2024-10-04
1 Petrus 3:7 NLV
Een pastoor gee die volgende raad: ‘Om ware intimiteit – fisies en emosioneel – terug te kry, om die nabyheid wat julle in die verlede ondervind het te herstel, moet jy gewillig wees om jou hart en siel weer oop te maak.’ As jy seergekry het, is dit nie so maklik nie. Jy moet egter die risiko neem om jouself aan die onbekende bloot te stel om sodoende weer met mekaar te konnekteer.
Hy gaan voort: ‘Om jou huwelik terug van die rand van egskeiding te bring is nie maklik nie; in elke verhouding is daar unieke oorwegings wat opgelos moet word. Of die probleme in jou huwelik uit eksterne omstandighede, soos om ‘n huis of werk te verloor, of probleme met die verhouding, soos egbreuk of verslawingskwessies voortspruit, kan jy slegs jou verhouding herbou deur te herleef wat julle eens gehad het en weer by mekaar aan te sluit. Die eerste stap om weer met jou maat te konnekteer, is om die kuns te beoefen om die ander persoon te leer ken.’ Dit neem tyd, aandag en inspanning om jou maat se behoeftes te leer verstaan.
Die pastoor voeg by: ‘Wat tipies gebeur wanneer ons iemand begin leer ken, is dat ons hulle eers in ‘n boks op grond van wie en wat ons dink hulle is, plaas. Dan plak ons ‘n etiket op die boks wat ons hoop vir die res van hul lewens van toepassing sal wees. Om iemand werklik te ken, gaan nie daaroor om te besluit wie hulle moet wees en dan wil hê dat hulle vir altyd so moet bly nie. Die raaisel om ‘n ander te ken vereis toewyding tot lewenslange onderrig.’ As jy ernstig daaroor is om jou huwelik te herbou, moet jy jou maat leer ken en hulle behoeftes verstaan.
Sielskos: Eks 1-3; Luk 24:45-53; Ps 51; Spr 25:23-25
2024-10-03
Spreuke 17:6 DB
Baie van die toestelle in jou huis kom met ‘n handleiding. As jy die tyd neem om dit te lees en te verstaan, kan dit jou allerhande probleme spaar. God het vir ons die primêre handleiding gegee om kinders groot te maak – die Bybel. Dit sê: ‘…Kinders wat trots is op hulle ouers, staan sterk.’ Daar is geen hoër roeping as die van ‘n ouer nie. Dit is die betekenisvolste en lewensveranderendste besluit wat jy ooit sal neem. Dus moet jy hierdie besluit met ernstige oorweging, gebed en ‘n sin vir humor maak, en dit kan die grootste vreugde van jou lewe word.
Jou kinders het nodig dat jy grense vir hulle stel om hulle veilig te hou. Jy moet as hulle geestelike en morele kompas optree. Kinders van vandag word met televisieprogramme, advertensies, musiek, videospeletjies, die internet en tydskrifte vol beelde van materialisme, wreedheid, seks en dwelm- en alkoholmisbruik, oorval. Baie van die negatiewe wat hulle sien, word bewonder en gevier. Soveel so dat selfs wanneer hulle ‘n sterk morele kern besit, hulle kan begin voel dat iets met hulle fout is as hulle nie die skare volg nie.
As ouer is jou werk om jou beginsels oor en oor te versterk, terwyl jy jou kinders met die gereedskap toerus om die druk van die lewe te weerstaan. Dis ‘n lewenslange taak. Jy sal in ‘n sin elke dag, die hele dag, vir die res van jou lewe, op roep wees. Aangesien God ‘ons Vader’ genoem word, verstaan Hy waarvoor jy te staan kom en sal Hy jou help wanneer jy na Hom in gebed draai.
Sielskos: Num 29:1-6; Matt 24; Op 11:15-19; 1 Kor 15:50-58
2024-10-02
Jakobus 4:2 NLV
Baie van ons mislukkings vind plaas omdat ons nie daaroor bid nie. Soos ons ons foute ondersoek, ontdek ons ‘n verlate altaar van gebed en ‘n onoopgemaakte Bybel. Jakobus som dit as volg op: ‘En eintlik is die rede hoekom julle nie het wat julle wil hê nie, die feit dat julle God nie daarvoor vra nie.’ Een Christelike leier skryf: ‘As ‘n uitgebrande, gefrustreerde jong Christen, het ek een dag besef dat om in my eie krag te probeer leef, nutteloos was. Ek moes my probleme na God toe neem. Met ander woorde, ek moes meer bid!’ Jesus sê vir ons: ‘Hou aan met vra, en God sal vir julle gee. Hou aan met soek en julle sal kry. Hou aan klop en God sal die deur vir julle oopmaak’ (Matteus 7:7 NLV).
Soms is dit eers wanneer jy nie meer jou weg oopsien nie, wanneer jy na God in gebed draai. Selfs dan, wanneer ons gebede nie onmiddellik beantwoord word nie, gee ons op. Oor en oor word daar in die Skrif vir ons gesê om op God te wag. Hoekom? Omdat God werk terwyl ons wag. Soms werk Hy aan die dinge waarvoor ons Hom gevra het; ander kere werk Hy aan ons. In sulke tye mag Hy dalk besig wees om ons houding of begeertes te korrigeer of om ons na sy wil toe te lei.
Moenie net bid nie, bid aanhoudend. Gee dit alles aan God oor wanneer jy bid. Onthou, Hy het beloof dat wanneer jy Hom met jou hele hart soek, sal jy Hom vind (sien Jeremia 29:13). Sit dus jou hele hart in jou gebed, wag stil in God se teenwoordigheid en laat Hom toe om met jou te praat. Jy sal heerlik verras wees oor hoe Hy jou gebede beantwoord.
Sielskos: 1 Kor 15-16; Luk 24:36-44; Ps 60; Spr 25:21-22
2024-10-01
2 Korintiërs 10:5 NLV
Jou gedagtes is ‘n slagveld waar oorwinning of nederlaag bepaal word. Dis hoekom Paulus skryf: ‘…Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.’ Jy het ‘n keuse: Óf jy lei jou gedagtes, óf jou gedagtes lei jou. Jy neem óf jou gedagtes gevange, óf jou gedagtes neem jou gevange
Waar kom gedagtes vandaan? Van oral rondom jou af. As jy elke dag kwaliteittyd in gebed en deur die Skrif met God bestee, sal jou gedagtes deur God gerig word. Indien nie, sal jou gedagtes deur die wêreld rondom jou gerig word. Jy hoef nie elke gedagte wat in jou kop opkom te aanvaar nie. Jy moet eerder elke gedagte teen die standaard van die Skrif meet, wat gehoorsaamheid aan Christus vra.
Hier is ‘n praktiese voorbeeld daarvan: As iemand jou gevoelens seermaak, maak daar en dan ‘n besluit dat jy nie vir dae aaneen oor daardie persoon ontsteld gaan wees nie. Dit gaan Satan net die geleentheid gee om sade van bitterheid te plant (sien 2 Korintiërs 2:11). Jy kan eerder negatiewe denke verwerp en weier om dit toe te laat om jou vreugde en vrede te steel. Dieselfde is waar wanneer jy versoek word. Die beste manier om ‘n verkeerde gedagte te oorwin, is om dit met ‘n regte gedagte te vervang.
Soos jy elke dag jou gedagtes met God se Woord vernuwe, sal jou denke begin verander en in lyn met die Skrif begin beweeg. Dag na dag sal goddelikke grense dan rondom jou gedagtes gevestig en versterk word. Hierdie grense sal jou nie net van bedrog en nederlaag weerhou nie, maar jou help om ‘n aangenamer, godvrugtige lewe te lei.
Sielskos: 1 Kor 12-14; Luk 24:25-35; Ps 68:19-35; Spr 25:17-20
2024-09-30
2 Korintiërs 3:5 NLV
Wanneer God iemand in die Bybel roep om iets te doen, sal jy oplet dat hulle nie opspring en sê: ‘Geen probleem, ek is gereed,’ nie. Keer op keer vertel hulle vir God hoekom hulle dit nie kan doen nie. Kyk na die volgende lys mense. Moses: ‘…Ek was nog nooit iemand wat goed kon praat nie. Selfs waar U nou hier met my praat, haak my tong vas’ (Eksodus 4:10 NLV). Gideon: ‘…hoe kan ek Israel red? My familie is een van die swakstes in Manasse. Ek is die onbelangrikste lid van my gesin’ (Rigters 6:15 NLV). Abraham: ‘…Hoe kan ek op 100 jaar pa word?..’ (Genesis 17:17 NLV). Jeremia: ‘…ek kan nie goed praat nie. Ek is ook te jonk!’ (Jeremia 1:6 NLV). Jesaja: ‘…Ellende het my getref! Want ek is ‘n sondige mens…’ (Jesaja 6:5 NLV). Ester: ‘[Almal]… weet dat enige man of vrou wat na die koning toe gaan as hulle nie ontbied is nie, net daar doodgemaak word…’ (Ester 4:11 NLV). Die ryk jong man: ‘…hy [het] geskok weggegaan, want hy het baie besittings gehad’ (Matteus 19:22 NLV). Saul: ‘…Toe antwoord die Here: ‘Hy kruip weg agter die mense se reisgoed” (1 Samuel 10:22 NLV). (Dit het gebeur toe Samuel vir Saul as koning aangewys het, maar die mense hom nie kon kry nie en vir die Here gevra het waar hy is.)
Wat ‘n groot lys verskonings: praat te sleg, te swak, te oud, te jonk, te sondig, te gevaarlik, te ryk, te huiwerig – tog het God elkeen van hulle gebruik om sy doelwitte te vervul. Paulus sê vir ons hoekom: ‘Nie dat ons op eie houtjie iets kan bedink asof dit ons eie breinkind is nie. Ons bekwaamheid kom van God’. Maak vandag op God staat.
Sielskos: 1 Kor 10-11; Luk 24:13-24; Ps 68:1-18; Spr 25:13-16
2024-09-29
Matteus 28:19-20 NLV
Die laaste ding wat Jesus vir sy dissipels gesê het voor Hy hemel toe opgevaar het, was die volgende: ‘Gaan dan, maak al die nasies my dissipels… Ek is vir altyd by julle…’ Wanneer God ons ‘n opdrag of ‘n instruksie gee, verg dit altyd sy betrokkenheid, sy krag, sy leiding en sy voorsiening. Sal Hy jou talente gebruik? Ja. Sal Hy ander mense gebruik om jou te help en jou te seën? Ja. Hy sal egter nooit toelaat dat jy meer op enigiemand anders as op Hom staatmaak nie. Toe Jesus sy dissipels uitgestuur het om die wêreld te gaan verander, was daar twee merkwaardige uitdagings.
Eerstens, was daar net elf dissipels oor. Dwarsdeur die Evangelies herinner die getal twaalf lesers daaraan dat die dissipels gekies is om ‘n voorstelling van die verloste twaalf stamme van Israel te wees. Twaalf is die getal van volledigheid, heelheid en gereedheid. Dit gaan egter nie net daaroor dat hulle die verkeerde getal gehad het nie. Na Christus se opstanding lees ons: ‘Die elf dissipels het toe na Galilea gegaan, na die berg soos Jesus hulle beveel het. Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, alhoewel party van hulle nog getwyfel het’ (verse 16-17 NLV).
Hulle het nie genoeg dissipels gehad nie en die wat hulle gehad het, het nie genoeg geglo nie. Tog het God hulle kragtig gebruik. Inderdaad, die beskuldiging wat deur hul vyande teen hulle gemaak is, het begin met een van hul grootste komplimente: ‘…Dít is die mense wat die hele wêreld om beroering bring. En nou is hulle hier in ons stad’ (Handelinge 17:6 NLV). Die sleutel tot sukses lê dus nie in jou vermoë nie, maar in God se vermoë om deur jou te werk. Dis hoekom jy elke dag in afhanklikheid van God moet leef.
Sielskos: Heb 11:7; Gen 6:9-22; Gen 8:18-22; Matt 24:36-41