het vir Paulus gesê: ‘…My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking.’ Enigiets wat jou op God laat leun is ‘n plus, nie ‘n minus nie.

Tweedens, hou op om jouself af te kraak. Jy sê: ‘Maar ek het nie die kwalifikasies om die werk te doen nie.’ God roep nie die gekwalifiseerdes nie, Hy kwalifiseer die geroepenes. Hoe? Deur hulle met sy Gees te vul. ‘…Ek [sal] my Gees op alle mense uitstort. Julle seuns en dogters sal profeteer. Julle oumense sal drome droom. Jongmense sal visioene kry. In dié tyd sal Ek my Gees selfs op slawe en slavinne uitstort’ (Joël 2:28-29 NLV). God word nie deur ouderdom, geslag, ras of akademiese status beperk nie. Die enigste ding wat Hom beperk, is die beperking wat jy op jouself plaas of wat jy toelaat dat ander mense op jou plaas.

Derdens, moenie dit glo nie. Adverteerders spandeer biljoene rande om jou te oortuig dat jy sonder hulle produk onvoldoende of onvolledig is. Moenie hulle glo nie! Begin om te sê: ‘Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het…’ (Psalm 139:14 NLV).

Vierdens, sien die uitstekende en beter optrede van iemand anders as ‘n bron van inspirasie, eerder as van intimidasie. Moet intussen nie jou unieke talente uit die oog verloor nie. ‘Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. Ons moet hierdie vermoëns reg gebruik…’ (Romeine 12:6 NLV). Jou gawe mag dalk onontdek, onontwikkel of ongebruik wees, maar dit woon in jou. Ontsluit dit vandag en begin dit gebruik.

Sielskos: Matt 5:8; Ps 24:3-6; 2 Pet 3:3-14; 1 Joh 3:1-3