2024-09-16
Handelinge 27:25 NLV
Derdens, word deur God se beloftes geanker. Die derde anker wat ons selfvertroue gee word in Paulus se woorde gevind: ‘…Verseker vertrou ek op God dat alles presies só sal gebeur soos Hy vir my gesê het.’ As jy al ooit deur ‘n ontroue eggenoot verraai is, mag jy dalk jou vertroue in die huwelik verloor het. As jy ‘n slagoffer van die subprima-verbandkrisis was, het jy dalk jou huis en jou vertroue in banke verloor. As jy vir iemand gestem het wat jy glo integriteit het, net om te ontdek dat hulle in die sak van spesiale belangegroepe is, het jy dalk jou vertroue in die regering verloor.
Moet egter nooit ooit vertroue in God se beloftes verloor nie! Kyk vandag jou storm reguit in die oë en sing die woorde van hierdie beroemde lofsang deur Russell Carter: ‘Standing on the promises that cannot fail, when the howling winds of doubt and fear assail, by the living Word of God, I shall prevail, standing on the promises of God.’ Jy mag dalk jou skeepsvrag verloor, jy mag dalk jou skip verloor, jy mag dalk selfs oorboord val – maar jy gaan as gevolg van God se beloftes aan jou seëvier.
As jy jouself vandag in ‘n krisis bevind, is hier ‘n paar Bybelse beloftes waarop jy kan staan: ‘Die ewige God is jou skuilplek en onder jou is sy ewige arms…’ (Deuteronomium 33:27 NLV). ‘U redding is vir my ‘n skild. U regterhand ondersteun my; u hulp maak my sterk’ (Psalm 18:36 NLV). ‘Tot julle stokoud is, sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en sal vir julle sorg. Ek sal julle ondersteun en julle red’ (Jesaja 46:4 NLV).
Sielskos: Neh 8-10; Luk 22:1-13; Ps 78:40-55; Spr 24:1-4
2024-09-15
Handelinge 27:24 NLV
Tweedens, word deur God se plan en doel geanker. Die tweede anker in krisistye word in Handelinge 27:24 gevind, waar Paulus God se engel aanhaal: ‘…Hou op bang wees, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En dis nie al nie – om jou ontwil spaar God almal wat hier saam met jou op die skip is.’ Met ander woorde: ‘Jy is aan boord van hierdie skip omdat Ek ‘n plan met jou teenwoordigheid het. My ewige doelwit vir jou lewe is groter as hierdie tydelike storm.’
Het jy al jou Godgegewe doel ontdek? Jy is nie hier op aarde om net spasie op te neem nie; God het ‘n spesifieke plan vir jou. Die storm waarin jy tans vasgevang is, is net ‘n tydelike terugslag. Absoluut niks kan God se plan vir jou lewe verander nie, tensy jy besluit om nie aan Hom gehoorsaam te wees nie. Ja, jy kan dit doen. Die Skrif leer ons egter dat geen uiterlike persoon of krag God se plan of sy goddelike doel vir jou lewe kan verander nie, so lank as wat jy gewillig is om te sê: ‘Here ek wil u wil doen.’ So seker as wat God vir Paulus gesê het: ‘…Jy moet nog voor die keiser verskyn. En dis nie al nie – om jou ontwil spaar God almal wat hier saam met jou op die skip is,’ so seker sê Hy vir jou: ‘Ek sal jou deur hierdie storm bring.’
Wanneer jy op jou Godgegewe doel fokus, bemagtig Hy jou om jou probleme te oorkom. Dis hoekom Paulus geskryf het: ‘…een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee omdat Christus Jesus dit vir my verdien het’ (Filippense 3:13-14 NLV).
Sielskos: Heb 11:23-28; Eks 3:1-22; Eks 33:7-23; Eks 34:29-35
2024-09-14
Handelinge 27:23-24 NLV
Toe almal anders op Paulus se skip paniekerig geraak het, het hy kalm gebly. Hoekom? As gevolg van drie waarhede wat as ankers vir jou siel kan dien; waarhede waarop jy jou lewe kan bou en wat jou in die storm veilig sal hou. Kom ons kyk na hierdie ankers. Eerstens, word deur God se teenwoordigheid geanker. In die middel van die storm het Paulus aangekondig: “Verlede nag het daar ‘n engel van die God aan wie ek behoort en wie ek dien, langs my gestaan en gesê: ‘Hou op bang wees, Paulus…'”
Die lewe se storms kan ons nooit vir God verberg nie. Selfs wanneer ons Hom nie sien nie, sien Hy ons. Ons mag dalk voel dat Hy ‘n miljoen myle weg is, maar Hy is met ons en sorg vir ons. God het ‘n persoonlike boodskapper, ‘n engel, gestuur om vir Paulus te sê: ‘Ek is by jou. Ek sien jou in daardie klein boot op die Middellandse See.’
God is by jou in die storm waardeur jy vandag gaan en indien jy versekering van sy teenwoordigheid nodig het, mediteer op die volgende Skrifgedeeltes en staan op hulle: “‘Want die berge kan padgee en die heuwels verdwyn. Maar my liefde vir jou sal nooit verander nie, en my verbond van vrede sal nooit gebreek word nie,’ sê die Here wat jou liefhet” (Jesaja 54:10 NLV). ‘Ek sal by jou wees en jou beskerm waar jy ook al gaan… Ek sal jou nie verlaat nie, maar doen wat Ek beloof het’ (Genesis 28:15 NLV). ‘…Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie’ (Hebreërs 13:5 NLV). Anker jou siel dus vandag aan God se Woord en moet niks toelaat om jou te beweeg nie.
Sielskos: Neh 5-7; Luk 21:25-38; Ps 78:32-39; Spr 23:29-35
2024-09-13
2 Korintiërs 5:7 NLV
Om te leef deur te glo, beteken dat jy geloof in die onveranderende karakter van God, die goedheid van God, die liefde van God en die waarheid dat Hy altyd jou beste belange op die hart dra, het. God deel inligting met jou soos jy dit nodig het. God bepaal ook wat ons nodig het om te weet en wanneer ons dit moet weet. Hier is ‘n voorbeeld daarvan: Die vroeë kerk moes besluit of God hulle roep om ook nie-Jode in te sluit. Na baie gebed, stuur hulle die volgende brief uit: ‘Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê nie…’ (Handelinge 15:28 NLV).
Alhoewel die kerk nie al die inligting van God tot hul beskikking gehad het nie, het hulle in gebed en deur leiding van die Heilige Gees gemaklik gevoel om hierdie brief uit te stuur. Dit was klaarblyklik God se wil dat sy mense nie presies moes weet wat sy wil is nie, of ten minste nie oor al die detail beskik nie. Hy het vermoedelik geweet dat hulle meer sou groei as hulle die kwessie moes oordink en bespreek, eerder as om ‘n gedetailleerde memo te kry. Die vroëe kerk het nie sekerheid vereis nie. Dit was vir hulle genoeg om met opregte gehoorsaamheid tevrede te wees.
Wanneer Paulus sê dat ons moet leef deur te glo, verwys hy na ‘n proses wat een tree op ‘n slag plaasvind. God het die oorhoofse uitsig; Hy sien jou hele reis van begin tot einde en beplan elke tree. Hy sal vir jou wys wat om te doen en wanneer jy dit gedoen het, sal Hy jou wys wat om volgende te doen.
Sielskos: Neh 1-4; Luk 21:12-24; Ps 78:17-31; Spr 23:26-28
2024-09-12
2 Korintiërs 2:12 NLV
‘n Bekende skrywer sê: ‘Mense wat entrepreneurs bestudeer sê hulle presteer in iets genaamd ‘geleentheidswaaksaamheid’. Hulle kyk na dieselfde omstandighede as almal anders, maar hulle merk geleenthede op wat tot dusver misgekyk is. Hulle is voortdurend waaksaam, wagtend en ontvanklik vir geleenthede wat kan opduik.’
Paulus was so ‘n persoon. ‘Toe ek in Troas aangekom het om die Goeie Nuus van Christus te preek, is ‘n deur vir my deur die Here oopgemaak’ (vers 12 NLV). Hy het ‘goddelike geleentheidswaaksaamheid’ beoefen. Jy kan dit ook doen. Die deure wat God vir Paulus oopgemaak het, het dikwels tot swaarkry gelei. Dit het egter ook tot groot prestasie gelei.
Oop deure kom nie met ‘n noukeurige stel instruksies oor presies wat jy moet doen en presies wat as gevolg daarvan sal gebeur nie. Om te ontdek wat aan die ander kant van die oop deur wag, moet jy daardeur stap. Sal jy vrees ervaar? Elke keer wat jy die onbeproefde en onbekende aanpak, sal jy vrees ervaar. Dis dan wanneer jy jouself daaraan moet herinner dat God daar vir jou sal wag, maak nie saak wat vir jou aan die ander kant van die deur wag nie.
Hier is twee dinge wat jy in gedagte moet hou: Eerstens beteken ‘n oop deur nie noodwendig dat jy êrens nuuts gaan opeindig nie; dit beteken dat jy soms ‘n nuwe en voorheen onopgemerkte geleentheid op ‘n ou plek kan raaksien. Tweedens, oop deure bestaan nooit slegs tot voordeel van die mense vir wie dit aangebied word nie. Dit is ‘n geleentheid om ander mense te seën (sien Genesis 12:1-3). Het God vir jou ‘n deur oopgemaak? As Hy het, moenie huiwer of wankel nie; loop daardeur.
Sielskos: Kol 3-4; Filemon; Luk 21:1-11; Ps 78:9-16
2024-09-11
Filippense 4:8-9 NLV
Een skrywer sê: ‘Die navorser Sheena Iyengar het gevind dat die gemiddelde persoon daagliks omtrent sewentig bewustelike besluite maak. Dis 25,550 besluite ‘n jaar. Oor sewentig jaar is dit 1,788,500 besluite. Albert Camus het gesê: ‘Die lewe is ‘n som van al jou besluite.’ As jy al daardie 1,788,500 besluite bymekaar sit, is dit wie jy is. Victor Frankl was ‘n briljante dokter wat deur die Nazis in ‘n konsentrasiekamp opgesluit is. Hulle het sy lewensbestaan weggevat, sy besittings gekonfiskeer, sy waardigheid gespot en sy familie doodgemaak. Hulle het hom in ‘n sel waaruit hy nie kon ontsnap nie, opgesluit. Hy het egter ‘n deur gevind waarvan sy wagte nie geweet het nie: ‘Alles kan van ‘n mens weggevat word behalwe een ding: die laaste van die menslike vryhede – om jou houding asook jou eie pad in enige gegewe omstandigheid te kies.’
Hy het gevind dat wanneer sy omstandighede elke buitedeur vir hom toemaak, dit aan hom die deure wat baie meer saakmaak openbaar – die deure waardeur ‘n siel vrees kan verlaat en moed kan binnelaat, haat kan verlaat en vergifnis kan binnelaat, onkunde kan verlaat en kennis kan opdoen. Hy het ontdek dat sy wagte inderwaarheid baie meer vasgevang was – deur wreedheid, onkunde en dwase gehoorsaamheid aan barbaarsheid – as wat hy deur mure en doringdraad gevange gehou is. Sommige mense besef dit en word vry; sommige mense besef dit nooit en bring hul lewens as gevangenes deur.’
Die verskil is die deur wat jy kies en die houding wat jy kies. Dis hoekom Paulus skryf: ‘…beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is…’ (vers 8 NLV). Kies vandag die regte houding!
Sielskos: Kol 1-2; Luk 20:41-47; Ps 78:1-8; Spr 23:19-21