Herbou jou huwelik (2)
2024-10-051 Petrus 3:7 AFR83
Net omdat iets gesê word, beteken dit nie noodwendig dat dit gehoor word nie. Die apostel Paulus gebruik die woorde ‘verstandig’ en ‘eer.’ Beide is noodsaaklik vir die kuns om te luister, wat weer noodsaaklik vir ‘n goeie huwelik is. Tensy jy gewillig is om te luister wat jou eggenoot sê en hulle gedagtes en gevoelens te respekteer, stuur jy op probleme af. Die rede hoekom baie paartjies op die punt kom waar hulle ‘n egskeiding oorweeg, is dat hulle interaksies uit preke en monoloë, eerder as gesprekke, bestaan. Berading kan jou help om te leer hoe die ander persoon hom- of haarself uitdruk.
Wanneer jy daarop gefokus is om altyd reg te wees en die ander persoon ore aan te sit, is daar geen ruimte vir oplossings nie. Die sleutel is om te probeer om met ‘n oop hart eerder as ‘n geslote gemoed te luister; om te leer om weerloos en sag te wees om sodoende by ‘n plek van begrip uit te kom waar onderhandeling kan plaasvind. Sommige paartjies skryf vir mekaar briewe om hul gevoelens uit te druk soos hulle hulle pad terug na beter en dieper kommunikasie navigeer.
Net soos ‘n kunstenaar vir die perfekte lig wag om ‘n voorwerp op die skilderdoek vas te lê, so moet paartjies die kuns aanleer om te wag om hulle verhouding weer op koers te kry. Dit verg geduld en toewyding wat nie altyd maklik is nie, maar wel baie nodig is. God se tydsberekening bied aan ons dieper genesing as enigiets wat ons op ons eie kan bou. Indien jy egskeiding oorweeg, maak seker dat jy eers elke ander opsie uitgeput het. Maak nie saak hoe sleg dinge tussen julle mag wees nie, met God se hulp kan julle jul huwelik herbou.
Sielskos: Eks 4-6; Joh 1:1-13; Ps 63; Spr 25:26-28