Op ‘n ompad gelei

2024-09-22
Eksodus 13:18 NLV

Die Bybel sê: ‘Toe die farao uiteindelik die volk laat gaan, het God hulle nie kortpad deur die Filistynse gebied laat trek na die land wat Hy vir hulle beloof het nie. Die Here het gesê: ‘As die volk nou met oorlog moet te doen kry, gaan hulle van plan verander en omvlieg terug Egipte toe.’ Daarom het God hulle eerder met die woestynpad… laat trek…’ (verse 17-18 NLV).

Daar is ‘n les hieruit te leer. God weet waar jy op jou geestelike reis is en Hy lei jou daarvolgens, selfs al lyk dit asof jy op ‘n ompad is. ‘Die Here bepaal die rigting van ‘n mens, en met sý lewe is Hy tevrede’ (Psalm 37:23 NLV).

Die kortste roete van Egipte tot by die Beloofde Land was deur vyandige grondgebied en God het geweet dat sy mense nie reg vir ‘n oorlog was nie. Om God se mense uit Egipte te kry was op die ou einde die maklike deel; om Egipte uit God se mense te kry was veel moeiliker. Nadat hulle veertig generasies lank van die farao afhanklik was, moes hulle God en sy maniere leer ken en leer om Hom te vertrou. Dus het Hy hulle reis gevolglik bepaal.

Is jy tans besig om ‘n woestynervaring te hê? Wees bemoedig. Die vervulling van dit wat God jou beloof het mag dalk langer neem as wat jy gedink het, maar dis nie tyd wat gemors word nie. God is ook nie besig om jou te straf nie; Hy is besig om jou vir jou roeping op te lei. Wat moet jy dus doen? 1) Bestee tyd saam met Hom in gebed en sy Woord. 2) Maak minder op jouself en meer op God staat. 3) Put krag uit sy genade en volg sy leiding.

Sielskos: 1 Kon 17:1-6; 1 Kon 18:16-39; 1 Kon 19:9-18; 2 Kon 2:1-12

Wanneer God sê, ‘Gaan!’

2024-09-21
Genesis 12:1 NLV

Die twee dele van God se ‘gaan’ is gaan van en gaan na. Ur, Abram se tuiste, is beskou as díé plek om te wees. Al die handelsrykdom van rondom die Middellandse See moes deur Ur beweeg om by Mesopotamië uit te kom. Dit was ‘n plek van enorme rykdom, handel, opvoeding en tegnologie. Die eerste geskrewe regskode wat die beskawing begin het, was in Ur. Dit sou dus ‘n moeilike plek gewees het om te verlaat – veral as jy na Kanaän toe moes gaan. Kanaän was ongesofistikeerd, onverfynd en onderontwikkeld. Niemand wat genoeg geld gehad het om in Ur, die kern van beskawing te woon, sou na Kanaän getrek het nie.

Hier is egter die punt: Jy moet God met jou toekoms vertrou wanneer die pad wat Hy jou geroep het om te neem, nie soos die voor die hand liggende een lyk nie. As jy egter gewillig is om te gaan, sal jy ontdek dat God seëninge vir jou in gedagte het waarvan jy nie eers kon droom nie.

Hy het vir Abram gesê: ‘Ek sal jou die voorvader maak van ‘n groot nasie. Ek sal jou seën sodat jy geëerd sal wees, en vir ander tot ‘n seën sal wees. Ek sal dié seën wat jou seën en dié wat jou vervloek, sal Ek vervloek. Deur jou sal al die mense op die aarde geseën word’ (verse 2-3 NLV).

Die beloning wat God jou gee sal altyd groter wees as die opoffering wat Hy jou vra om te maak. Het God jou geroep om te gaan, maar jy wil eerder bly? Sê Hy vir jou om te bly, maar jy wil eerder gaan? As jy God gehoorsaam, sal jy nooit daaroor spyt wees nie. Dis ‘n waarborg!

Sielskos: Sag 1-4; Luk 22:63-71; Ps 3; Spr 24:23-25

Hoe God ons gebede antwoord

2024-09-20
Psalm 91:15 NLV

As jy vandag teen siekte veg, sê God vir jou: ‘…Ek is die Here wat julle gesond sal hou’ (Eksodus 15:26 NLV). As jy vandag ‘n probleem wat so groot soos ‘n berg lyk in die gesig staar, sê Jesus vir jou: ‘Dit verseker Ek julle, julle kan vir hierdie berg sê: ‘Mag God jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur. Al wat nodig is, is dat julle regtig sal glo en nie in julle harte twyfel nie. Daarom verklaar Ek vir julle, alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou’ (Markus 11:23-24 NLV).

As jy vandag in die moeilikheid is, sê God vir jou: ‘…Hy wat my Naam ken, sal Ek beskerm. Hy sal roep, en Ek sal antwoord. In nood sal Ek by hom wees. Ek sal hom red en in eer herstel’ (Psalm 91:14-15 NLV). Let op aan wie hierdie belofte gemaak is – diegene wat ‘my Naam ken.’ Dis jy – verloste kind van Jesus!

Hier is vier dinge wat God vir jou beloof het:

Eerstens, om jou gebede te antwoord.
Tweedens, om in moeilike tye by jou te wees.
Derdens, om jou te herstel.
Vierdens, om jou te eer.

Dis die vier vlakke van beantwoorde gebede. In watter vlak jy vandag ook al mag wees, wees vol vertroue dat God vir jou lief is en vir jou omgee (sien 1 Petrus 5:7). Sy gewilligheid om jou gebede te beantwoord hang nie van jou dade nie, maar van Christus se dade namens jou af. ‘Daarom prys ons God se grootheid. Deur sy Seun wat Hy liefhet, het Hy onverdiende goedheid aan ons gegee’ (Efesiërs 1:6 NLV). Omdat jy in Christus ‘aanvaarbaar’ gemaak is, kan jy seker wees dat God jou gebede sal antwoord.

Sielskos: 2 Tim 1-4; Luk 22:54-62; Ps 19; Spr 24:19-22

Jy het meer om te leer

2024-09-19
Hosea 6:3 NLV

Om ‘n ‘geloofsverklaring’ te hê is ‘n goeie ding, want dit maak aan mense jou oortuigings en waardes en jou standpunt oor kwessies, bekend. Dit bevat egter ook ‘n sekere mate van gevaar, aangesien jy kan begin glo dat jy alles oor die onderwerp weet. Die Bybel daag ons uit om aan te hou leer en geestelik te groei: ‘Kom laat ons die Here ken! Laat ons ons inspan om ons aan Hom toe te wy!..’ Die Boodskap vertaal dit as volg: ‘Kom ons maak ons vas aan die Here. Ons span ons in om Hom beter te leer ken…’

Duidelik wil God hê dat ons moet verstaan dat daar meer is om van Hom te leer as wat ons dink ons weet. Dis hoekom jy altyd oopkop moet wees. Die dag wat jy ophou om jou ‘in te span’ of jou ‘vas aan die Here’ te maak, is die dag wat jy ophou om van God te leer en geestelik te groei. God het meer om aan jou te openbaar!

Paulus skryf: ‘…Wat geen oog gesien het; wat geen oor gehoor het; wat in niemand se hart opgekom het nie – dit het God voorberei vir hulle wat Hom liefhet. Maar ons ken hierdie geheim omdat God dit deur sy Gees aan ons bekendgemaak het. Want die Gees deurvors alle dinge, ook God se diepste geheime. Niemand sal ooit die diepste gedagtes van ‘n mens ken nie, behalwe daardie persoon se eie gees. Net so kan niemand God se diepste geheime ken nie, behalwe die Gees van God. Ons het die Gees ontvang wat van God uitgaan – nie dié van die wêreld nie – sodat ons kan besef watter wonderlike geskenke God aan ons gegee het’ (1 Korintiërs 2:9-12 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – jy het meer om te leer.

Sielskos: Mig 5-7; Luk 22:39-53; Ps 24; Spr 24:15-18

Maak die regte keuse

2024-09-18
Spreuke 2:6 NLV

Miskien kom jou gradeplegtigheid nader. Meer dikwels as ooit tevore, verwissel mense van poste en maatskappye en verander hulle hulle loopbaan. In 2014 het die loopbaanspesialis Andy Chan opgemerk dat jong volwassenes gemiddeld nege-en-twintig verskillende poste oor hul leeftyd sal vul. In 2013 het navorsers by Oxford Universiteit voorspel dat omtrent die helfte van poste teen 2033 deur tegnologie vervang sal wees. Hoe pas jy dus in ‘n omgewing wat aanhoudend verander aan?

Miskien is jy in ‘n groef. Jou lewe is veilig maar van weinig nut. Jy wil meer doen en meer wees. Miskien staar jy ‘n leë nes in die gesig. Jy ervaar skielik onafhanlikheid, tyd en opsies wat vir dekades lank nie aan jou beskikbaar was nie. Wat is die beste manier om dit te gebruik? Miskien tree jy binnekort af. Wat het God volgende vir jou in gedagte? Miskien het jy oorsee gereis en ‘n groot behoefte raakgesien, of ‘n probleem ondersoek waaraan jy ‘n verskil wil maak. Wat moet jy volgende doen? Miskien oorweeg jy dit om te trou. Hoe weet jy dat die persoon die regte een is? Wat as jy ‘n fout maak? Of dalk tob jy oor ‘n geleentheid in jou verlede wat jy misgeloop het. Sal God vir jou ‘n ander een gee?

Jy moet twee dinge in gedagte hou wanneer jy hierdie vrae beantwoord. In die eerste plek is God meer geïnteresseerd in wat jy word as waarheen jy gaan of wat jy vir ‘n lewe doen. Sy doelwit vir jou lewe is om jou soos Christus te laat word (sien Romeine 8:29). Tweedens, sal jy jouself ‘n klomp tyd, moeilikheid en moontlike hartseer spaar deur God eers te raadpleeg voordat jy enige besluite neem. ‘Dit is tog die Here wat wysheid gee. Sy woorde gee kennis en krag’ (Spreuke 2:6 NLV).

Sielskos: Mig 1-4; Luk 22:24-38; Ps 78:65-72; Spr 24:10-14

Besluitneming bou karakter

2024-09-17
Genesis 12:1 NLV

Een skrywer sê: ‘Wil jy die tipe kinders hê vir wie jy hulle hele lewe lank moet sê: ‘Trek hierdie klere aan. Neem hierdie klasse. Gaan na daardie skool toe. Doen vir hierdie werk aansoek. Trou met daardie persoon. Koop hierdie huis.’ Kinders wat altyd moet doen wat jy vir hulle sê solank as wat hulle lewe? Nie? Hoekom nie? Omdat jou hoofdoelwit is dat hulle mense van goeie karakter en oordeel moet word. Die enigste manier vir hulle om so te word is deur baie besluite te neem. Natuurlik beteken dit dat hulle ook baie verkeerde besluite sal neem. Dit is egter die beste manier hoe hulle sal leer.

Dikwels sal God se wil vir jou wees: ‘Ek wil hê jy moet besluit,’ omdat besluitneming ‘n onontbeerlike deel van karaktervorming is.’ Abraham het nie gesê: ‘Here, presies waarheen neem U my? Hoe lyk die ekonomie daar? Hoe is die werksgeleenthede en huismark? Is daar goeie mediese fasiliteite en skole?’ nie. Die Bybel sê: ‘Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom geroep het, gehoorsaam weggetrek na die land wat God vir hom as ‘n erfdeel sou gee. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou beland’ (Hebreërs 11:8 NLV). Abraham het besluit om God te volg en God met alles anders te vertrou. Hy het gevolglik bo uitgekom!

God beloof nie om ons detail te gee nie, maar wel wysheid. ‘Vra vir God as jy nie kan agterkom wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee…’ (Jakobus 1:5 NLV). Hoekom doen God dit so? Omdat besluitneming karakter bou.

Sielskos: Neh 11-13; Luk 22:14-23; Ps 78:56-64; Spr 24:5-9