2024-07-07
Psalm 119:165 AFR53
Om ware vrede te ontvang, moet jy twee dinge doen:
1) Volgens die beginsels van God se Woord lewe. ‘Die wat u wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie.’ Vrede daag op wanneer jy in harmonie met God leef. ‘n Nuwe kar kom met ‘n handleiding vir die eienaar. Dit sê vir jou dat jy sekere dinge op sekere tye moet doen, sodat jou kar optimaal kan funksioneer. Soortgelyk is die Bybel jou handleiding vir die lewe. Dit bevat leidende beginsels oor finansies, gesondheid, die huwelik, besigheid, verhoudings en vele meer. Net soos jou motor gladder ry wanneer jy dit volgens sy ontwerp gebruik, so sal jou lewe gladder verloop wanneer jy dit volgens God se ontwerp uitleef.
2) God se vergifnis aanvaar. Skuldgevoelens vernietig vrede. Wanneer ons skuldig voel, word ons deur ons verlede agtervolg. Dis hoekom ons lees van mense wat vergifnis vra vir ‘n onreg wat hulle dertig jaar gelede gepleeg het. Hulle sê: ‘Ek het al hierdie jare in die hel geleef en moes dit van my gewete afkry.’ Die enigste manier om vrede te hê, is om ‘n skoon gewete te hê en slegs God is in staat om dit vir jou te gee. ‘Wie is ‘n God soos U? U vergewe sonde en straf nie die sonde of die oortredings van hulle wat oorgebly het nie. U is nie vir altyd kwaad nie, maar is liefdevol en getrou’ (Miga 7:18 NLV). Miga sê dat God gretig, gereed en wagtend is om jou lei skoon te vee. Dis sy persoonlikheid. Hy geniet dit om te vergewe. ‘As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:9 NLV).
Sielskos: Matt 5:7; Matt 18:21-35; Ps 103:8-18; Klaag 3:22-24
2024-07-06
Johannes 14:27 NLV
Jesus sê dat sy vrede ‘n geskenk is. Dit beteken dat jy nie daarvoor kan werk nie en jy kan dit nie verdien nie. Nee, dis ‘n geskenk wat jy deur geloof moet aanneem. Jesus sê ook dat sy vrede uniek teenoor dit wat die wêreld gee, is. In die laaste 3,500 jaar was daar net in 286 daarvan nie oorlog in die wêreld nie – dis minder as 9 persent. Hierdie wêreld se vrede hou nie. Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie.’ Hy het hierdie woorde gespreek voor Hy na die kruis gegaan het.
God se vrede word nie deur omstandighede beïnvloed nie. Het jy al ooit iemand hoor sê: ‘Ek moet hier wegkom’? Jy dink as jy weggaan van waar jy is en êrens anders gaan, sal jy vrede hê. Dit werk egter nie, want waar jy ookal gaan, neem jy jouself saam. Was jy al ooit so moeg dat jou liggaam op die bed neergeval het, maar jou gedagtes wou nie afsluit nie?
Jy kan egter wegkom en vrede kry! Hoe? Jesus gee vir ons die oplossing. ‘Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin’ (Johannes 16:33 NLV). Waar kan jy vrede vind? In Jesus! Bestee vandag tyd saam met Hom.
Sielskos: 1 Sam 18:1-20:29; Luk 5:1-11; Ps 102:12-17; Spr 17:7-10
2024-07-05
Romeine 5:1 NLV
God sal vir jou drie soorte vrede gee.
1) Geestelike vrede. ‘As mense wat deur God vrygespreek is omdat ons glo, is daar nou vrede tussen God en ons op grond van wat Jesus Christus ons Here gedoen het.’ Jy moet vrede met God hê voor jy enige ander soort vrede kan hê. Jesus het gesê: ‘Ek laat vir julle vrede na: my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie…’ (Johannes 14:27 NLV). Hoekom nie? Omdat sy vrede deur die hemel gekenmerk word.
2) Vrede in verhoudings. Paulus skryf: ‘Sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense’ (Romeine 12:18 NLV). Vrede in verhoudings verminder konflik. Jy weet uit ervaring dat verhoudings die bron van spanning kan wees. Vir die meerderheid van ons, is ons grootste probleem met mense: om goeie interaksies met ons baas, gesin of familie te hê. Ons moet aanhoudend kompetisie, konflik en kritiek hanteer. Hierdie dinge kan ons vrede steel.
3) Emosionele vrede. ‘Verder, laat die vrede wat Christus bewerk het, in julle lewe skeidsregter wees. As lede van een liggaam is julle tot vrede geroep…’ (Kolossense 3:15 NLV). Wat is ‘n skeidsregter se rol? Hy behou vrede. Hy verseker dat die spel op ‘n gladde en gedissiplineerde manier gespeel word. God sal jou van ‘n interne skeidsregter voorsien wat jou vrede sal gee terwyl alles rondom jou chaoties lyk. Hier is ‘n wonderlike Bybelse belofte: ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is’ (Jesaja 26:3 NLV).
Het jy vandag vrede nodig? Draai na God; jy sal nie teleurgestel word nie.
Sielskos: 1 Sam 16-17; Luk 4:31-44; Ps 102:1-11; Spr 17:4-6
2024-07-04
Romeine 12:2 NLV
Hoe vernuwe ons ons denkpatrone? Een pastoor skryf: ‘Die manier hoe om jou denkpatrone op te gradeer, is om die Skrif af te laai. Dokters van die Nasionale Instituut van Geestelike Gesondheid het ‘n fassinerende studie gedoen deur mense te vra om ‘n eenvoudige motoriese taak – ‘n vinger-tik oefening – uit te voer. Soos die deelnemers hul vingers getik het, het die dokters ‘n MRI gedoen om die deel van die brein wat geaktiveer word, te identifiseer. Die deelnemers het toe die vinger-tik oefening daagliks vir vier weke lank geoefen. Aan die einde van die vier weke is die breinskandering herhaal. In elke geval het dit gewys dat die area van die brein wat by die oefening betrokke was, uitgebrei het. Daardie eenvoudige taak – ‘n vinger-tik oefening – het letterlik nuwe senuweeselle gewerf en senuverbindings herbedraad. Wanneer ons die Skrif lees, werf ons nuwe senuweeselle en herbedraad ons ons senuverbindings. In ‘n sekere sin laai ons ‘n nuwe bedryfstelsel af wat ons gedagtes herkonfigureer. Ons hou op om menslike gedagtes te dink en begin Goddelike gedagtes dink.’
‘Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees’ (Filippense 2:5 NLV). Hoe vervul ons hierdie opdrag? Paulus sê vir ons hoe: ‘Laat die rykdom van alles wat Christus ons leer, julle leefstyl bepaal. Met daardie wysheid moet julle mekaar onderrig en mekaar die regte pad wys. Sing met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God’ (Kolossense 3:16 NLV).
Hetsy deur prediking, onderrig, lees of sang, word ons brein in ooreenstemming met God se Woord herbedraad en ons ontwikkel die gesindheid van Christus. Ons dink sy gedagtes. Gevolglik doen ons sy wil in plaas daarvan om deur ons eie wil gelei te word. Hou dus aan om jou denkpatrone met God se Woord te vernuwe.
Sielskos: 1 Sam 14-15; Luk 4:14-30; Ps 98; Spr 17:1-3
2024-07-03
Efesiërs 6:12 NLV
Voordat Joab met die Arameërs in geveg getree het, het hy vir sy broer gesê: ‘…As die Arameërs vir my te sterk word, kom dan oor en help my. En as die Ammoniete vir jou te sterk word, sal ek jou kom help’ (1 Kronieke 19:12 NLV). Indien een oorweldig sou word, kon die ander een intree en help. Geestelike oorlogvoering werk egter anders. Ons stoei nie ‘…teen mense nie, maar teen bose hemelse regeerders en maghebbers…’
Toe Dawid voor Goliat te staan gekom het, was die reus so seker van homself dat hy aan die hele Israel verklaar het: ‘As julle man daarin slaag om my dood te maak, sal ons julle slawe wees, maar as ek hom doodmaak, sal julle ons slawe wees!’ (1 Samuel 17:9 NLV). Dink aan die langtermyn implikasies hiervan. As Goliat gewen het, sou God se mense lewenslank hul vyand moes dien! Daar was ongelooflik baie vir Israel op die spel – en ook vir jou.
Satan is daarop uit om jou te oorwin en as jy volgens die reëls van die vlees stoei, gaan jy verloor. Net soos professionele stoeiers reëls het waarby hulle moet hou, so is daar geestelike reëls wat ontwerp is om vir jou te werk. Paulus sê: ‘Die wapens van ons stryd is nie mensgemaak nie, maar die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig…’ (2 Korintiërs 10:4 NLV). Die enigste hoop wat jy het om Satan te oorwin, word in gebed, Christelike gemeenskap, God se Woord, die naam van Jesus en die bloed van Jesus, gevind. Hierdie vyf dinge is bo-aan die lys van die kragtige wapens wat aan jou gegee is om die Vyand te oorwin. Gebruik hulle dus vandag!
Sielskos: 1 Sam 11-13; Luk 4:1-13; Ps 95; Spr 16:31-33
2024-07-02
Rut 3:4 NLV
Die wet het vereis dat Rut, as Moabiet, nie veronderstel was om met die Jode te meng nie. ‘Geen Ammoniet of Moabiet of enige van hulle nageslag tot in die tiende generasie mag ingesluit word in die vergadering van die Here nie’ (Deuteronomium 23:3 NLV). Wanneer God egter ‘n plan vir jou lewe het, tree Hy in en sê: ‘…Ek het jou by jou naam geroep. Jy is Myne… Omdat jy vir My kosbaar en belangrik is, omdat Ek jou liefhet, gee Ek mense in jou plek en mense in ruil vir jou lewe’ (Jesaja 43:1, 4 NLV).
Toe Boas vir Rut met vriendelikheid begin oorlaai het, het sy voor hom gebuig en gevra: ‘…Hoekom is u so goed vir my dat u my uitsonder terwyl ek ‘n buitelander is?’ (Rut 2:10 NLV). Let op hoe Boas haar geantwoord het: ‘…Ek het gehoor van al die liefde en goedheid wat jy… aan jou skoonma betoon het…’ (vers 11 NLV).
Naomi het bewus geword van Boas se liefde vir Rut, daarom het sy aan Rut die volgende opdrag gegee: ‘…Vannag sal hy die gars op die dorsvloer uitwaai. Doen nou soos ek jou sê. Gaan bad, gebruik reukolie en trek mooi aan. Gaan dan na die dorsvloer toe, maar pas op dat Boas jou nie sien voor hy klaar geëet en gedrink het nie. Let mooi op waar jy gaan slaap. Gaan dan, en gaan lê by sy voete. Hy sal wel vir jou sê wat om te doen’ (Rut 3:2-4 NLV). Sy het by sy voete begin en aan sy sy opgeëindig.
Moenie God druk of Hom met jou optrede probeer beïndruk nie, bly net by sy voete en Hy sal jou tot by sy sy ophef. ‘Word daarom klein onder die kragtige hand van God; op sý tyd sal Hy julle groot maak’ (1 Petrus 5:6 NLV).
Sielskos: 1 Sam 8-10; Luk 3:21-38; Ps 64; Spr 16:27-30