Wees teenwoordig in die oomblik

2024-10-16
Psalm 118:24 NLV

Een skrywer sê: ‘Een van die strategieë wat ek gebruik, is om genoeg tyd beskikbaar te stel sodat ek nie sit en dink aan wat ek volgende moet doen nie. Ek vind dit die beste om te wag totdat ek genoeg tyd het om saam met iemand te wees, sodat die persoon nie gefrustreerd met my verdeelde aandag en besige skedule raak nie.’

As jy aanhou om nie tyd vir jou geliefdes te maak nie, kan daar dalk ‘n dag aanbreek waarop hulle nie tyd vir jou gaan hê nie. Vra jouself af: ‘Is hierdie persoon meer werd vir my as die plan, projek, probleem of druk wat ek moet hanteer?’ Leer om die oomblik te geniet en fokus op die persoon by wie jy is. Vra oop vrae wat hulle aanmoedig om met meer as ‘n ja of nee te antwoord. Luister aandagtig en vra addisionele vrae. Dit help mense om te voel dat jy by hulle betrokke is en vir hul antwoorde omgee.

Ja, jou gedagtes kan dalk vir ‘n paar sekondes na die toekoms dwaal, maar druk dit onmiddellik terug na die hede toe deur daardie bekommernisse te verwerp. Jy kan later daaraan aandag gee. Konsentreer op die hede. Daar is groot genot daarin te vinde wanneer jy gewoond raak om dit te doen. ‘n Gedig lui: ‘Ek wil doelbewus lewe… en nie, wanneer ek sterf, ontdek dat ek nie geleef het nie.’

Om seker te maak dat dit nie met jou gebeur nie, luister na Salomo se woorde: ‘Mense moet eet en drink en onder al sy moeite nog die goeie kan geniet. Dit is geskenke van God’ (Prediker 3:13 NLV). As jy minder moet doen om die mense vir wie jy lief is meer te geniet, doen dit dan; jy sal nooit daaroor spyt wees nie!

Sielskos: Eks 28-29; Joh 4:1-12; Ps 89:38-52; Spr 26:23-26

Kry ‘n mentor (4)

2024-10-15
Johannes 15:15 NLV

Die mentor wat jy kies moet aan jou beskikbaar wees. Jesus het vir diegene wat Hy gementor het gesê: ‘Ek noem julle nie meer slawe nie, want ‘n slaaf weet nie altyd wat sy eienaar doen nie. Ek het julle vriende genoem omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle verduidelik het’ (vers 15 NLV). Jy het tyd met jou mentor nodig om vir hom of haar vrae te vra en uit sy of haar antwoorde te leer.

Dr John Maxwell skryf: ‘Die beste raad wat ek op die gebied van beskikbaarheid kan gee, is dat wanneer jy ‘n mentor soek jy nie te gou te hoog moet skiet nie. As jy dit oorweeg om vir die eerste keer die politiek te betree, het jy nie die raad van die president van die Verenigde State nodig nie. As jy ‘n hoërskoolleerling is wat daaraan dink om tjello te leer speel, hoef jy nie deur Yo-Yo Ma gementor te word nie. As jy net met jou loopbaan begin, moenie verwag om uitgebreide mentortyd by die uitvoerende hoof van jou organisasie te kry nie. Hoekom nie? dink jy dalk. Eerstens, wanneer jy met jou loopbaan begin, kan byna al jou vrae deur iemand twee of drie vlakke bo jou (nie tien nie), beantwoord word. Hulle antwoorde sal vars wees omdat hulle onlangs die kwessies waarmee jy te doen het, hanteer het. Ek sê nie jy moet nooit na die boonste vlak gaan nie. Ek sê, bestee die meeste van jou tyd om gementor te word deur mense wat beskikbaar, gewillig en geskik vir die stadium van jou loopbaan, is.’

Sielskos: Eks 25-27; Joh 3:22-36; Ps 89:15-37; Spr 26:20-22

Kry ‘n mentor (3)

2024-10-14
1 Korintiërs 11:1 NLV

Jou mentor moet nie net professionele uitnemendheid ten toon stel en vaardighede hê waaruit jy kan leer nie, maar moet ook iemand wees met karaktereienskappe wat die moeite werd is om na te volg. Bernie Madoff was een van die invloedrykste en gesogste makelaars in Wall Street. Hy het egter in die tronk opgeëindig nadat hy ‘n multibiljoen Ponzi skema bedryf het wat die lewens van individue, maatskappye en selfs regerings verwoes het. Talle akteurs, atlete, politieke leiers en sakebestuurders poog deesdae om hul posisie as rolmodelle te ontken alhoewel mense hulle steeds volg en hul gedrag naboots. Hulle wil graag hê dat mense tussen hul persoonlike gedrag en hul professionele lewe moet onderskei, maar sulke onderskeiding is nie regtig moontlik nie.

Terwyl jy na rolmodelle en mentors soek, moet jy hul persoonlike lewe net so deeglik soos hul openbare optrede ondersoek. Jou waardes sal deur hulle s’n gevorm word, moet dus nie terloops of onverskillig wees oor wie jy besluit om te volg nie. Paulus skryf: ‘Volg julle dan my voorbeeld, soos ek weer Christus s’n volg.’ Jy moet seker maak dat die persoon in wie se voetspore jy volg, Christus se voetspore volg.

Hoekom is dit so belangrik? Omdat daar ‘n oudit gaan wees! Wat jy ook in jou lewe bou, sal by die regterstoel van Christus geëvalueer word en jy sal dienooreenkomstig beloon word. ‘Daar kom egter ‘n dag wanneer die kwaliteit van elkeen se werk aan die lig sal kom, want die vuurtoets sal dit bekendmaak. Dié vuurtoets sal elkeen se werk beproef – of dit standhou. Die mense wie se bouwerk standhou, sal deur God beloon word. Maar die mense wie se bouwerk deur die vuur verteer word, sal skade ly…’ (1 Korintiërs 3:13-15 NLV).

Sielskos: Eks 22-24; Joh 3:1-21; Ps 89:1-14; Spr 26:17-19

Kry ‘n mentor (2)

2024-10-13
Matteus 11:29 NLV

Jesus het gesê: ‘…Op hierdie rots sal Ek my kerk oprig, en al die magte van die hel sal dit nie oorwin nie’ (Matteus 16:18 NLV). Toe Hy hierdie woorde gespreek het, was die godsdienstige leiers van die tyd besig om sy dood te beplan, die samelewing is deur die mag van Rome beheer en sy volgelinge was eenvoudige mense. Menslik gesproke was dit wat Hy beloof het vermetel en die kans dat dit sou plaasvind, nul. Nietemin het dit alles gebeur. Tweeduisend jaar later is Hy die skrywer wat die meeste aangehaal word en baie van ons waardes word op die beginsels wat Hy vir die mense onderrig het, gebaseer. Hoe het Hy dit gedoen? Deur ander te mentor.

Wanneer jy dus na ‘n mentor soek, probeer iemand kry wat die kwaliteite en karakter wat Jesus ten toon gestel het, uitleef. ‘Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik. Neem my juk op julle skouers. Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal nuwe krag kry. Want my juk sal saggies op julle skouers rus en my las is lig om te dra’ (Matteus 11:28-30 NLV). Jesus het ‘n landbou-illustrasie gebruik wat sy volgelinge sou verstaan. Om die beste produktiwiteit uit ‘n os te kry, moet die juk om sy nek gemaklik pas.

‘n Goeie mentor is iemand wat jou verstaan en weet wat by jou temperament en talente pas. ‘n Mentor is ‘n ekstra paar oë en ore wat altyd jou beste belange op die hart dra. Wanneer jy daaraan dink, is die regte mentor een van die beste beleggings wat jy vir jou toekoms kan maak.

Sielskos: Heb 11:22; Gen 41:1-39; Gen 45:1-11; Gen 50:15-26

Kry ‘n mentor (1)

2024-10-12
Matteus 4:19 NLV

Die meeste mense wat besluit om geestelike te groei, vind hulle eerste mentors in die bladsye van boeke. Dis ‘n wonderlike plek om te begin. Dis inderwaarheid ‘n wonderlike plek om vanaf voort te gaan. Dis wysheid wat in die Skrif gevind word maak die Bybel die beste handleiding wat al ooit geskryf is. Op ‘n stadium, as jy wys is, sal jy egter ook na ‘n rolmodel soek om jou te mentor. Dit maak nie saak hoe talentvol of ervare jy is nie, jy sal meer saam met die regte mentor bereik as wat jy ooit op jou eie kan doen.

Jesus, die grootste mentor van almal, het ‘n groep dissipels gehad wat die wêreld vir ewig verander het. ‘Op ‘n dag toe Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy twee broers, Simon, ook bekend as Petrus, en sy broer Andreas. Hulle was besig om nette in die see uit te gooi. Hulle was vissers van beroep. Daarop sê Hy vir hulle: ‘Kom! Word my dissipels, en Ek sal julle vissers van mense maak.’ Dadelik het hulle hulle nette gelos en Jesus se dissipels geword. ‘n Entjie verder het Hy twee ander broers gesien: Jakobus, die seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was in die boot besig om saam met hulle pa aan hulle nette te werk. Daarop roep Hy hulle om ook te kom. Sommer net daar het hulle die boot en hulle pa gelos en Jesus se dissipels geword’ (verse 18-22 NLV).

Net soos die regte mentor jou kan maak, kan die verkeerde mentor jou breek. Jy moet dus daaroor bid. Dan moet jy iets daaraan doen. Hoekom? Want as jy net jouself volg, mag jy jouself bevind waar jy in sirkels loop en nêrens kom nie.

Sielskos: Lev 16; Lev 23:26-32; Heb 9:1-14; Heb 13:11-16

Leierskap kan eensaam wees

2024-10-11
2 Timoteus 4:16-17 NLV

Een van die dinge wat leiers weet, is dat hoewel baie mense nooit self ‘n leier sal wees nie, daar baie mense is wat bereid is om jou te kritiseer en vir die hele wêreld te vertel hoe hulle beter weet en hoekom jy dit verkeerd gedoen het! Terwyl jy altyd meer sal bereik wanneer jy saam met ander mense werk, kan jy nie altyd daarop staatmaak dat almal van jou gaan hou of jou ondersteun nie. Dus moet jy op jou Godgegewe doelwitte gefokus bly, wees wie jy is en vertrou op God om te doen wat jy nie kan nie.

Ware leiers maak moeilike besluite, selfs al beteken dit dat hulle minder gewild gaan wees. Die pad na ware leierskap kan eensaam wees. Wanneer jy egter jou doelwitte bereik, is die beloning enorm. Paulus skryf: ‘Toe ek die eerste keer voor die regter gebring is, was daar niemand by my nie. Almal het my verlaat. Ek hoop nie dit sal teen hulle tel nie! Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee om die Goeie Nuus in al sy volheid te verkondig sodat al die heidene dit kan hoor… Ja, en die Here sal my verlos van enige aanval en my veilig in sy hemelse koninkryk bring…’ (verse 16-18 NLV).

Wanneer ander mense jou verlaat, sal die Here by jou staan. Die Here sal jou versterk en beloon. Jy is geroep om ander mense lief te hê en saam met hulle te werk. As jy agterkom dat jy onopsetlik dinge doen wat ander vervreem of ontmoedig, vra God vir wysheid en insig om die situasie reg te stel. Weet egter die volgende: Wanneer jy niemand anders behalwe God oor het nie, sal jy ontdek dat God genoeg is!

Sielskos: Eks 19-21; Joh 2:12-25; Ps 110; Spr 26:13-16