Dis ‘n nuwe dag vir jou

2024-08-24
Jesaja 43:19 NLV

Moenie toelaat dat die pyn van jou verlede jou visie vertroebel en die seën wat God vir jou in die toekoms het, steel nie. God sê: ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het. Dis niks in vergelyking met wat Ek nog gaan doen nie. Ek gaan iets nuuts doen…’ (verse 18-19 NLV). As jy al ooit deur ou verhoudings seergemaak is, het God nuwes wat vir jou wag. ‘Die Here het weer met Samuel gepraat: ‘Jy het nou lank genoeg oor Saul getreur vandat Ek besluit het dat hy nie langer koning van Israel moet wees nie. Maak ‘n horing vol olie en gaan na Betlehem toe. Daar moet jy ‘n man met die naam Isai soek. Ek het besluit dat een van sy seuns die nuwe koning sal wees’ (1 Samuel 16:1 NLV).

Dis gesond om oor jou verliese te rou. Wanneer jy egter in die verlede vasgevang is, is dit altyd ten koste van die toekoms. Daar kom ‘n tyd wat jy moet ophou praat oor dit wat nie verander kan word nie. God se oplossing vir pyn is doelgerigtheid. God se oplossing vir ou wonde is ‘n verbintenis om in liefde te wandel.

C.M. Parkes het gesê: ‘Om te rou is die prys wat ons vir liefde betaal.’Diegene vir wie ons die liefste is, kan ons die seerste maak. ‘Daarop kom vra Petrus Hom: ‘Here, hoeveel maal moet ek ‘n medegelowige vergewe wat iets verkeerds teen my gedoen het? Selfs tot sewe maal toe?’ ‘Nee,’ verseker Jesus hom, ‘…tot sewentig maal sewe toe!’ (Matteus 18:21-22 NLV). Om jou vrede en vreugde terug te kry, moet jy vergewe en aanhou vergewe totdat die verlede sy houvas op jou verloor. Wanneer dit gebeur, is dit ‘n nuwe dag vir jou!

Sielskos: 2 Kro 19-21; Luk 16:19-31; Ps 119:113-120; Spr 22:1-3

Kan die Here jou roep?

2024-08-23
Handelinge 9:10 NLV

Hoekom het God vir Ananias gebruik om Saulus van Tarsus na Christus toe te lei? Omdat hy die regte man, op die regte tyd, met die regte boodskap en die regte houding was. “Daar was ‘n gelowige in Damaskus met die naam Ananias. Die Here het hom in ‘n gesig geroep: ‘Ananias!’ ‘Ja, Here!’ het hy geantwoord. Daarop sê die Here vir hom: ‘Gaan nóú Reguitstraat toe, na Judas se huis. Vra daar na Saulus van Tarsus. Hy is besig om tot My te bid… Ananias het toe vertrek en in daardie huis ingegaan. Hy het sy hande op Saulus gesit en gesê: ‘Broer Saulus…'” (verse 10-11, 17 NLV).

Hier is dus die vraag: As God jou nodig het om iets vir Hom te doen, sal jy gereed wees? Sal jy gewillig wees? Dit was nie ‘n maklike opdrag nie, want Saulus was berug daarvoor om Christene gevange te neem en hulle tereg te stel. Toe God egter vir Ananias gesê het: ‘…Gaan doen wat Ek sê, want Ek het Saulus as my instrument uitgesoek om my boodskap uit te dra na volke en konings, en ook aan die volk Israel’ (vers 15 NLV), het hy God vertrou en gegaan.

Ananias het alle reg gehad om Saulus te vrees en selfs om hom kwalik te neem. Tog het hy hom ‘broer’ genoem. Ananias het ‘n ou vyand as deel van God se verloste familie erken. Jy moet ook leer om dit te doen. Wanneer God iemand sy kind noem, moet jy hulle liefhê, aanvaar en hulle as jou broer of suster in Christus behandel. Kom ons kom dus terug by die vraag: As God jou vandag nodig het om iets vir Hom te doen, sal jy gereed wees? Jy kan wees. Jy moet wees.

Sielskos: 2 Kro 16-18; Luk 16:1-18; Ps 119:105-112; Spr 21:28-31

Wees bewus van Satan se planne

2024-08-22
2 Korintiërs 2:11 NLV

Om in geestelike oorwinning te leef beteken dat jy Satan se planne moet verstaan. Wanneer jy sleg voel, wanneer jy alleen is, wanneer jy moeg is en wanneer jy verlies ervaar het, is wanneer jy veral weerloos daarteen is. Daar is nie iets soos ‘n regverdige spel met die duiwel nie. As jy hom ‘n duim gee, sal hy ‘n myl neem. As jy hom ‘n toegangspunt in jou lewe gee, sal hy dit teen jou gebruik. Let die twee geleenthede op waar Satan vir Jesus aangeval het.

Eerstens, by sy geboorte. Herodus het beveel dat alle Joodse seuntjies onder die ouderdom van twee doodgemaak moet word. Dis hoekom jy as nuwe gelowige daagliks gewoontes van gebed, Bybelstudie en gemeenskap met die wat jou op jou pad met God kan versterk, moet ontwikkel.

Tweedens, op die drumpel van sy bediening. Vir veertig dae het Jesus in die woestyn vir Satan teengestaan. Hoekom het die stryd so lank aangehou? Omdat dit oor Jesus se toekoms gegaan het. ‘Toe die duiwel Jesus klaar versoek het, het hy Hom verlaat tot die volgende geleentheid. Hierna het Jesus, gevul met die krag van die Heilige Gees, na Galilea teruggegaan. Hy het deur die hele omgewing bekend geword’ (Lukas 4:13-14 NLV).

‘n Aanval is ‘n teken van respek; dit beteken dat Satan jou potensiaal raakgesien het. Die vlak van sy aanval is ‘n teken van die vlak van seën wat God vir jou aan die ander kant in die vooruitsig het. In plaas daarvan om dus moedeloos oor die stryd te wees, sien dit as ‘n teken van God dat jou beste dae voor jou lê.

Sielskos: 2 Kro 12-15; Luk 15:11-32; Ps 119:97-104; Spr 21:24-27

Wanneer jy ‘n mentor kies (2)

2024-08-21
Spreuke 4:7 NLV

‘n Pastoor deel die volgende: ‘Die proses om met die hulp van ‘n mentor te groei, volg gewoonlik hierdie patroon: Dit begin met bewustheid. Jy besef dat jy hulp nodig het en om op jouself staat te maak nie ‘n lewensvatbare opsie vir effektiewe persoonlike groei is nie. Wanneer iemand tot so ‘n besef kom, kan een van twee dinge gebeur. Eerstens weerhou die persoon se trots hom daarvan om iemand anders vir raad te vra. Die tweede reaksie is om jouself te verootmoedig en te sê: ‘Ek het jou hulp nodig.’

Hierdie reaksie lei nie net tot groter kennis nie, maar dit ontwikkel ook dikwels volwassenheid in jou. Dit versterk ook die wete dat mense mekaar nodig het – nie net wanneer jy jonk is en jou loopbaan begin nie, maar dwarsdeur jou lewe. Die mentors wie se raad jy volg, help om jou te vorm. As jy tyd met mense wat jou aftrek, verkleineer en onderwaardeer bestee, sal elke stap wat jy vorentoe probeer neem, moeilik wees. As jy egter wyse leiers, goeie rolmodelle en positiewe vriende vind, sal jy agterkom dat hulle jou reis versnel.

Maak nie saak wie jy is, wat jy al bereik het of hoe laag of hoe hoog die lewe jou al geneem het nie, jy kan daarby baat om ‘n mentor te hê. As jy nog nooit een gehad het nie, het jy geen idee hoe dit jou lewe kan verbeter nie. As jy al voorheen mentors gehad het, weet jy dit – en moet jy hierdie kennis begin oordra deur ‘n mentor vir ander te wees. Jy weet dat dit moeilik is om te verbeter wanneer jy net op jouself aangewese is.’ Bekom dus wysheid en deel dit met diegene wat dit nodig het.

Sielskos: 2 Kro 8-11; Luk 15:1-10; Ps 119:89-96; Spr 21:20-23

Wanneer jy ‘n mentor kies (1)

2024-08-20
Spreuke 9:9 NLV

Hoe verder jy jou potensiaal nastreef, hoe meer nuwe grond sal jy moet breek. Dis waar jy baat by ander mense se ervarings kan vind. Soos ‘n Chinese gesegde sê: ‘Om die pad vorentoe te ken, vra diegene op pad terug.’ Wanneer jy ‘n mentor kies, moet jy vir twee dinge oplet:

1) Iemand wat wysheid het. Die begrip, ervaring en wysheid van mentors help ons om probleme wat ons moeilik op ons eie sal hanteer, op te los. Wyse mense gebruik dikwels net ‘n paar woorde om ons te leer en te ontwikkel. Hulle maak ons oë vir wêrelde wat ons andersins nie sou sien nie, oop. Hulle help ons om moeilike situasies te navigeer. Hulle help ons om geleenthede raak te sien wat ons andersins sou miskyk. Hulle maak ons wyser as ons jare en ervaring.

2) Iemand wat vriendskap en ondersteuning bied. Jesus het vir diegene wat Hy gementor het gesê: ‘…Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie’ (Hebreërs 13:5 NLV). Die eerste ding wat volgelinge by ‘n mentor wil weet is: ‘Gee jy vir my om?’ Die rede vir hierdie vraag is voor die hand liggend. Wie wil deur ‘n persoon gelei word wat nie in hulle geïnteresseerd is nie? Selfsugtige mense sal jou net sover dit hulle eie agenda bevorder, help. Goeie mentors gee vriendskap en ondersteuning en werk onselfsugtig om jou te help om jou potensiaal te bereik. Kennis sonder ondersteuning is steriel. Raad sonder vriendskap voel koud. Eerlikheid sonder omgee is hard. Wanneer jy egter deur ‘n persoon wat vir jou omgee gehelp word, is dit emosioneel vervullend. Ontwikkeling kom uit beide die kop en die hart. Net mense wat omgee is bly om beide met jou te deel.

Sielskos: 2 Kro 5-7; Luk 14:25-35; Ps 119:81-88; Spr 21:17-19

Lewe in die lig (3)

2024-08-19
Matteus 5:14 NLV

Jesus het gesê: ‘Julle is die lig wat die wêreld moet verlig… Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ‘n helder lig sal uitstraal. Dan sal die mense dit sien, en julle hemelse Vader daarvoor prys!’ (verse 14, 16 NLV). Die pastoor gaan voort om te verduidelik: ‘As jy ‘n volgeling van Christus is, moet jy ook ‘n lig in die donkerte wees. Jou werk is om Jesus in en deur jou te laat skyn sodat diegene wat in die donker lewe, ook die lig sal vind.

Lig is net nuttig wanneer dit donkerte teëkom. Die plek om jou lig te laat skyn, te wys en te deel is nie binne die kerk nie, maar buite die kerk. Jesus sê vir ons om te doen wat Hy gedoen het: gaan soek donker plekke en begin skyn. Jy hoef nie mense te vra om na jou te kyk wanneer jy ‘n lig in ‘n donker kamer aanskakel nie. Hulle koppe sal instinktief na jou toe draai.

1) Jy beoefen sport en jy begin vir en saam met jou spanlede speel. Jy is ‘n lig in die donkerte.
2) Jy lewe in ‘n buurt vol ongelowiges en begin dade van diens in die Naam van Jesus vir ander mense verrig. Jy is ‘n lig in die donkerte.
3) Jy is die opvallende Christen in jou kantoor, wat deug in ‘n atmosfeer van selfsug openbaar.

Jy is ‘n lig in die donkerte. Jesus het ons geroep om mense in donker plekke te vind’. Dit blyk dat dit net so maklik is om van die donkerte te ontsnap as wat dit is om ‘n lig aan te skakel.’ Onthou jy die kinderliedjie: ‘This little light of mine, I’m going to let it shine’? Dis wat God jou geroep het om te doen.

Sielskos: 2 Kro 1-4; Luk 14:15-24; Ps 119:73-80; Spr 21:14-16