Moenie afgunstig wees nie

2024-10-10
Eksodus 20:17 NLV

Afguns, in wese, beskuldig God daarvan dat Hy onregverdig en onbewus is van wat die beste vir ons lewens is. Daarom moet ons afguns totaal en al verban wanneer dit in ons lewens verskyn. Hier is ses maniere om dit te doen:

1) Bely en bekeer jou van jou onsuiwer bedoelings wanneer jy enigiets wil hê wat nie tot eer van God is nie. ‘As julle bitter jaloers is en selfsugtige ambisie in julle harte het, moenie dan spog dat julle wysheid het nie. Dis om teen die waarheid in te lieg!’ (Jakobus 3:14 NLV).
2) Tel jou seëninge. Jaloesie skiet in ontevredenheid wortel. Ons is dikwels so onsteld oor iemand anders se goeie geluk dat ons nie ons eie seëninge en voordele kan raaksien nie. Daar is ‘n gesegde wat lui: ‘Afguns is die gewoonte om iemand anders se seëninge in plaas van jou eie te tel.’
3) Aanvaar wat afguns jou wys wat jy moet verander sodat jy jou lewensdoel kan bereik. Bid die volgende: ‘God, skenk my die kalmte om te aanvaar wat ek nie kan verander nie, die moed om te verander wat ek kan verander; en die wysheid om die verskil te ken.’
4) Indien moontlik, bestee tyd saam met die persoon op wie jy jaloers is en leer meer oor hulle sleutel tot sukses. In die proses mag jy dalk besef dat hulle ‘n menigte probleme het, wat jou afguns kan laat afneem.
5) In plaas daarvan om ‘n negatiewe aanmerking te maak wanneer daar met waardering en bewondering van iemand gepraat word, probeer om woorde van lof te spreek.
6) Hou op om ‘n ander persoon se sukses as jou mislukking te sien. In plaas daarvan om te dink dat hulle hul seëninge ten koste van jou ontvang het, begin glo dat die God wat hulle geseën het, jou ook wil seën.

Sielskos: Eks 16-18; Joh 2:1-11; Ps 23; Spr 26:10-12

Jy kan verander

2024-10-09
Filippense 4:13 NLV

Selfhelp boeke beweer soms dat jy jou lewe in vyf of tien eenvoudige stappe kan verander. Dit verg egter meer as dit om wesenlike en blywende veranderinge in jou lewe te maak. Eerstens vind verandering plaas deur krag uit God se krag te put. Paulus skryf: ‘Ek weet wat dit is om boomskraap te lewe, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê. Ek het lewenservaring opgedoen vir alle omstandighede, vir wanneer ek genoeg het om te eet én wanneer ek honger is, vir oorvloed én tekort. Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (verse 12-13 NLV).

Tweedens vind verandering deur bestendige en vasberade harde werk en moeite plaas. ‘Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes’ (Galasiërs 6:9 NLV). Die sleutel is om te verstaan dat een slegte dag jou nie ‘n mislukking maak nie; dit hou nie vir ewig aan nie, dis net ‘n slegte dag. Nadat jy so ‘n dag gehad het, moet jy net weer die volgende dag op koers begin. Moenie tou opgooi nie. Die lewe is ‘n opeenvolging van op en af, stop en begin. Môre is ‘n splinternuwe dag. Wat nou nodig is, is om jou belofte aan jouself te vernuwe om veranderinge in jou lewe te maak en weer by die plek waar jy opgehou het, te begin. Indien nodig, vra God se vergifnis, vergewe jouself en begin weer vorentoe stap. Fokus op jou doelwit, nie op die feit dat jy van die wa afgeval het nie. Moenie daarin vasgevang raak om ander mense of jouself te blameer nie. Laat dit gaan en beweeg aan. Besef dat jy met God se krag die volgende moeilike situasie beter sal hanteer.

Sielskos: Eks 13-15; Joh 1:43-51; Ps 131; Spr 26:7-9

Jou daaglikse brood

2024-10-08
Johannes 6:35 NLV

Na die Tweede Wêreldoorlog was Europa verwoes en orals was daar honger en hawelose kinders wat wees deur die gevegte gelaat is. Hulle is in groot kampe geplaas waar hulle kos en sorg ontvang het. Tog het hulle nie rustig in die aande geslaap nie; hulle was senuweeagtig, angsbevange en woelig. Die versorgers kon dit nie verstaan nie, totdat ‘n sielkundige voorgestel het om elke aand vir elke kind ‘n stukkie brood aan te bied, nie om te eet nie, maar om in die bed vas te hou. Die uitkoms was verstommend. Die kinders het deur die nag begin slaap, omdat hulle besef het dat hulle nie die volgende dag honger sou ly nie. Deur die brood vas te hou, het hulle ‘n gevoel van beskerming (hulle is veilig), belangrikheid (iemand gee vir hulle om), en geluk (daar sal môre meer brood wees), ervaar.

Die kinders het hierdie drie dinge nodig gehad – en jy het dit ook nodig. Al drie kan in ‘n verhouding met Jesus gevind word. Toe Hy gesê het: ‘…Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger word nie…,’ het Hy bedoel: ‘Ek is vir jou siel wat kos vir jou liggaam is.’ Brood is een van die dinge wat die meeste van ons in gemeen het. Dit behoort nie net aan ‘n spesifieke streek of nasie nie. Dis in alle vorms en groottes beskikbaar. In Engeland mag dit dalk botterbroodjies wees; in Suid-Amerika, tortillas; in New York, bagels; en in Ethiopië, injera. Deur middel van ‘n eenvoudige stelling het Jesus ons daaraan herinner dat Hy ons voedingskrag orals en elke keer is. Maak dus seker om jou Bybel elke dag te lees; dis jou daaglikse brood.

Sielskos: Eks 10-12; Joh 1:29-42; Ps 29; Spr 26:4-6

Herbou jou huwelik (4)

2024-10-07
Spreuke 18:22 NLV

Miskien het jy al die grappie gehoor van die dame wat vir haar vriendin gesê het: ‘Ek het nie geweet wat ware geluk is totdat ek met my man getrou het nie, en nou is dit te laat.’ Dit hoef egter nie jou verhaal te wees nie. Jy kan jou huwelik deur God se wysheid, liefde en genade herbou. Om dit te doen, moet jy die kuns leer om jouself toe te laat om weerloos, deursigtig en gereed te wees om weer te vertrou. Die enigste manier om met iemand te konnekteer is om daardie persoon regtig toe te laat om jou ten volle te ken – jou bekommernisse, dit waarmee jy sukkel, jou gebrek aan selfvertroue, jou hoop en drome.

Dit is normaal, veral wanneer jy seer of verwerping ervaar het, om jouself en jou hart van meer pyn te probeer beskerm. Om dit te doen maak sin in ander dele van jou lewe, maar om in jou huwelik jou siel teenoor jou eggenoot af te sluit, sal definitief net verdere pyn veroorsaak.

Soos eiendom se waarde met tyd verhoog, bou jou huwelik oor die jare kapitaal op. Julle gedeelde ervarings, soos die dag wat julle kind universiteit toe gaan, die maatskappy wat julle saam begin het, die afsterwe van jou ouer na ‘n uitgerekte stryd met kanker, die geboorte van julle kinders, of ‘n weeklange vakansie om ‘n verjaarsdag te vier – alles daarvan tel. Hierdie ervarings kom as ‘n pragtige skilderdoek van intimiteit wat julle lewe saam uitbeeld, bymekaar. Dit bring ook God se seën mee. ‘Iemand wat ‘n goeie vrou [of man] kry, het geluk gevind. Hy [of sy] geniet die goedheid van die Here.’

Sielskos: Eks 7-9; Joh 1:14-28; Ps 92; Spr 26:1-3

Herbou jou huwelik (3)

2024-10-06
Matteus 6:12 NLV

Ander vertalings sê dat ons mekaar se ‘oortredings’ moet vergewe. Om te oortree beteken om te gaan waar jy nie veronderstel is om te gaan nie en te doen wat jy nie veronderstel is om te doen nie. Ontrouheid, oneerlikheid en ander verkeerde dinge is onder andere van die oortredings wat ons dalk mag ervaar. Sonder die vermoë om vergifnis uit te oefen, selfs vir die klein dingetjies, is dit moeilik om die genade van vergifnis aan te bied of te aanvaar. Om te vergewe beteken dat ons aan onsself erken dat ons maat nie perfek is nie, en ons ook nie. Onvergewensgesindheid is soos om gif te drink en te verwag dat die ander persoon daarvan gaan doodgaan. Vergifnis bevry nie net jou eggenoot van jou woede en seer nie, maar laat jou ook uit daardie greep vry.

Dis onmoontlik om getroud te bly sonder om te leer om vergifnis uit te oefen. Ons het dit nie vir mekaar nodig nie, maar ook om ‘n verhouding met God te hê, omdat God binne ons en in ons verhouding is. As die muur tussen jou en jou eggenoot so groot soos ‘n berg lyk, bid daaroor in die geloof dat jy ‘n God dien wat berge kan verskuif. Jesus het gesê: ‘Dit verseker Ek julle, julle kan vir hierdie berg sê: ‘Mag God jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur. Al wat nodig is, is dat julle regtig sal glo en nie in julle harte twyfel nie. Daarom verklaar Ek vir julle, alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou. Maar wanneer julle besig is om te bid, vergewe eers enigeen teenoor wie julle ‘n grief het. Dan sal julle hemelse Vader ook julle oortredings vergewe’ (Markus 11:23-26 NLV).

Sielskos: Heb 11:8-12; Gen 17:1-27; Gen 22:1-18; Jak 2:21-24

Herbou jou huwelik (2)

2024-10-05
1 Petrus 3:7 AFR83

Net omdat iets gesê word, beteken dit nie noodwendig dat dit gehoor word nie. Die apostel Paulus gebruik die woorde ‘verstandig’ en ‘eer.’ Beide is noodsaaklik vir die kuns om te luister, wat weer noodsaaklik vir ‘n goeie huwelik is. Tensy jy gewillig is om te luister wat jou eggenoot sê en hulle gedagtes en gevoelens te respekteer, stuur jy op probleme af. Die rede hoekom baie paartjies op die punt kom waar hulle ‘n egskeiding oorweeg, is dat hulle interaksies uit preke en monoloë, eerder as gesprekke, bestaan. Berading kan jou help om te leer hoe die ander persoon hom- of haarself uitdruk.

Wanneer jy daarop gefokus is om altyd reg te wees en die ander persoon ore aan te sit, is daar geen ruimte vir oplossings nie. Die sleutel is om te probeer om met ‘n oop hart eerder as ‘n geslote gemoed te luister; om te leer om weerloos en sag te wees om sodoende by ‘n plek van begrip uit te kom waar onderhandeling kan plaasvind. Sommige paartjies skryf vir mekaar briewe om hul gevoelens uit te druk soos hulle hulle pad terug na beter en dieper kommunikasie navigeer.

Net soos ‘n kunstenaar vir die perfekte lig wag om ‘n voorwerp op die skilderdoek vas te lê, so moet paartjies die kuns aanleer om te wag om hulle verhouding weer op koers te kry. Dit verg geduld en toewyding wat nie altyd maklik is nie, maar wel baie nodig is. God se tydsberekening bied aan ons dieper genesing as enigiets wat ons op ons eie kan bou. Indien jy egskeiding oorweeg, maak seker dat jy eers elke ander opsie uitgeput het. Maak nie saak hoe sleg dinge tussen julle mag wees nie, met God se hulp kan julle jul huwelik herbou.

Sielskos: Eks 4-6; Joh 1:1-13; Ps 63; Spr 25:26-28