Vra God vir ‘n droom (2)

2019-01-02
Genesis 37:9 NLV

As jy reeds die droom wat God jou gegee het, vervul het, vra Hom vir nog ‘n droom. ‘n Groter een. Die Bybel sê, ‘Daarna het Josef nog ‘n droom gehad…’ In die eerste droom het hy gerwe gesien wat voor hom buig, maar in die tweede droom het hy gesien hoe sterre in die hemel voor hom buig. ‘n Woord van waarskuwing egter: Voor God jou nog ‘n droom gee, sal Hy eers kyk wat jy met die droom maak wat Hy reeds vir jou gegee het. ‘Die werk wat nou aan die gang is, lyk miskien klein en nie waffers nie. Maar moenie die waarde daarvan onderskat nie…’ (Sagaria 4:10 DB). Groot resultate begin gewoonlik met nederige werk. ‘…God is téén dié wat te veel van hulleself dink, maar dié wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is, aan hulle gee Hy sy onverdiende goedheid. Word daarom klein onder die kragtige hand van God; op sý tyd sal Hy julle groot maak’ (1 Petrus 5:5-6 NLV). As dit jou droom is om finansieel voorspoedig te wees, is dit in harmonie met God se beloftes (sien Deuteronomium 8:18; 2 Korintiërs 9:8; 3 Johannes v 2). Daar is egter drie skriftuurlike voorwaardes waaraan jy moet voldoen sodat jou droom vervul kan word: 1) Jy moet bereid wees om God met jou huidige inkomste te eer (sien Maleagi 3:8-10). 2) Jy moet bereid wees om dit wat jy het te deel en aan die behoeftes van ander te voorsien (sien Spreuke 11:25). 3) Jy moet fiskale dissipline beoefen eerder as om roekeloos te spandeer en impulsief aankope te doen (sien Spreuke 21:20). Wanneer jy aan sy voorwaardes voldoen, beloof God om jou te seën en die droom wat Hy jou vir jou lewe gegee het, te vervul.

Sielskos: Jes 1-3; Luk 1:1-10; Ps 90:1-6; Spr 1:1-4