Lewe in die lig (2)

2024-08-18
Johannes 12:36 NLV

Die pastoor gaan voort: ‘Lig is een van die dinge wat ons dikwels as vanselfsprekend aanvaar. Ons kan egter nie daarsonder lewe nie. Plante is noodsaaklik vir die mensdom se oorlewing. Die hele menslike spesie en alle dierelewe is van plante vir oorlewing afhanklik. Plante verskaf al die nodige aminosure en meeste van die vitamienes wat vir gesondheid benodig word, deur ‘n ligproses wat fotosintese genoem word. Plante produseer ook die suurstof wat ons nodig het om asem te haal. Plante het egter lig nodig om te lewe.

Wat waar is in die fisiese wêreld, is waar in die geestelike wêreld. Fisiese lewe is onmoontlik sonder fisiese lig en geestelike lewe is onmoontlik sonder geestelike lig. Hoe verdryf mens die donkerte? Sal jy op ‘n rusbank sit en jammer vir jouself voel? Sal jy ‘n besem vat en die donkerte probeer wegvee? Sal jy probeer om die donkerte uit te skop of te stofsuig? Daar is net een oplossing vir so ‘n dilemma; skakel die lig aan.’

Dis wat jy doen wanneer jy jou lewe aan Christus toewy. Dis wat jy doen wanneer jy sy opdragte gehoorsaam en sy instruksies volg. Dis wat jy doen wanneer jy tyd alleen met Hom in gebed bestee. Dis wat jy doen wanneer jy na Hom in die donker tye van jou lewe draai. Dis wanneer jy ontdek dat sy belofte waar is: ‘…Ek is die lig vir die mensdom. Wie My aanhou volg, sal nooit in die duisternis leef nie, maar sal die lig hê wat lewe gee’ (Johannes 8:12 NLV). Nie net dit nie, maar jy sal daardie lig op ander mense begin weerkaats: ‘…julle [moet] aanhou glo in die lig sodat julle kinders van die lig kan wees…’

Sielskos: Joh 4:4-26; Joh 7:37-41; Exo 17:1-7; Jes 35:1-7

Lewe in die lig (1)

2024-08-17
Johannes 8:12 NLV

‘n Pastoor skryf: ‘Het jy al ooit die woord akloofobie gehoor? Dis die vrees vir donker. Om in volkome donkerte te wees is senutergend. Dit veroorsaak ‘n gevoel van hulpeloosheid. Tog is fisiese donkerte niks in vergelyking met emosionele, verhoudings of geestelike donker nie.’

Jy mag dalk vandag voel of jy op ‘n donker plek met geen uitweg is: ‘My meisie het my vir ‘n ander man gelos.’ Of: ‘Ek is op pad na die skeihof toe. My man het my verneuk.’ Of: ‘Ek is depressief en huil vir geen rede nie. Wanneer gaan hierdie blou dae verby wees?’ Of: ‘Ek stry teen ‘n vreeslike siekte en is basies ‘n kluisenaar. Ek is op ‘n donker plek en het hulp nodig.’ As dit jou verhaal is, is daar hulp en is daar hoop. Jesus het gesê: ‘…Ek is die lig vir die mensdom. Wie My aanhou volg, sal nooit in die duisternis leef nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.’

As jy gewillig is om vandag na Hom toe te draai, sal jy ontdek dat Hy jou pad kan verlig en jou die pad uit die donkerte waarin jy jou bevind, kan wys. Wanneer jy die lig aanskakel, moet donkerte wyk. Jesus is die lig wat ons geestelike en emosionele donkerte verwyder. Let op dat Jesus nie gesê het Hy is ‘n lig nie, maar dat Hy die lig is. Hy het nie gesê dat Hy net vir sommige mense die lig is nie, maar dat Hy die lig vir die mensdom is. Of jy nou in Londen, Los Angeles, Tokio, Toronto of Timboektoe bly, Jesus is jou antwoord. As jy in die donker lewe, nooi Hy jou uit om na Hom toe te kom en in die lig in te stap.

Sielskos: 1 Kro 26:20-29:30; Luk 14:1-14; Ps 119:65-72; Spr 21:10-13

Die seëninge van die stryd

2024-08-16
1 Timoteus 6:12 NLV

Wanneer jy jou lewe aan Christus toevertrou, verander jou lojaliteite. Nou moet jy teen drie dinge opstaan. Die wêreld met sy druk, waardes en agenda. Die vlees, met sy impulse en swakhede. Die duiwel, wat daarop uit is om jou te oorwin. God sal egter nooit toelaat dat ons ‘n geveg betree wat ons nie kan wen nie, kom ons kyk dus na die drie seëninge van die stryd.

1) Dit leer jou om altyd gereed te wees. Dit was toe Simson geslaap het wat Delila sy hare gesny en hom van sy krag beroof het. Dit was toe die slawe geslaap het wat die vyand onkruid tussen hulle koring gesaai en hul oes bedreig het.

2) Dis ‘n teken van geestelike vooruitgang. Toe Israel die Beloofde Land binnegegaan het, moes hulle een-en-dertig konings, sewe nasies en selfs reuse verower! Hulle moes dit een stad en een reus op ‘n slag doen. Wanneer Jesus die Here van jou lewe word, sal Hy die areas waarin jy nog nie volkome oorgegee het nie aanspreek en hulle een op ‘n slag hanteer. Die stryd sal moeiliker wees en langer aanhou wanneer dit by jou hardkoppige areas kom. Jy weet watter areas dit is, nè? Skep moed. God sal nie op jou opgee nie: ‘…God [sal] die goeie werk wat Hy in julle begin het… voortsit totdat Hy dit voltooi…’ (Filippense 1:6 NLV).

3) Dis ‘n aanduiding van jou waarde vir God. Jy is ‘n saadjie wat in staat is om ‘n oes vir God te produseer. Dis hoekom Satan jou teiken. Hy is agter die deposito van God wat binne-in jou is, aan. Hou dus aan om die goeie stryd van geloof te veg, met die wete dat jy deur God se genade sal wen.

Sielskos: 1 Kro 23:21-26:19; Luk 13:18-35; Ps 119:57-64; Spr 21:7-9

God sal ingryp

2024-08-15
2 Kronieke 20:12 NLV

Die helde in die Skrif het dikwels voor onmoontlike en oorweldigende situasies te staan gekom. Dink aan Moses wat opgestaan het teen farao en Dawid wat teen Goliat opgestaan het. Dink aan koning Josafat wat voor die oorweldigende mag van drie gekombineerde leërs, wat vasbeslote was om sy nasie te vernietig, te staan gekom het. Hy het vir God gesê: ‘…Ons is magteloos teen hierdie groot leër wat op die punt is om ons aan te val. Ons weet nie wat om te doen nie, maar ons kyk op na U vir hulp’ (vers 12 NLKV).

Let op hoe God hom geantwoord het: ‘…Moenie bang wees nie! Moenie moedeloos wees oor hierdie magtige leër nie, want die oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n… Dit sal nie vir julle nodig wees om te veg nie. Neem julle posisies in, en staan dan en kyk na die oorwinning van die Here. Hy is met julle… Moenie bang of moedeloos wees nie. Gaan môre soontoe, want die Here is met julle!’ (verse 15-17 NLV).

God sal jou nooit ‘n werk gee om te doen wat nie sy krag, sy wysheid, sy hulpbronne en soms sy wonderbaarlike ingryping verg nie. Wie het die dissipels beveel om in die boot te klim en na die ander kant van Galilea te vaar? Jesus. Wat het gebeur? Gehoorsaamheid aan Hom het beteken dat hulle deur een van die ergste storms van hulle lewens moes gaan. Soos hulle egter toegekyk het hoe Hy die storm stilmaak, het hulle geloof tot ‘n nuwe vlak beweeg en hulle voorberei om groter dinge vir God in die toekoms te doen.

Die woord vir jou vandag is dus: 1) posisioneer jouself, 2) staan stil en kyk na die oorwinning van die Here, en 3) ‘Moenie bang of moedeloos wees nie… want die Here is met julle!’

Sielskos: 1 Kro 19:1-23:20; Luk 13:1-17; Ps 119:49-56; Spr 21:4-6

Waarheen gaan jou gebede?

2024-08-14
Handelinge 10:4 AFR53

Het jy al ooit gewonder waarheen jou gebede gaan? Die antwoord is ‘voor God in gedagtenis.’ Let op dat hulle ‘voor’ Hom is. Hulle is in sy hande en in sy gedagtes. Toe Kornelius gebid het, het God nie net sy omstandighede verander nie, Hy het die geskiedenis verander; vir die eerste keer kon nie-Jode die evangelie hoor en deel van God se koninkryk word. Hoe lank het Kornelius gebid? Ons weet nie, maar die Bybel sê: ‘Hy het toegewy aan die God van Israel geleef en het ontsag vir Hom gehad… Hy het baie bydraes vir die armes… gegee en hy het deurentyd tot God gebid’ (Handelinge 10:2 NLV).

Gebed was nie ‘n noodlyn wat Kornelius gebruik het wanneer hy in die moeilikheid beland het of ‘n probleem gehad het wat hy nie kon oplos nie. Nee, ‘hy het deurentyd tot God gebid.’ Hy het ‘n leefstyl van gebed gehad. Die woord ‘gedagtenis’ beteken dat God onthou waaroor jy bid. Gebed is soos om geld in jou bankrekening te deponeer. Jy mag dit dalk nie vandag of môre onttrek nie, maar dit sal daar wees wanneer jy dit nodig het.

Moenie in godsdienstige rituele vasgevang word nie. Jy kan enige plek, enige tyd, oor enigiets bid en God sal jou antwoord. ‘Saans, soggens en smiddae pleit ek en kla ek, en Hy hoor my stem’ (Psalm 55:18 NLV). Wanneer jy op die snelweg uit petrol raak, kan jy nie die kar blameer nie. Jy het met ander dinge besig geraak en dit wat belangrik is, afgeskeep. Gebed maak jou van God bewus, dit hou jou aan God geskakel en posisioneer jou om dit wat jy nodig het van Hom te ontvang. Hou dus aan bid, want jou gebede kom voor God ‘in gedagtenis’ op.

Sielskos: 1 Kro 16-18; Luk 12:49-59; Ps 119:41-48; Spr 21:1-3

Die bestanddele van ‘n wonderwerk

2024-08-13
Johannes 2:1 NLV

Kom ons kyk na die verhaal waar Jesus water in wyn verander het. Dit was sy eerste wonderwerk en dit wys hoe Hy in ons lewens werk.

1) Nooi Jesus uit. ‘Op die derde dag het daar ‘n bruilof in Kana… plaasgevind… [Jesus] en sy dissipels was ook na die bruilof toe genooi’ (verse 1-2 NLV). Toe die probleem ontstaan het, hoef die paartjie nie na Jesus te gaan soek het nie, want Hy was reeds daar. Nie net het hulle Hom geken nie, hulle het Hom ook in hulle planne ingesluit. Die versugting van Paulus se hart was om ‘…Christus persoonlik [te] ken…’ (Filippense 3:10 NVL). Hoekom? Omdat wanneer jy die Here ken, jy met vertroue op Hom kan steun en seker kan wees dat Hy langs jou sal wees wanneer jy Hom nodig het. Hierdie paartjie het waarskynlik ‘n lang tyd gehad om vir die geleentheid te beplan, tog het Jesus hulle nie oor slegte beplanning gekritiseer nie. Hy het tot hulle hulp gekom en hulle behoefte vervul. Hy sal dieselfde vir jou doen; al wat jy moet doen is om Hom uit te nooi.

2) Doen wat Hy vir jou sê, selfs al verstaan jy dit nie. Geloof verg nie verduidelikings nie. Dit vereis eenvoudige gehoorsaamheid en om op die goedheid van God te vertrou. ‘Wees bly in die Here, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee. Vertrou jou lewe toe aan die Here. Vertrou Hom, en Hy sal vir jou sorg’ (Psalm 37:4-5 NLV).

3) Begryp dat God die beste vir laaste kan hou. ‘…jy het egter die goeie wyn tot nou toe teruggehou’ (Johannes 2:10 NLV). Dis nie te laat nie. Wat vir jou soos ‘n tragedie lyk, kan ‘n getuienis van God se goedheid en getrouheid in jou lewe word.

Sielskos: 1 Kro 12:23-15:29; Luk 12:35-48; Ps 119:33-40; Spr 20:28-30