2019-01-04
Genesis 45:11 DB
Die droom wat God vir Josef gegee het, het nie daaroor gegaan om Josef goed te laat voel omdat hy tweede in bevel van die hele Egipte kon wees nie, maar om hom te posisioneer om sy familie en die wêreld in ‘n tyd van hongersnood te kon voed. Wanneer God jou ‘n droom gee, sal dit jou – en ook ander mense – seën. God se plan is om jou ‘n instrument te maak om sy wil te vervul. Uit Josef se familie het die Verlosser van die wêreld gekom, maar sy familie is deur uitwissing bedreig. Dus het God ‘n plan in plek gestel wat gesorg het dat Josef die farao se droom uitgelê het en die troon bestyg het, sodat sy plan uitgevoer kon word. Josef se verhaal bewys ook dat ‘n God-gegewe droom jou houding teenoor ander mense kan verander, insluited diegene wat jou mishandel het. Dit sal jou meer genadig, liefdevol en vergewinsgesind maak. Hulle het onthou hoe hulle hom mishandel het; en Josef se broers het gebewe toe hulle voor hom staan en besef het dat hy hulle lot in sy hande hou. Hy het egter geweier om terug te slaan, of selfs ‘n woord te spreek oor wat hulle gedoen het. Hy het vir hulle gesê, ‘…ek sal vir Pa-hulle sorg. Vir al die kinders en al die werkers ook.’ In plaas van weerwraak, wou hy die verhouding herstel. Hy het verder as hulle dade gekyk en gesien dat God in alles waardeur hy is, aan die werk was. ‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is…’ (Genesis 50:20 NLV). Hoe jy ander behandel, veral wanneer jy in ‘n magsposisie is, bepaal hoe God jou sal behandel.
Sielskos: Jes 8-11; Luk 1:26-38; Ps 10:1-11; Spr 1:10-16
2019-01-03
Genesis 37:5 NLV
Die verhaal van Josef leer ons dat sukses kan veroorsaak dat ander mense jou sleg behandel. Nie almal sal jou sukses vier nie, insluitend sommige wat die naaste aan jou is. Toe Jesus bekend begin raak het, was die eerste mense wat Hom verwerp het, inwoners van die dorp waarin Hy grootgeword het. Dit het Hom genoop om te sê, ‘…n Profeet word oral gerespekteer behalwe in sy tuisdorp en in sy eie familiekring’ (Matteus 13:57 NLV). Die Bybel sê, ‘Al die broers was jaloers op Josef…’ (Genesis 37:11 DB). Wanneer God jou seën, sal party mense jou teiken. Sommige sal voel dat hulle dit meer verdien as jy en dat jy jou seëning ten koste van hulle ontvang het. Dis hoe Kaïn gevoel het toe hy sy broer, Abel, vermoor het. Dis hoe koning Saul gevoel het toe Dawid vir Goliat doodgemaak het en die mense gesing het, ‘…Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!’ (1 Samuel 29:5 NLV). Jaloesie is soos ‘n boemerang, dit keer terug om die een wat dit gegooi het, seer te maak. Toe hulle vader ‘n partytjie gehou het om die tuiskoms van sy verlore seun te vier, het die ouer broer gesê, ‘…Ek het al die jare hard gewerk vir Pa… En in al hierdie tyd het Pa my nie eers ‘n bokkie gegee om saam met my vriende fees te vier nie’ (Lukas 15:29 NLV). Hy het drie foute gemaak wat ons self dikwels maak: a) Hy het homself met sy broer vergelyk. b) Hy het sy broer se sondes en tekortkominge blootgestel. c) Hy het nie die liefde wat sy pa vir hom gehad het en die seëninge wat sy pa vir hom gegee het, waardeer nie. Leer dus uit sy foute.
Sielskos: Jes 4-7; Luk 1:11-25; Ps 90:7-17; Spr 1:5-9
2019-01-02
Genesis 37:9 NLV
As jy reeds die droom wat God jou gegee het, vervul het, vra Hom vir nog ‘n droom. ‘n Groter een. Die Bybel sê, ‘Daarna het Josef nog ‘n droom gehad…’ In die eerste droom het hy gerwe gesien wat voor hom buig, maar in die tweede droom het hy gesien hoe sterre in die hemel voor hom buig. ‘n Woord van waarskuwing egter: Voor God jou nog ‘n droom gee, sal Hy eers kyk wat jy met die droom maak wat Hy reeds vir jou gegee het. ‘Die werk wat nou aan die gang is, lyk miskien klein en nie waffers nie. Maar moenie die waarde daarvan onderskat nie…’ (Sagaria 4:10 DB). Groot resultate begin gewoonlik met nederige werk. ‘…God is téén dié wat te veel van hulleself dink, maar dié wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is, aan hulle gee Hy sy onverdiende goedheid. Word daarom klein onder die kragtige hand van God; op sý tyd sal Hy julle groot maak’ (1 Petrus 5:5-6 NLV). As dit jou droom is om finansieel voorspoedig te wees, is dit in harmonie met God se beloftes (sien Deuteronomium 8:18; 2 Korintiërs 9:8; 3 Johannes v 2). Daar is egter drie skriftuurlike voorwaardes waaraan jy moet voldoen sodat jou droom vervul kan word: 1) Jy moet bereid wees om God met jou huidige inkomste te eer (sien Maleagi 3:8-10). 2) Jy moet bereid wees om dit wat jy het te deel en aan die behoeftes van ander te voorsien (sien Spreuke 11:25). 3) Jy moet fiskale dissipline beoefen eerder as om roekeloos te spandeer en impulsief aankope te doen (sien Spreuke 21:20). Wanneer jy aan sy voorwaardes voldoen, beloof God om jou te seën en die droom wat Hy jou vir jou lewe gegee het, te vervul.
Sielskos: Jes 1-3; Luk 1:1-10; Ps 90:1-6; Spr 1:1-4
2019-01-01
Genesis 42:9 NLV
Die droom wat God vir Josef gegee het, het hom deur ervarings wat die meeste van ons sou verpletter het, gedra. Hy is deur sy familie verkwalik, herhaaldelik deur sy baas se vrou versoek en is toe vir dertien jaar in die tronk gegooi vir ‘n misdaad wat hy nie gepleeg het nie. Tog was God by hom. Toe hy op sy laagste punt was, het Hy elke tree gerig en het hom vir sy roeping as die redder van sy mense geposisioneer. Die Psalmdigter vertel van die vreemde manier waarop God vir Josef gelei het: ‘Hy het iemand vooruitgestuur: Josef, wat verkoop is as slaaf. Sy voete het hulle in boeie gedwing, en sy nek in ‘n ysterhalsband gesit tot sy woorde waar geword het, en die Here se woorde bevestig is’ (Psalm 105:17-19 NLV). Jou geslag of jou ouderdom is nie vir Hom ‘n probleem nie. Die samelewing mag dalk die jeug romantiseer en ouer mense eenkant toe skuif, maar jou seisoen in die lewe beperk God nie. Om egter vertroue te hê dat God jou drome sal vervul, moet jy weet dat jy uit sy Gees gebore is: ‘Dit is waarom die mense wat deur hulle sondige natuur beheer word, God nooit gelukkig maak nie’ (Romeine 8:8 NLV). Jou droom kan nie uit jou ego, of ‘n selfsugtige begeerte om dieselfde vlak van sukses as iemand anders te hê, of jou behoefte om iets aan iemand soos jou gewese man/vrou, jou familie, jou baas, of jou vriende te bewys, gebore word nie. Maak seker wat die bron van jou droom is, want wanneer God die bron is, sal Hy al die hulpbronne voorsien wat nodig is om jou droom te vervul. Het jy ‘n droom? Nie? Vra God om jou een te gee!
Sielskos: Rom 13:12-14:19; Joh 1:1-14
2018-12-31
2 Kronieke 29:5 NLV
In Skotland is daar ‘n nuwejaarstradisie wat behels om jou huis skoon te maak, die as uit jou vuurherd te vee en om jou uitstaande skuld af te betaal. Dit gaan daaroor om die oue weg te neem om plek vir die nuwe te maak. Van tyd tot tyd moet jy ook jou geestelike huis skoonmaak. Die Bybel sê, ‘…Verwyder alles wat besoedel is…’ Hoekom? Omdat verkeerde houdings, slordige vakmanskap en slegte gewoontes oor tyd insluip en ons vir dit wat belangrik is, verblind. Sheila Coleman sê: ‘Tien jaar gelede het ek die huis van bo tot onder skoongemaak. Ek het elke hoekie en draaitjie afgestof en die bad en wasbak geskrop tot hulle geblink het. Die huis was nog nooit so skoon nie. Vandag – tien jaar later, is dit steeds skoon. Dit was nog nooit weer nodig vir my om die stoffer of stofsuier op te tel of die kombuistoonbank af te vee nie. My huis lyk steeds so skoon soos dit daardie dag gelyk het, nè? Verkeerd! Ons moet aanhoudend ons geestelike huis skoonmaak, omdat ons in ‘n vuil wêreld lewe. Net soos na ons huise, karre en klere omgesien moet word, moet ons harte – ons geestelike huise – op ‘n gereelde basis skoongemaak word. Nie een keer ‘n week of een keer ‘n maand nie; en verseker nie elke tien jaar of een keer in ‘n leeftyd nie. Ons moet God toelaat om ons elke dag skoon te maak en te vernuwe. Is daar ‘n kamer in jou ‘huis’ wat jy Hom nog nie toegelaat het om skoon te maak nie? As dit ‘n rukkie is vandat God jou hart deeglik skoongemaak het, maak die volgende jou gebed: Here, maak my hart skoon sodat U deur my kan skyn en kan lewe.’
Sielskos: Job 39-42; Luk 2:51-52; Ps 139:13-24; Pred 11:7-10
2018-12-30
Rigters 6:25 NLV
Toe die engel van die Here vir Gideon geroep het, was hy besig om op die vloer van ‘n parskuip koring uit te slaan, waar hy vir die Midianiete probeer wegkruip het (sien vers 11). Dis interessant, omdat God op die punt was om hom te gebruik om die Midianietiese magte te verslaan en Israel te bevry. Voor hy dit egter kon doen, was daar eers familiesake wat hy moes hanteer – soos die altaar wat sy pa vir ‘n valse god genaamd Baäl gebou het. Dit was al jare in die familie. Dus het God gesê, ‘…Breek jou pa se altaar vir Baäl af… Kom bou dan ‘n stewige altaar vir die Here jou God…’ (verse 25-26 NLV). Dinge soos woede, verslawing, mishandeling en affairs mag dalk deel van jou familiegeskiedenis wees, maar dit hoef nie deel van jou toekoms te wees nie. Nie net sal God jou hart en seer genees nie, maar Hy sal jou gebruik om die harte en seer van jou kinders te genees. Die generasies se gemors kan hier en nou ophou. Jy hoef nie vir jou kinders dit te gee wat jou voorsate vir jou gegee het nie. Bring dit in die ope en lê dit voor God. Onthulling lei tot genesing. As dit jou sal help om ‘n volwasse Christelike berader te kry, doen dit! ‘…laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe…’ (Romeine 12:2 NLV). Nee, dit sal nie oornag gebeur nie. Skade wat aan jou in jou vormingsjare aangerig is, sal tyd neem om te genees, maar God sal dag vir dag met jou werk totdat Hy jou heel gemaak het. Laat die genesing begin. Staan in geloof op, neem beheer van jou lewe en verklaar: ‘Dit eindig by my en dit eindig hier en nou.’
Sielskos: Matt 6:5-15; Dan 6:1-16; Jak 5:13-18; 1 Tess 5:16-18