2024-08-11
Numeri 11:14 DB
Moses het na die volk se klagtes en stories van frustrasie en smart geluister totdat hy uiteindelik op ‘n plek gekom het waar hy vir God gesê het: ‘Ek sien regtig nie kans om vir hierdie hele volk verantwoordelikheid te neem nie. Dit is net te veel gevra van een mens.’ God het met hom saamgestem. Hy het vir Moses gesê om sewentig ouer leiers te kies, ‘…Hulle sal dan saam met jou verantwoordelik wees vir die volk…’ (vers 17 NLV).
Soos Moses, mag jy ook sê: ‘Ek het my limiet bereik.’ Ja, die Skrif sê: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (Filippense 4:13 NLV). Dit verwys egter na tye wat ons voor verskeie toetse en situasies te staan kom waardeur God ons sal help. Dit beteken nie dat ons soveel verantwoordelikhede op onsself moet neem dat ons uitbrand nie. Soms is alles net te veel en jy mag dit erken.
Dis ook goed om vir sommige dinge nee te sê, sodat jy die lewe wat God vir jou bedoel het, kan geniet. Jy hoef nie soos iemand anders te wees of met hulle te probeer tred hou nie. Die opdrag wat God vir jou gee is nooit groter as die genade wat Hy voorsien nie.
Ons gawes en kapasiteit om dinge te hanteer verskil van mekaar. Ons moet verantwoordelikheid neem vir alles waarvoor God ons geskep het om te wees en alles wat Hy ons geroep het om te doen. Ons is egter nie geroep om onsself siek te maak met stres en druk nie. As jy dus jou limiet bereik het, gaan na God. Hy sal jou help om ‘n gesonder leefstyl te vind.
Sielskos: Eks 16:1-18; Joh 6:1-15; Joh 6:25-40; 1 Kor 11:23-24
2024-08-10
Habakuk 2:2 NLV
God het ‘n plan vir jou lewe. In die Skrif word daar soms daarna verwys as ‘n ‘visioen.’ Dit werk soos ‘n kompas wat jou altyd in die regte rigting wys en ‘n anker wat jou standvastig in die lewe se storms hou. Hoekom het God gesê: ‘…Skryf… die visioen, in groot duidelike letters…’? Omdat ons soms ons visie diep in ons hart begrawe om onsself teen ander mense se kritiek te beskerm.Vrees veroorsaak dat ons ons visie buite sig hou sodat ons nie daaraan hoef te dink nie. Soms gee ons ons visie op, omdat dit te seer maak en te veel kos om daaraan vas te hou. Wat moet jy dus doen?
Eerstens moet jy ‘n visie hê wat duidelik en oortuigend is. Tweedens moet jy jou visie te alle tye voor jou hou. Nadat Josef pynlike verwerping deur sy familie en valse beskuldigings deur sy baas se vrou ervaar het, wat tot dertien jaar van onregmatige gevangenisstraf gelei het, sê die Bybel: ‘Dit het hom dadelik laat dink aan die drome van jare gelede…’ (Genesis 42:9 NLV). Derdens moet jy onthou dat God ‘n tyd geskeduleer het vir jou visie om vervul te word: ‘…Stadig maar seker breek die tyd aan wanneer die visioen waar sal word. Wag geduldig, al voel dit of dit stadig gaan. Wees seker dit gaan gebeur…’ (Habakuk 2:3 NLV).
Paulus skryf: ‘…Ek het regtig geleer om onder alle omstandighede reg te kom’ (Filippense 4:11 NLV). Paulus het homself nooit toegelaat om ontsteld te wees oor waar hy op die oomblik was nie; hy het geweet dat God te alle tye by hom was en hy het altyd uitgesien na waarheen God hom sou neem. Geniet dus hierdie dag, met die wete dat God jou toekoms beplan het.
Sielskos: 1 Kro 7:20-9:44; Luk 12:13-21; Ps 119:17-24; Spr 20:22-24
2024-08-09
Lukas 2:44 NLV
Die Bybel sê: ‘Elke jaar het Jesus se ouers Jerusalem toe gegaan vir die Paasfees. Toe Jesus twaalf jaar oud was, het hulle soos gewoonlik die fees bygewoon. Ná die feesviering het hulle na Nasaret vertrek, maar Jesus het agtergebly. Sy ouers het Hom nie eers vermis nie omdat hulle gedink het Hy was by ander vriende in die reisgeselskap. Maar toe Hy die aand nog nie sy opwagting gemaak het nie, het hulle by familie en vriende na Hom begin soek. Toe hulle Hom nie kon kry nie, is hulle terug na Jerusalem om daar na Hom te soek. Drie dae later het hulle Hom uiteindelik gekry. Hy het in die tempel tussen die leermeesters gesit en diepgaande vraagstukke met hulle bespreek. Almal wat na Hom geluister het, was verbaas oor sy insig en antwoorde’ (verse 41-47 NLV).
Sy ouers het ‘n hele dag ver gereis voor hulle agtergekom het Hy was nie by hulle nie! Toe het dit hulle nog drie dae geneem om Hom te vind! Hier is ‘n les hieruit te leer. Dis makliker om daardie spesiale aanvoeling van God se teenwoordigheid te verloor, as om dit terug te kry wanneer jy dit verloor het. Dis maklik om af te dwaal en jou eie ding te doen, onbewus daarvan dat jy nie die Here in jou dag ingesluit het of die tyd geneem het om Hom oor jou planne te raadpleeg nie.
Die manier om ‘n aanvoeling vir God se teenwoordigheid te handhaaf, is om Hom doelbewus by alles wat jy doen te betrek. Jesus het beloof: ‘…As iemand My liefhet, sal hy my boodskap gehoorsaam uitvoer; en my Vader sal hom ook liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom tuisgaan’ (Johannes 14:23 NLV).
Sielskos: 1 Kro 6:1-7:19; Luk 12:1-12; Ps 119:9-16; Spr 20:19-21
2024-08-08
Psalm 18:7 NLV
Het jy ‘n reeks nederlae en terugslae gehad? Is jy moedeloos omdat die aanvalle lank en vermoeiend was? Lees dan hierdie woorde van die Psalmdigter Dawid en staan daarop: ‘Ek het U baie lief Here; U is my sterkte… In my angs het ek tot die Here geroep, tot my God geroep om hulp. In sy heiligdom het Hy geluister; my hulpgeroep het Hy gehoor… Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, uit die diepwaters het Hy my getrek… Hulle het aangeval toe ek swak was, maar die Here hou my staande. Hy lei my na veiligheid en red my omdat Hy my liefhet. Die Here beloon my opregtheid… God se pad is volmaak. Die Here se woorde is betroubaar. Hy beskerm dié wat by Hom skuil. Want wie anders as die Here is God? Wie anders as God is ‘n rots? God rus my toe met krag. Hy maak my pad veilig’ (verse 2, 7,17, 19-21, 31-33 NLV).
Jy het dit al vantevore gehoor en jy weet wat om te doen – bestee meer tyd in gebed met God en lees sy Woord! In plaas daarvan om jou eie krag te probeer gebruik, skakel by God in en laat sy krag deur jou vloei. Kyk wie op die troon van jou lewe is. As dit enigiemand anders as God is, insluitend jouself, is dit ‘n afgod wat onttroon moet word. Hoe lank sal hierdie stryd neem? God weet en Hy sal sorg dat hierdie aanval nie groter as die genade wat Hy voorsien, is nie. Hy sê vandag vir jou: ‘…My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking…’ (2 Korintiërs 12:9 NLV).
Sielskos: 1 Kro 4:24-5:26; Luk 11:45-54; Ps 119:1-8; Spr 20:15-18
2024-08-07
Efesiërs 1:19 NLV
Soos ‘n trotse ouer, hou ons hemelse Vader daarvan wanneer ons onmoontlike dinge deur sy krag en tot sy eer doen. Wanneer jy in totale afhanklikheid van sy krag leef, sal jy dinge doen wat andersins nie gedoen kan word nie. Wanneer jy daaroor dink, vanuit onsself, is ons nie in staat om God lief te hê nie. Ons kan nie liefde vir Hom versin nie. Ons kan net op sy liefde vir ons reageer. Hierdie wete maak ons vry.
Godsdiens fokus daarop om dinge vir God te doen. Ware Christenskap is egter om dit wat Christus vir ons aan die kruis gedoen het, te ontvang. Wat ons vir God doen, is ‘n weerkaatsing en ‘n reaksie op dit wat Hy vir ons gedoen het. Ons almal hou van wonderwerke; ons hou net nie daarvan om in ‘n situasie te wees waarin ons een nodig het nie.
As jy met sy Gees gevul wil word, tree in ‘n situasie wat sy krag benodig. Streef ‘n Godgegewe droom wat jy nie in jou eie krag en wysheid kan vervul nie, na. Dis hoekom Paulus skryf: ‘Mag God julle harte so verlig dat julle sal insien watter wonderlike vooruitsig sy roeping inhou… Mag julle insien hoe enorm groot die krag is wat God gebruik in ons wat glo. Dieselfde magtige sterkte was ook aan die werk toe God Christus uit die dood opgewek het en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het’ (verse 18-20 NLV). Vandag wil God hê dat jy sy enorme groot krag in jou lewe moet ervaar.
Sielskos: 1 Kro 3:1-4:23; Luk 11:29-44; Ps 78:65-72; Spr 20:11-14
2024-08-06
Markus 16:17-18 NLV
Daar is ‘n deel van die Groot Opdrag wat Jesus ons gegee het wat dikwels oor die hoof gesien word. Jesus het ons opdrag gegee: ‘…Hulle sal… in my Naam… siekes die hande oplê, en hulle sal gesond word.’ Navorsing het onthul dat aanraking die krag het om virusse te beveg, stres te verminder, slaap te verbeter en ons te help om vinniger van beserings te herstel. Een studie het bevind dat ‘n halfuur-lange massering drie keer ‘n week stres met 34 persent verlaag.
Die krag van aanraking op menslike vlak is verstommend. Wanneer jy die krag van God daarby voeg, maak dit ‘n deur na iets wonderbaarliks oop. ‘Dit het so gekom dat Publius se pa in die bed was, siek aan maagkoors. Paulus het na hom toe gegaan, en nadat hy gebid het, het hy sy hande op hom gesit en hom gesond gemaak’ (Handelinge 28:8 NLV). Om siekes of mense wat tot die bediening geroep is die hande op te lê, was ‘n algemene praktyk in die Nuwe Testamentiese kerk.
Jy hoef ook nie ‘n predikant te wees om dit te doen nie. Jesus het gesê: ‘Hierdie is die wondertekens wat dié sal beleef wat glo…’ (Markus 16:17 NLV). As jy ‘n gelowige is wat jou vertroue in Christus geplaas het, is jy gekwalifiseerd. Kan God dit sonder ons doen? Natuurlik. Hy het egter vir ons die voorreg gegee om herleiers van sy krag te wees. Wie weet hoeveel wonderbaarlike oomblikke ons opgeoffer het, omdat ons nie op ‘n vrymoedige Bybelse manier opgetree het deur vir iemand wat siek is te bid, iemand wat geroep is opdrag te gee of iemand aan te moedig wat bloot ‘n hand op hul skouer nodig gehad het nie?
Sielskos: 1 Kro 1-2; Luk 11:14-28; Ps 78:56-64; Spr 20:7-10