2018-11-15
Psalm 18:40 NLV
Elkeen van ons is in ‘n stryd gewikkel, maar nie elkeen van ons is besig om te wen nie. Wenners kom in verskillende gedaantes voor, maar hulle het almal een ding in gemeen: geloof wat nie ophou nie! Niemand het meer struikelblokke in die lewe as Dawid gehad nie, maar hy het die belangrikheid om die regte perspektief te behou, verstaan. Hy het gesê, ‘U het my met krag toegerus vir die stryd…’ Die genade wat jy van God ontvang, sal altyd gelykstaande wees aan die uitdagings waar voor jy te staan kom. Altyd! Het jy geweet dat Lord Nelson, Engeland se beroemde held van die see, sy hele lewe lank aan seesiekheid gely het? Tog het hierdie man wat Napoleon se vloot gesink het, geweier dat sy persoonlike stryd hom van sy lotsbestemming beroof. Hy het nie net geleer om met sy swakheid saam te leef nie, maar om dit elke dag te oorwin. Almal van ons het slagvelde, maar met God se krag kan ons dit oorwin. ‘U het my met krag toegerus vir die stryd…’ Daar is ‘n verhaal van ‘n seuntjie wat sy regterhand in ‘n ongeluk verloor het. Toe die dokter hom oor sy gebrek uitvra, het hy geantwoord, ‘Ek het nie ‘n gebrek nie; ek het net nie ‘n regterhand nie!’ Later het die dokter uitgevind dat hierdie seuntjie voortgegaan het om een van die spelers te word wat die meeste doele in sy hoërskool se basketbalspan aangeteken het. Sy filosofie in die lewe was: Dit gaan nie oor wat jy verloor het nie, maar wat jy oor het wat tel! Dis ‘n wenhouding; en met God se hulp kan jy dit ook ontwikkel.
Sielskos: Rom 9:17-11:36; Joh 10:22-42; Ps 83:9-18; Spr 29:23-27
2018-10-22
Efesiërs 4:32 NLV
As gevolg van die manier wat ons aanmekaar gesit is, vind ons onsself tot sekere sondes aangetrokke. Gevolglik is ons areas van swakheid dikwels konsekwent en voorspelbaar. Dis soos om ‘n ‘sondeprofiel’ te hê. In sy boek, Signature Sin: Taming Our Wayward Hearts, identifiseer dr Michael W. Mangis nege van hierdie patrone, deur ‘n antieke sisteem genaamd die Enneagram te gebruik. Dis ietwat kontroversieel omdat dit deur baie geestelike tradisies gebruik word. Daar word egter geglo dat dit uit die sewe dodelike sondes en die vrug van die Gees sy oorsprong het, dus kan dit ook binne ‘n Christelike raamwerk toegepas word. Kom ons kyk vir die volgende paar dae na hierdie nege sondepatrone en die mense wat heel waarskynlik daarmee sal sukkel, om jou sodoende te help om meer bewustelik te word en ‘n skans teen jou spesifieke area van weerloosheid op te bou. 1) Hervormers. Hervormers word deur perfeksie aangetrek. Hulle het ‘n hoë standaard van uitnemendheid en hulle grootste vrees is om swakplekke te hê. (Hulle maak goeie chirurge – en uitstekende gholfspelers). Op hulle beste is hulle kruisvaarders, waghonde en profete. Omdat hulle egter met perfeksionisme en self-regverdiging sukkel, is hulle geneig om ander wie se standaarde nie heeltemal so hoog is nie, te oordeel. Die profeet Amos is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Hy praat van ‘n ‘skietlood’ wat wys hoe ver mense van God se standaarde te kort skiet (sien Amos 7:7-8). Paulus het die hervormers aangespreek deur te sê, ‘Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het.’ As ‘n hervormer, is jou grootste uitdaging om liefde, geduld en genade aan diegene met wie jy omgaan, te demonstreer. Met God se hulp kan jy dit doen.
Sielskos: Eks 39-40; Joh 5:1-15; Ps 41; Spr 27:7-9
2018-09-29
Eksodus 3:4 NLV
Moses het al die potensiaal in die wêreld op veertig gehad, maar soos ‘n verlore saak op tagtig gevoel. In plaas daarvan om God se wil op God se manier te doen, het hy probeer om God se wil te bespoedig en dit vir vier dekades vertraag! Op ‘n punt in ons lewe voel die meeste van ons dat die lewe ons verbygegaan het. Ons droom lyk soos ‘n verlore saak. Hierdie krisis bied ons ‘n keuse: Gooi handoek in, of gooi ons hoed terug in die ring in. Baie van ons gee op ons drome op omdat ons voel dat God op ons opgegee het. Ons dien egter ‘n God van restorasie (sien Joël 2:25). Moses se lewe is ‘n bewys dat dit nie saak maak hoeveel verkeerde draaie ons maak nie, dit is God se genade wat ons terug op die paraderoete kry. Moses het gedink dat sy verlede hom gediskwalifiseer het, maar God het dit gebruik om hom vir sy doelwit voor te berei. Niemand het die paleis se protokol so goed soos die prins van Egipte geken nie. Hy het immers daar grootgeword. Nadat hy vir veertig jaar skape opgepas het, het hy die wildernis geken – die wildslewe, die watergate, die weerpatrone. Moses het verkeerd opgetree voor hy begin reg optree het en dit mag dalk die geval met jou ook wees. Hier is egter die goeie nuus: God kan jou mislukkings in die verlede gebruik om jou karakter te bou en jou met die krag en wysheid toe te rus wat jy nodig het om jou doel hier op aarde te vervul. Dis wonderlik wat God met ‘n gebroke lewe kan doen wanneer jy vir Hom al die stukke gee.
Sielskos: 1 Kor 1-3; Luk 23:35-43; Ps 54; Spr 25:1-3
2018-09-23
2 Korintiërs 12:10 NLV
Wanneer jy beledig word, kan jy met ‘n bitsige antwoord reageer, of dit as ‘n geleentheid vir groei sien. Dawid het gesê, ‘Die lyding was goed vir my, want toe het ek u voorskrifte geleer’ (Psalm 119:7 NLV). Die sielkundige dr Brenda Shoshanne sê: ‘Die persoon wat ons beledig is ‘n onderwyser, wat ons help om ons ego te verminder, geduld en deernis te ontwikkel, onvoorwaardelike vergifnis uit te oefen en ons van die lewe en verhoudings te leer. As jy ‘n belediging nie as ‘n belediging sien nie, maar as ‘n les of ‘n gawe, verloor dit sy mag om jou seer te maak. Op ‘n praktiese vlak, wanneer jy beledig word, moenie iets sê nie. Gee jouself tyd. Baie skade word veroorsaak deur terug te slaan, die situasie te eskaleer en dinge te sê wat jy nie bedoel nie. Besef dat dit jou ego is – die valse sin van trots wat te voorskyn kom – en moenie daarmee saam gaan nie.’ Paulus het op ‘n plek gekom waar hy tevrede was met beledigings. Die meeste van ons is nog nie heeltemal daar nie, maar met tyd en oefening kan ons daar kom. Met betrekking tot Judas, skryf ‘n outeur: ‘God sal soms die aksies van ons vyande manipuleer om hulle as vriende te laat werk om Sy wil in ons lewens te vervul. Hy kan jou deur die slegste verhoudings seën, selfs die wat wat pynlik en negatief is. Die tyd, inspanning en pyn wat ons in hulle belê, word nie gemors nie omdat God weet hoe om teenspoed te gebruik om jou te help om jou doel in die lewe te vervul. Op die ou einde sal jy die genade vind om jou vyande te herevalueer en te besef dat, soos Judas, hulle vriende in vermomming is.’
Sielskos: 1 Kon 17:1-6; 1 Kon 18:16-39; 1 Kon 19:9-18; 2 Kon 2:1-12
2018-08-28
Rigters 6:26 NLV
Daar is ‘n verhaal van ‘n familie wat ‘n professionele biograaf gehuur het om hulle familiegeskiedenis op te teken. Daar was egter net een probleem. Hulle was bekommerd oor oom George, die swartskaap van die familie wat in die elektriese stoel vir ‘n string moorde tereggestel is. ‘Geen probleem,’ het die biograaf gesê. ‘Ek sal eenvoudig sê dat oom George in die voorsitterstoel van toegepaste elektronika by ‘n belangrike regeringsinstelling was; dat hy aan sy posisie toegewyd was en dat sy dood as ‘n skok gekom het.’ Op ‘n ernstiger noot, wanneer dit by jou opvoeding en familieboom kom, kan jy soms nie veel beter doen as om daaruit te leer nie! Deur God se genade kan jy egter baie aan jou toekoms doen. Jou ouers mag dalk in geestelike blindheid voortgestruikel het, maar jy kan in die lig van God se Woord stap – en jou familie saam met jou neem. Gideon, ‘n held van die Ou Testament, het in ‘n familie van afgodsdienaars grootgeword. Dit was ‘n kulturele ding; almal het dit gedoen. God het egter planne vir Gideon gehad, dus het die engel van die Here hom een dag besoek en gesê, ‘…Breek jou pa se altaar vir Baäl af… Kom bou dan ‘n stewige altaar vir die Here jou God…’ (verse 25-26 NLV). Dit was nie ‘n maklike ding vir Gideon om te doen nie, want hy was van nature ‘n bang persoon. Toe hy in geloof opgetree het om God te gehoorsaam, wou die dorpsinwoners hom doodmaak. Omdat Gideon egter aan God gehoorsaam was, het hy op die ou einde sy hele familie verander. Die woord vir jou vandag is dus: Verandering in jou familie kan by jou begin. As dit nie by jou begin nie, by wie sal dit dan begin?
Sielskos: 2 Kro 29-31; Luk 17:20-37; Ps 119:137-144; Spr 22:11-13