Ontwikkel ‘n dankbare hart

2018-12-17
Psalm 51:16 NLV

‘n Dankbare hart sien elke dag as ‘n geskenk. Dis soos ‘n magneet wat oor jou dag swiep en redes om dankbaar te wees bymekaar maak. Dit dank God vir die wonderwerk van spiere wat jou oë in staat stel om hierdie woorde te lees en jou brein om hulle te prosesseer. Dit dank God vir longe wat elfduisend liters lug elke dag kan in- en uitasem. Dit dank God vir ‘n hart wat omtrent drie biljoen keer in jou leeftyd sal klop en vir ‘n brein wat ‘n elektriese kragopwekker en ‘n superrekenaar van krag is. Dit dank God vir konfyt op jou brood en melk oor jou pap. Vir die kombers wat jou warm hou en die grappie wat jou laat lag. Vir die duisende vliegtuie wat nie vandag geval het nie. Vir die mans wat nie ontrou aan hulle vrouens is nie en vir die vrouens wat nie hul mans sleg behandel nie. Vir die kinders wat, ten spyte van enorme druk om hulle ouers nie te eer nie, besluit om dit tog te doen. Dis wanneer jy jouself oor die goeie dinge verbly, wat jy deur die slegte dinge kom. “‘n Vrolike mens is soos goeie medisyne…” (Spreuke 17:22 NLV). Dankbaarheid is ‘n houding wat jy kies, nie ‘n reaksie op jou omstandighede nie. ‘…In die nag waarin Jesus verraai is, het Hy brood geneem en nadat Hy God gedank het, het Hy dit gebreek…’ (1 Korintiërs 11:23-24 NLV). Die woorde ‘verraai’ en ‘dank’ is in dieselfde sin en in dieselfde hart. Op die nag wat Jesus verraai is, het Hy dank betuig. Jy kan dit doen wanneer jy weet dat God in beheer is, jou treë rig en alles ten goede vir jou laat uitwerk.

Sielskos: Job 1-4; Luk 1:1-10; Ps 105:23-36; Pred 7:5-8

Hou op uitstel en doen dit!

2018-12-16
Lukas 9:61 NLV

Wanneer jy jou geld vermors of dit verloor, is daar ‘n kans dat jy dit kan terugkry. Jy kan egter nooit vermorste of verlore tyd terugkry nie. Een van die hartseerste verhale in die Skrif word in hierdie woorde gevind: “‘n Ander een het gesê: ‘Ja, Here, ek sal U volg, maar ek wil eers my familie gaan groet.'” Nêrens is dit egter aangeteken dat hy Jesus gevolg het nie. Uitstel en perfeksionisme loop hand aan hand. Ons sê, ‘As ek dit nie reg kan doen nie, doen ek dit eerder glad nie!’ Nee, voor jy dit regkry, sal jy dit heel waarskynlik eers verkeerd doen. In elke suksesverhaal is daar hoofstukke van sukkel, maar hulle is hoofstukke van leer en groei. ‘n Studie is by Yale Universiteit gedoen. Seniors wat op die punt was om hulle graad te behaal, is oor die gevare van tetanus ingelig en is ‘n gratis inenting daarteen by die gesondheidsentrum aangebied. Terwyl die meerderheid van die studente oortuig was dat hulle die inenting nodig gehad het, raai hoeveel het opgevolg en die inenting gaan kry? Drie persent! ‘n Ander groep is dieselfde lesing aangebied, maar hulle het ook ‘n kopie van die kampuskaart gekry waarop die gesondheidsentrum in rooi omsirkel was. Hulle is toe gevra om na hulle weeklikse skedule te kyk en ‘n tyd te bepaal wanneer hulle die inspuiting kon gaan kry. Raai wat? Nege keer meer studente is ingeënt. Goeie bedoelings is nie genoeg nie. Jy moet die oproep maak of die saak aanpak. Jy moet die spertyd bepaal of die afspraak maak. ‘Vandag’ is die môre waarvan jy gister gepraat het. Hou dus op om uit te stel en doen dit!

Sielskos: Heb 11:1-6; Matt 21:18-22; Matt 8:5-13; Mark 6:1-6

Verander jou houding daaroor

2018-12-15
Filippense 4:4 NLV

Cheryl het aanhoudend gekla dat sy nie genoeg geld maak nie, nie die goed wat sy wou gehad het kon bekostig nie en daarom nooit iets van haar lewe sou maak nie. Haar berader het gesê, ‘Jy mors jou energie deur te kla, gebruik dit eerder om vooruit te beweeg.’ Cheryl het gestry, ‘Jy verstaan nie. Die werk is die probleem, nie ek nie.’ Die berader het geantwoord, ‘Jou klein salaris mag dalk ‘n probleem wees en jou baas mag dalk te veel van jou vereis, maar wanneer jy jouself aanhoudend ontstel doen jy meer skade as wat jou baas of jou werk aan jou doen.’ Cheryl het gevra, ‘Wat kan ek doen?’ Die berader het gesê, ‘Jy kan nie jou baas of jou werk beheer nie, maar jy kan die manier wat jy daaroor voel, beheer. Verander jou houding.’ Cheryl het haar raad gevolg. Sy het ophou kerm oor haar lewe en mense het dit opgemerk. Sy het ‘n bevordering gekry en binne ‘n paar maande is sy na ‘n posisie met ‘n groter salaris en ‘n baas wat meer ondersteunend was, geskuif. Goeie dinge gebeur met mense wat ‘n goeie houding het. Jou houding is iets wat jy ongeag van jou omstandighede kan kies. Paulus het geskryf, “Wees altyd bly omdat julle Christene is. Ek sê dit weer: ‘Wees bly!'” Waar was Paulus? In die tronk! Aan wie het Paulus geskryf? Aan mense buite die tronk! Hoekom het hy homself herhaal? Omdat ons so vinnig vergeet en weer in negatiwiteit verval. Ware vreugde is ‘n innerlike gevoel wat nie aan mense of uiterlike situasies onderworpe is nie. Jesus het gesê, ‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees’ (Johannes 15:11 NLV).

Sielskos: Est 5-10; Joh 21:1-25; Ps 18:1-29; Spr 26:24-27

Reik uit na hulp

2018-12-14
Spreuke 17:17 NLV

Beraders gebruik die frase ‘terminaal uniek’ omdat mense met verslawings dink dat hulle probleem uniek is: ‘Ander mense sal my verwerp as hulle van my probleem weet. Ek sukkel al so lank daarmee dat ek nie glo dat ek dit ooit sal oorwin nie.’ Dus isoleer hulle hulself en lewe in wanhoop en depressie. Een skrywer merk op: ‘So dikwels is ons geneig om ons lewens weg te steek. Skande en skuldgevoelens weerhou ons daarvan om ander mense te laat weet waarmee ons sukkel. Ons dink, ‘As my familie en vriende van die donker begeertes van my hart en my vreemde gedagtes geweet het, sal hulle my wegdruk en uit hulle geselskap weglaat.’ Die teenoorgestelde is egter waar. Wanneer ons durf om ons beker op te lig en ons vriende toe te laat om te sien wat daarin is, sal hulle aangemoedig word om hulle bekers op te lig en al hulle angstige geheime met ons te deel. Die grootste genesing vind dikwels plaas wanneer ons nie meer deur ons skande en skuldgevoelens geïsoleer voel nie en ontdek dat ander mense dikwels voel wat ons voel, dink wat ons dink en dieselfde vrese, sorge en behepthede het wat ons het.’ Moenie laat trots jou daarvan weerhou om jou probleem te oorwin nie. Wanneer jy die moed bymekaar kan skraap om eerlik met jouself en ander te wees, sal jy genesing vind. Lees hierdie twee Skrifgedeeltes: ‘Op ‘n vriend se lojaliteit kan jy altyd reken. Jou broer is gebore om jou te help…’ ‘In al ons swaarkry bemoedig Hy ons… sodat ons ook in staat sal wees om mense in al hulle swaarkry by te staan met dieselfde bemoediging waarmee God ons versterk het’ (2 Korintiërs 1:4 NLV). Die woord vir jou vandag is: Reik uit na hulp.

Sielskos: Est 1-4; Joh 20:19-31; Ps 105:8-22; Pred 7:1-4

Lewe!

2018-12-13
Job 5:26 NLV

Die skrywer Norman Cousins het gesê, ‘Geen siekte is meer dodelik as die verveeldheid wat met aftrede gepaard gaan nie.’ Hier is ‘n ware verhaal van ‘n dame in haar tagtigs wat na haar dokter vir ‘n algemene ondersoek gegaan het. Hy het vir haar gevra of sy aktief bly. Sy het hom ‘n groot glimlag gegee en gesê, ‘Ek draf omtrent vyf tot sewe kilometer elke dag.’ Verras het die dokter haar gemaan om versigtig te wees en dit nie te oordoen nie. Sy het sy woorde ter harte geneem en besluit om dinge stadiger te vat. Sy het haar drafsessies na stadige wandelinge verminder en dit na een of twee keer ‘n week gesny. Binne ‘n jaar was sy dood. Nadat hy van haar afsterwe te hore gekom het, het die dokter wat haar die raad gegee het, vir ‘n vriend gesê, ‘Nooit weer sal ek vir ‘n pasiënt wat so goed doen sê om dit rustig te vat nie.’ Die Bybel is vol van verhale van mense wat aanhou leef het omdat hulle iets gehad het om voor te leef! Onthou vir Kaleb? Op vyf-en-tagtig het hy die reuse in die heuwelgebied aangeval, hulle verdryf en ‘n landontwikkelaar geword (sien Josua 14). Wat van Noag? Hy het die ark begin bou toe hy vyfhonderd jaar oud was. ‘n Honderd jaar later het hy gehelp om die wêreld weer te begin. Ouderdom beteken niks, tensy jy kaas is! Plooie, grys hare en vlekke op jou hande beteken minder as niks. So lank as wat God kies om jou op die aarde te hou, moenie net bestaan nie – lewe! Hou aan droom. Gryp nuwe uitdagings aan. Moenie eers daaraan dink om dit rustig te vat nie!

Sielskos: Gen 50; Hag 1-2; Joh 20:1-18; Ps 105:1-7; Pred 5:13-16

Hou aan om God te glo en dit sal gebeur

2018-12-12
Habakuk 2:3 NLV

Het God jou iets belowe wat jy menslik gesproke nie kan sien hoe dit kan gebeur nie? Sukkel jy om daarvoor te wag? Lees hierdie Skrifgedeelte: ‘Wag geduldig, al voel dit of dit stadig gaan. Wees seker dit gaan gebeur, dit sal nie onnodig talm nie.’ God doen dinge volgens sy skedule en jou afspraak is nog steeds op sy kalender. Weet verseker dat niks wat die Vyand doen God se plan vir jou lewe kan vooruit loop nie. Wanneer Hy jou ‘n belofte gee, is dit soos ‘n saadjie. Dit moet eerstens in die vrugbare grond van geloof val en tyd gegee word om te groei. Dan moet dit gereeld deur gebed en die Woord van God natgegooi word. Dit sal nie gebeur omdat jy dit druk en probeer manipuleer nie: ‘…Nie met mag of krag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige’ (Sagaria 4:6 NLV). Die verhaal van Josef se lewe kan met hierdie Skrifgedeelte opgesom word: ‘Sy swaarkry het aangehou totdat God se plan waar geword het…’ (Psalm 105:19 DB). Hoekom word iets getoets? Om die krag daarvan te openbaar; om te sien of dit onder druk ineenstort. Wat het God aan jou belowe? Glo jy Hom? Hoe sterk is jou geloof? As dit swak is, sal God jou terug in die skool van geloof plaas sodat jy die lesse kan leer en die toetse kan slaag. ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon’ (Hebreërs 11:6 NLV). Die woord vir jou vandag is: Hou aan om God te glo en dit sal gebeur.

Sielskos: Gen 47-49; Joh 19:25-42; Ps 150; Pred 5:10-12