2018-12-23
Galasiërs 2:20 NLV
As jy jouself deur jou eie pogings kon verander, sou jy nie die Here nodig gehad het nie. Daarmee saam diskwalifiseer enige poging om sy genade te verdien, jou. Hoekom? Omdat jy daarna strewe om die bron van jou eie verlossing, of jou eie krag te wees. ‘Hoe is ek dan veronderstel om meer soos Christus te word?’ vra jy. Sterf van jouself en laat Christus toe om deur jou te lewe! ‘Mense wat toelaat dat die sonde oor hulle lewens baasspeel, se koppe is heeltyd besig met sonde… Julle is egter nie meer in die greep van die sonde nie. Nee, julle lewens staan nou onder die beheer van die Gees wat in julle bly. As die Gees van Christus nie in iemand se lewe aanwesig is nie, behoort hy glad nie aan Hom nie – so eenvoudig is dit. Christus is ook nou by julle. Daarom sal die Heilige Gees sorg dat julle vir altyd lewe. Selfs al moet julle liggame doodgaan – dit is immers die prys wat ons almal vir die sonde moet betaal – sal die Gees julle op ‘n splinternuwe manier laat leef. Hy sal dit doen omdat julle deur God vrygespreek is. Julle weet baie goed dat God Jesus uit die dood laat opstaan het. Daarom is dit vanselfsprekend dat Hy wat nou deur sy Gees in julle bly, eendag ook elkeen van julle se sterflike liggaam met die hulp van sy Gees lewend sal maak’ (Romeine 8:5-11 DB). Hoe weet jy dat Christus lewendig is in jou en in jou werk? Wanneer ander mense na jou kyk en Hom sien. Wanneer hulle na jou luister en Hom hoor. ‘Hoe lank neem dit om soos Christus te word?’ vra jy. Dit gebeur ‘n dag op ‘n slag, ‘n leeftyd lank.
Sielskos: Matt 1; Matt 2
2018-12-22
Psalm 18:29 NLV
God het jou nie net verlos en jou geroep om Hom te dien nie, Hy het jou ook toegerus. Alles wat jy nodig het om jou taak te vervul is reeds tans in jou lewe; wagtend vir jou om dit te herken. Gedurende die dae van die stormloop vir goud in Kalifornië, het ‘n jong paartjie obsessief oor die soeke na goud geword. Hulle het hulle plaas en al hulle besittings verkoop en na die weskus gereis om dit te gaan soek. Na vele mislukkings het hulle bankrot gespeel en na Europa verhuis. Baie jare later het hulle na Amerika teruggekeer en besluit om hulle ou plaas te besoek. Toe hulle egter daar aankom, was dit deur sekuriteitswagte en ‘n hoë draadheining omring. Toe hulle vra wat aangaan, het hulle ontdek dat hulle ou plaas op die tweede grootste goud reserwe in Amerika lê – en dit was nou in die regering se besit. God het hulpbronne en mense reg rondom jou geplaas wat jy nie opmerk nie. Sommige van die grootste gawes in jou lewe moet nog herken word, omdat hulle nog saadjies is. As jy hulle nie herken nie, kan dit jou duur te staan kom. Paulus het aan die gelowiges in Efese geskryf, ‘Mag God julle harte so verlig dat julle sal insien watter wonderlike vooruitsig sy roeping inhou…’ (Efesiërs 1:18 NLV). Dawid het gebid, ‘Maak oop my oë sodat ek die wonders kan sien wat opgeskryf is in u gebooie’ (Psalm 119:18). Soms kan jy nie die woud van bome sien nie. Daar is skatte in jou en rondom jou wat jy nooit sal sien totdat God dit aan jou openbaar nie. Hy sal dit doen, as jy Hom soek.
Sielskos: Job 18-20; Luk 1:57-66; Ps 47; Pred 10:1-4
2018-12-21
Psalm 56:4 NLV
Onderliggend aan jou grootste vrese – is gedagtes. Hulle mag dalk in die openbaar uitgedruk word of in die privaatheid vertroetel word. In elke geval, moet jy hulle gevange neem en hulle verander. As jy dit nie doen nie, sal hulle jou beheer. Een van die kragtigste wapens wat God jou gegee het om vrees en bekommernis te oorwin, is die vermoë om sy beloftes te verpersoonlik. Hier is net ‘n paar: ‘…Moenie bang wees nie, want Ek het jou verlos…Wanneer jy deur diep water gaan, sal Ek by jou wees. Wanneer jy deur riviere gaan, sal hulle jou nie wegspoel nie. Wanneer jy deur vuur stap, sal jy nie verbrand nie. Die vlamme sal jou nie verteer nie. Want Ek is die Here jou God…’ (Jesaja 43:1-3 NLV). Wat moet jou reaksie op God se beloftes wees? ‘Ek sal sterk en dapper wees. Ek sal nie bang of huiwerig wees nie. Die Here my God is saam met my in alles wat ek doen’ (sien Josua 1:9 NLV). ‘Die Here waak oor my wat Hom dien, oor my wat hoop op sy troue liefde’ (sien Psalm 33:18). ‘Wanneer ek bang is sal ek sterk wees, want God kom om my te red!’ (sien Jesaja 35:4 NLV). ‘Die Here is my lig en my redding. Vir wie moet ek dan vrees?.. Want as gevaar dreig, sal Hy my wegsteek. Hy sal my in sy woning verberg. Hy sal my op ‘n hoë rots laat staan… bokant my vyande wat my omring… terwyl ek sing en met musiek die Here loof’ (Psalm 27:1, 5-6 NLV). Wil jy jou vrees en bekommernisse oorwin? Verpersoonlik God se beloftes!
Sielskos: Job 15-17; Luk 1:39-56; Ps 12; Pred 9:10-12
2018-12-20
2 Korintiërs 10:4 NLV
Wanneer ‘n patroon van boosheid van een generasie na die volgende aangegee word, verwys die Bybel daarna as ‘n ‘vesting.’ Dawid het ‘n probleem met begeerte gehad, wat in die affair met ‘n ander man se vrou ontaard het. Dieselfde gees is aan Dawid se seun Amnon aangegee en hy het sy suster verkrag (sien 2 Samuel 13). Toe Dawid daarvan hoor was hy kwaad, maar hy het niks daaraan gedoen nie. Wat kon hy sê? Abraham het vir ‘n heidense koning gejok en gesê dat sy vrou sy suster is om so sy eie lewe te spaar (sien Genesis 20). Sy seun Isak het presies dieselfde ‘n paar hoofstukke later gedoen! (sien Genesis 26). Kundiges sê dat die kinders van alkoholiste vierhonderd keer meer geneig is om self alkoholiste te word; en dat meer as 80 persent van kindermolesteerders self as kind gemolesteer is. Soms kan jy die patroon van beide kante van die familie af sien kom. Daar is egter goeie nuus. God genees disfunksionele families – en die genesing kan met jou begin! Net omdat jou ouers emosioneel gevries was beteken nie dat jou kinders sonder liefde moet grootword nie. God kan jou leer om die vesting in jou familie te breek sodat jy vir jou kinders kan gee wat jy nooit self ontvang het nie. Gideon het die altaar van sy pa wat afgode aanbid het, afgebreek (sien Rigters 6:25) en deur God se genade kan jy dieselfde in jou familie doen! Bid oor jou kinders. Lê jou hande op hulle en verklaar dat die verlede nie die hede sal binneval nie; dat God se seën deur jou na hulle toe sal vloei. Doen dit en kyk wat gebeur.
Sielskos: Job 11-14; Luk 1:26-38; Ps 67; Pred 7:19-22
2018-12-19
Efesiërs 1:11 DB
God se wil is nie net vir jou om eenvoudig te oorleef nie, maar om te floreer. Satan sal jou aanval, maar hy kan jou nie van God se liefde skei of Hom daarvan weerhou om jou te seën nie. Dink net hoe gefrustreerd is hy daaroor! Wanneer jy weet dat God iets aan jou belowe het, sal dit jou die krag gee om dinge te oorkom wat ander mense nie kan nie. Al die water in die see sal jou nie verdrink nie, solank as wat dit nie in die boot kom nie. Dis wat jy inlaat wat jou seermaak. Hou dus wag oor jou hart. Hou jou visie lewendig en dit sal jou lewendig hou. Die rede hoekom baie van ons misluk, is omdat ons dit wat ons die meeste wil hê, inruil vir dit wat ons nou wil hê. Nee; hoe groter die uitdaging is, hoe groter is die beloning wat vir jou wag. Paulus, die apostel, het sy oog op die prys gehad toe hy geskryf het, ‘…staan baie vas, onbeweeglik. Gee altyd julle allerbeste vir die Here se werk, want julle weet voor die Here is alles wat julle doen die moeite werd’ (1 Korintiërs 15:58 NLV). Die enigste ding wat die lewe jou skuld, is ‘n geleentheid om te groei. Moses het ‘n paleis prysgegee, Elisa het ‘n plaas prysgegee en Lukas het van ‘n mediese praktyk weggeloop om God te volg. Dis wat jy gewillig is om prys te gee wat bepaal waarmee God jou kan vertrou. Hou dus aan om vooruit te beweeg en hou styf aan jou God-gegewe doelwit vas. Wat jy nie op die oomblik het nie, kan joune in die toekoms wees as jy aanhou groei, gefokus is en getrou bly.
Sielskos: Job 8-10; Luk 1:19-25; Ps 57; Pred 7:13-15
2018-12-18
Filippense 2:13 NLV
Soos jy deur die lewe op jou geestelike tog reis, is daar twee wenke wat jy moet onthou: 1) Met God is geen ervaring ooit ‘n vermorsing nie. Dit sluit die pynlike en moeilike ervarings in. Ons mag dalk mense met ons sterkpunte beïndruk, maar ons vind dikwels die beste aanklank met hulle deur oor ons struikelinge te praat. Sommige van die ervarings wat jy huiwerig is om met hulle te deel, mag dalk inderwaarheid die presiese ding wees wat hulle laat dink, ‘As God dit vir jou kon doen, dan kan Hy dit vir my ook doen.’ Met ander woorde, jy sal hulle hoop gee. 2) Om sukses in God se koninkryk te behaal, moet jy ander mense dien. Kyk na Josef. Hy het sy talent, faam en rykdom gebruik om die wêreld in ‘n tyd van hongersnood te voed; sy beloning het eers later gekom. Wanneer jou doelwit is om aan ander mense se behoeftes te voldoen, sal jy altyd beloon word en sal jy altyd ‘n toekoms hê. Jesus het nie vir Petrus gesê om ‘n skare te gaan bymekaar maak sodat hy mense sou hê om voor te preek nie. Nee. Hy het eenvoudig gesê, ‘…Gaan versorg my lammers’ (Johannes 21:16 NLV). Pastoor, as jou kerkbanke op ‘n Sondag leeg is, moet jy meer doen as om die mense daarvoor te blameer. Vra jouself af, ‘Hoe is die kos? Hoe is die diens?’ Solank as wat daar ‘n geestelike honger is wat niemand anders vervul nie, sal jy ‘n toekoms en ‘n bediening hê. Soos wat jy hierdie twee wenke vir reisigers oordink, bid en vra God om hulle deel van jou lewe te maak.
Sielskos: Job 5-7; Luk 1:11-18; Ps 105:37-45; Pred 7:9-12