2024-07-13
2 Korintiërs 3:5 NLV
Die vrees om onvoldoende te wees is ‘n denkpatroon waarin jy dink dat jou beste nie goed genoeg is nie. Dit ontstaan gewoonlik tydens ons kinderjare wanneer ouers, onderwysers en ander mense wat ons as belangrik ag, ons nie waardeer nie of ons negatief met iemand anders vergelyk. Jy sal dit sien by Moses, wat onvoldoende gevoel het om die woordvoerder en bevryder van die Israeliete te wees, tot by die ontslape popster Michael Jackson, wat homself uitgemergel het om fisieke en professionele volmaaktheid te bereik. Geen statistiek kan die aantal verlate drome as gevolg van hierdie verlammende emosie meet nie.
Om ontslae te raak daarvan, moet jy leer om hierdie twee waarhede te omarm: 1) Sonder God, is jy onvoldoende. 2) Wanneer jy God se krag in jou het, is jy voldoende vir enige uitdaging wat Hy jou roep om te oorkom. Paulus skryf: ‘Nie dat ons op ons eie houtjie iets kan bedink asof dit ons eie breinkind is nie. Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het om as bedienaars van die nuwe verbond op te tree…’ (verse 5-6 NLV).
Baie van die helde in die Bybel het met die vrees om onvoldoende te wees gesukkel, dus is jy in goeie geselskap! Moses het vir God gesê: ‘Ek kan nie met die farao gaan praat nie, stuur iemand anders’ (sien Eksodus 3:11, 4:13). Die ware verhaal van hierdie helde in die Bybel is hoe hulle hul vrees oorkom en vir God ja gesê het. Hulle het in geloof uitgetree en in wese gesê: ‘Here, ek maak op U vir my sukses staat.’ Ons menslike ego hou daarvan om goed te lyk en die krediet te neem. God plaas ons egter in ‘n posisie van totale afhanklikheid sodat die krediet van ons suksesse Hom toekom.
Sielskos: 2 Sam 1:1-3:21; Luk 6:37-49; Ps 109:1-15; Spr 17:27-28
2024-07-12
Jakobus 1:19 NLV
Jy het nie ‘n towerkunsie nodig wanneer dit daarby kom om ander mense te beïnvloed en ‘n impak op hulle te hê nie. Die Bybel gee jou die formule – hier is dit:
1) Probeer om aandagtig te luister. Die waarheid is dat mense nie omgee hoeveel jy weet, totdat hulle weet hoeveel jy omgee nie. Hulle is geneig om dit wat hulle hoor deur hulle eie lewenservarings, voorkeure en die spesifieke probleem waaroor hulle tans tob, te filtreer. As jy dus wil hê dat mense moet luister as jy praat, moet jy aandagtig na hulle luister.
2) Moenie te veel sê nie. As jy geneig is om te veel of te vinnig te praat, is hier drie wenke vir jou: a) Stop. Hou op praat. Haal asem. Tel tot tien. Verskoon jouself vir ‘n paar minute. b) Oefen om nie ander mense in die rede te val nie. Laat die ander persoon toe om dit wat hy of sy besig is om te sê, klaar te maak. c) Vra jouself af hoekom jy so baie praat. Is dit onsekerheid? Angstigheid? Die behoefte aan beheer? Die begeerte om te beïndruk? Die rede hoekom so baie van ons probeer om ander mense te oortuig, te beïndruk en te beheer is omdat ons dit moeilik vind om God te vertrou om dinge vir ons te laat uitwerk. Dra slegs die boodskap oor en vertrou God om die res te doen.
3) Hou jou woede in toom. As jy die eerste twee beginsels implementeer, behoort jy die derde beginsel maklik onder die knie te kry. As jy hierdie beginsels jaar na jaar beoefen sal jy, wanneer jy aan die einde van jou lewe kom en daarop terugkyk, bly wees dat jy God se Woord en sy wysheid ernstig opgeneem het.
Sielskos: Ef 4:17-6:24; Luk 6:27-36; Ps 79; Spr 17:24-26
2024-07-11
Romeine 16:2 NLV
Charles Plumb was ‘n vlieënier in Viëtnam en na vyf-en-sewentig gevegsmissies is sy vliegtuig deur ‘n missiel afgeskiet. Plumb het met sy valskerm uit die vliegtuig gespring, in vyandelike hande geland en die volgende ses jaar in ‘n Kommunistiese tronk deurgebring. Hy het die beproewing oorleef en gee nou lesings oor wat hy uit sy ervaring geleer het.
Eendag toe hy en sy vrou in ‘n restaurant gesit het, het ‘n man vanaf ‘n ander tafel nadergestap en gesê: ‘Jy is Plumb! Jy het vliegtuie in Viëtnam gevlieg en is neergeskiet!’ Plumb het vir hom gevra: ‘Hoe in die wêreld het jy dit geweet?’ Die man het geantwoord: ‘Ek het jou valskerm gepak.’ Toe gryp die man sy hand en sê: ‘Ek dink dit het gewerk!’ Plumb het hom verseker dat dit gewerk het: ‘As jou valskerm nie gewerk het nie, sou ek nie vandag hier gewees het nie.’
Daardie nag kon Plumb nie slaap soos hy oor die man gewonder het nie. Hoe het hy gelyk in ‘n vlootuniform? Hoeveel keer het Plumb hom gesien sonder om eers: ‘Hoe gaan dit?’ of enigiets anders te vra, omdat hy ‘n vegvlieënier en die ander man net ‘n matroos was. Hy het nagedink oor die baie ure wat die matroos in die ingewande van die skip deurgebring het om noukeurig die valskerms op te vou en te pak, terwyl hy die lot van ‘n vreemdeling in sy hand gehou het. Gevolglik vra Plumb gereeld ‘n belangrike vraag aan sy gehoor: ‘Wie pak jou valskerm?’
Almal van ons het iemand wat dit wat ons nodig het om deur die dag te kom, voorsien. Paulus het van Febe gesê: ‘…Sy is ‘n staatmaker wat al baie gelowiges ondersteun het – ook vir my.’ Wie ondersteun jou? Bewys vandag jou waardering teenoor hulle.
Sielskos: Ef 1:1-4:16; Luk 6:17-26; Ps 137; Spr 17:22-23
2024-07-10
Matteus 5:30 NLV
Desperate situasies verg soms desperate maatreëls. Jesus stel dit so: ‘En as jou regteroog jou laat struikel, pluk dit liewer uit en gooi dit weg van jou af. Dit is vir jou beter dat een van jou liggaamsdele tot niet gaan as dat jou hele liggaam in die hel eindig. Net so, as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af. Dit is vir jou beter om net een van jou liggaamsdele te verloor as dat jou hele liggaam in die hel eindig’ (verse 29-30 NLV). Jesus bepleit morele en geestelike chirurgie. Daar is geen manier om met sonde te redeneer of te onderhandel nie. Wat ook al jou persoonlike stryd is – dobbel, alkohol, dwelms, verkeerde verhoudings of internetpornografie – die doel daarvan is om jou te vernietig en dit moet uitgeroei word.
Die apostel Paulus was bekend met die Ou Testamentiese Skrif. Hy het geweet dat Simson geval en Josef sterk gestaan het toe hulle voor soortgelyke versoeking te staan gekom het. Daarom het hy aan sy geestelike seun, Timoteus, geskryf en hom gewaarsku oor die sonde wat hom kan diskwalifiseer en hom daarvan kan weerhou om die wedloop te wen: ‘Vlug vir enigiets wat jeugdige drange aanwakker…’ (2 Timoteus 2:22 NLV).
Daar is in vandag se lewe orals verleiding, wat beteken dat ons nie altyd die bron daarvan kan uitskakel nie. Dus sê Paulus vir Timoteus: wanneer jy nie die invloed kan verwyder nie, verwyder jouself! Hardloop, moenie loop nie. Jy mag dalk vry wees, maar jou vlees sal jou net ‘n paar sekondes gee voordat dit namens jou besluit of jy gaan toegee aan die sonde. Moet dus nie huiwer nie, moenie afwyk nie en moenie uitstel nie. Doen wat gedoen moet word – en doen dit vinnig.
Sielskos: 1 Sam 27-31; Luk 6:1-16; Ps 122; Spr 17:18-21
2024-07-09
Spreuke 3:5 NLV
Die Bybel sê: ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys’ (verse 5-6 NLV). God wil hê dat jy Hom moet vertrou. Solank as wat jy sukkel om dinge op jou eie uit te pluis, vertrou jy nie vir God nie en sal jy nie vrede hê nie. Jy moet Hom met jou gesondheid, jou geld, jou verhoudings en jou toekoms vertrou. Met alles! God maak nooit ‘n fout nie. Hy pas alles foutloos in sy plan vir jou in (sien Romeine 8:28). Al wat Hy van jou verwag is dat jy erken dat Hy in beheer is. Wanneer jy dit doen, beloof Hy om ‘…die regte pad vir jou [te] wys’ (Spreuke 3:6 NLV).
Wanneer ons poog om ons eie lewens te rig, volg ons arbitrêre paaie wat met besluiteloosheid gevul is: ‘Moet ek dit of dat doen? Moet ek hier of daar gaan?’ Dit veroorsaak stres! Wanneer jy egter op die Here vertrou, rig Hy jou paaie en maak jou suksesvol, nie stresvol nie. ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:6-7 NLV). Let die volgorde op – eers gebed, dan vrede. Wanneer druk dus begin ophoop, in plaas van paniekerig raak, begin bid! Gebed is ‘n merkwaardige stresverligter.
Sielskos: 1 Sam 24-26; Luk 5:27-39; Ps 110; Spr 17:15-17
2024-07-08
Psalm 46:11 NLV
Om vrede te hê, moet jy op God se teenwoordigheid fokus. Dit waarop jy kies om te fokus, spoor óf jou vrese, óf jou geloof aan. Die Bybel sê: ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is’ (Jesaja 26:3 NLV). Die Psalmdigter sê: ‘God is ons toevlug en ons krag; in nood is Hy gereed om te help’ (Psalm 46:2 NLV). Later in dieselfde psalm herinner Hy ons: ‘Wees stil en weet Ek is God!..’ (vers 11 NLV).
Hierdie verse is in die tyd van Hiskia se koningskap geskryf. Gewapende magte van die vyand het Jerusalem omring. Die Israeliete was gespanne en het hierdie gebed gebid! Vyf minute voor die middaguur het God die Assiriërs met ‘n plaag getref en 185 000 van hulle het omgekom. Jerusalem is gered en almal was bly daaroor. Hierdie psalm help ons om te onthou dat God ons toevlug is. Maak nie saak hoe oorweldigend die omstandighede is nie, Hy is altyd by jou om te help. Hierdie psalm leer ons twee dinge om God se hulp in moeilike tye te ontvang.
Die eerste is om stil te wees. Baie van ons moeilikheid spruit uit ons onvermoë om stil te sit. Die tweede ding is dat ons moet weet dat Hy God is. Wees stil en weet. Wanneer jy op hierdie manier lewe, sal ‘…julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:7 NLV). Wanneer jy daaroor dink, is dit die enigste manier om te lewe!
Sielskos: 1 Sam 20:30-23:29; Luk 5:12-26; Ps 102:18-28; Spr 17:11-14