Jou daaglikse brood

2024-10-08
Johannes 6:35 NLV

Na die Tweede Wêreldoorlog was Europa verwoes en orals was daar honger en hawelose kinders wat wees deur die gevegte gelaat is. Hulle is in groot kampe geplaas waar hulle kos en sorg ontvang het. Tog het hulle nie rustig in die aande geslaap nie; hulle was senuweeagtig, angsbevange en woelig. Die versorgers kon dit nie verstaan nie, totdat ‘n sielkundige voorgestel het om elke aand vir elke kind ‘n stukkie brood aan te bied, nie om te eet nie, maar om in die bed vas te hou. Die uitkoms was verstommend. Die kinders het deur die nag begin slaap, omdat hulle besef het dat hulle nie die volgende dag honger sou ly nie. Deur die brood vas te hou, het hulle ‘n gevoel van beskerming (hulle is veilig), belangrikheid (iemand gee vir hulle om), en geluk (daar sal môre meer brood wees), ervaar.

Die kinders het hierdie drie dinge nodig gehad – en jy het dit ook nodig. Al drie kan in ‘n verhouding met Jesus gevind word. Toe Hy gesê het: ‘…Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger word nie…,’ het Hy bedoel: ‘Ek is vir jou siel wat kos vir jou liggaam is.’ Brood is een van die dinge wat die meeste van ons in gemeen het. Dit behoort nie net aan ‘n spesifieke streek of nasie nie. Dis in alle vorms en groottes beskikbaar. In Engeland mag dit dalk botterbroodjies wees; in Suid-Amerika, tortillas; in New York, bagels; en in Ethiopië, injera. Deur middel van ‘n eenvoudige stelling het Jesus ons daaraan herinner dat Hy ons voedingskrag orals en elke keer is. Maak dus seker om jou Bybel elke dag te lees; dis jou daaglikse brood.

Sielskos: Eks 10-12; Joh 1:29-42; Ps 29; Spr 26:4-6