Jou tyd het aangebreek

2019-12-06
Ester 4:14 NLV

Ester het haar bediening as tienermeisie begin. Toe sy die woorde van Mordegai hoor – ‘…Wie weet, of dit nie miskien juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie is dat jy koningin geword het nie!’ – kon sy maklik gesê het: ‘Gee my tyd om groot te word, te trou, kinders te kry en my drome te vervul voor jy my vra om my lewe op die spel te plaas om die Joodse volk te red.’ Sy het dit egter nie gedoen nie. Sy het gesê: ‘…Al is dit in stryd met die wette sal ek na die koning toe gaan. As ek dan daarvoor moet sterf, moet ek maar sterf’ (vers 16 NLV). Dikwels is dit wat God in jou doen terwyl jy wag, belangriker as dit waarvoor jy wag. Soms dink jy jy is gereed, maar God weet jy is nie, daarom plaas Hy jou in die skool van geloof. Dis daar waar jy leer om na die onderwyser (die Heilige Gees) te luister, jou lesse te leer, die toetse te slaag en graad te ontvang sodat God jou kan gebruik. Dis nie ‘n gemaklike plek om te wees nie, maar God is meer in jou karakter as in jou gemak geïnteresseerd. Die sendeling Nancy Cockrell skryf: ‘Dit was al die tyd God se plan om jou tot hier te bring om Hom te dien, deur jou gawes te gebruik om ander te bedien. Hy het jou die genade gegee om op die liefde en karakter van Christus te reflekteer, om ‘n lig in ‘n donker wêreld te wees. Jy het ‘n unieke plek van diens in God se koninkryk, waar jy lewens aanraak soos net jy kan – alles vir ‘n tyd soos hierdie.’ Die vraag is dus: Sê God vandag vir jou dat jou tyd aangebreek het?

Sielskos: Kol 3-4; Filemon; Joh 17:13-26; Ps 148:1-6; Spr 29:11-15

Neem verantwoordelikheid en risiko’s (3)

2019-11-30
1 Petrus 4:10 NLV

Die Mars lekkergoed maatskappy het amper aan sy eie lekkernye verstik nadat hulle gekies het om nie M&M’s, een van hulle produkte, in die trefferrolprent E.T. in 1982 ten toon te stel nie. Die besigheidshoofde van die Mars maatskappy het besluit dat dit hulle niks in die sak sou bring om toe te laat dat hulle M&M lekkergoed in ‘n ‘lawwe rolprent’ gebruik word nie. Gevolglik het die klein seuntjie, Elliot, Hershey’s se Reese’s Pieces gebruik om die liefdevolle ruimtemannetjie uit sy skuilplek te lok. Daardie een toneel het miljoene kliënte wêreldwyd genoop om Reese’s Pieces te gaan koop. Te danke aan hierdie trefferrolprent, het Hershey’s se verkope met 65 persent opgeskiet! Dis interessant dat die Mars grootkoppe wat ‘Nee’ gesê het heel waarskynlik in groot huise gewoon het, groot karre gery het en groot salarisse verdien het. Ja, twyfel en vrees volg die rykes sowel as die armes; jy sal ‘nee-mense’ aan die bokant en die onderkant van die korporatiewe leer vind. Onthou jy die woorde van die beroemde gedig deur John Greenleaf Whittier: “For of all sad words of tongue or pen, the saddest are these, ‘It might have been'”? Staan jy vandag voor ‘n deur van geleentheid? Is jy bang om daardeur te loop? Moenie wees nie. God is by jou. Sy Woord sê: ‘…God het aan elkeen van julle ‘n genadegawe gegee. Met hierdie gawes moet julle mekaar dien sodat God se ryk en onverdiende goedheid deur julle na mekaar toe kan vloei.’ Wanneer God jou ‘n gawe gee, gee Hy ook vir jou die genade en die durf om dit te gebruik. Tree dus in geloof uit en onthou: ‘Alles wat jy doen, moet jy opdra aan die Here, dan sal jou planne slaag’ (Spreuke 16:3 NLV).

Sielskos: Jos 14-15; Joh 15:18-27; Ps 65; Spr 28:17-20

Is jy ‘n ‘ek eerste’ persoon?

2019-10-06
Filippense 2:3 NLV

As jy ‘n ‘ek eerste’ persoon is, kan hierdie Skrifgedeelte jou help om jou op jou tone – en op jou knieë – te hou. ‘Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange. Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees’ (Filippense 2:3-5 NLV). Dis hoe Jesus mense behandel het en jy is geroep om dieselfde te doen. Is dit maklik of gerieflik? Nee, dit druis teen alles in ons selfgesentreerde natuur in. Net omdat jy gister genadig was, beteken ook nie dat jy vandag mense dieselfde sal behandel nie. Genade is soos ‘n kleed; jy moet dit elke oggend aantrek en dit heeldag dra. ‘Hoe kan ek so lewe?’ vra jy. Deur daagliks krag uit God se genade te put en te besluit om ander mense eerste te stel. Deur op die uitkyk te wees vir geleenthede om hulle te ondersteun en te bemoedig. Almal wat jy ontmoet is besig om ‘n stryd te voer en jy mag dalk die een persoon wees wat oor hulle pad kom wat ‘n woord van bemoediging vir hulle kan gee (sien Spreuke 16:24). Moet hulle nie in die steek laat nie. Nederigheid is ‘n houding wat voor die tyd bepaal word: ‘Ek gee vir die mense rondom my om. Ek hoef nie altyd eerste te wees nie. Ek gaan vir ‘n verandering iemand anders help wen.’ Nederigheid bid: ‘Here, bekamp my mededingende natuur en verander daardie energie om ander mense op te lig en lief te hê. Wys my hoe U dit gedoen het en help my om dit ook te doen.’

Sielskos: Est 4:9-5:3; Heb 4:7-16

Hanteer jou sonde

2019-03-11
1 Johannes 3:5 NLV

Wanneer jy weier om jou sonde te konfronteer en dit te hanteer, word jy ‘n maklike teiken vir die vyand. ‘…as julle dink julle staan sterk, moet julle oppas dat julle nie ook tot ‘n val kom nie’ (1 Korintiërs 10:12 NLV). Jy het nooit gedink jy kan so kwaad word, of ‘n buite-egtelike verhouding hê, of vir jou baas jok, of iemand finansieel verkul nie. Omdat jy nooit gedink het dat jy dit kon doen nie, het jy niks gedoen om jou daarteen te beskerm nie. So seker as wat die visse swem en die voëls vlieg, sal jou sondige natuur jou mislei, tensy jy dit beslis en Skriftuurlik hanteer. Paulus het geskryf: ‘Inderdaad, omdat hulle geweier het om aan God die erkenning te gee wat Hy verdien, het Hy hulle oorgegee aan hulle skewe ingesteldheid. Gevolglik doen hulle allerlei onbehoorlike dinge’ (Romeine 1:28 NLV). Die ergste ding wat God kan doen is om jou aan jou eie vleeslike impulse oor te gee en te sê, ‘Doen wat jy wil!’ Dis wonderbaarlik hoe ons ons sonde met ander mense s’n vergelyk en tot die gevolgtrekking kom dat ons sonde nie so erg is nie. Die Bybel sê: ‘Ons het immers almal gesondig…’ (Romeine 3:23 NLV). As jy oor ‘n afgrond probeer spring, maak dit nie saak of jy die ander kant met ‘n sentimeter of ‘n kilometer mis nie, jy val ewe ver en land ewe hard. Daar is egter goeie nuus. ‘Julle weet tog dat Hy verskyn het om die sonde weg te neem…’ Vandag sal Jesus jou sonde vergewe en jou die krag gee om met ‘n berouvolle hart na Hom te kom en sy genade te ontvang.

Sielskos: Job 1-4; Luk 16:1-18; Ps 24; Spr 7:24-25

Beëindig dadelik die konflik!

2019-02-22
Spreuke 10:12 NLV

Wanneer jy aan jou wrokkigheid vasklou, is daar ‘n oorlog binne-in jou aan die gang. Jy is in ‘n stryd met jouself, sowel as ander mense, gewikkel. Hoe meer jy veg, hoe meer grond verloor jy. Jy kan nie in hierdie situasie wen nie. Jy sukkel om uit te klaar wie reg en wie verkeerd is. Jy spandeer so baie tyd om wraak te neem, te skree en te baklei dat jy jou vrede en vreugde verloor. Beëindig dadelik die konflik! Weier om nog ‘n dag so te leef. Moenie toelaat dat iemand anders se aksies jou reaksie bepaal nie. ‘Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind’ (1 Petrus 5:8 NLV). Moenie Satan se volgende maaltyd word nie. Laat die liefde en vrede van God jou gedagtes so baie vul dat dit na ander mense toe oorvloei – insluitend diegene wat jou ontstel het. Stop en dink: Wil jy regtig soos die persoon wees wat jou seergemaak het? Wat sou Jesus gedoen het? Hy sou sy ander wang gedraai het (sien Matteus 5:39). ‘Maar wat van die mense wat my verkeerd behandel het?’ vra jy. Wat daarvan? Dis nie jou plig om oordeel oor hulle te fel nie. Daar is net een gekwalifiseerde regter; laat Hom toe om dit te hanteer (sien Jakobus 4:12). Vra God om jou te help om jou woede te laat gaan, om die ander wang te draai en die mense wat jou verkeerd behandel het, te vergewe. Bid hierdie eenvoudige gebed: ‘Here, ek is kwaad. Help my om dit te laat gaan. Dankie vir die genade wat U my gegee het om die persoon wat my seergemaak het te vergewe. In Jesus se Naam: Amen.’

Sielskos: Eks 1-3; Luk 11:29-44; Ps 40:9-17; Spr 6:6-8