2024-09-10
Psalm 1:1 NLV
Toe Moses vir farao beveel het om God se mense vry te laat, het farao vir hom drie kompromieë aangebied. Eerstens het hy aangebied om hulle te laat gaan, mits hulle nie te ver weg sal trek nie. Tweedens het hy aangebied om hulle te laat gaan, mits hulle hul kinders in Egipte agterlaat. Derdens het hy aangebied om hulle te laat gaan, mits hulle hul sakebelange in Egipte agterlaat. Moses het vir al drie nee gesê.
Satan sal dieselfde vir jou aanbied. Plaas egter afstand tussen jouself en die wêreld. Weier om jou kinders aan die wêreld af te staan. Weier om volgens die wêreld se selfgesentreerde en dikwels onetiese sakepraktyke te leef. Jy is geroep om die mense rondom jou lief te hê en hulle te bedien, maar nie om soos hulle te word nie. Een van die grootste gawes wat God ons gegee het, is vrye wil. Jy kan kies! As jy God se seëninge wil geniet, moet jy leefstylkeuses wat in lyn met sy wil en die waardes van sy Woord is, maak. Jy moenie keuses maak wat die beginsels van die wêreldsisteme rondom jou weerspieël nie. Die pad na sukses in die lewe is om op Bybelse beginsels te staan.
Hier is twee Skrifgedeeltes waarop jy moet mediteer en in gedagte moet hou: ‘Dit is die Here se seën wat rykdom bring. Hy gee nie hartseer daarmee saam nie’ (Spreuke 10:22 NLV). ‘Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (Matteus 6:33 NLV). Bid vandag: ‘Here, ek wil nie volgens die wêreld se standaarde leef nie. Ek wil U eerste in my lewe stel, omdat ek weet dat u weë altyd die beste is.’
Sielskos: Jos 22-24; Luk 20:27-40; Ps 27; Spr 23:16-18
2024-09-09
Filippense 4:13 NLV
Een van die vinnigste maniere om moedeloos te word, is om die Christelike lewe uit jou eie krag te probeer leef. Dit kan nie gedoen word nie. God het dit inderdaad so ontwerp. Jesus het gesê: ‘As julle My liefhet, sal julle my opdragte gehoorsaam. En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Raadgewer stuur om vir altyd by julle te wees; dit is die Gees van die waarheid. Die wêreld is net nie in staat om Hom te ontvang nie omdat hy Hom nie sien of ken nie. Julle ken Hom egter omdat Hy by julle gaan bly en in julle sal woon’ (Johannes 14:15-17 NLV).
God se gebooie is nooit te moeilik vir ons om te volg nie – mits ons dit deur Christus se inwonende krag doen. Jy moet leer om daagliks daardie krag te gebruik. Hy is te alle tye in jou en met jou, om jou in staat te stel om dit te doen wat jy nie kan doen nie en om dit wat jy sonder Hom moeilik sou vind om te doen, maklik te kan doen.
Paulus het van die konstante stryd tussen sy gees en sy vlees gepraat. Met tye het dit hom tot wanhoop gedryf. Hy gee egter dan vir ons die sleutel tot ‘n Christelike lewe in oorwinning: ‘Vir alles in die lewe, die goeie of die slegte, sien ek kans omdat Jesus my bron van krag is’ (Filippense 4:13 DB). Leer by die gloeilamp; hy kan homself nie verlig nie. Wanneer hy egter aan ‘n elektriese kragbron geskakel word, hoef jy net die skakelaar te druk. Doen dit dus in Christus se krag en nie jou eie nie.
Sielskos: Jos 19:24-21:45; Luk 20:20-26; Ps 112; Spr 23:13-15
2024-09-08
Jesaja 30:18 NLV
Jou idee van God bepaal jou selfvertroue wanneer jy Hom nader. Beskou jy Hom altyd as ‘n ouditeur en jou boeke balanseer nie? Of beskou jy Hom as ‘n pa wat jou altyd liefhet en goed vir jou wil wees? Wanneer ons God nader, raadpleeg baie van ons ‘n telkaart in ons gedagtes om te sien of ons meer oorwinnings as verliese, regte as verkeerdes of krediete as debiete het. As ons voel dat ons nie goed presteer nie, vermy ons God of maak ons Hom ons laaste uitweg. Dis ‘n fout, aangesien God jou as een met Christus sien (sien 2 Korintiërs 5:17), en daarom word jy altyd in sy teenwoordigheid aanvaar en verwelkom.
Jy vra: ‘Beteken dit ek kan enige manier lewe wat ek wil? Nee, ‘Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is…’ (Hebreërs 12:6 NLV). Sy tugting is egter nie verwerping nie; dis ‘n bewys dat jy waarlik sy verloste kind is. Hier is ‘n Skrifgedeelte waarop jy moet mediteer: ‘Daarom is die Here gereed om julle te help, Hy wil julle graag help en Hy wil weer goed wees vir julle. Daarom maak Hy alles gereed om weer goed te wees vir julle. Die Here wil dit doen, want Hy is die God wat reg doen. Dit gaan goed met almal wat glo dat Hy sal doen wat Hy belowe het’ (Jesaja 30:18 ABA).
Let vandag God se houding teenoor jou op: ‘Tog wag die Here gretig dat julle terugkom na Hom toe. Hy wil genade aan julle bewys…’ Hou dit in gedagte en begin om goeie dinge van God te verwag.
Sielskos: Joh 14:6-11; Hand 4:8-12; Hand 16:22-34; Matt 1:18-21
2024-09-07
Matteus 6:7 NLV
Jesus is ons grootste voorbeeld wanneer dit kom by die belangrikheid om ‘n konsekwente gebedslewe te hê. Voordat Hy die storm by Galilea gekalmeer het, sy twaalf dissipels geroep het, of die skare met vyf broodjies en twee vissies gevoed het, het Hy tyd alleen in gebed deurgebring. Jy is geroep om in sy voetspore te volg (sien 1 Petrus 2:21). In wese is ons mislukkings dikwels die resultaat van ons versuim om te bid. Jesus het vir sy dissipels twee gebedsbeginsels gegee wat ook vir jou sal werk.
Eerstens het Hy gesê: ‘Wanneer jy bid, gaan na die stilste vertrek in die huis en maak die deur agter jou toe sodat jy daar in jou alleenheid tot jou Vader kan bid…’ (Matteus 6:6 NLV). Met ander woorde, kry ‘n stil plek waar jou aandag nie afgelei sal word nie. Jy ontmoet immers vir God. Soos jy tyd daar bestee, sal jy groei om daardie plek lief te kry en sal dit jou ‘skuilplek’ (sien Psalm 91:1), word.
Tweedens het Jesus gesê: ‘Wanneer julle dan bid, moenie met woorde mors soos die heidene nie. Hulle dink ‘n stortvloed woorde sal maak dat hulle gebede beantwoord word. Moenie soos hulle maak nie, want julle Vader weet presies wat julle behoeftes is, selfs nog voordat julle Hom vra!’ (Matteus 6:7-8 NLV). Nadat die gemeente heelnag gebid het dat Petrus uit die tronk vrygelaat moet word, sê die Bybel hulle was ‘baie verbaas’ toe God dit laat gebeur het (sien Handelinge 12:16 NLV). Jy sê: ‘Dis erg.’ Dis eintlik goed! Dit beteken dat selfs wanneer jou geloof swak is, sal God jou antwoord wanneer jy bid. Hou dus aan bid en staan op sy Woord.
Sielskos: Jos 16:1-19:23; Luk 20:9-19; Ps 20; Spr 23:10-12
2024-09-06
1 Petrus 3:10 NLV
Die Bybel sê: ‘…As jy die lewe wil liefhê en goeie dae wil beleef, moet jy jou tong weghou van kwaadpraat en jou lippe van leuens. Bly weg van die kwaad af, ja, doen wat goed is…’ (verse 10-11 NLV). Let die woorde: ‘Bly weg van die kwaad af,’ op. Dit beteken nie dat jy ongeskik of onsensitief moet wees nie, maar om eerder op die oplossing as die probleem gefokus te wees. Jou mond is ‘n kragtige gereedskap wat kan help of kan beskadig. As jy die krag van die woorde wat jy spreek kan begryp, sal dit die koers van jou lewe verander. Jy kan óf positiewe, opbouende en aanmoedigende dinge in jou lewe spreek, óf woorde wat negatiewe en ontmoedigende dinge voortbring (sien Spreuke 18:21).
Niemand van ons wil ‘n spreekbuis vir die duiwel wees nie. Die waarheid is egter dat die mond vir seën of vernietiging gebruik kan word, nie net in ons eie lewens nie, maar ook in die lewens van ander. Jou mond is soos ‘n pen en jou hart is soos ‘n lei. Wanneer jy iets oor en oor sê, kry dit binne-in jou vastrapplek en word deel van jou. Dis nie iets wat jy meer moet probeer doen nie; dit is wie jy is. Wees ‘n spreekbuis vir God.
‘Die oppermagtige Here het my geleer sodat ek dié wat moeg is kan moed inpraat…’ (Jesaja 50:4 NLV). ‘Hoe kragtig is opregte woorde…’ (Job 6:25 AFR53). ‘Die regverdige het wyse raad; wat hy sê, is regverdig’ (Psalm 37:30 NLV). ‘Moenie enige vuil taal gebruik nie. Gebruik eerder die regte, opbouende woorde wat nodig is om dié wat luister, te bevoordeel’ (Efesiërs 4:29 NLV). Spreek vandag lewe!
Sielskos: Jos 14-15; Luk 20:1-8; Ps 142; Spr 23:7-9
2024-09-05
Psalm 101:3 AFR53
Pornografie is besig om die wêreld oor te neem en laat gebroke families in sy pad agter. Baie kerkgangers wat probeer om daarvan weg te breek voel geïsoleer en hulpeloos. Een studie het bevind dat 68 persent van manlike kerkgangers pornografie op ‘n gereelde basis kyk. Wanneer jy daarna kyk, word kragtige neurotransmitters soos dopamien vrygestel wat jou aan die beelde waarna jy kyk, bind. Sommige kerke hanteer hierdie kwessie as ‘n streng morele een, sonder om te besef dat dit ook ‘n breinprobleem is. Ons raai mans aan om harder te probeer, meer te bid en die Here liewer te hê. Dit is belangrik. Maar wanneer jy egter die vlees met die krag van die vlees beveg, veg jy op die ou einde teen jouself. Wat is dan die antwoord?
Jou denkpatrone moet vernuwe word, wat ‘n proses is. Wanneer jou brein op die verkeerde manier opgelei is, moet dit op die regte manier opgelei word. Dit verg ‘n radikale toewyding daaraan, soos om pornografie uit jou lewe te verwyder en jouself soms aan ‘n geestelik volwasse vriend aanspreeklik te hou, na wie jy in tye waarin jy getoets word kan draai. Bo alles, verg dit om jou gedagtes met God se Woord te herprogrammeer.
Paulus skryf: ‘Nou wil ek julle baie ernstig vra…: As julle dink aan alles wat God in sy groot ontferming vir julle gedoen het, gee dan julleself aan Hom as ‘n lewende en heilige offer. Dit is dié soort offer waarvan Hy hou, en wat julle diens aan God werklik sinvol maak. Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe….’ (Romeine 12:1-2 NLV). Jy hoef nie in slawerny aan pornografie te leef nie. Christus kan jou vry maak.
Sielskos: Jos 11-13; Luk 19:41-48; Ps 111; Spr 23:4-6