Die groot Skepper

2018-12-11
Psalm 19:2 NLV

Of jy nou na die heelal deur ‘n teleskoop of ‘n mikroskoop kyk, jy sal uitvind dat God ‘n wonderbaarlike skepper is. Kom ons kyk na drie dinge wat Hy ontwerp het: 1) Temperatuur. Die son se oppervlak is 5500 grade Celcius en ons is 149 668 992 kilometer daarvandaan – net die regte afstand. As die aarde se temperatuur 10 grade warmer of kouer was, sou alle lewe uitsterf. Dink daaroor: Hoekom was die aarde nie twee keer so ver of twee keer nader aan die son geplaas nie? 2) Rotasie. Ons roteer 365 keer ‘n jaar soos ons om die son wentel. Veronderstel ons het net 36 keer geroteer? Wel, ons dae en nagte sou dan 10 keer so lank gewees het. Ons sou verskriklik warm aan die een kant en onuithoudbaar koud aan die ander kant gekry het; en die lewe soos ons dit ken sou uitsterf. 3) Lug. Suurstof maak 21 persent van ons atmosfeer uit: die presiese balans van lug wat ons nodig het om asem te haal. Hoekom nie 50 persent nie? Omdat die eerste keer wat iemand ‘n vuurhoutjie sou trek, ons aan die brand sou slaan! Vra jouself dus af, is die 21 persent deur God ontwerp of was dit per ongeluk? Die Skepper het dit so besluit. Wil jy hom leer ken? Jy kan. Tydens die skepping het Hy sy groot mag geopenbaar, maar by die kruis het Hy sy groot liefde geopenbaar (Johannes 3:16). Deur Jesus, sy Seun, kan jy die groot Skepper persoonlik ken en die gawe van ewige lewe ontvang. As jy dit nie doen nie, sal jy ‘n verlore ewigheid binnegaan. Enige kans dat jy die uitsondering sal wees? Nee! Die mense in die hemel sal die mense wees wat deur keuse, nie deur kans nie, daar gekom het.

Sielskos: Gen 44-46; Joh 19:1-24; Ps 148:7-14; Pred 5:4-6

Wanneer jy teenstand kry

2018-12-10
Hebreërs 12:3 NLV

Jy gaan gereeld teenstand in jou lewe kry. Voor jy egter moedeloos word en tou opgooi, kyk weer na Jesus se lewe. Alhoewel Hy op alle maniere perfek was, is Hy deurlopend gekritiseer. Sy vyande het Hom ‘n ‘…vraat en ‘n dronklap…’ (Matteus 11:19 NLV) genoem. Hulle het Hom selfs daarvan beskuldig dat Hy van ‘n demoon besete was (sien Johannes 8:48). Tog het Hy nooit toegelaat dat bitterheid of ontmoediging Hom onderkry nie. Vir Hom was elke struikelblok ‘n geleentheid om genade en durf te bewys. Sy hart is deur diegene wat Hy liefgehad het gebreek, tog het Hy ander mense verstaan en hulle getroos. Hy het siekte as ‘n geleentheid om mense gesond te maak; haat as ‘n geleentheid om sy vyande lief te hê; versoeking as ‘n geleentheid om die vleeslike begeertes waarmee ons almal sukkel te oorkom; en oortreding as ‘n geleentheid vir vergifnis gesien. Hy het deur die lewe gegaan en toetse in seges verander – en Hy is ons voorbeeld. Die Bybel sê, ‘Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Laat dit julle inspireer om nie uit te sak en tou op te gooi nie.’ Tel jou Bybel op en lees weer sy lesse. In sy beroemde Bergrede, het Jesus gesê: ‘Julle ken ook die ou opvatting: ‘Wees lief vir jou naaste. Haat jou vyand.’ Wel, dit is nie waar nie. Ek sê vandag vir julle dat julle ook julle vyande moet liefhê. Bid vir almal wat julle swaar laat kry en julle vervolg… As julle ook vol liefde en respek optree teenoor almal met wie julle te doen kry, doen julle presies wat die wet van julle vra…’ (Matteus 5:43-48 DB). Dis hoe Jesus gelewe het – en dis hoe Hy wil hê dat jy ook moet lewe.

Sielskos: Gen 42-43; Joh 18:19-40; Ps 148:1-6; Pred 5:1-3

Weier om in die huis van bitterheid te woon

2018-12-09
Efesiërs 4:31 NLV

In 1882 het ‘n besigheidsman genaamd Joseph Richardson ‘n smal stuk grond in Lexingtonstraat in New York besit. Dit was 1.5 meter breed en 31.5 meter lank. ‘n Ander besigheidsman, Hyman N. Sarner, het ‘n gewone stuk grond langs Richardson se maer ene besit. Hy wou woonstelle daar op bou wat op die straat uitkyk, dus het hy Richardson ‘n duisend dollar vir die smal stuk grond aangebied. Richardson was diep gegrief deur hierdie lae aanbod en het vyfduisend dollars daarvoor geëis. Sarner het geweier en Richardson het hom ‘n gierigaard genoem. Sarner het aangeneem dat die grond onbeset sou bly en het die argitek opdrag gegee om die woonstelblok te ontwerp met die vensters wat oor Richardson se grond uitkyk. Toe Richardson egter die gebou sien, het hy homself voorgeneem om die uitsig te blokkeer; niemand sou ‘n gratis uitsig oor sy stuk grond geniet nie! Richardson, wat op daardie stadium vyf-en-sewentig jaar oud was, het toe ‘n woonstelblok van 1.5 meter breed, 31.5 meter lank en vier verdiepings hoog op sy grond gebou. Toe die bouery klaar was, het hy en sy vrou daar ingetrek. Net een mens kon op ‘n slag by die trappe opklim of in die gang afloop. Die eetkamertafel was 45 sentimeter breed. ‘n Koerantverslaggewer wat bietjie geset was het een keer op die trappe vasgesit en kon net ontsnap nadat hy sy klere uitgetrek het. Die gebou is die ‘Huis van Bitterheid’ gedoop. Richardson en sy vrou het die laaste veertien jaar van sy lewe daar spandeer. In 1915 is die gebou afgebreek. Weerwraak bou ‘n eensame huis met net genoeg spasie vir een persoon. Die lewens van die inwoners word op een doelwit gefokus: Om iemand anders se lewe ellendig te maak. Hulle kry dit reg. Hulle maak hulle eie lewe ellendig!

Sielskos: Matt 4:21-22; Matt 17:1-9; Joh 19:25-27; Joh 21:20-24

Gebruik dit wat God jou gegee het

2018-12-08
Romeine 12:6 NLV

God het jou sekere verhoudings, vermoëns, ervarings en eienskappe gegee wat Hy wil hê jy moet gebruik om sy doelwitte te vervul. Hy het ‘n skoonheidskompetisie gebruik om Ester as koningin van Persië te posisioneer om die volksmoord van die Jode te keer. Hy het Nehemia se ywer as die koning se skinker gebruik om hom vir koninklike guns te posisioneer, wat tot die herbouing van die mure van Jerusalem gelei het. Hy het Dawid se musikale vermoëns gebruik om hom toegang tot die koning van Israel te gee. Hy het Josef se gevangenisskap en sy vermoë om drome te interpreteer gebruik om twee nasies van hongersnood te red. Hy het die ywer van ‘n massamoordenaar genaamd Saulus van Tarsus gebruik om die evangelie via drie sendingsreise te versprei, terwyl hy die helfte van die Nuwe Testament geskryf het. As God hulle gebruik het, sal Hy jou ook gebruik. Hy wíl jou gebruik. Hy ontwikkel talente binne in jou wat sy koninkryksdoelwitte op maniere waarvan jy op die oomblik onbewus is, sal dien. Dit mag dalk jou God-gegewe atletiese vermoëns of jou musikale talente wees wat God gebruik om jou ‘n platform te gee om Hom te eer. Dit mag dalk jou kreatiwiteit wees. Dit mag jou uniekheid wees. Dit kan jou goeie werksetiek wees. Maak nie saak wat dit is nie, dis ‘n gawe van God wat vir God gebruik moet word. Sukses beteken om jou beste te doen, met dit wat jy het, waar jy is. Dit is nie op omstandighede, rykdom, krag of verhoë gebaseer nie. Dis nie op ervarings in die verlede of toekomstige potensiaal gebaseer nie. Dis om diensbaar in elke geleentheid, op elke manier, elke dag te wees. Gebruik dus vandag wat God vir jou gegee het.

Sielskos: Gen 40-41; Joh 18:1-18; Ps 147:12-20; Pred 4:9-12

Bly op dit wat belangrik is, gefokus


Jesaja 50:7 ABA

In ‘n klein dorp op die suidelike oewer van Lake Superior in Wisconsin, was die jaarlikse hondeslee wedren op die punt om te begin. Die deelnemers was almal kinders – van ouer seuns met verskeie honde en groot sleë, tot een klein seuntjie met slegs ‘n klein slee en een hond. Op die teken, het die sleë weggespring en gou was die klein seuntjie so ver agter dat dit skaars gelyk het of hy deel van die resies was. Halfpad deur die resies, toe die span in die tweede plek probeer om die eerste span verby te steek, het die sleë te naby aan mekaar gekom en het die honde begin baklei. Soos elke slee op die toneel aangekom het, het meer honde betrokke geraak. Dit was gou ‘n warboel van kinders, sleë en honde. Alle gedagtes oor die wedren het verdwyn. Een klein outjie en sy hond het dit egter reggekry om die chaos te omseil en die wedren te wen. Die Right Path stigter en besigheidsafrigter, Jerry Mabe, sê vir werkgewers dat wanneer hulle bestuurders aanstel, hulle op die uitkyk moet wees vir mense wie se aandag maklik deur ander dinge afgelei word, omdat die werk dikwels onder hulle ly. Om sukses te behaal moet jy gefokus bly op dit wat belangrik is en jou doelwitte sonder aarseling najaag. Hou jou oë op die wenstreep en vertrou God om jou te help. Hy sal dit doen. Sy Woord sê so: ‘Ja, die Here help my, daarom kon die mense my nie verneder nie. Die Here help my, daarom het ek my gesig hard gemaak soos klip. Ek weet hulle sal my nie verneder nie.’

Sielskos: Gen 37-39; John 17:1-26; Ps 147:1-11; Pred 3:5-8