Neem beheer van jou gedagtes

2024-10-01
2 Korintiërs 10:5 NLV

Jou gedagtes is ‘n slagveld waar oorwinning of nederlaag bepaal word. Dis hoekom Paulus skryf: ‘…Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.’ Jy het ‘n keuse: Óf jy lei jou gedagtes, óf jou gedagtes lei jou. Jy neem óf jou gedagtes gevange, óf jou gedagtes neem jou gevange

Waar kom gedagtes vandaan? Van oral rondom jou af. As jy elke dag kwaliteittyd in gebed en deur die Skrif met God bestee, sal jou gedagtes deur God gerig word. Indien nie, sal jou gedagtes deur die wêreld rondom jou gerig word. Jy hoef nie elke gedagte wat in jou kop opkom te aanvaar nie. Jy moet eerder elke gedagte teen die standaard van die Skrif meet, wat gehoorsaamheid aan Christus vra.

Hier is ‘n praktiese voorbeeld daarvan: As iemand jou gevoelens seermaak, maak daar en dan ‘n besluit dat jy nie vir dae aaneen oor daardie persoon ontsteld gaan wees nie. Dit gaan Satan net die geleentheid gee om sade van bitterheid te plant (sien 2 Korintiërs 2:11). Jy kan eerder negatiewe denke verwerp en weier om dit toe te laat om jou vreugde en vrede te steel. Dieselfde is waar wanneer jy versoek word. Die beste manier om ‘n verkeerde gedagte te oorwin, is om dit met ‘n regte gedagte te vervang.

Soos jy elke dag jou gedagtes met God se Woord vernuwe, sal jou denke begin verander en in lyn met die Skrif begin beweeg. Dag na dag sal goddelikke grense dan rondom jou gedagtes gevestig en versterk word. Hierdie grense sal jou nie net van bedrog en nederlaag weerhou nie, maar jou help om ‘n aangenamer, godvrugtige lewe te lei.

Sielskos: 1 Kor 12-14; Luk 24:25-35; Ps 68:19-35; Spr 25:17-20