Moenie toelaat dat slegte nuus jou blydskap steel nie (3)

2017-10-31
Psalm 89:16 NLV

Ja, sekere dele van ons kultuur het vyandig teenoor die Christelike geloof geword. Die populariteit van films wat op geloof gebaseer is, het Hollywood die laaste paar jare egter onkant gevang. Terselfdertyd ontvang gewilde Bybelse onderwysers net soveel aandag op sosiale media soos sekulêre bekendes soos Katy Perry en Lady Gaga. Die hoeveelheid Christelike inhoud op Youtube is verbysterend. Kom ons bly ingelig en betrokke by die kultuur rondom ons, sodat ons hulle vrae kan beantwoord. Kom ons hou ook ingedagte dat Jesus gesê het, ‘…Op hierdie rots sal Ek my kerk oprig, en al die magte van die hel sal dit nie oorwin nie’ (Matteus 16:18 NLV). God sit steeds op die troon. Die laaste boek in die Bybel herinner ons dat wanneer dit tyd vir Jesus is om terug te keer, Hy as oorwinnaar sal terugkeer. Al sy vyande sal voor Hom kniel en sy heerskappy erken. ‘Daarom het God Hom ook tot die hoogste posisie verhoog en aan Hom die Naam gegee wat belangriker is as elke ander naam. So sal by die noem van Jesus se heerlike Naam elke knie… buig, en elke tong sal erken: ‘Jesus Christus is Here!’…’ (Filippense 2:9-11 NLV). God het jou geroep om in bonatuurlike vrede, liefde en vreugde te leef. As sy verloste kind, is jy die burger van ‘n ander koninkryk: God se koninkryk op aarde. Wil jy weet hoe dit alles gaan eindig? ‘…Die koninklike heerskappy oor die wêreld behoort nou aan ons Here en sy Christus, en Hy sal as koning heers vir altyd’ (Openbaring 11:15 NLV). Wil jy weet wat jou lotsbestemming is? Dink net aan die opwinding van ondersteuners wie se span nou net die sokker wêreldbeker of die Currie Beker gewen het – dis ons!

Sielskos: Deut 18:9-18; Dan 2; Jes 47:5-15; Hand 16:16-34

God het ‘n plan – vertrou Hom

2017-09-08
Efesiërs 1:11 NLV

Die Bybel sê, ‘Die Here… sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie’ (Psalm 84:12 NLV). Soms bid ons vir ‘n sekere ding met die geloof dat dit goed is vir ons. God, wat ‘n plan vir jou lewe het, weet egter wat ‘goed’ is en wat nie sal wees nie. Billy Graham se vrou, Ruth, het gesê as God al haar gebede beantwoord het toe sy jonk was, sou sy met die verkeerde man getrou het – verskeie kere. Twee traandruppels het by die rivier van die lewe afgedryf. Een het vir die ander gevra, ‘Wie is jy?’ Die tweede het geantwoord, ‘Ek is die traandruppel van die meisie wat lief was vir ‘n man en hom verloor het. Wie is jy?’ Die eerste traandruppel het geantwoord, ‘Ek is die traandruppel van die meisie wat hom gekry het.’ Ons huil oor dinge wat ons nie het nie en besef nie dat ons dalk harder sou huil as God dit vir ons gegee het nie. Om in geloof te wandel beteken dat ons die plan wat God reeds vir ons uitgewerk het, vertrou. Paulus het gesê, ‘…Ek het regtig geleer om onder alle omstandighede reg te kom’ (Filippense 4:11 NLV). Paulus se tevredenheid het nie uit sy omstandighede gespruit nie, inteendeel, hy het amper sewe jaar van sy bediening in die tronk deurgebring. Nee, sy tevredenheid het gespruit uit die wete dat God ‘…alles laat uitwerk soos Hy dit beplan en wou gehad het.’ Beteken dit dat Paulus elke detail van God se plan verstaan het? Nee, maar wanneer hy nie die plan verstaan het nie, het hy die Beplanner daarvan vertrou! Dit is waar Paulus se vrede, vreugde en tevredenheid vandaan gekom het. Joune moet ook.

Sielskos: Kol 1-2; Mark 11:1-11; Ps 78:9-16; Spr 23:22-25

Wees wys en innemend

2017-08-25
Spreuke 11:30 NLV

Die Bybel sê, ‘Hou op om die wêreld en die dinge van die wêreld lief te hê. As iemand die wêreld liefhet, is hy beslis ook nie lief vir die Vader nie’ (1 Johannes 2:15 NLV). Sommige van ons se optrede wys egter dat ons dink dat wanneer ons God meer lief het, beteken dit dat ons diegene rondom ons minder moet liefhê. Ons mag dalk ongemaklik rondom hulle voel, of nie weet hoe om met hulle te kommunikeer nie, of optree asof ons geestelik verhewe bo hulle is. Jy is egter geroep om vreugde aan ander mense te bring, nie om hulle te veroordeel nie. God het alreeds ‘n plek en tyd vir die oordeelsdag bevestig en jy gaan nie op die troon wees wanneer dit aanbreek nie! Jesus word ‘die Goeie Herder’ (Johannes 10:11) genoem, en die Griekse woord vir ‘goeie’ beteken letterlik ‘innemend, bekoorlik, aantreklik’. Christus was so innemend dat mense outomaties tot hom aangetrokke was. Is hulle tot jou aangetrokke? Jesus het gesê dat ons geroep is om die sout en die lig van die aarde te wees. Sout laat kos beter proe en lig wys vir mense die regte pad om te loop. Omdat hulle wys en innemend was, het Jesaja die profeet inspraak in die lewe van konings gehad, het die drie Hebreeuse kinders die Babiloniese politiek verander en het Josef Egipte van hongersnood gered. Ja, Satan is aan die werk om Christus uit Kersfees, gebed uit skole en God uit die regering te haal. Hy sal egter nie wen nie, en hy weet dit (sien Openbaring 12:12). Sy strategie is egter om ons te laat glo dat hy kan wen. Werk dus vandag daaraan om wys en innemend te wees sodat jy mense na Christus toe kan lei.

Sielskos: 2 Kron 29-31; Mark 7:24-37; Ps 119:145-160; Spr 22:14-16

Wetenskap bewys dat die Bybel waar is (3)

2017-08-08
Job 38:35 AFR83

Die Bybel het moderne telekommunikasie voorspel. Klink dit te goed om waar te wees? Kyk dan na hierdie vers: ‘Kan jy die weerligstrale uitstuur dat hulle vir jou kom sê: ‘Hier is ons’?’ Vyftien honderd jaar voor Christus, in die boek Job, het God gesê dat lig gestuur kan word en in spraak kan manifesteer. In dieselfde trant, het jy geweet dat alle elektromagnetiese bestraling – van radiogolwe tot X-strale – teen die spoed van lig (omtrent 186,000 myl per sekonde) beweeg? Dit is wat onmiddellike koordlose kommunikasie met iemand aan die ander kant van die wêreld moontlik maak. Die feit dat lig gestuur en in spraak omskep kan word, is eers in 1864 (3300 jaar later), deur die wetenskap ontdek toe die Britste wetenskaplike, James Clerk Maxwell, voorgestel het dat elektrisiteit en liggolwe twee vorms van dieselfde ding is. Samuel Morse, wat die eerste telegram ontwerp het en die wêreld van kommunikasie vir ewig verander het, was ‘n Christen wat in die Bybel geglo het. ‘n Paar jaar voordat hy oorlede is, het hy gesê, ‘Hoe nader ek aan die einde van my reis kom, hoe duideliker is die bewys van die goddelike oorsprong van die Bybel. Die grootsheid en verhewenheid van God se geneesmiddel vir die gevalle mens word meer waardeer, en die toekoms word deur hoop en vreugde verlig.’ In jou lewe sal jy ongelowige Tomasse ontmoet, wat God steeds liefhet. Jesus het selfs ‘n spesiale verskyning na sy opstanding gemaak om Tomas se vertwyfelinge te weerlê. Hy doen dit ook vandag! Raak dus bekend met jou Bybel, en laat elke opregte, vraende hart weet dat die wetenskap bewys dat die Bybel waar is.

Sielskos: 1 Kron 7:20-9:44; Mark 3:1-19; Ps 119:25-32; Spr 20:25-27

Lesse uit die lewe van Dawid (5)

2017-07-25
2 Samuel 23:1 NLV

Eendag sal ons almal doodgaan en ons laaste woorde word dikwels as die belangrikste beskou. Die vraag is, het jy jou lewe tot jou volle potensiaal geleef en God se doel vir jou lewe vervul? Die Bybel sê, ‘Hier volg die laaste woorde van Dawid…’ Wat sal hy sê? Sy storie is ‘n mengsel van goed en sleg, van oorwinnings en mislukkings. Gedurende Dawid se lewe het sy seun sy dogter verkrag, een seun het ‘n ander een vermoor, sy vrou het haar rug op hom gedraai, sy vriende het hom verraai, sy mentor het hom probeer vermoor, sy familie het hom verwerp en hy het baie tyd in grotte weggekruip. Nou praat Dawid die laaste keer met ons. Sal hy oor Goliat praat? Oor Saul? Oor Batseba? Nee. “…Dawid… die man vir wie God aansien gegee het, die gesalfde van die God van Jakob, die geliefde psalmdigter van Israel… [het gesê]…’ Die Gees van die Here het deur my gepraat; sy woorde was op my lippe. Die God van Israel het gepraat, die Rots van Israel het vir my gesê: ‘Die mens wat regeer met regverdigheid, wat regeer in eerbied teenoor God, hy is soos die môrelig wanneer die son in die oggend verskyn in ‘n wolklose hemel, soos helderheid ná die reën wat jong gras uit die aarde laat groei.’ Is my huis dan nie by God nie? Het Hy dan nie ‘n blywende verbond met my gemaak, een wat in elke opsig bevestig, gewaarborg is nie? Al my redding, al my vreugde – is dit nie Hý wat dit laat groei nie?'” (verse 1-5 NLV). Hoekom is hierdie woorde in die Skrif opgeneem? Tot voordeel van diegene van ons wat, soos Dawid, nie perfek is nie, maar wie se harte nooit ophou om God te volg nie.

Sielskos: 1 Tim 4-6; Mat 27:33-44; Ps 42:6-11; Spr 19:15-17