Maak op God staat (1)

2024-09-28
Filippense 4:13 NLV

Paulus deel met ons die sleutel tot sy wonderlike sukses in die lewe: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee.’ Daar is ‘n sindroom wat ‘failure to launch’ genoem word. Dit word deur mense wat onseker oor hulle toekoms voel, ervaar. Dit lyk of hulle nooit by die plek in die lewe uitkom waar hulle gereed voel nie, dus loop hulle geleenthede mis.

Die lewe sê: ‘Gereed of nie, hier kom ek.’ Die lewe se onvermydelikheid beteken egter nie dat voorbereiding onbenullig is nie; dis steeds belangrik. Om heeltemal gereed te voel, word egter oorskat. Ons word geroep om in geloof te lewe, want: ‘…ons leef deur te glo en nie deur te sien nie’ (2 Korintiërs 5:7 NLV).

Toe God die Israeliete na die Beloofde Land gebring het, het Hy vir hulle gesê om in die Jordaanrivier in te gaan; eers daarna het Hy die water geskei. As hulle eers vir bewyse gewag het, sou hulle nou nog op die oewer van die rivier gewag het. Geloof groei wanneer God sê gaan en jy ja sê. Die waarheid is dat jy nie weet wat jy kan vermag totdat jy dit doen nie. Om gereed te wees gebeur vinniger wanneer jy alreeds aan die beweeg is. As jy wag om te beweeg totdat jy heeltemal gereed is, sal jy wag tot jy doodgaan.

Jesus sê nie vir ons: ‘Gaan; jy is gereed,’ nie. Hy sê vir ons: ‘Gaan; Ek sal saam met jou gaan.’ Jy sal groei soos jy ‘gaan.’ Jy sal ontwikkel soos jy ‘doen.’ Hier is die sleutel: Die ding wat jou gereed vir alles maak, is Hy wat sy krag met jou deel. God het dit so ontwerp, omdat Hy wil hê dat jy op Hom moet staat maak.

Sielskos: 1 Kor 7-9; Luk 24:1-12; Ps 91; Spr 25:9-12

Neem tyd om te rus en te ontspan

2024-09-27
Psalm 23:2 NLV

Wanneer jy jouself bevind waar jy sê: ‘Ek weet nie hoeveel langer ek so kan aangaan nie,’ het jy dalk nodig om sommige van jou prioriteite te verander en jou lewenstyl aan te pas.

Die Psalmdigter het gesê: ‘Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het…’ (Psalm 139:14 NLV). God het jou liggaam ontwerp om vir jou waarskuwings te gee wanneer jy onder te veel druk is, soos ‘n pyn hier of ‘n skeet daar. Ons ignoreer egter hierdie waarskuwings totdat ons te siek is om hulle langer te ignoreer. Omdat ons in die mees medisinale generasie in die geskiedenis leef, neem ons voorskrifte, pille en poeiers in die hoop dat dit die antwoord is. Dis egter net ‘n korttermyn kuur.

Ons kan nie God se leiding om tyd te neem om te rus ignoreer en nie ‘n prys daarvoor betaal nie. Niemand het ‘n groter doelwit of ‘n belangriker missie as Jesus en sy dissipels gehad nie. Tog het Hy hulle opdrag gegee om die tyd te neem om te rus en te ontspan (sien Markus 6:31).Pastoor, is hierdie ‘n area van dissipelskap wat jy moet beoefen en vir jou mense moet leer? Die kerk moenie mense so besig hou dat dit hulle gesondheid negatief affekteer en hulle familieverhoudings seermaak nie.

As jy vandag ‘n onvolhoubare lewe lei, hou op om die veranderinge wat jy moet maak, uit te stel. Moenie wag totdat iets soos ‘n gesondheidsprobleem of ‘n gesinsprobleem plaasvind nie. Maak nou die veranderinge om die lewe wat God wil hê jy moet leef, te lei. Wanneer jy op God se manier leef, sal jy ‘n nuwe vlak van vrede in jou lewe ontdek. ‘Hy laat my rus in groen weivelde; na water wat verfris, lei Hy my.’

Sielskos: 1 Kor 4-6; Luk 23:44-56; Ps 13; Spr 25:4-8

Belê in jou huwelik

2024-09-26
Prediker 9:9 NLV

Dis interessant om te sien hoeveel van ons gewillig is om in ons opvoeding, loopbaan en finansiële toekoms te belê, maar nie in ons huwelik nie. Een van die hoofoorsake van egskeiding is verveling.

Een dominee verduidelik: ‘Eggenote verloor hulle fokus, dwaal af en pleeg egbreuk, raak aan pornografie verslaaf of stel ander vernietigende gedrag ten toon. Die geheim tot ‘n sterk huwelik is om aan te hou om maniere te vind om jouself te verbeter en met mekaar te deel. Dit kan so eenvoudig wees soos om ‘n boek of artikel te lees en iets interessants wat jy raakgelees het te deel, of om ‘n kursus te loop en dit wat jy geleer het by die huis aan te wend. Dit kan wees om te leer oor jou eggenoot se beroepsveld en belang te stel in dit wat hy/sy heeldag doen.

Eggenote wat wil aanhou groei as ‘n paartjie, het ook lewens van hul eie buite die huwelik nodig. Stokperdjies, belangstellings en gepaste vriendskappe buite die huwelik maak elke eggenoot meer interessant en stimulerend wanneer hulle by die huis kom. Hoe wonderlik is dit nie om saam aan die etenstafel te sit en opwindende dinge wat julle elkeen deur die dag ontdek het, met mekaar te deel nie.

Daar is egter ‘n balans wat gehandhaaf moet word wanneer jy jou eie lewe ontwikkel, sonder om die lewe wat julle saam het te ignoreer. Lank nadat fisiese aantrekkingskrag en die intensiteit van seksuele aantrekkingskrag vervaag het, nadat die kinders groot is en op hulle eie bly, sal jy en jou maat sterk verbintenisse wil hê sodat julle kan aanhou groei en die lewe saam kan geniet.’

Belê dus in jou huwelik.

Sielskos: 1 Kor 1-3; Luk 23:35-43; Ps 54; Spr 25:1-3

Niks van jou verras God nie

2024-09-25
Efesiërs 1:4 NLV

Niks van jou verras God nie. Hy het geweet wat Hy gaan kry toe Hy jou vir Homself uitgekies het. Jy het nie net een dag lukraak opgedaag nie. God het ook nie besluit om jou maar net te verdra nie. Hy rol nie sy oë wanneer jy ‘n probleem het nie. Nee, Hy sal jou altyd herinner hoe ver jy gekom het, hoe goed jy besig is om te doen, hoe kosbaar jy vir Hom is en hoe baie Hy jou liefhet. God het reeds van jou swakhede, elke fout en elke keer wat jy sal misluk, geweet toe Hy jou gekies het.

Efesiërs 1:5 sê dat God jou as sy eie aangeneem het. Hy is jou vader en jy is sy familie. Hy sal jou dissiplineer wanneer jy dit nodig het, maar jou nooit weggooi nie. Met Hom aan jou sy sal dinge vir seker aan die einde vir jou uitwerk.

‘Prys ons goeie God, die Vader van ons Here Jesus Christus, voortdurend, want Hy is wonderlik goed vir ons! Deur wat Christus gedoen het, het Hy al die geestelike skatte wat daar in die hemel is, verniet vir ons gegee. Deur wat Christus gedoen het, het God ons uitgekies. Omdat Hy ons liefhet, het Hy ons, al voor die wêreld gemaak is, uitgekies om sonder foute net Syne te wees. Deur wat Christus gedoen het, het God vooraf besluit om ons as sy kinders aan te neem. Hy het dit gedoen omdat dit is hoe Hy dit wou hê. Daarom prys ons God se grootheid. Deur sy Seun wat Hy liefhet, het Hy sy onverdiende goedheid aan ons gegee’ (verse 3-6 NLV).

Sielskos: Sag 12-14; Luk 23:26-34; Ps 52; Spr 24:32-34

Deel jou wysheid

2024-09-24
Spreuke 3:13 NLV

Daar is ‘n ou gesegde wat lui: ‘Gee ‘n man ‘n vis en jy voed hom vir een dag, maar leer hom om vis te vang en jy voed hom vir ‘n leeftyd.’ Soms het mense jou wysheid meer as jou geld nodig. Deur die tyd te neem om met hulle die insigte en wysheid wat jy deur jou lewenservarings geleer het te deel, belê jy in hul toekoms.

Dit beteken egter dat jy nooit moet ophou leer nie. Soms hou ons op leer omdat ons selfvoldaan geword het. Ons glo dat ons genoeg gegroei het, of ons wil net die meeste maak van wat ons alreeds in terme van vaardighede en kennis het. Dis dan wanneer ons ons innoverende gees verloor. Ons begin dink aan hoe om doeltreffend te wees, eerder as om nuwe grond te breek. Ons sny kostes in plaas daarvan om in groei te belê. Ons visie word baie beperk. In plaas daarvan om te speel om te wen, begin ons speel om nie te verloor nie.

Ons almal hou daarvan om dit waarmee ons goed is te doen, maar om goed met iets te wees beteken dat ons ons vaardighede skerp moet hou. Minder vaardigheid lei tot minder entoesiasme en uiteindelik tot ontevredenheid. Wanneer ons hierdie vlak bereik begin ons terugkyk, omdat dit is waar ons beste dae lê. Ons dink aan die ou dae, die glorieryke dae. Op daardie punt is ons net ‘n paar kort treë agter veroudering.

Niemand wil by iemand leer wat nie meer relevant is nie. As jy wil gee tot jy alles gegee het wat jy het, moet jy aanhou groei totdat jy nie meer kan groei nie. ‘Die mens wat wysheid kry, is gelukkig. Dit gaan goed met die mens wat insig kry.’

Sielskos: Sag 9-11; Luk 23:13-25; Ps 34; Spr 24:29-31

Weet wie jy in Christus is

2024-09-23
Filemon vers 6

As jy met selfwaarde sukkel, word die antwoord in die wete van wat jy in Christus het en wie jy in Hom is, gevind. Hier is ‘n paar praktiese stappe wat jy kan neem om jou selfwaarde en selfvertroue op te bou:

1) Moenie op ‘n negatiewe wyse oor jouself praat nie. In plaas daarvan om op jou swakhede en foute te fokus, begin om elke goeie ding wat jy in Christus het, te erken en te verbaliseer. Paulus skryf: ‘Deurdat ons Hom regtig ken, het sy Goddelike krag ons alles laat kry wat ons nodig het om naby aan Hom te lewe. Hy het ons geroep om sy heerlikheid en goedheid te ontvang! Deur hierdie selfde krag het Hy sy kosbaarste en allergrootste beloftes vir ons laat waar word. Die gevolg hiervan is dat julle deel gekry het aan sy Goddelike natuur…’ (2 Petrus 1:3-4 NLV).

2) Hou op om jouself met ander te vergelyk. Een dag het Petrus na Johannes toe gewys en gevra: ‘…Wat van hom, Here?’ (Johannes 21:21 NLV). Jesus het hom tereggewys deur te sê: ‘…wat het dit met jou te doen? Volg jy net vir My!’ (vers 22 NLV). In plaas daarvan om jou met ander te vergelyk, werk daaraan om meer soos Christus te wees.

3) Laat God jou waarde bepaal. As verloste kind sien God jou as geregtig in Christus; dus word jy altyd deur Hom aanvaar (sien 2 Korintiërs 5:21).

4) Hou jou foute in perspektief. Dis goed om te sien waar jy nodig het om te verbeter, maar maak seker dat jy jou vordering waardeer.

5) Ontdek die ware bron van selfvertroue. Wanneer jy jou vertroue in God plaas, kan jy nie help om ‘n gesonde houding te hê nie. Doen dus net jou bes en los die resultate aan Hom oor.

Sielskos: Sag 5-8; Luk 23:1-12; Ps 39; Spr 24:26-28