2024-07-01
Genesis 19:17 NLV
Voor God vir Sodom en Gomorra vernietig het, het Hy engele na Lot en sy familie gestuur om hulle te waarsku om die stad te verlaat: ‘…Vlug vir julle lewe! Moet nêrens in die vlakte stilstaan nie! En moenie omkyk nie! Vlug na die berge, anders sal julle doodgaan… Agter hom het Lot se vrou omgekyk en in ‘n soutpilaar verander’ (verse 17,26 NLV). Deur om te kyk, het Lot se vrou ‘n direkte instruksie van God verontagsaam. Gevolglik het sy gesterf – vasgevang in die verlede. Hier is drie belangrike lesse te leer.
1) ‘Moet nêrens in die vlakte stilstaan nie!’ Ons almal gaan deur hoogtes en laagtes, maar jy moet nie in die laagtes vasgevang raak of daar tent opslaan nie.
2) ‘En moenie omkyk nie!’ Die rede hoekom die windskerm van jou kar groter as die truspieëltjie is, is omdat jy veronderstel is om die meerderheid van die tyd vorentoe te kyk en net af en toe terug te kyk sodat jy veilig vorentoe kan beweeg en jou bestemming kan bereik.
3) ‘Vlug na die berge, anders sal julle doodgaan.’ Wanneer iemand jou seermaak, het jy twee keuses: Om terug te slaan of vorentoe te beweeg. Wanneer jy terugslaan, begin iets geestelik binne jou doodgaan. Wanneer jy egter vorentoe beweeg, word jy sterker, wyser en meer volwasse.
Wanneer jy in die verlede vasgevang word, is dit altyd ten koste van die toekoms. Altyd! God het beter dae en beter dinge vir jou in gedagte. Vergewe dus, vergeet en beweeg vorentoe.
Sielskos: 1 Sam 4-7; Luk 3:11-20; Ps 59:9-17; Spr 16:23-26
2024-06-30
Spreuke 29:18 NLV
‘n Pastoor skryf: ‘Die tweede wet van termodinamika bevat hierdie fisiese waarheid: As dinge aan hul eie lot oorgelaat word, beweeg alles in die heelal na wanorde en verval. Karre roes en kos word sleg. Dit word ook die wet van entropie genoem. Die enigste manier om entropie te voorkom, is om ‘n eksterne energiebron te gebruik om dit teen te werk. Die tegniese term hiervoor is negentropie. Die yskas is ‘n goeie voorbeeld. Jy prop dit in en dit produseer koue lug wat keer dat kos sleg word. As die yskas van sy energiebron ontkoppel word, sal entropie weer oorneem en die kos sal begin sleg ruik. Is dit nie wat gebeur wanneer ons van God ontkoppel word nie? Ons lewens beweeg na verval en wanorde. Hoe kan ons dus ons entropiese neigings oorkom? Salomo sê: ‘Wanneer ‘n volk nie duidelikheid het oor die wil van God nie, word hulle koersloos…’ As sonde entropie is, dan is dit negentropie om ons energie in ‘n Godgegewe visie te belê.’
Miskien spruit baie kerkprobleme nie uit ‘n oorvloed van sonde nie, maar eerder uit ‘n gebrek aan visie uit? Dit beteken nie dat daar nie sondeprobleme is nie, of dat daardie probleme nie hanteer moet word nie. Daar is egter in te veel gevalle nie genoeg visie om kerke besig te hou nie. Ons visie is nie groot genoeg om al ons energie te eis nie, dus fokus ons op klein probleme om ons besig te hou. Dieselfde geld op persoonlike vlak. As ons ‘n groter visie gehad het van dit wat God in ons en deur ons wou bereik, sou ons probleme minder word, omdat dit deur ‘n saak groter as onsself verteer sou word.
Sielskos: Matt 5:6; Jes 55:1-7; Ps 63:1-5; Joh 4:1-34
2024-06-29
Prediker 7:10 NLV
Nog twee redes hoekom ons verandering teenstaan, is die volgende: 1) Omdat dit ongemaklik en vreemd voel. Wanneer laas het jy iets vir die eerste keer probeer? Kan jy dit spesifiek noem? As jy nie kan onthou nie, het jou gemaksone dalk in ‘n groef verander. ‘n Bord op ‘n muur het twee stellings op gehad. Die eerste stelling het ‘n groot X daardeur gehad. Dit het gelees: ‘As dit nie stukkend is nie – moenie dit regmaak nie.’ Die tweede stelling het gelees: ‘As dit nie stukkend is nie – breek dit!’ Soms is die enigste manier om uit jou groef te kom, om daaruit te breek.
2) Omdat ons aan tradisie vasklou. Die Fariseërs kon nie Jesus se waarheid ontvang nie, omdat hulle deur hulle tradisies gebind was. Baie van ons klou steeds aan tradisie vas. Ons neem aan dat indien iets ‘n tradisie (‘n lang gevestigde gedragspatroon) is, moet dit die beter manier wees om dinge te doen. Dit is nie noodwendig so nie, soos die bewerkers van verandering Thomas Edison en Henry Ford gedemonstreer het. Vraag: Hoeveel tradisionaliste neem dit om ‘n gloeilamp om te ruil? Vier: een om dit te ruil en drie om te staan en gesels hoe wonderlik die ou gloeilamp was! As ‘n tradisie jou aan ander mense en jou persoonlike geskiedenis verbind, kan dit ‘n goeie ding wees. As dit nie doen nie, is dit dalk tyd om iets nuuts te probeer.
Die Bybel sê: ‘Die pad van die regverdiges… word al helderder totdat die volle dag aanbreek. Die pad van die goddeloses is soos stikdonker. Hulle weet nie eers waaroor hulle geval het nie’ (Spreuke 4:18-19 NLV). Watter veranderinge moet jy in jou lewe maak?
Sielskos: 1 Sam 1-3; Luk 3:1-10; Ps 59:1-8; Spr 16:20-22
2024-06-28
Prediker 3:1 NLV
Wat gebeur wanneer jy verandering op die verkeerde tyd probeer implementeer? Wat is die regte tyd om dit te doen? Vanuit ‘n leierskapsperspektief, is sekere tye beter as ander om verandering te maak.
Dr John Maxwell, wat die topverkoper The 21 Irrefutable Laws of Leadership geskryf het, sê: ‘Ek het die volgende kontrolelys ontwikkel om my te help om die proses te navigeer: Sal hierdie verandering tot voordeel van die volgelinge wees? Is dit met die doel van die organisasie versoenbaar? Is hierdie verandering spesifiek en duidelik? Is daar ten minste 20 persent van die volgelinge wat ten gunste van die verandering is? Is dit moontlik om die verandering te toets voordat ‘n totale verbintenis daartoe gemaak word? Is daar fisiese, finansiële en menslike hulpbronne beskikbaar om hierdie verandering te maak? Is dit omkeerbaar? Is hierdie verandering die volgende logiese stap? Het dit beide kort- en langtermyn voordele? Is die leierskap in staat om hierdie verandering deur te sien? Dui alles anders daarop dat die tydsberekening reg is? Voor ek ‘n groot verandering implementeer, gaan ek eers deur hierdie kontrolelys en beantwoord die vrae daarop. As te veel vrae ‘n nee as antwoord het, kom ek tot die gevolgtrekking dat die tydsberekening dalk nie reg mag wees nie.’
Tydsberekening is baie belangrik. Die Bybel sê: ‘Daar is ‘n vaste tyd vir alles, elke ding onder die son het sy tyd… Hy het alles mooi gemaak…’ (verse 1, 11 NLV). As jy daaraan dink om ‘n verandering te maak, praat met God en vra Hom: 1) Wat jy moet doen, en 2) Wanneer jy dit moet doen. Tree dan uit in geloof en vertrou Hom om jou te lei!
Sielskos: Hoog 5-8 Luk 2:41-52 Ps 21 Spr 16:16-19
2024-06-27
Hebreërs 11:8 NLV
Wie van ons sal nie daarvan hou om ‘n suksesverhaal soos Abraham s’n te hê nie? Hy het roem en rykdom gehad en is ‘n ‘…vriend van God…’ (Jakobus 2:23 NLV), genoem. Beter kry mens nie! Abraham se verhaal begin egter met hierdie woorde: ‘Omdat hy geglo het, het Abraham… gehoorsaam… weggetrek sonder om te weet waar hy sou beland.’ Hoe op aarde het hy dit gedoen? Deur geloof!
Hoekom staan ons verandering teë? As gevolg van twyfel en vrees! Ons vrees persoonlike verlies. Elke keer wat verandering op die horison verskyn, is die eerste gedagte wat by ons opkom: ‘Hoe gaan dit my affekteer?’ Veronderstel ‘n kollega kom vandag by jou en sê: ‘Ek het nou net gehoor dat die baas daaraan dink om vandag ‘n paar mense af te lê.’ Is jou eerste gedagte: ‘Ek wonder wat in die ekonomie aangaan wat so ‘n besluit veroorsaak het?’ Of is dit: ‘Ek is seker hy voel sleg dat hy dit moet doen!’? Nee, jou eerste gedagte is heel waarskynlik: ‘Loop ek die risiko om my werk te verloor?’ Dis eenvoudig menslike natuur.
Die oomblik wat ons voor verandering te staan kom, kan ons vinnig alleen en hulpeloos begin voel. Waar vind jy in sulke situasies jou krag? In God! Sy belofte is: “…’Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.’ Daarom kan ons moed skep en antwoord: ‘Die Here is my hulp. Daarom sal ek nie bang wees nie. Wat kan nietige mensies my aandoen?'” (Hebreërs 13:5-6 NLV).
Ontspan! Dit wat vir jou onbekend is, is ten volle aan God bekend. Hy is die Een wat nog altyd vir jou sorg en Hy het jou alreeds vooruitgegaan om die pad vir jou voor te berei (sien Deuteronomium 31:8).
Sielskos: Hoog 1-4; Luk 2:34-40; Ps 17; Spr 16:12-15
2024-06-26
Psalm 80:4 NLV
Toe Christopher Columbus na Spanje teruggekeer het, is hy as ‘n nasionale held geloof omdat hy nuwe lande ontdek het. Dink jy egter mense het van mening verander dat die aarde plat is? Glad nie – hulle het aanhou glo dat die aarde plat is. Eers die volgende generasie het begin aanvaar dat die aarde rond is, soos Columbus verklaar het. Dis hoe lank dit vir mense geneem het om van mening te verander – ‘n hele generasie! Ons almal staan verandering teë.
Dr John Maxwell skryf: ‘Vir baie jare het ek gedink dat leiers van verandering hou en ander mense nie. As ‘n visioenêre leier, het ek gevoel asof ek altyd onwillige volgelinge die toekoms intrek. Ek het egter uiteindelik besef dat leiers net so min soos volgelinge van veranderinge hou – tensy dit natuurlik hulle idee is!’ Verandering is vir almal moeilik. Mark Twain het gesê: ‘The only person who likes change is a wet baby.’
Verandering is waarlik een van die grootste struikelblokke waarvoor jy ooit te staan gaan kom. Hoekom? Vereis vordering, asook groei, nie immers verandering nie? Ons kan nie vorentoe beweeg en op dieselfde plek bly nie. Kom ons praat vir die volgende paar dae oor hoekom ons verandering so teenstaan. Dawid het sy eie hardkoppige aard en sy vrees vir verandering besef en op vier verskillende geleenthede gebid: ‘O God, herstel ons tog!…’ Dis ‘n gebed wat God vir jou sal beantwoord, begin dit dus vandag bid.
Sielskos: 2 Kor 11:16-13:14; Luk 2:21-33; Ps 8; Spr 16:8-11