Hanteer jou sonde

2019-03-11
1 Johannes 3:5 NLV

Wanneer jy weier om jou sonde te konfronteer en dit te hanteer, word jy ‘n maklike teiken vir die vyand. ‘…as julle dink julle staan sterk, moet julle oppas dat julle nie ook tot ‘n val kom nie’ (1 Korintiërs 10:12 NLV). Jy het nooit gedink jy kan so kwaad word, of ‘n buite-egtelike verhouding hê, of vir jou baas jok, of iemand finansieel verkul nie. Omdat jy nooit gedink het dat jy dit kon doen nie, het jy niks gedoen om jou daarteen te beskerm nie. So seker as wat die visse swem en die voëls vlieg, sal jou sondige natuur jou mislei, tensy jy dit beslis en Skriftuurlik hanteer. Paulus het geskryf: ‘Inderdaad, omdat hulle geweier het om aan God die erkenning te gee wat Hy verdien, het Hy hulle oorgegee aan hulle skewe ingesteldheid. Gevolglik doen hulle allerlei onbehoorlike dinge’ (Romeine 1:28 NLV). Die ergste ding wat God kan doen is om jou aan jou eie vleeslike impulse oor te gee en te sê, ‘Doen wat jy wil!’ Dis wonderbaarlik hoe ons ons sonde met ander mense s’n vergelyk en tot die gevolgtrekking kom dat ons sonde nie so erg is nie. Die Bybel sê: ‘Ons het immers almal gesondig…’ (Romeine 3:23 NLV). As jy oor ‘n afgrond probeer spring, maak dit nie saak of jy die ander kant met ‘n sentimeter of ‘n kilometer mis nie, jy val ewe ver en land ewe hard. Daar is egter goeie nuus. ‘Julle weet tog dat Hy verskyn het om die sonde weg te neem…’ Vandag sal Jesus jou sonde vergewe en jou die krag gee om met ‘n berouvolle hart na Hom te kom en sy genade te ontvang.

Sielskos: Job 1-4; Luk 16:1-18; Ps 24; Spr 7:24-25