2018-12-29
Spreuke 13:22 NLV
Daar word 203 keer na erfporsies in die Bybel verwys, dus moet God dink dat dit belangrik is. Salomo skryf, “‘n Goeie mens laat iets na vir kleinkinders…” In die menslike koninkryk is jou ‘netto waarde’ die somtotaal van alles wat jy besit. In God se koninkryk is jou netto waarde egter gelyk aan die somtotaal van alles wat jy al weggegee het. Wat jy nie deel nie is vir ewig verlore, maar wat jy in God se hande plaas, word ‘n ewige aandenking. Moses Montefiore was die eerste Jood wat ‘n hoë regeringsposisie in Londen beklee het. Hy is in 1837 deur koningin Victoria tot ridder geslaan – dieselfde jaar wat hy tot balju van Londen verkies is. In later jare het hy deur sy filantropie bekendheid verwerf. Hy het sewe reise na die Heilige Land onderneem, die laaste keer toe hy een-en-negentig jaar oud was. Sy liefde vir die Heilige Land kan deur sy finansiering van ‘n tekstielfabriek, ‘n drukkery, ‘n windmeul en verskeie agrikulturele kolonies in Palestina, herken word. Op sy honderdste verjaarsdag het die London Times verskeie artikels oor sy deugde geskryf. Hy het ‘n fortuin deur besigheidsondernemings en eiendomme bymekaar gemaak. Toe ‘n verslaggewer hom oor sy netto waarde uitvra, het hy egter ‘n bedrag genoem wat baie kleiner was as sy fortuin. ‘Jou netto waarde is sekerlik baie meer as dit!’ het die verslaggewer gesê. Sir Moses het geantwoord, ‘Jy het my nie gevra hoeveel ek besit nie, jy het my gevra hoeveel ek werd is. Dus het ek opgetel hoeveel ek vir liefdadigheid gegee het. Ons is net soveel werd soos dit wat ons gewillig is om met ander te deel.’ Wat is jou netto waarde? In God se oë is dit die somtotaal van alles wat jy al weggegee het.
Sielskos: Job 36-38; Luk 2:34-40; Ps 139:1-12; Pred 11:4-6
2018-12-28
Spreuke 29:1 NLV
Jare gelede het siviele ingenieurs ‘n dam ondersoek. Hierdie dam het die waters van verskeie riviere wat deur ‘n vallei, waarin daar ‘n dorp geleë is, gevloei het, beheer. Hulle was bekommerd oor wat hulle gesien het en het vir die stadsamptenare gesê, ‘Die dam is onveilig en julle is in groot gevaar. Julle moet die inwoners verskuif.’ Die amptenare het geantwoord, ‘Ons het dit alles al gehoor. Die dam is nie ‘n gevaar nie.’ ‘n Jaar later het die ingenieurs weer die dam besoek en gesê, ‘Ons waarsku julle, julle is elke uur in groot gevaar.’ Teen hierdie tyd het die ingenieurs se verslag na die dorpsinwoners toe versprei, wat dit afgelag het en gesê het, ‘Hulle probeer ons net bangpraat.’ ‘n Paar maande later het die ingenieurs hulle weer gewaarsku en weer is hulle raad van die hand gewys. Vyftien dae later het ‘n seun op ‘n perd deur die dorp gejaag en geskree, ‘Hardloop vir julle lewens! Die dam het gebreek en die water is op pad.’ Die inwoners het egter vir hom gelag en gedink dat hy hulle net probeer skrikmaak. Toe het ‘n muur vuil water hulle egter getref en minder as dertig minute later was Johnstown in puin gelê. Meer as 3700 mense het daardie dag gesterf. Het God jou al ‘n paar keer oor sekere dinge in jou lewe gewaarsku: verhoudings, gewoontes, houdings? Indien dit die geval is, is hier twee Skrifgedeeltes wat jy versigtig moet oordink: ‘Vir ‘n dwaas is net sy eie pad die regte een. Iemand wat wys is, luister na ander se raad’ (Spreuke 12:15 NLV). ‘Wie hom teen teregwysings bly verset, stort skielik ineen. Niks kan dan weer vir hom herstel bring nie.’ Die woord vir jou vandag is: Luister, en wees gewillig om raad aan te neem.
Sielskos: Job 32-35; Luk 2:21-33; Ps 97; Pred 10:15-11:3
2018-12-27
2 Kronieke 26:5 NLV
Iemand het gesê, ‘Voor jy die leer van sukses uitklim, moet jy eers seker maak dat die leer teen die regte muur leun.’ Kom ons wees duidelik. Wanneer jou bedoeling is om God se wil te doen en Hom te eer, beloof Hy sukses aan jou. Dis ‘n fout om alle rykdom met vleeslikheid te assosieer en dit as ‘wêrelds’ te sien. Vooruitstrewende, toegewyde Christene in elke generasie was instrumenteel daarin om die evangelie na die wêreld toe te neem en God se koninkryk te vestig. Lees hierdie twee beloftes. ‘Oorvloed en rykdom vul sy huis, sy regverdigheid duur vir altyd’ (Psalm 112:3 NLV). ‘Met die een hand gee wysheid ‘n lang lewe. Met die ander hand rykdom en eer’ (Spreuke 3:16 NLV). Sommige van ons het ‘n valse konsep van sukses. Hier is ‘n verhaal van drie mans wat gesels het oor wat sukses vir hulle beteken. Een het gesê, ‘Sukses sal wees om na die Withuis uitgenooi te word vir ‘n persoonlike ontmoeting met die president.’ Die tweede man het gesê, ‘Vir my sal sukses beteken om die president in sy kantoor te ontmoet en wanneer sy telefoon lui, sal hy dit ignoreer om sodoende nie ons gesprek te onderbreek nie.’ Die derde man het gesê, “Vir my sal sukses beteken om die president in sy kantoor te ontmoet en wanneer sy telefoon lui, sal hy dit antwoord, dit na my uithou en sê, ‘Dis vir jou.'” As jy na Amazon.com toe gaan, sal jy meer as tweeduisend vyfhonderd boeke kry oor hoe om suksesvol te wees. Jy het egter net een boek nodig: God se Woord. ‘…So lank as wat hy die Here se wil nagestreef het, het God hom sukses gegee.’ Wil jy suksesvol wees? Raadpleeg die Here.
Sielskos: Job 29-31; Luk 2:8-20; Ps 117; Pred 10:15-19
2018-12-26
Lukas 1:41 NLV
Hier is ‘n interessante hoofstuk in die Kersverhaal – een wat ons oor ‘geestesvriende’ leer. Die Bybel sê: “‘n Paar dae later het Maria haastig na die heuwelland van Judea vertrek… Sy is die huis in en het vir Elisabet gegroet. Met die geluid van Maria se groet, het die kindjie in Elisabet se skoot beweeg en Elisabet is met die Heilige Gees vervul. Sy het bly teenoor Maria uitgeroep: ‘Jy is bo alle ander vroue geseën, en jou kind is geseënd…’ Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en toe is sy huis toe” (verse 39-42, 56 NLV). Maria en Elisabet was nie net niggies nie, hulle was ook ‘geestesvriende.’ Hulle het nie net sosiaal aanklank by mekaar gevind nie, maar hulle het op ‘n dieper vlak geestelik met mekaar gekonnekteer. Dis hoekom Elisabet die wonderbaarlike doel van God wat besig was om in Maria se lewe vervul te word, bevestig het en haar vir haar gehoorsaamheid geprys het. Wanneer God jou aan iemand wat deur sy Gees aangeraak is en ‘n visie binne in hom of haar wat vanuit die Heilige Gees gebore is dra, voorstel, moet jy na hulle uitreik, hulle waardeer en ‘n verhouding met hulle bou. Die konneksie tussen hierdie twee vroue het nie ontstaan omdat hulle deel van dieselfde familie was nie. Soms is ons familielede inderwaarheid die eerstes wat ons kritiseer en die laastes wat ons verstaan. Toe Maria vir Elisabet gegroet het, het Elisabet se ongebore kind in haar beweeg. Hoe herken jy ‘n ‘geestesvriend’? Wanneer hulle praat, sal iets binne jou resoneer. Dit gebeur omdat julle altwee deur dieselfde Heilige Gees vervul is en bemagtig is om God se wil te doen.
Sielskos: Job 24-28; Joh 1:6-18; Ps 113; Pred 10:10-14
2018-12-25
Lukas 1:34 NLV
Die Bybel sê, “Maria het vir die engel gevra: ‘Maar hoe kan ek ‘n kind hê? Ek was nog nooit by ‘n man nie.’ Die engel het geantwoord: ‘Die Heilige Gees sal oor jou kom…'” (verse 34-35 NLV). Het God vir jou dinge gesê wat Hy deur jou wil vermag, maar jy kyk na jouself en dink, ‘Hoe kan dit gebeur? Ek het nie die opleiding, hulpbronne, vaardighede of konneksies nie. Ek het verseker nie die krag om dit alleen te bereik nie.’ God sal dit egter vermag. Hoe sal dit gebeur? ‘…Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal oor jou toevou…’ (vers 35 NLV). Die Heilige Gees kan jou met ‘n visie swanger maak, jou met kreatiewe idees inspireer, jou aan die regte mense voorstel en jou bemagtig om die werk te doen. God het ‘n unieke plan vir Maria gehad; en Hy het ook een vir jou. Jy is nie bevoorreg genoeg om die toekoms te kan sien en te weet wat God alles vir jou in gedagte het nie. Hy het egter ‘n plan. Let op wat Maria gesê het nadat die engel met haar gepraat het: ‘…Ek is die Here se dienares en gewillig om te aanvaar wat Hy ook al wil hê…’ (vers 38 NLV). Dit gaan nie oor jou sosiale status, jou CV, jou finansies of wat jy verdien nie. Nee, dit gaan oor wat Hy wil hê. Was dit maklik vir Maria om dit te sê of te glo? Nee, sy het ‘n groot risiko geneem. Tog het sy haarself gewillig aan God oorgegee – en die resultate was wonderbaarlik. God kan dieselfde vir jou doen.
Sielskos: Jes 7:14; Luk 2:1-7; Mig 5:2-5a; Jes 9:6-7
2018-12-24
Lukas 2:18 NLV
Om die verhaal van Kersfees ten volle te waardeer, moet jy na drie dinge kyk: 1) Wie God geroep het om die verhaal te vertel. Skaapwagters! In Palestina in die eerste eeu, is skaapwagters as die laagste in die samelewing gesien. Tog het God hulle gekies om die grootste verhaal te vertel – miskien omdat sommige van ons oor die verhaal sou debatteer of dit selfs ontken het. Nie hulle nie: ‘Toe het die skaapwagters vir almal gaan vertel wat gebeur het…’ (vers 17 NLV). Jy hoef nie ‘n kundige te wees nie. Vertel net vir die mense wat jy gesien en gehoor het en die verandering wat Jesus in jou lewe gemaak het. 2) Die reaksies van diegene wat die verhaal gehoor het. ‘Almal wat die skaapwagters se verhaal gehoor het, was verbaas.’ Die genade van God is wonderbaarlik: ‘Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en nie die mense se oortredings teen hulle hou nie. Die boodskap van die versoening het Hy aan ons opgedra om te gaan verkondig’ (2 Korintiërs 5:19 NLV). Jou sondeskuld is gekanselleer; jou boeke is gebalanseer en nou kan jy ‘n persoonlike verhouding met God hê deur jou vertroue in Christus te plaas. 3) Maria se deel in die verhaal. ‘…maar Maria het stilweg hierdie dinge in haar hart bewaar en dikwels daaroor nagedink’ (Lukas 2:19 NLV). Sy wou verstaan wat God gedoen het en hoe dit op haar van toepassing was. Jy moet dit ook doen. God verander nie, maar Hy beweeg en jy moet in pas met Hom bly. Daar is baie dinge wat Maria nie van God se wil verstaan het nie, maar sy het dit aanvaar en gehoorsaam. Dit is ook wat God van jou vra.
Sielskos: Job 21-23; Luk 1:67-80; Ps 128; Pred:5-9