2024-10-21
1 Korintiërs 16:9 NLV
Paulus skryf: ‘Intussen bly ek in Efese tot Pinkster, want hier staan nou ‘n wye deur vir my oop en daar is baie mense wat reageer. Daar is egter ook baie teenstanders’ (verse 8-9 NLV). Wanneer jy die wil van God doen, moet jy teenstand verwag van diegene wat nie insae het in wat God met jou gedeel het of die opdrag wat Hy vir jou gegee het om te doen nie. Inderdaad, as jy aanvaar en toegejuig word waar jy ook al gaan, moet jy óf die opdrag wat jy glo God vir jou gegee het, óf die manier waarop jy dit uitvoer, heroorweeg.
Jy sê: ‘Maar het Jesus nie gesê dat sy juk lig is nie?’ Ja, maar Hy het gepraat van ‘n juk wat gemaklik om die nek van die hardwerkende os sit, wat van vroeg tot laat ploeg. Dit beteken dat wanneer God jou roep om iets moeiliks te doen, Hy jou van die genade en hulpbronne wat daarvoor nodig is, sal voorsien. Jy sê: ‘Maar Satan val my aan.’ Aanval is ‘n teken van respek; dit beteken dat jy ‘n bedreiging vir die koninkryk van duisternis verteenwoordig. Soos jy nader aan jou Godgegewe doel beweeg, moet jy verwag dat Satan se aanval gaan vererger. Daar is egter goeie nuus. Die intensiteit van die aanval is ‘n aanduiding van die seën wat God vir jou aan die ander kant van die aanval het.
Jou grootste beloning sal jy nie in hierdie lewe ontvang nie, maar in die lewe wat nog kom. Dis goed omdat hierdie beloning nie net tydelik sal wees nie, maar ewig. Daar is ‘n gesang wat lui: ‘To him that overcometh a crown of life shall be; He with the King of glory shall reign eternally.’
Sielskos: Eks 36-38; Joh 4:39-54; Ps 87; Spr 27:4-6
2024-10-20
Openbaring 3:8 NLV
Wanneer jy God se wil soek, is daar twee dinge wat jy nooit moet doen nie. Eerstens, wanneer die deur toe is, moet jy nie ongeduldig raak en dit probeer oopforseer nie. Tweedens, moet jy nie jou eie deur maak nie. Die Bybel sê: ‘Skryf aan die voorganger van die gemeente wat in Filadelfia geleë is. So sê die Heilige, die Betroubare – Hy wat die sleutel van Dawid hou en deure oopsluit, en niemand kan dit toesluit nie; Hy sluit en niemand kan dit weer oopmaak nie. Ek ken jou handel en wandel. Kyk, Ek het ‘n geopende deur voor jou gegee en niemand kan dit weer toemaak nie. Al het jy ook net beperkte krag, het jy my boodskap nogtans gehoorsaam en My nie verloën nie’ (verse 7-8 NLV).
Vir wie maak God deure oop? 1) Mense met ‘beperkte krag.’ Jou foute diskwalifiseer jou dus nie, mits jy gewillig is om daaruit te leer. Jou ontoereikendheid beperk God nie, as jy dit toelaat om jou meer afhanklik van Hom te maak nie.
2) Mense wat sy boodskap ‘nogtans gehoorsaam.’ Die mense vir wie God deure oopmaak, word deur hierdie beginsel gelei: ‘Wat ook al God se Woord daaroor sê, gaan ek dink, glo en doen.’ As dit nie op God se bloudruk is nie, moet dit nie bou nie. As dit nie in God se resepteboek is nie, moet dit nie meng nie.
3) Mense wat Hom ‘nie verloën nie.’ Ongeag verwerping of bespotting, praat hierdie mense met vrymoedigheid oor die dinge wat die belangrikste in hulle lewens is, insluitend hul verhouding met Jesus.
As jy wil hê dat God deure vir jou moet oopmaak, moet jy elke dag volgens hierdie beginsels leef.
Sielskos: Hand 13:21-22; 1 Sam 16; 1 Sam 17:32-51; 1 Sam 24:1-17
2024-10-19
2 Korintiërs 9:7 NLV
Paulus skryf: ‘Elkeen moet gee soos hy in sy hart besluit het, nie uit spyt of dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.’ Die gee wat God beloon, is ‘n doelgerigte gee wat met ‘n vrolike gesindheid gedoen word. Hier is drie maniere om dit reg te kry:
1) Stel ander mense bo jouself. Alle dinge in hierdie wêreld, insluitend roem en rykdom, is tydelik. Individue maak saak. Jou werk, stokperdjies en ander belangstellings sterf saam met jou. Mense hou aan lewe. Die ware maat van sukses is nie in die aantal mense wat jou gehelp het nie, maar die aantal mense wat jy kon help (sien Galasiërs 5:13 NLV).
2) Moenie dat goed jou besit nie. Niemand moet ooit ‘n slaaf van hulle besittings word nie. Niemand moet dit hul lewenstaak maak om nog goed te besit, net om meer te hê nie. As jy in beheer van jou hart wil wees, moet jy nie toelaat dat besittings beheer van jou neem nie. Besit jy jou besittings, of besit jou besittings jou? Gewers gebruik dit wat hulle besit as ‘n hulpbron om hierdie wêreld ‘n beter plek te maak om in te lewe. Hulle doen dit ongeag van hoeveel of hoe min hulle het (sien Matteus 6:21).
3) Definieer sukses as om te saai, nie as om te oes nie. Robert Louis Stevenson het gesê: ‘Ek beskou die sukses van my dag op grond van die saad wat ek saai, nie die oes wat ek maai nie.’ Ons moet nie net ons dae nie, maar ons hele lewe so beskou (sien 2 Korintiërs 9:6-10). As jy met die bedoeling lewe om die lewens van ander te verryk, sal jou lewe vol, nie leeg nie, wees.
Sielskos: Eks 33-35; Joh 4:27-38; Ps 32; Spr 27:1-3
2024-10-18
Lukas 6:38 NLV
As jy ‘n gewer wil word, moet jy aan jouself as ‘n rivier, eerder as ‘n reservoir, dink. ‘n Reservoir neem konstant water in, maar net om homself vol te maak. In teenstelling vloei ‘n rivier. Die water wat dit ontvang, gee dit weer weg. Let op wat Jesus oor gee gesê het: ‘As julle gee, sal julle ontvang. Julle gawe sal na julle terugkom in volle maat, ingestamp, geskud om plek vir meer te maak, tot oorlopens toe vol. Met watter maat julle ook al meet – klein of groot – dit sal gebruik word om te meet wat julle sal terugontvang’ (vers 38 NLV).
Wanneer jy jou tyd, kennis en hulpbronne gee sonder om iets terug te verwag, doen jy wat Jesus beveel het. Hier is ‘n interessante waarheid: Wanneer jy meer op die behoeftes en begeertes van ander mense fokus, word daar aan jou behoeftes en begeertes voldoen. As jy egter kies om dit wat jy het op te gaar eerder as te gee, word jy die middelpunt van jou eie eensame heelal.
Deur God se goedheid te onthou, neem jou dankbaarheid toe (sien Psalm 103:1-5). Dankbaarheid lei dan weer tot gee. Ondankbare mense is nie gewers nie. Hulle dink selde aan ander mense; hulle dink net aan hulleself. Hulle dae behels om na ander te soek om hulle by te staan, vir hulle te gee en op hulle te wag. Wanneer ander dan nie aan daardie verwagtinge voldoen nie, wonder hulle hoekom. Hulle selfsug weerhou hulle daarvan om te saai en hulle ondankbaarheid laat hulle wonder hoekom hulle nie oes nie.
Op watter manier kan jy dankbaarheid betoon? Deur ‘n gedeelte van die seën wat God in jou lewe uitgegiet het te neem en dit in ander mense se lewens uit te giet. Met ander woorde, wees ‘n gewer.
Sielskos: Eks 30-32; Joh 4:13-26; Ps 100; Spr 26:27-28
2024-10-17
Psalm 91:4 NLV
Terwyl ons kinders grootword, is hul beskerming en veiligheid op die voorpunt van jou gedagtes. Wat egter van die families van nooddienswerkers, soos polisie, paramedici en brandweerpersoneel? Elke dag wat hulle geliefde werk toe gaan, is ‘n dag wat hulle dalk nie mag huis toe kom nie. Wat van die families van diegene in ons militêre magte, wat in vreemde lande onder konstante bedreiging en gevaar diens doen?
Wanneer dit by die veiligheid van die mense vir wie ons lief is kom, is daar wonderlike Bybelse beloftes waarop ons kan staan: ‘God is ons toevlug en ons krag; in nood is Hy gereed om te help’ (Psalm 46:2 NLV). ‘…Moenie bang wees nie, want Ek het jou verlos. Ek het jou by jou naam geroep. Jy is Myne. Wanneer jy deur diep water gaan, sal Ek by jou wees. Wanneer jy deur riviere gaan, sal hulle jou nie wegspoel nie. Wanneer jy deur vuur stap, sal jy nie verbrand nie. Die vlamme sal jou nie verteer nie. Want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder…’ (Jesaja 43:1-3 NLV). ‘Of ek by die huis bly en of ek rondloop, daar is niks wat ek vir U kan wegsteek nie. U weet alles wat ek doen. Al het ek nog nie eens begin praat nie, U weet wat ek gaan sê. U ken my deur en deur. U beskerm my hele lewe. Ek kan dit glad nie verstaan nie, al probeer ek. Dit is te oorweldigend. U is oral. Daar is nie ‘n plek waar ek heen kan gaan waar U nie is nie’ (Psalm 139:3-7 DB).
Geen versekeringsmaatskappy kan naby die beskerming kom wat God vir diegene wat Hy liefhet waarborg nie. Leef dus vandag in vrede – God sal jou geliefde veilig hou.
Sielskos: Lev 23:33-44; Joh 7:1-39; Sag 14:16-21
2024-10-16
Psalm 118:24 NLV
Een skrywer sê: ‘Een van die strategieë wat ek gebruik, is om genoeg tyd beskikbaar te stel sodat ek nie sit en dink aan wat ek volgende moet doen nie. Ek vind dit die beste om te wag totdat ek genoeg tyd het om saam met iemand te wees, sodat die persoon nie gefrustreerd met my verdeelde aandag en besige skedule raak nie.’
As jy aanhou om nie tyd vir jou geliefdes te maak nie, kan daar dalk ‘n dag aanbreek waarop hulle nie tyd vir jou gaan hê nie. Vra jouself af: ‘Is hierdie persoon meer werd vir my as die plan, projek, probleem of druk wat ek moet hanteer?’ Leer om die oomblik te geniet en fokus op die persoon by wie jy is. Vra oop vrae wat hulle aanmoedig om met meer as ‘n ja of nee te antwoord. Luister aandagtig en vra addisionele vrae. Dit help mense om te voel dat jy by hulle betrokke is en vir hul antwoorde omgee.
Ja, jou gedagtes kan dalk vir ‘n paar sekondes na die toekoms dwaal, maar druk dit onmiddellik terug na die hede toe deur daardie bekommernisse te verwerp. Jy kan later daaraan aandag gee. Konsentreer op die hede. Daar is groot genot daarin te vinde wanneer jy gewoond raak om dit te doen. ‘n Gedig lui: ‘Ek wil doelbewus lewe… en nie, wanneer ek sterf, ontdek dat ek nie geleef het nie.’
Om seker te maak dat dit nie met jou gebeur nie, luister na Salomo se woorde: ‘Mense moet eet en drink en onder al sy moeite nog die goeie kan geniet. Dit is geskenke van God’ (Prediker 3:13 NLV). As jy minder moet doen om die mense vir wie jy lief is meer te geniet, doen dit dan; jy sal nooit daaroor spyt wees nie!
Sielskos: Eks 28-29; Joh 4:1-12; Ps 89:38-52; Spr 26:23-26